Jesus se helende bediening
Jesus se helende bediening
Die negende hoofstuk van Matteus is grotendeels ʼn verslag van wonderwerke in die bediening van Jesus. Daar word vyf wonderwerke genoem, waarvan vier fisiese genesings is, en die vyfde ʼn opwekking uit die dood van ʼn meisie. Hierdie is slegs verteenwoordigend van die baie wonderwerke wat Jesus gedoen het. Naby die einde van die hoofstuk blyk dit dat Matteus dit alles opsom: “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak” (Mat. 9:35).
Verskeie jare later toe Petrus die huis van Cornelius toegespreek het, het hy gesê: “Hy [Jesus] het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was ....” (Hand. 10:38). Van alles wat Petrus kon gesê het van Jesus se bediening, fokus hy daarop dat Hy goed gedoen het en mense genees het. Die uiteindelike doelwit van Jesus se vleeswording was natuurlik om Sy lewe as ʼn losprys vir baie te gee (Mat. 20:28), maar die drie jaar van sy openbare bediening is gekenmerk deur goeie dade en die genesing van mense.
Wat was die doel van Jesus se genesende wonderwerke? Johannes noem in sy evangelie die wonderwerke “wondertekens” (Joh. 2:11; 2:23; 4:54; 20: 30-31). Dit beteken dat hulle die goddelike mag van Jesus vertoon het en getuig het dat Hy werklik die Seun van God is. Om die waarheid te sê, Johannes sê spesifiek dat die bedoeling van die wonderwerke wat hy in sy evangelie ingesluit het, was dat sy leser “kan glo dat Jesus die Christus is; die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy naam die lewe kan hê” (Mat. 20: 31). Jesus het self die wonderbaarlike genesing van ʼn verlamde man gebruik as bewys dat Hy die mag het om sondes te vergewe – ʼn duidelike verwysing na sy goddelike Seunskap (Mat. 9:2-6).
Daar was egter ook ʼn ander motief vir Jesus se genesende bediening. Hy het dié wat in nood verkeer innig jammer gekry. Matteus skryf dat toe hy deur die dorpe en klein plekkies gegaan het, en: “Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ʼn wagter het nie” (Mat. 9:36). By ʼn ander geleentheid, toe Jesus gesien het dat die enigste seun van ʼn weduwee uitgedra word om begrawe te word, het Hy die weduwee innig jammer gekry en die seun uit die dood opgewek (Luk. 7:11-14).
Jesus se genesingsdade het dus ʼn tweevoudige doel gehad. Duidelik was hulle nodig om sy Goddelike seunskap te bevestig. Maar in die proses wou Jesus ook reageer op werklike menslike nood. Ons moet nie die toepassing daarvan op ons miskyk nie. Terwyl die spirituele behoeftes van mense voorrang moet geniet, moet ons nie hul fisiese behoeftes ignoreer nie. Volgens Jesus se woorde in Matteus 25:31-46 sal die eindoordeel sekerlik ons versorging van die fisiese behoeftes van mense in ag neem.
Op organisasievlak doen ons, gelowiges, redelik goeie werk met die versorging van die mense se fisiese behoeftes. Maar het ons as individue medelye met die armes, die haweloses, die oues en die gestremdes? Ons kan nie wonderwerke doen nie, maar ons kan op baie gewone maniere versorg. Elkeen van ons moet in gebed oorweeg hoe ons Jesus se voorbeeld van medelye met die fisiese behoeftes van hulpbehoewende mense kan navolg.
As ons weer kyk na die wonderwerke wat in Matteus 9 aangeteken is, is dit insiggewend om te let op die rol wat geloof daarin speel. In die geval van die verlamde man sê Matteus dat Jesus sy geloof gesien het (Mat. 9:2). In die geval van die vrou wat genees is, het Jesus gesê: “Jou geloof het jou gered” (Mat. 9:22). En vir die twee blinde mans wat gesond gemaak is, het Jesus gesê: “Wat julle glo, sal gebeur” (Mat. 9:29). En die raadslid wie se die dogter deur Jesus uit die dood opgewek is, se geloof is vanselfsprekend in sy versoek aan Jesus: “ My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe” (Mat. 9:18). Slegs van die duiwelbesete en stom man is daar geen melding van geloof aan sy kant nie.
In al vier die gevalle waar geloof genoem word, was dit geloof in Jesus se vermoë om te genees, nie in Sy wil om te genees nie. As ons vandag sou bid vir die genesing van vriende of geliefdes wat ly aan ernstige siektes, moet ons ook glo dat dat God in staat is om te genees, óf direk óf deur konvensionele metodes. Om te sê dat God sal genees, is voorbarig, want ons ken nie God se gedagtes nie. Om egter te sê dat God die vermoë het om te genees is om geloof te toon.
Word God beperk deur ons geloof? Nee, want daar is verskeie gevalle in die Evangelies waar geloof nie genoem word nie. Ons worstel deesdae partykeer met die geloof dat Jesus in staat is om te genees omdat ons so min gevalle van genesing sien. As ons op hierdie manier worstel moet ons die voorbeeld volg van daardie vader wat vir Jesus gesê het: “Ek glo. Help my in my ongeloof” (Mark. 9:24). Daar is ʼn groot verskil tussen ʼn worstelende geloof soos hierdie vader gehad het, en die hardkoppige ongeloof van die mense in Jesus se tuisdorp wat hom verhoed het om enige wonderwerke daar te doen (Mark. 6:3-6).
Laat ons seker maak dat ons ʼn worstelende geloof, en nie ʼn hardkoppige ongeloof het nie.