Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 3 Deur die geloof word ons weergebore: ‘n Behandeling van berou
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 3 Deur die geloof word ons weergebore: ‘n Behandeling van berou
1. Die verband tussen geloof en berou.⤒🔗
Hoewel ons gedeeltelik geleer het hoe die geloof Christus in besit neem en hoe ons daardeur sy seëninge kan geniet, sou dit tog nog onduidelik gewees het as ons nie 'n verduideliking van die uitwerking1 van die geloof wat ons gewaar word, byvoeg nie. Dit is nie sonder rede dat die geheel van die evangelie in berou en sondevergiffenis saamgevat word nie.2 As ons dus hierdie twee hoofpunte agterweë laat, sal enige bespreking van die geloof verskraal en geskend en daarom ook byna nutteloos wees. Aangesien Christus beide vernuwing van ons lewe en onverdiende versoening aan ons gee en ons albei deur die geloof kan verkry, vereis ons metode en die verloop van ons onderwysing dat ek nou begin om albei hier te bespreek. Naas die geloof sal ons ook tot 'n behandeling van berou oorgaan.3 As ons immers deeglik van hierdie hoofpunt kennis dra, sal dit beter blyk hoe die mens deur die geloof alleen en deur louter genade4 regverdig gemaak word én hoe - om dit so te stel - die daadwerklike heiligheid van die lewe tog nie van die genadige toerekening van geregtigheid geskei kan word nie.5 Daar behoort trouens geen geskil daaroor te bestaan dat berou nie alleen onmiddellik op geloof volg nie maar ook dat dit daaruit ontstaan.6
Aangesien genade en vergiffenis immers deur die verkondiging van die evangelie aangebied word om die sondaar van die tirannie van die Satan, van die juk van die sonde en van die jammerlike slawerny van sy gebreke te bevry sodat hy na die koninkryk van God kan oorgaan, kan niemand die genade van die evangelie seker aanneem sonder om hom weg van die dwalings van sy vroeëre lewe op die reguit pad te begewe en hom heelhartig daarop toe te lê om oor sy berou na te dink nie.
Mense wat egter die opvatting huldig dat berou aan geloof voorafgaan eerder as dat dit juis daarvandaan kom of soos vrugte deur 'n boom, daardeur voortgebring word,7 het die krag daarvan nog nooit geken nie, en hulle word deur 'n te ligte redenasie beïnvloed om die opvatting te huldig.
2. 'Berei die weg van die Here; maak die paaie van ons God reguit'.←⤒🔗
"Christus en Johannes," sê hulle, "spoor die volk in hulle preke eers aan om hulle te bekeer.8 Daarna voeg hulle by dat die koninkryk van die hemel naby gekom het.9 Die apostels ontvang ook die opdrag om só te preek. En soos Lukas vertel, is dit ook die volgorde wat Paulus gevolg het."10 Terwyl hulle egter bygelowig op die samehang van die lettergrepe vassteek, merk hulle nie op wat die betekenis is waarin die woorde onderling saamhang nie. Want wanneer die Here Christus en Johannes op hierdie trant preek: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom",11 lei hulle dan nie juis die rede vir hulle bekering uit die genade en die belofte van saligheid12 af nie? Hulle woorde het dus net soveel krag asof hulle gesê het: "Omdat die koninkryk van die hemel naby gekom het, bekeer julle daarom." Want wanneer Matteus vertel dat Johannes só gepreek het,13 leer hy dat Jesaja se profesie in hom vervul is. Die profesie het gehandel oor 'n stem wat in die woestyn roep: "Berei die weg van die Here; maak die paaie van ons God reguit".14 In die (boek van die) profeet word die stem trouens gelas om met vertroosting en 'n blye boodskap te begin.15
Hoewel ons die oorsprong van die bekering tot die geloof terugvoer, droom ons tog nie dat daar 'n bepaalde tydstip is waarop die geloof bekering teweegbring nie. Ons bedoeling is net om aan te toon dat niemand sy berou ernstig kan opneem as hy nie weet dat hyaan God behoort nie. Niemand is egter waarlik daarvan oortuig dat hy aan God behoort, tensy hy vooraf God se genade verkry het nie.16 Maar dit sal algaande duideliker uiteengesit word. Miskien het dit hulle om die bos gelei dat baie mense deur die vrees van hulle gewete beteuel of gevorm word om onderdanig te wees nog voordat hulle kennis van sy genade opgedoen het, ja, nog voordat hulle dit kon smaak. En dit is die aanvanklike vrees17 wat sommiges as deugde beskou, omdat hulle merk dat dit na aan ware en opregte gehoorsaamheid kom.18
Maar dit gaan hier nie om die verskeidenheid maniere waarop Christus ons na Hom toe trek of hoe Hy ons voorberei om ons vir godsvrug te beywer nie. Ek sê slegs dat dáár geen opregtheid gevind kan word waar die Gees wat Christus ontvang het om met sy lede te deel, nie heers nie. Verder is daar in die psalm die volgende: "By U is daar vergewing, sodat U gevrees mag word".19 Niemand sal God ooit vrees tensy hy vertrou dat God hom genadig is nie, niemand sal gewillig en bereid wees om die wet te gehoorsaam tensy hy daarvan oortuig is dat sy gehoorsaamheid God behaag nie. Sy sagmoedigheid wat in die vergewing en verdraagsaamheid van ons sondes voorkom, is 'n teken van sy vaderlike guns. Hosea se aansporing bewys dit ook. Hy sê. "Kom, laat ons terugkeer tot die Here, want Hy het ons verskeur en sal ons genees; Hy het geslaan en sal ons gesond maak".20 Die hoop op genade word trouens as 'n prikkel bygevoeg om te verhoed dat hulle in hulle sondes verstar.
Sekere mense se waansinnigheid is ook sonder 'n sweem van redelikheid. Hulle skryf aan hulle nuwelinge21 wat met berou wil begin, bepaalde dae voor om berou te beoefen.22 Wanneer dit dan uiteindelik afgehandel is, laat hulle hulle toe om aan die genade van die evangelie deel te neem. Ek praat nou van die meeste Wederdopers en veral van die wat verbasend bly is as hulle as geestelikes beskou word,23 en hulle bloedbroers die Jesuïete24 en dergelike uitvaagsels.. Natuurlik is dit die vrug wat 'n gees wat in 'n beswyming is, voortbring om die berou wat 'n Christen oor sy hele lewe moet beoefen, tot 'n paar daggies te beperk.25
3.26 'n Bespreking van teoloë se verdeling van berou in afsterwe en lewendmaking.←⤒🔗
Toe sekere geleerde manne, selfs lank voor ons tyd, volgens die Skrifreël eenvoudig en opreg oor berou wou praat, het hulle gesê dat dit uit twee dele bestaan, naamlik afsterwe en lewendmaking.27 Hulle vertolk afsterwe as daardie smart en verskrikking van die siel wat uit die kennis van die sonde en die gevoel van God se oordeel ontstaan. Wanneer iemand immers ware kennis van die sonde opgedoen het, begin hy sy sonde waarlik haat en vervloek. Dan het hy van harte 'n afkeer in homself, erken dat hy ellendig en verlore is en hy wens dat hy 'n ander mens is. Wanneer hy hierbenewens ook die oordeel van God voel - die een kom immers onmiddellik uit die ander een voort - sidder hy inderdaad verslae en ontsteld; hy is verneder, platgeslaan en hy bewe, hy is moedverlore en wanhopig. Dit is die eerste deel van berou wat hulle oor die algemeen verbryseling noem.28
Lewendmaking vertolk hulle as daardie vertroosting wat uit die geloof ontstaan. Dit is naamlik wanneer die mens bewus is van sy sonde, deur sy vrees vir God verslae en terneergeslaan is en dan sy oë ophef na God se goedheid, sy barmhartigheid, sy genade en die saligheid wat deur Christus is, weer opstaan, asem en moed skep en as't ware uit die dood na die lewe terugkeer. Hierdie woorde druk weliswaar die krag van berou paslik genoeg uit mits dit maar reg geïnterpreteer word. Omdat hulle lewendmaking egter opneem as daardie blydskap29 wat die gemoed uit sy verwarring en vrees verkry en dan kalm word,30 stem ek nie daarmee saam nie. Dit dui immers eerder op die begeerte om heilig en godvrugtig te lewe wat uit die wedergeboorte ontstaan. Dit is net asof bedoel word dat die mens vir homself sterwe sodat hy kan begin om vir God te lewe.
4. 'n Bespreking van die verdeling van berou in berou onder die wet en berou onder die evangelie.←⤒🔗
Omdat sommige mense gesien het dat die woord berou op 'n verskeidenheid maniere in die Skrif opgeneem word, het hulle twee vorms van berou voorgestel. Om hulle met die een of ander kenteken te onderskei het hulle die een berou van die wet genoem. Dit is die berou waardeur 'n sondaar deur die brandyster van die sonde gewond en deur die vrees vir God se toorn verbrysel is en, vasgeknel in sy verwarring, vassteek en nie in staat is om hom daaruit los te wikkel nie.
Hulle noem die tweede vorm berou van die evangelie. Dit is berou waardeur 'n sondaar wel swaar getref is maar waardeur hy tog hoer uitsryg en Christus as geneesmiddel vir sy wonde, as vertroosting vir sy vrees en as 'n hawe vir sy ellende aangryp.31
Hulle hou Kain,32 Saul33 en Judas34 as voorbeelde van berou van die wet voor. Wanneer die Skrif hulle berou vir ons verhaal, verstaan dit daaronder dat hulle die gewigtigheid van hulle sonde leer ken en die toorn van God gevrees het, maar omdat hulle slegs aan God as Wreker en Regter gedink het, het hulle onder daardie gevoel beswyk. Hulle berou was dus niks anders as 'n soort voorkamer van die hel, waarin hulle alreeds in hierdie lewe ingegaan het en begin het om deur die gesig van die toorn van God se majesteit gestraf te word nie.
Ons merk die berou van die evangelie in al die mense wat van die prikkels van hulle sonde sweer maar tog deur hulle vertroue op God se barmhartigheid opgehef en verkwik is en hulle tot die Here bekeer het. Hiskia was lam geskrik toe hy die boodskap ontvang het dat hy sou sterwe maar hy het gehuil en gebid, en toe hy sy oë op God se goedertierenheid gerig het, het hy weer vertroue gekry.35 Die inwoners van Ninevé was ontsteld deur die verskriklike uitspraak dat hulle verdelg sou word. Hulle het hulle egter in sak en as geklee en gebid in die hoop dat hulle die Here kon laat verander en dat Hy van die woede van sy toorn sou afsien.36 Dawid het bely dat hy swaar gesondig het toe hy die volk getel het. Hy sê dan: "Here, neem die ongeregtigheid van u dienskneg weg!"37 Toe Natan hom bestraf, het hy sy owerspel erken en hom voor die aangesig van die Here neergewerp maar tegelyk vergiffenis verwag.38 Die mense wat tydens Petrus se preek in hulle harte deurboor was, het dieselfde berou getoon. Hulle het egter op God se goedertierenheid vertrou en bygevoeg: "Wat sal ons doen, mannebroeders?''39 So was ook Petrus se berou: hy het weliswaar bitterlik gehuil maar nie opgehou om te hoop nie.40
5. 'n Definisie van berou.←⤒🔗
Al hierdie voorbeelde is wel waar. Sover ek egter uit die Skrif kan aflei, moet ons die woord berou nogtans anders opneem. Dat hulle geloof onder berou insluit, is immers strydig met dit wat Paulus in Handelinge sê, naamlik dat Hy vir die Jode en heidene berou tot God en geloof in Jesus Christus betuig het.41 Daar vermeld hy berou en geloof as twee uiteenlopende dinge. Waarom dan so? Kan ware berou sonder geloof bestaan? Hoegenaamd nie! Hoewel hulle inderdaad nie van mekaar geskei kan word nie, moet hulle tog van mekaar onderskei word. Net soos daar geen geloof sonder hoop is nie en geloof en hoop nogtans verskillende dinge is, net so is dit die geval met berou en geloof. Hoewel hulle met 'n aaneenlopende band onderling saamhang. wil hulle tog eerder met mekaar verbind as vermeng word.
Ek is weliswaar bekend daarmee dat die volle bekering tot God ook onder die woord berou ingesluit word, en daarvan is geloof nie die geringste nie. Wanneer die betekenis en aard van berou verduidelik is, sal dit baie maklik duidelik wees in watter sin bekering plaasvind. Die woord berou is deur die Hebreërs van omkeer of terugkeer en deur die Grieke van verandering van denke of plan afgelei. Die werklikheid stem ook nie sleg met albei se etimologie ooreen nie. Samevattend kom dit daarop neer dat ons onsself verlaat en ons na God keer; dat ons ons vroeëre denkwyse laat vaar en 'n nuwe aanneem.
Daarom kan berou na my mening goed gedefinieer word as 'n waaragtige ommekeer van ons lewe na God toe wat uit 'n opregte en ernstige vrees vir God kom42 en in die afsterwe van ons vlees en van ons ou mens en in die lewendmaking van ons gees geleë is.
Ons moet al die preke waarmee die profete eenmaal of die apostels na hulle die mense van hulle tyd tot berou gemaan het, in hierdie sin verstaan. Al hierdie preke het immers net een doel naamlik om mense wat deur hulle sondes verwar en deur hulle vrees vir die oordeel van God deurboor is, voor Hom te laat neerval en hulle voor Hom teenoor wie hulle gesondig het, te verootmoedig en met waaragtige bekering tot sy reguit pad terug te keer. Daarom word die woorde omkeer of terugkeer na die Here, bekeer en berou beoefen deur hulle sonder onderskeid met dieselfde betekenis gebruik.43 Daarom sê die heilsgeskiedenis ook dat die mens berou na God toe beoefen wanneer mense wat God op die agtergrond skuif en hulle begeertes laat botvier, begin om sy Woord te gehoorsaam44 en die voorneme het om Hom as hulle Leidsman te volg, waarheen Hy hulle ook al roep. Johannes en Paulus praat ook van vrugte voortbring wat hulle berou waardig is.45 Daaronder verstaan hulle 'n lewenswandel wat so 'n berou in al hulle handel weergee en betuig.
6. Berou beteken vernuwing.←⤒🔗
Maar voordat ons verder gaan, sal dit vir ons voordelig wees om die definisie wat ons gestel het, duideliker toe te lig. Daaronder moet ons veral aan drie hoofpunte aandag gee. Wanneer ons berou 'n bekering van ons lewe tot God noem, vereis ons ten eerste ook 'n verandering, nie soseer in ons uitwendige werke nie maar juis in ons siele. Wanneer ons siele hulle ou toestand laat vaar het, bring hulle eindelik die vrug op hulle werke voort wat met hulle vernuwing ooreenkom. Wanneer die profeet dit wil uitdruk, maan hy die mense wat hy tot berou roep, dat hulle 'n nuwe hart vir hulleself moet skep.46 Wanneer Moses van plan is om die manier aan te dui waarop die Israeliete berou kan toon om hulle tot die Here te bekeer, dui hy daarom baie dikwels aan dat dit uit die hele hart en uit die hele siel moet geskied.47
Dit is trouens 'n uitdrukking wat ons herhaaldelik by ander profete sien.48 Wanneer Moses bekering besnydenis van die hart 49 noem, ondersoek hy die begeertes diep binne-in hulle. Daar is egter nie 'n plek waar ons beter kan sien wat opregte berou is as in Jeremia 4 nie. Daar staan: "As jy jou bekeer, Israel, sê die Here, (be)keer jou tot My. Ploeg julle akkers en moenie onder die dorings saai nie. Besny julle vir die Here en verwyder die voorhuid van julle harte".50 Kyk net hoe hy verkondig dat hulle in hulle ywer om geregtigheid te beoefen niks sal bereik nie, tensy die goddeloosheid veral uit die diepste binneste van hulle harte weggeskeur is. En om hulle heeltemal te oorreed vermaan hy hulle dat hulle met God te doen het, by wie dit hulle nie baat om Hom die rug toe te keer nie, want Hy haat 'n tweevoudige hart. Daarom spot Jesaja met die verwaande pogings van die geveinsdes, wat wel ywerig na 'n uitwendige hernuwing in die seremonies gestreef het, maar hulle intussen nie daaroor bekommer het om die bondels ongeregtigheid waarmee hulle die armes vasgebind het, los te maak nie.51 Daar dui hy ook pragtig aan in watter soort verpligtinge ongeveinsde berou eintlik geleë is.
7. Berou is ook vrees vir God.←⤒🔗
Die tweede hoofpunt wat ons geleer het, was dat berou uit ernstige vrees vir God voortkom. Want nog voordat 'n sondaar se gedagtes52 in die rigting van bekering neig, moet dit deur die gedagte aan God se oordeel wakker gemaak word.53 Wanneer hierdie gedagte egter volkome gevestig is dat God eenmaal die regterstoel sal bestyg om rekenskap van al ons woorde en dade te eis, sal dit die mens in sy ellende intussen geen rus laat nie en hom nie toelaat om vir 'n oomblik asem te skep sonder om hom te prikkel om voortdurend daaroor na te dink om 'n ander sort lewe te lei om onbesorg voor God se oordeel te kan staan nie.
Daarom maak die Skrif dikwels melding van God se oordeel wanneer dit ons tot berou aanspoor. So staan daar byvoorbeeld in Jeremia: "Dat my toorn nie miskien soos 'n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand dit kan blus weer is die boosheid van julle werk nie."54 In sy preek aan die Atheners sê Paulus: "Hoewel God wel tot dusver nie op die rye van hierdie onkunde ag geslaan het nie, verkondig Hy nou aan al die mense oral dat hulle berou moet betoon omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel''55 en so ook op verskeie ander plekke.
Soms verklaar die Skrif na aanleiding van ere strawwe wat alreeds opgelê is, dat God die Regter is sodat sondaars daaroor moet nadink dat swaarder strawwe hulle bedreig tensy hulle hulle vroegtydig bekeer. 'n Mens kry 'n voorbeeld hiervan in Deuteronomium 29.56 Omdat bekering waarlik vanweë afsku van en haat vir die sonde begin, stel die apostel die droefheid wat na God toe is, as die oorsaak van berou. Hy noem dit egter droefheid na God toe57 wanneer ons nie alleen vir die straf van God terugdeins nie maar wanneer ons juis die sonde na aanleiding waarvan ons besef dat God ontevrede met ons is, haat en vervloek. Dit is nie verbasend nie, want as ons nie hewig deurboor word nie, sou ons nie die luiheid van ons vlees kon verbeter nie, inteendeel, die prikkels sou nie vir ons vlees se traagheid en luiheid genoeg gewees het as dit nie was dat God sy gésels te voorskyn gebring en dieper in ons ingedring het nie. Hierby kom ook ons koppigheid wat as 't ware met hamers verpletter moet word. Die bedorwenheid van ons verstand dwing God dus om streng te wees wanneer Hy ons dreig. Hy sou ons immers tevergeefs so vriendelik gelok het as ons aan die slaap is. Ek haal nie getuienis daarvoor aan nie omdat dit oral in die Skrif voorkom.
Daar is ook 'n ander rede waarom die vrees vir God die begin van berou is. Dit is naamlik dat, al sou die mens se lewe in alle deugde volmaak wees en dit nie daarop gerig word om God te dien nie, die wêreld dit wel nog sou kon prys, maar in die hemel sal dit 'n gruwel wees, omdat die belangrikste deel van geregtigheid daarin geleë is om aan God die reg en eer te betoon wat Hom toekom. Ons beroof Hom goddeloos daarvan wanneer ons ons voorneem om ons nie aan sy heerskappy te onderwerp nie.
8. Berou beteken afsterwe van die vlees en lewendmaking van die Gees.←⤒🔗
Daar bly nog oor dat ons ten derde 'n uiteensetting moet gee van wat ons bedoeling is wanneer ons sê dat berou uit twee dele bestaan, naamlik die afsterwe van ons vlees en die lewendmaking van ons gees. Die profete druk dit tog duidelik uit, al is dit baie eenvoudig en ongekunsteld volgens die bevatlikheid van die vleeslike volk, wanneer hulle sê: "Weerhou julle van die kwaad en doen die goeie".58 Net so: "Was julle, wees rein en neem die kwaad van julle dade voor my oë weg."59 En ook: "Hou op om verkeerd te doen; leer om die goeie te doen; soek geregtigheid; help die onderdrukte''60 ensovoorts. Wanneer hulle die volk immers van hulle kwaad terugroep, eis hulle die ondergang van die volle vlees wat vol kwaad en bedorwenheid is.61
Om onsself af te lê en ons aangebore aard af te sterf is 'n onderwerp wat baie moeilik en ingewikkeld is. Want ons moet nie dink dat ons vlees goed gesterf het tensy alles wat ons van onsself het, tot niet gegaan het nie. Aangesien die gesindheid van ons vlees egter in alle opsigte vyandskap teen God is,62 is die verloëning van ons natuur die eerste stap om sy wet te gehoorsaam.63 Daarna wys hulle op die vernuwing uit die vrugte wat daaruit voortkom, naamlik geregtigheid, oordeel en barmhartigheid.Want dit sou nie genoeg wees om maar net sulke pligte behoorlik na te kom nie tensy ons gemoed en hart eers 'n gesindheid van geregtigheid, oordeel en barmhartigheid aangeneem het. Dit vind plaas wanneer die Gees van God ons siele in sy heiligheid ingedoop het en dit so met nuwe gedagtes en gesindhede deurdrenk het dat hulle met reg as nuwe siele beskou kan word. Aangesien ons ons van nature van God af wegkeer, sal ons gewis nooit na dit wat reg is kan strewe tensy ons selfverloëning eers plaasvind nie. Daarom word ons so dikwels bevel om ons ou mens af te lê, afstand te doen van die wêreld en ons vlees, ons begeertes vaarwel toe te roep en weer in die gees van ons gemoed nuut te word.64 Verder toon die woord afsterwe juis aan hoe moeilik dit is om ons vroeëre natuur te vergeet. Ons kan immers hieruit aflei dat ons nie op 'n ander manier gevorm kan word om God te vrees en die beginsels van godsvrug te leer ken nie, as wanneer ons met geweld deur die swaard van die Gees geslag en tot niet gemaak word nie. Dit is asof God verkondig dat ons gewone natuur moet sterf sodat ons as sy kinders gereken kan word.
9. Berou beteken wedergeboorte in Christus.←⤒🔗
Albei hierdie dinge val ons te beurt omdat ons deel het aan Christus. Want as ons waarlik deel het aan sy dood, word ons ou mens deur sy krag gekruisig,65 en die liggaam van ons sonde sterf, sodat die bedorwenheid van ons eerste natuur geen krag meer het nie.66 As ons in sy opstanding deel, word ons daardeur opgewek tot 'n nuwe lewe wat met God se geregtigheid ooreenstem. In een woord verstaan ek onder berou dus wedergeboorte, waarvan die doel net is om die beeld van God wat deur Adam se oortreding verontreinig en byna uitgewis is, weer in ons te laat vorm kry. So leer die apostel ons wanneer hy sê: "Terwyl ons met ontblote gesig die heerlikheid van die Here weergee, word ons in dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid asof deur die Gees van die Here".67 Net so: "Deur die gees van julle gemoed moet julIe weer nuut word en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskep is in ware geregtigheid en heiligheid".68 Elders staan daar: "Wanneer julle julle met die nuwe mens beklee wat nuut gemaak word na die kennis en,beeld van Hom wat die mens geskep het".69 So word ons deur die wedergeboorte kragtens die weldaad van Christus in die geregtigheid van God vernuwe, waarvan ons deur Adam afvallig geword het. Dit is die manier waarop dit die Here behaag om almal wat Hy as erfgename van die lewe verkies, weer ongeskonde te maak.70
Hierdie hernuwing word weliswaar nie in 'n oogwenk of een dag of een jaar voltrek nie, maar God maak die bedorwenheid van hulle vlees in sy uitverkorenes voortdurend, ja, selfs met gestadige vordering, tot niet. Hy reinig hulle van hulle vuilheid; Hy heilig hulle as tempels vir Hom en Hy maak al hulle gevoelens weer nuut totdat dit waarlik suiwer is, sodat hulle hulle hele lewe lank berou kan beoefen en kan weet dat daar nie 'n einde aan die stryd is nie behalwe in die dood. Daarom is Staphylus, daardie onrein uitvaagsel en afvallige, se goddeloosheid soveel groter.71 Hy klets dat ek die toestand van ons huidige lewe met die hemelse heerlikheid verwar wanneer ek na aanleiding van Paulus die beeld van God as heiligheid en ware geregtigheid vertolk.72 Net asof ons inderdaad nie die ongeskondenheid en volmaaktheid van 'n saak moet ondersoek wanneer ons dit beskrywe nie! En tog word daarmee nie ontken dat daar plek vir groei is nie. Ek verklaar egter dat die beeld van God helderder in iemand skyn namate hy nader aan die gelykenis van God kom. God skrywe daarom hierdie renbaan van berou aan die gelowiges voor waarop hulle hulle hele lewe lank moet hardloop om dit te bereik.
10. Daar bly steeds 'n vonkie van die sonde in die wedergebore mens oor.←⤒🔗
So word die kinders van God dus deur hulle wedergeboorte van die slawerny van die sonde vrygemaak - nie asof hulle die vryheid ten volle besit en geen las van hulle vlees meer ervaar nie maar so dat daar voortdurend rede om te stry by hulle oorbly73 sodat hulle geoefen kan word, en nie alleen geoefen word nie maar so dat hulle ook hulle eie swakheid beter kan leer ken. Al die skrywers met 'n gesonder oordeel stem trouens onderling ooreen dat daar in die wedergebore mens 'n vonkie van die kwaad oorbly waaruit voortdurend begeertes borrel om hom te lok en aan te hits om weer te sondig. Hulle erken74 ook dat die heiliges nog so deur die kwaal van begeerte vasgeknel is dat hulle nie kan voorkom dat hulle af en toe nog tot wellus, gierigheid, eersug of ander gebreke geprikkel en aangepor word nie.
Dit is trouens nie nodig dat ons ons te veel vermoei met 'n ondersoek na die opvatting van die ou skrywers nie. Augustinus alleen kan immers hiervoor voldoende wees omdat hy hulle almal se opvattings met groot noukeurigheid versamei het.75 Daaruit kan my lesers dus ontleen as hulle seker wil wees van die opvatting van die skrywers uit die ou tyd.76 Die indruk kan wel bestaan dat daar 'n verskil tussen hom en ons is omdat hy tog nie waag om die kwaal van begeerte sonde te noem nie hoewel hy toegee dat gelowiges, solank hulle in hulle sterflike liggaam inwoon, so in hulle begeertes verstrengel is dat hulle nie anders kan as om te begeer nie. Hy is tevrede om die woord swakheid daaraan toe te ken en hy leer dat dit eers sonde word wanneer die daad of instemming, by die beplanning of die aangryping van die begeerte kom, dit is wanneer die wil voor die eerste begeerte swig.77
Sover dit ons aangaan, beskou ons juis dit as sonde dat die mens deur enige begeerte hoegenaamd teen die wet van God geprikkel word. Meer nog, ons verklaar dat juis die bedorwenheid wat sulke begeertes in ons voortbring, sonde is. Ons leer dus dat daar altyd sonde in die heiliges is, totdat hulle van hulle sterflike liggaam ontslae is, omdat die bedorwenheid van hulle begeerte altyd in hulle vlees aanwesig is, en dit is in stryd met opregtheid. Tog weerhou Augustinus hom nie altyd van die word sonde nie, soos wanneer hy byvoorbeeld sê: "Paulus noem dit waaruit al die sondes in die vleeslike begeerte ontstaan, sonde.78 Sover dit die heiliges aangaan, verloor dit die heerskappy op aarde en gaan in die hemel tot niet.''79 Met hierdie woorde erken hy dat die gelowiges aan die sonde skuldig is in so verre hulle aan die begeertes van hulle vlees onderworpe is.
11. Wedergeboorte beteken dat die heerskappy van die sonde beëindig is.←⤒🔗
Dat daar gesê word dat God sy kerk van alle sonde reinig, dat Hy hierdie genadige verlossing deur die doop belowe en in sy uitverkorenes volbring,80 voer ons tot die skuld eerder as tot die rede vir die sonde self terug. Deur die wat aan Hom behoort weer te laat gebore word, bring God dit wel teweeg dat die heerskappy van die sonde in hulle tot niet gemaak word, want Hy gee aan hulle die krag van sy Gees om in die stryd die oorhand te kry en te oorwin. Die sonde hou egter slegs op om in hulle te heers maar nie om in hulle te woon nie. Ons sê daarom dat die ou mens in die kinders van God op so 'n wyse gekruisig is en dat die wet van die sonde op so 'n wyse in hulle tot niet gemaak is dat daar nogtans oorblyfsels daarvan in hulle oor is.81 Dit is egter nie so dat dit oor hulle heers nie maar so dat dit hulle deur die bewussyn van hulle swakheid nederig maak. Ons erken wel ook dat die oorblyfsels daarvan hulle nie toegereken word asof dit nie bestaan nie, maar ons verklaar tegelyk dat dit aan God se barmhartigheid toe te skrywe is dat die heiliges van hierdie skuld verlos word, terwyl hulle andersins met reg as sondaars en skuldiges voor God se aangesig sou wees.
Dit sal inderdaad ook nie vir ons moeilik wees om hierdie opvatting te staaf nie, want daar is duidelike getuienisse hieroor in die Skrif. Watter duideliker getuienis wil ons nog hê as Paulus se uitroep in Romeine 7?82 Ons het ten eerste reeds elders aangetoon83 en Augustinus bewys dit ook op onomstootlike gronde84 dat Paulus daar in die persoon van 'n wedergebore mens praat. Ek verswyg maar die feit dat hy die woorde kwaad en sonde gebruik. Al sou die mense wat hulle stemme teen ons wil verhef, die draak kon steek met hierdie woorde, wie sou egter kon ontken dat weerspannigheid teen die wet van God nogtans kwaad is? Wie sou ontken dat die verhindering van geregtigheid sonde is? Wie sou nie laastens toegee dat daar skuld is waar geestelike ellende is nie? En tog verkondig Paulus al hierdie dinge in verband met hierdie kwaal. Verder het ons ook 'n vaste bewys daarvan uit die wet waardeur met hierdie hele vraag korte mette gemaak kan word. Ons word immers gebied om God van ganser harte en met ons hele siel en met al ons kragte lief te hê.85 Aangesien ons siele in alle opsigte só deur die liefde van God beset behoort te word, staan dit vas dat mense wat selfs die geringste begeertetjie in hulle harte toelaat of hoegenaamd enige gedagte daaraan in hulle gemoed laat opkom wat hulle van die liefde van God na ydelheid wegneem, nie aan God se gebod voldoen nie. Waarom dan? Is dit dan nie die werking van die siel om vining emosioneel te word, om met die gevoel aan te gryp en met die verstand te be dink nie? Terwyl die werking van die siel hom dus vir ydel en verkeerde gedagtes toeganklik maak, toon hulle dan nie net sowel aan dat hulle ewe veel sonder liefde vir God is nie? Iemand wat daarom nie erken dat al die begeertes van die vlees sonde is nie, dat die kwaal van begeerte wat hulle 'n vonkie noem, in werklikheid die bron van die sonde is nie, moet noodwendig ook sê dat 'n oortreding van die wet nie sonde is nie.
12. Natuurlike begeerte is sondige begeerte.←⤒🔗
As dit vir iemand onsinnig lyk dat al die begeertes saam waardeur die mens van nature oorval word - dit is immers deur God, wat die Skepper van die natuur is, aan die mens gegee86 -, is ons antwoord daarop dat ons hoegenaamd nie daardie begeertes verdoem wat God van die begin van die skepping af so in die mens se natuur ingegrif het dat dit nie daaruit uitgewis kan word sonder om ook sy menswees te vernietig nie. Ons verdoem egter wel die oordrewe en ongebonde emosies wat strydig met God se verordening is. Aangesien al die kragte van ons siel vanweë die verkeerdheid van ons natuur so gebrekkig en bedorwe is dat ongeregtigheid en onbeheerstheid voortdurend in al sy dade na vore kom, verklaar ons dat hierdie begeertes gebrekkig is omdat hulle nie van sulke onbeheerstheid geskei kan word nie. Of, as ons dit in 'n paar woorde mag opsom: ons leer dat al die mens se begeertes sleg is en dit is vanweë die sonde skuldig, nie in soverre hulle natuurlike begeertes is nie maar omdat hulle wanordelik is. Ons sê egter dat hulle wanordelik is omdat niks reins en opregs uit 'n bedorwe en bevlekte natuur kan voortkom nie.
Augustinus wyk trouens nie soveel van hierdie leer af as wat dit met die eerste oogopslag lyk nie. Hy weerhou hom soms van die woord sonde wanneer hy vir die misnoeë waarmee die Pelagiane hom wou belas, meer as wat hy moes, terugdeins.87 Wanneer hy egter skryf dat die wet van die sonde in die heiliges bly en dat slegs hulle skuld weggeneem word, toon hy daarmee genoegsaam aan dat hy nie soveel van ons opvatting verskil nie.88
13. Augustinus se opvattings in verband hiermee.←⤒🔗
Laat ons enkele ander gedagtes89 van hom aanhaal sodat beter kan blyk wat sy opvatting was. In sy tweede boek teen Julianus sê hy: "Daardie wet van die sonde is deur die geestelike wedergeboorte vergewe, maar dit bly in die sterflike vlees. Dit is naamlik vergewe omdat die skuld betaal is in die sakrament waardeur die gelowiges wedergebore word. Dit bly egter omdat dit begeertes werk waarteen ook die gelowiges stry".90 Net so sê hy. "Die wet van die sonde wat ook in die ledemate van so 'n groot apostel was, word in die doop vergewe maar nie beëindig nie".91 Net so: "Ambrosius het die wet van die sonde wat nog in die mens bly en waarvan die skuld in die doop weggeneem is, ongeregtigheid genoem omdat dit onreg is dat die vlees teen die Gees begeer".92 Net so: "Die sonde is dood in die skuld waarin dit ons skuldig gehou het. En selfs al is dit dood, kom dit nog in opstand totdat dit deur 'n volmaakte begrafnis gesond gemaak word".93 In die vyfde boek stel hy dit nog duideliker: "Soos die blindheid van die mens se hart ook sonde is waardeur die mens nie in God glo nie, en ook straf vir die sonde waarmee 'n hoogmoedige hart met verdiende straf gestraf word, en ook oorsaak van die sonde wanneer die een of ander kwaad deur die dwaling van so 'n blinde hart begaan word, net so is die begeerte van die vlees wat teen die goeie Gees begeer, ook sonde omdat daarin engehoorsaamheid teen die heerskappy van die Gees aanwesig is, en ook straf vir die sonde omdat dit as vergelding aan ongehoorsame mense gegee is, en dit is ook oorsaak van die sonde vanweë die afvalligheid van een wat daartoe instem, of vanweë die smet daarvan by iemand wat daarmee gebore word".94
Hier noem hy die begeertes van die vlees ondubbelsinnig sonde. Hy het die dwaling (van die Pelagiane) immers reeds platgeslaan, die waarheid bewys en hy vrees hulle valse beskuldigings nie meer nie. Wanneer hy in sy een en veertigste preek oor Johannes uit sy hart en sonder twis praat, sê hy byvoorbeeld: "As jy die wet van die sonde met jou vlees dien, doen dan soos die apostel self sê: 'Laat die sonde nie in jou sterflike liggaam heers om sy begeertes te gehoorsaam nie!'95 Hy sê nie: 'Laat daar nie sonde wees nie', maar 'laat die sonde nie heers nie'. So lank as jy leef, moet die sonde noodwendig in jou ledemate wees. Ontneem dit egter die mag om oor jou te heers en moenie laat gebeur wat dit jou bevel nie".96
Mense wat probeer om begeerte te verdedig asof dit nie sonde is nie,97 hou gewoonlik Jakobus se verklaring voor wanneer hy sê: "Nadat die begeerte ontvang het, baar dit sonde".98 Dit kan egter sonder moeite weerlê word. Want as ons nie daaronder verstaan dat hy slegs van bose dade of van werklike sonde praat nie, sal selfs nie eens 'n bose wil as sonde gereken word nie. Net die feit dat hy oortredings en verkeerde dade kinders van die begeerte noem en juis die naam sonde daaraan gee, volg daaruit egter nie dadelik dat begeerte iets boos en voor God doemwaardigs is nie.
14. Die dwaling van die Wederdopers in verband met begeerte.←⤒🔗
Sommige Wederdopers van ons tyd versin die een of ander kranksinnige buitensporigheid in plaas van geestelike wedergeboorte.99 Hulle verbeel hulle dat die kinders van God wat in 'n staat van onskuld herstel is, hulle nie meer daaroor hoef te bekommer om die luste van hulle vlees te beteuel nie. Hulle dink dat ons maar net die leiding van die Gees moet volg, omdat ons onder sy optrede nooit op 'n dwaalspoor sal beland nie. 'n Mens sou nie kon glo dat die mens se verstand in so 'n kranksinnigheid kan verval nie, as dit nie was dat hulle hierdie leerstelling van hulle openlik en hooghartig uitbasuin nie. Dit is wel seker 'n gedrog van 'n leerstelling. Dit is egter ook reg dat mense wat die waarheid van God in 'n leuen wil verander, vir sulke ketterse vermetelheid gestraf moet word. Sal die hele verskil tussen dit wat laakbaar en dit wat eerbaar is, tussen reg en onreg, tussen goed en kwaad, tussen deug en ondeug dan nie so uit die weg geruim word nie? "So 'n onderskeid," sê hulle, "ontstaan uit die vloek van die ou mens (Adam) waarvan ons deur Christus verlos is." Maar sal daar dus geen verskil wees tussen hoerery en kuisheid, tussen opregtigheid en slinksheid, tussen waarheid en leuen, tussen geregtigheid en roof nie? "Laat vaar jou ydel vrees," sê hulle. "Die Gees sal jou geen kwaad beveel nie, mits jy Hom maar onbesorg en onbeskroomd toelaat om te handel."100
Wie word nie deur hierdie gedrogte verbyster nie? Tog is dit 'n populêre filosofie onder die mense wat deur die waansinnigheid van hulle wellus verblind is en alle gesonde verstand van hulle afgestroop het. Maar ek smeek jou, watter soort Christus smee hulle vir ons en watter soort Gees braak hulle uit?
Sover dit ons aangaan, ken ons net een Christus en net een Gees van Hom: die een Christus wat die profete aanbeveel het en van wie die evangelie verkondig dat Hy geopenbaar is, die een Christus van wie ons nog nooit so iets gehoor het nie. Die Gees is nie 'n kampvegter vir moord, hoerery, dronkenskap, hooghartigheid, twis, gierigheid of bedrog nie! Nee, Hy is die Bewerker van liefde, kuisheid, nugterheid, beskeidenheid, vrede, ingetoënheid en waarheid. Hy is nie 'n Gees wat aan beswyming ly en halsoorkop deur reg en onreg storm nie, maar Hy is die Gees vol wysheid en verstand waardeur Hy behoorlik tussen reg en onreg onderskei. Hy hits nie aan tot losse en ongebreidelde losbandigheid nie, maar soos Hy tussen dit wat geoorloof en dit wat ongeoorloof is, onderskei, leer Hy ons om ons maat en selfbeheersing te behou.101 Waarom sou ons ons tog langer daarmee vermoei om hulle dierlike waansin te weerlê? Die Gees van die Here is nie vir Christene 'n onrustige spook wat hulle in hulle drome geskep het of as versinsel van ander oorgeneem het nie. Nee, hulle streef eerbiedig om Hom uit die Skrif te leer ken, waar hierdie twee fasette van Hom geleer word, naamlik ten eerste, dat Hy tot ons heiligmaking aan ons gegee is om ons van ons onreinheid en besmetting te reinig en ons te lei om God se geregtigheid te gehoorsaam. Die gehoorsaamheid kan nie bestaan tensy ons elke begeerte tem en onderdruk waaraan hulle vrye teuels wil gee nie.
Vervolgens leer die Skrif dat ons deur sy heiligmaking so gereinig word dat ons nograns deur baie gebreke en groot swakheid beset word solank ons nog in hierdie liggaam ingesluit is. Die gevolg daarvan is dat ons nog ver van volmaak af is maar tog altyd 'n bietjie vorder en omdat ons nog in ons gebreke verstrik is, elke dag daarmee moet worstel. Die gevolg daarvan is ook dat ons ons traagheid en sorgeloosheid van ons moet afskud en met gespanne gemoedere moet waak om te verhoed dat ons vanweë die traagheid van ons vlees onverhoeds bedrieg word behalwe as ons miskien vertrou dat ons verder as die apostel gevorder het! Hy is nogtans deur 'n engel van die Satan vermoei102 sodat God se krag in sy swakheid volbring kon word.103 En hy het die verdeeldheid van vlees en gees in sy vlees nie as 'n verdigsel weergegee nie.104
15. Berou volgens 2 Kor. 7:11.←⤒🔗
Dat die apostel in sy beskrywing van berou sewe oorsake of resultate of dele daarvan opnoem, doen hy om 'n baie goeie rede. Dit is naamlik toewyding, besorgdheid, verontskuldiging, verontwaardiging, vrees, verlange, geesdrif en bestrawwing.105 Dit moet ook vir niemand sinloos lyk dat ek nie waag om te oordeel of die dinge as oorsake of as gevolge van berou beskou moet word nie. 'n Mens kan immers na beide kante daaroor redeneer. Dit kan ook gesindhede genoem word wat hand aan hand met berou gaan. Omdat ons egter nogtans kan verstaan wat Paulus bedoel, al laat ons die vraagstukke agterweë, salons met 'n eenvoudige verduideliking tevrede wees.
Hy sê dus (ten eerste) dat besorgdheid uit die droefheid wat tot God is, verwek word. Want iemand wat 'n ernstige misnoeë in homself het omdat hy teen sy God gesondig het, word terselfdertyd geprikkel tot noulettendheid en aandagtigheid om homself ten volle uit die strikke van die duiwellos te maak om beter teen sy hinderlae te waak sodat hy voortaan nie weer van die heerskappy van die Gees afvallig word of deur onverskilligheid oorval word nie. Hierna volg verontskuldiging. Hier beteken dit nie 'n verdediging waarvolgens die sondaar verklaar dat hy nie oortree het of sy skuld verminder om God se oordeel te ontwyk nie, maar wel die suiwering wat in gebed eerder as in die vertroue in sy eie saak geleë is. Dit is soos wanneer deugsame kinders hulle foute erken en bely maar nogtans voorspraak gebruik. Om plek daarvoor in te ruim getuig hulle op elke moontlike manier dat hulle glad nie die eerbied wat hulle aan hulle ouers verskuldig is, verwerp het nie.106 Kortom: hulle verontskuldig hulle op so 'n wyse, nie om te bewys dat hulle reg en onskuldig is nie, maar slegs om vergewe te word.
Ten derde volg daar verontwaardiging waarvolgens 'n sondaar innerlik vir homself briesend kwaad is, homself aankla, op homself toornig is wanneer hy sy bedorwenheid en sy ondankbaarheid teenoor God agterkom.
Ten vierde verstaan hy onder die woord vrees die angs wat in ons gemoedere ingeboesem word wanneer ons nadink oor dit wat ons verdien het, sowel as oor hoe verskriklik die strengheid van God se toorn teen sondaars is. Want dan moet ons noodwendig deur uitsonderlike onrustigheid gekwel word, wat ons enersyds leer om nederig te wees en andersyds om in die toekoms versigtiger te wees. As daar uit die vrees egter die onrustigheid ontstaan, waarvan ons vroeër gepraat het, sien ons hoe hierdie dinge met mekaar verband hou.
Ten vyfde lyk dit vir my asof hy verlange gestel het as sorgvuldigheid in ons pligsvervulling en ywer om te gehoorsaam. Die kennis van ons oortredings behoort ons veral hiertoe aan te por.
Ten sesde het geesdrif wat hy onmiddellik hierna byvoeg, ook die strekking. Want hy dui op die vurigheid waarmee ons aangevuur word wanneer sulke prikkels ons beïnvloed. "Wat het ek gedoen? Waarheen sou ek blindelings gestorm het as God my nie met sy barmhartigheid tegemoetgekom het nie?"
Ten laaste is daar bestrawwing. Hoe strenger ons immers teenoor onsself is en hoe skerper ons ons sondes ondersoek, hoe meer behoort ons te hoop dat God ons genadig en barmhartig sal wees. Dit kan sekerlik ook nie gebeur sonder dat 'n siel wat deur die vrees vir die oordeel van God getref is, nie die taak om wraak op homself te neem, sou aangryp om homself te bestraf nie.
Godvrugtige mense voel in elk geval watter groot strawwe die skaamte, die skande, die versugtinge, misnoeë en die ander gevoelens is wat uit 'n ernstige kennis van hulle oortredings voortkom. Tog moet ons onthou om ons selfbeheersing te behou, sodat droefheid ons nie verswelg nie, want ons vreesbevange gewete is tot niks meer geneig as om juis in wanhoop te gronde te gaan nie. Ook met hierdie slinkse set dompel die Satan al die mense by wie hy sien dat hulle deur die vrees vir God platgeslaan is, meer en meer in daardie bodemlose maalstroom van smart sodat hulle nooit weer boontoe kan kom nie. Die vrees kan wel nie te groot wees as dit in ootmoed eindig en nie hoop op vergiffenis laat vaar nie. Tog moet 'n sondaar volgens die voorskrif van die apostel altyd daarteen waak dat hy nie deur uitermatige vrees oorval word en moed verloor107 wanneer hy homself tot misnoeë in homself aandryf nie, want so vlug ons van God af weg terwyl Hy ons juis deur berou na Hom toe roep.
Bernardus se vermaning in verband hiermee is ook nuttig. Hy sê: "Droefheid vanweë die sonde is noodsaaklik as dit net nie vir altyd is nie. Ek raai julle aan om soms van die moeitevolle en beangstigende nadenke van julle weë af te wyk en uit te kom op die oop veld waarin julIe rustig oor God se weldade kan dink. Laat ons die gal met heuning meng sodat die heilsame bitterheid aan ons gesondheid kan gee wanneer ons dit met soetigheid wat daarby ingemeng en getemper is, drink. En as julle van julleself in nederigheid voel, voel dan ook van die Here in goedheid".108
16. Uiterlike en innerlike tekens van berou.←⤒🔗
Nou kan ons ook begryp hoedanig die vrugte van berou is, naamlik die pligte van godsvrug teenoor God, liefde teenoor mense en hierby heiligheid en reinheid deur ons hele lewe. Kortom: hoe meer elkeen sy lewe met ywer na die maatstaf van God se wet inrig, des te sekerder lewer hy tekens van sy berou. Dikwels wanneer die Gees ons aanspoor tot berou, roep Hy ons nou tot elkeen van die gebooie van die wet afsonderlik terug en dan weer tot ons pligte volgens die tweede tafel van die wet. Nadat Hy elders die vuilheid juis in die bron daarvan, dit is in ons hart, verdoem het, keer Hy tog daarna terug na die uitwendige getuienis wat opregte bekering aan ons opdra. Hiervan sal ek weldra 'n lys in die beskrywing van 'n Christen se lewe vir my lesers byvoeg.109 Ek sal nie uit die profete die getuienis aanhaal waarmee hulle enersyds die spot dryf met die onsin van die mense wat hulle inspan om God met seremonies tevrede te stel en waarmee hulle toon dat dit louter gekheid is en andersyds leer dat uitwendige lewensopregtheid nie die belangrikste aspek van berou is nie, omdat God na 'n mens se hart kyk. Iemand wat maar net oppervlakkig met die Skrif omgaan, sal sonder dat iemand anders hom daarop wys, agterkom dat wanneer hy met God te doen het, die mens niks uitrig tensy ons by die dieper gesindheid van ons hart begin nie.
'n Aanhaling uit Joël sal ook baie daartoe bydra om die ander te verstaan: "Skeur julle harte en nie julle klere nie!"110 Albei is ook bondig tot uitdrukking gebring in die volgende woorde van Jakobus: "Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, Hulle dubbelhartiges".111 Daar word die toevoeging wel in die eerste deel gestel. Tog word die bron en beginpunt later aangetoon, naamlik dat die verborge vuilheid weggevee moet word sodat 'n altaar in die hart self vir God ingerig kan word.
Daarbenewens is daar ook sekere uitwendige oefeninge waarvan ons persoonlik gebruik kan maak as middels om ons te verootmoedig of om ons vlees te tem. In die openbaar kan ons dit gebruik om waarlik van ons bekering te getuig.112 Dit kom egter voort uit die bestrawwing waarvan Paulus praat. Dit is immers eienskappe van 'n verslae hart om in vuilheid, in versugting en in trane te wees, om weg te vlug van skoonheid en enige soort praal en om hom alle genietinge te ontsê.
Iemand wat verder voel hoe groot die euwel van die opstand van sy vlees is, soek al die geneesmiddels om dit aan bande te lê. Iemand wat daarbenewens goed nadink hoe ernstig die skending van God se geregtigheid is, kan nie tot rus kom voordat hy in sy eie verootmoediging die heerlikheid aan God gegee het nie.
Die skrywers van die ou tyd herinner ons dikwels aan sulke oefeninge wanneer hulle oor die vrug van berou praat.113 Hoewel hulle die krag van berou glad nie in sulke oefeninge stel nie, sal my lesers my nogtans verskoon as ek sê wat ek voel. My indruk is naamlik dat hulle te veel op hierdie uitwendige oefening aandring. As iemand dit egter verstandig oorweeg, sal hy hopelik met my saamstem dat hulle die perke op twee maniere oorskry het.114 Wanneer hulle immers so sterk op die uitwendige oefeninge klem lê en daardie liggaamlike dissipline met sulke beheerste lof aan ons opdring, bereik hulle dit wel dat die gewone mense dit met groter ywer omarm,115 maar hulle verduister nogtans iets wat van baie groter waarde behoort te wees. Verder was hulle ietwat onbuigsamer in die toepassing van hulle strawwe as wat die kerk se sagmoedigheid kan verdra.116 Dit is egter 'n onderwerp wat ons mettertyd elders sal moet behandel.117
17. Godvrugtiges se lewe behoort van gedurige berou te getuig.←⤒🔗
Wanneer sommige mense dikwels elders maar besonderlik by die profeet Joël hoor dat gehuil, vas en as vermeld word,118 meet hulle die hoofaspek van bekering aan vas en gehuil.119 Ons moet hulle sinsbedrog uit die weg ruim. Dit wat in verband met die ommekeer van die hele hart tot die Here en in verband met die skeur nie van hulle klere nie maar van hulle harte gesê word, is 'n eienskap van bekering. Gehuil en vas word egter nle as langdurige of noodsaaklike gevolge daarvan bygevoeg nie maar net met die oog op 'n besondere omstandigheid. Omdat hy geprofeteer het dat 'n verskriklikste vernietiging op die Jode wag, raai hy hulle aan om die toorn van God te voorkom, nie soseer deur hulle te bekeer nie maar deur duidelike tekens van hulle droefheid te gee. Want soos 'n beskuldigde met 'n ongeskeerde baard, ongekamde hare en somber klere hom gewoonlik smekend neerbuig om 'n regter se genade te verkry, so moet hulle ook God se strengheid met 'n bejammerenswaardige houding probeer afwend, wanneer hulle voor God se regterstoel aangekla word. Hoewel sak en as in hulle tyd miskien pasliker was as in ons s'n, sal gehuil en vas onder ons heeltemal gepas wees wanneer dit lyk asof die Here ons met die een of ander teenspoed of ramp bedreig. Want wanneer Hy gevaar wil laat verskyn, verkondig Hy dat Hy gereed is en op een of ander wyse gewapen is om wraak te neem. Die profeet gee dit dus goed weer wanneer hy sy mense tot gehuil en vas aanspoor, dit is tot die droefheid van mense wat aangekla word, nadat hy 'n bietjie vroeër gesê het datondersoek ingestel word na hulle oortredings.
So moet die herders van die kerk vandag ook doen wanneer hulle sien dat verderf hulle mense se lewe bedreig120 en hulle moet hard uitroep dat hulle hulle tot vas en gehuil moet haas, mits hulle maar altyd met groter en yweriger sorg en moeite aandring op die belangrikste aspek daarvan, naamlik dat hulle hulle harte en nie hulle klere nie moet stukkend skeur.
Daar kan geen twyfel daaroor bestaan dat vas nie altyd met berou saamhang nie, maar dit is in besonder vir rampspoedige tye bestem.121 Daarom verbind Christus dit ook aan rou, wanneer Hy sy apostels van die noodsaaklikheid daarvan vrystel sa lank as wat hulle Hom nie meer by hulle het nie en diep bedroef is.122 Ek praat nou van gewone vas. Want godvrugtiges se lewe behoort met spaarsinnigheid en nugterheid getemper te wees, sodat die indruk van vas voortdurend in hulle lewensloop na vore kom. Die hele onderwerp raak ek nou maar baie effens aan, omdat ek dit weer moet ondersoek wanneer ek die kerklike tug behandel.123
18.124 Berou sluit sondebelydenis voor God in.←⤒🔗
Tog sal ek nog die volgende invoeg. Wanneer die woord berou op hierdie uitwendige oefening oorgedra word, word dit onpaslik van die ware gevoel wat ek (hierbo) gestel het, afgelei. Want dit is dan nie so seer 'n bekering tot God as wat dit 'n skuldbelydenis in verbinding met 'n afbidding van straf en skuld is nie. Om so in as en bokhaar rou te bedryf is niks anders as om ons misnoeë te getuig wanneer God Hom vanweë ons ernstige oortredings vir ons vertoorn nie.125 Dit is wel 'n soort openbare belydenis waarmee ons ons voor die engele en voor die wêreld verdoem maar die oordeel van God voorkom.
Wanneer Paulus immers die traagheid bestraf van die mense wat vrye teuels aan hulle sondes gee, sê hy: "As ons onsself oordeel, sou ons nie deur God geoordeel word nie."126 Dit is egter nie altyd nodig om ons berou aan mense bekend te maak sodat hulle ook daarvan weet en daarvan kan getuig nie. Om egter persoonlik voor God belydenis te doen is 'n deel van die ware berou wat nie nagelaat kan word nie. Want niks is minder paslik as dat God ons die sondes vergewe waaroor ons ons op die skouer klop nie, en dat Hy nie die sondes wat ons deur ons skynheiligheid wegsteek, aan die lig bring nie. Ons moet nie alleen die sondes wat ons elke dag begaan, bely nie, maar ons moet ook die ernstiger foute wat ons oor 'n langer tyd met ons saamsleep en wat skynbaar lankal begrawe is, onthou, soos Dawid met sy eie voorbeeld vir ons voorskryf. Want toe hy skaam gekry het vir die oortredings wat hy so pas begaan het,127 het hy homself tot by sy moederskoot ondersoek. Hy erken dat hy toe alreeds bedorwe was en deur sy vlees besmet.128 Dit doen hy nie om sy skuld te verminder soos baie mense wat hulle onder die massa wegsteek en ongestraf probeer ontglip deur ander mense saam met hulle by hulle sonde te betrek nie. Dawid tree heeltemal anders op. Hy maak sy skuld opreg groter, naamlik dat hy van kindsbeen afbedorwe was en dat hy nie opgehou het om sonde op sonde te stapel nie. Elders ondersoek hy sy verlede op so 'n manier dat hy God om sy barmhartigheid smeek oor die sondes van sy jong dae.129 Ons sal in elk geval eers bewys dat ons ons traagheid afgeskud het as ons verligting van God vra, wanneer ons onder ons las kreun en oor ons sondes huil.
Buitendien moet ons daarop let dat die berou waarop ons ons voortdurend moet toelê, verskil van berou wat mense byna uit die dood opwek wanneer hulle of baie skandelik geval het of hulleself met ongebonde vryheid aan die sonde uitgelewer het of deur die een of ander sort afvalligheid die juk van God van hulle afgeskud het. Want dikwels wanneer die Skrif ons tot berou aanspoor, teken dit berou as 'n oorgang en 'n opstanding uit die dood tot die lewe.130 Wanneer dit vertel dat dievolk rou bedryf het, verstaan dit daaronder dat hulle hulle van afgodery en ander growwe sondes bekeer het. Daarom verkondig Paulus dat hy sal treur oor sondaars wat nie oor hulle uitspattighede, hulle hoerery en hulle onkuisheid nie berou gehad het.131
Ons moet noukeurig op hierdie onderskeid let om te verhoed dat, wanneer ons verneem dat 'n handjievol mense tot boetvaardigheid opgeroep word, 'n trae sorgeloosheid in ons sou insluip net asof die afsterwe van ons vlees ons nie meer aangaan nie. Die bose begeertes wat ons altyd prikkel, en die gebreke wat van tyd tot tyd by ons woeker, laat ons nie toe om die sorge oor die afsterwe van ons vlees te laat vaar nie. Die besondere berou wat slegs van sommiges vereis word wat die durwel van die vrees vir God weggeruk en in sy verderflike strike vasgewoel het,132 neem die gewone berou dus nie weg nie. Die bedorwenheid van ons natuur dwing ons trouens om ons hele lewe lank daaraan aandag te skenk.
19. Berou en sondevergiffenis hang met mekaar saam.←⤒🔗
Verder, as dit dan waar is - en dit is tog baie duidelik - dat die volle som van die evangelie in twee hoofpunte saamgevat word,133 naamlik berou en sondevergiffenis, kan ons tog sekerlik sien dat die Here die wat aan Hom behoort, verniet regverdig maak om hulle terselfdertyd deur die heiligmaking deur sy Gees tot ware geregtigheid te vernuwe.134 Johannes wat as boodskapper voor die aangesig van Christus vooruitgestuur is om die weë vir Hom te berei,135 het verkondig: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby, gekom".136 Deur hulle te nooi om berou te hê vermaan hy hulle dat hulle hulle as sondaars moet erken en dat alles wat hulle het, voor die Here verdoem is, sodat hulle in al hulle gebede die afsterwe van hulle vlees en 'n nuwe wedergeboorte in die Gees moet nastreef. Deur die koninkryk van God aan te kondig roep hy hulle op om te glo. Deur die koninkryk van God, waarvan hy geleer het dat dit naby was, teken hy die vergiffenis van sondes, saligheid, die lewe en volledig alles wat ons in Christus verkry. Daarom lees ons ook by die ander evangelieskrywers: "Johannes het gekom en die doop van bekering tot vergewing van sondes verkondig".137 Wat beteken dit dan anders as dat mense wat deur die las van die sonde gedruk en vermoei was,138 hulle tot die Here moes keer en uit vergiffenis en saligheid hoop moes put?
Christus het sy preke ook so begin.139 "Die koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle, en glo die evangelie".140 Ten eerste verklaar Hy dat die skatte van God se barmhartigheid in Hom geopenbaar is; ten tweede eis Hy berou en ten laaste vertroue jeens die beloftes van God. Toe Hy dus die volle som van die evangelie bondig wou saamvat, het Hy gesê dat Hy moes ly, dat Hy uit die dood moes opstaan en dat berou en vergiffenis van sondes in sy Naam verkondig moes word.141 Die apostels het dit ook na sy opstanding verkondig, naamlik dat Hy deur God verhoog is om aan Israel berou en vergiffenis van sondes te gee.142
Berou word in die Naam van Christus verkondig wanneer mense deur die onderwysing van die evangelie hoor dat al hulle gedagtes, al hulle gevoelens, al hulle planne bedorwe en sondig is; dat dit daarom noodsaaklik is dat hulle wedergebore word as hulle tot die koninkryk van God wil toetree. Sondevergiffenis word verkondig wanneer mense geleer word dat Christus vir hulle verlossing, regverdigheid, saligheid en die lewe143 geword het en dat hulle in sy Naam uit genade in God se oë as regverdiges en onskuldiges beskou word. Hoewel albei hierdie genadegawes deur die geloof verkry word, soos ons elders aangetoon het,144 was dit tog belangrik om noukeurig tussen sondevergiffenis en berou te onderskei omdat God se goedheid, waardeur ons sondes vergewe word, eintlik die geloof se doel is.
20. ''Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees" (Luk. 4:18)←⤒🔗
Ons haat vir die sonde wat die begin van berou beteken, maak eerste die kennis van Christus vir ons toeganklik. Christus openbaar Hom trouens slegs aan sondaars wat ellendig en verslae is, dié wat sug, die wat vermoei en belas is, dié wat honger en dors het en van smart en ellende uitgeteer is.145 Net so moet ons vir be rou ywer; ons moet ons ons hele lewe lank daarop toelê en dit tot die einde toe najaag as ons in Christus wil lewe. Hy het trouens gekom om sondaars te roep maar dan so dat hulle berou moet hê.146 Hy is gestuur om mense wat dit nie waardig is nie, te seën maar so dat elkeen hom van sy boosheid moet bekeer.147 Die Skrif is vol sulke uitsprake. Wanneer God ons vergiffenis van sondes aanbied, vorder Hy oor die algemeen op sy beurt bekering van ons. Daarmee gee Hy te kenne dat sy barmhartigheid vir die mensdom die oorsaak van hulle bekering moet wees. Hy sê: "Doen reg en geregtigheid, want my saligheid het naby gekom".148 Net so: "Daar sal 'n Verlosser kom vir Sion en vir die wat hulle in Jakob van hulle sondes bekeer het".149 Net so: "Soek die Here terwyl Hy te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die ongeregtigheid van sy gedagtes en laat hy hom tot die Here bekeer en Hy sal hom barmhartig wees".150 Net so: "Kom tot inkeer en bekeer julle sodat julle sondes uitgewis mag word".151 Tog moet ons daarop let dat die voorwaarde hierin nie op so 'n wyse gestel word asof ons bekering die basis is waarop ons vergiffenis verdien nie, inteendeel, omdat die Here besluit het om barmhartigheid aan die mens te betoon sodat hy hom kan bekeer, toon Hy eerder aan waarvoor ons moet ywer as ons sy genade wil verkry. Solank ons dus in die kerker van ons liggame inwoon, moet ons daarom voortdurend met die gebreke van ons natuur stry en daarom ook met ons natuurlike siel.
Plato sê by verskeie geleenthede dat die lewe van 'n wyse man die oordenking van die dood is.152 Met groter waarheid kan ons sê dat die lewe van 'n Christen daarin bestaan dat hy hom voortdurend beywer en oefen om sy vlees af te sterf totdat dit heeltemal tot niet gegaan het en die Gees die heerskappy van God in ons verkry. Daarom dink ek dat dié mens die meeste gevorder het wat geleer het om die grootste misnoeë in homself te hê maar nie só dat hy in die modder bly lê en nie verder vordering maak nie, maar eerder só dat hy hom na God haas en na God hunker. Die doel daarvan moet wees dat hy in die dood en in die lewe van Christus ingelyf moet wees en voortdurend oor berou moet nadink. Mense wat die sonde opreg haat, kan sekerlik niks anders doen nie, want niemand kan die sonde ooit haat as hy geregtigheid nie eens liefhet nie.153 Terwyl dit die eenvoudigste gedagte van almal is, het dit vir my gelyk asof dit die beste met die waarheid van die Skrif ooreenstem.
21. "God het die heidene tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee" (Hand. 11:18) ←⤒🔗
Dat berou verder 'n besondere gawe van God is, is na my mening uit die voorgaande leer so duidelik dat dit onnodig is om weer 'n lang bespreking daaroor te voer. Die kerk loof en bewonder die weldaad van God dat Hy aan heidene berou tot hulle saligheid gegee het.154 Wanneer Paulus Timoteus beveel om geduldig en verdraagsaam teenoor die ongelowiges te wees, sê hy: "As God aan hulle berou gee om hulle te bekeer van die strikke van die duiwel".155 God verklaar156 dat dit sy wil is dat almal hulle moet bekeer, en Hy rig sy teregwysings oor die algemeen tot alle mense. Tog hang die werking daarvan af van die Gees van wedergeboorte. Dit sou tewens vir ons makliker gewees het om mense te maak as wat dit is om op eie stoom 'n uitnemender natuur aan te neem. Ons word daarom nie sonder rede in die hele verloop van ons wedergeboorte 'n beeld van God genoem wat geskep is tot goeie werke wat Hy voorberei het sodat ons daarin kan wandel nie.157 Almal wat God van die dood wil verlos, maak Hy lewend deur die Gees van die wedergeboorte.158 Hy doen dit nie omdat berou eintlik die oorsaak van ons saligheid is nie maar, soos ons reeds gesien het, omdat berou nie van geloof en die barmhartigheid van God geskei kan word nie. Want volgens Jesaja se getuienis het die Verlosser vir Sion gekom en vir die wat hulle in Jakob van hulle ongeregtigheid weggekeer het.159
Dit staan wel vas dat die Gees oral waar die vrees van God gedy, tot saligheid van die mens gewerk het. Wanneer die gelowiges dus in Jesaja daaroor kla en kerm dat hulle deur God verlaat is, stel hulle as aanduiding van hulle verwerping dat hulle harte van Godsweë verhard is.160 Ook wanneer die apostel afvalliges van die hoop op saligheid wil uitsluit, voer hy as rede aan dat dit onmoontlik is dat hulle tot berou vernuwe kan word.161 Wanneer God naamlik die mense wat Hy nie verlore wil laat gaan nie, vernuwe, gee Hy immers 'n aanduiding van sy vaderlike guns en met die strale van sy kalm en blymoedige gelaat trek Hy hulle in 'n sekere sin na Hom toe. Aan die ander kant donder Hy hard teen verworpenes wie se goddeloosheid onvergeeflik is. Dit is die soort wraak wat die apostel verkondig oor die wat moedswillig afvallig word. Wanneer hulle van die geloof in die evangelie afvallig word, dryf hulle met God die spot; beledigend verwerp hulle sy genade en hulle ontheilig en vertrap Christus se bloed onder hulle voete.162 Ja, sover dit binne hulle vermoë is, probeer hulle Hom weer kruisig. Want Hy neem nie die hoop op genade van alle moedswillige sondes weg soos sommige heethoofde verkeerdelik dink nie163 maar Hy leer dat afvalligheid geen verskoning hoegenaamd verdien nie sodat dit glad nie snaaks is dat God Hom met onverbiddelike strengheid op so 'n onheilige minagting van Hom wreek nie. Hy leer immers dat dit onmoontlik is om mense wat een maal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak het, die wat die Heilige Gees deelagtig geword en die goeie Woord van God en die kragte van die toekoms gesmaak het, as hulle struikel, weer tot berou te hernuwe omdat hulle die Seun van God van nuuts af kruisig en openlik met Hom die spot dryf.164 Net so sê hy iewers: "As ons opsetlik sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie maar 'n verskriklike verwagting van oordeel''165 ensovoorts.
Dit is ook hierdie verwysings wat die Novatiani eertyds verkeerd verstaan het en waaruit hulle die stof geput het om van hulle verstand af te raak.166 Party goeie mense het oor hulle weerbarstigheid aanstoot geneem en geglo dat hierdie brief (aan die Hebreërs) 'n vervalsing was167 ten spyte daarvan dat dit in alle opsigte tog die gees van die apostels adem. Omdat ons egter slegs met mense wat die brief aanvaar, in 'n stryd gewikkel is, is dit maklik om te bewys dat die opvatting hulle dwaling nie help nie. Ten eerste moet die apostel noodwendig met sy Meester ooreenstem, omdat Hy verklaar dat al ons sonde en laster vergewe sal word met uitsondering van die sonde teen die Heilige Gees, wat nie in hierdie nog in die toekomstige wêreld vergewe sal word nie.168 Nou verklaar ek dat die apostel vir seker met hierdie uitsondering tevrede was, tensy ons van hom 'n teenstander van Christus se genade wil maak. Hieruit kan ons aflei dat daar nie 'n besondere sonde is wat nie vergewe kan word nie met uitsondering alleen van die een sonde wat uit wanhopige raserny spruit en nie aan swakheid toegeskryf kan word nie. Dit lewer openlik bewys dat so 'n mens van die duiwel besete is.
22. Sonde teen die Heilige Gees. ←⤒🔗
Om die onderwerp egter eers af te handel moet ons die verskriklike sonde ondersoek wat so groot is dat dit nie vergewe kan word nie. Augustinus beskryf dit erêns as koppige eiesinnigheid tot die dood toe saam met wantroue in God se genade.169 Dit strook nie so goed met Christus se woorde nie. Hy sê dat hierdie sonde nie in hierdie wêreld vergewe sal word nie. Christus se verklaring is dus sonder grond of dié sonde kan in hierdie wêreld begaan word. As Augustinus se beskrywing waar is, word so 'n sonde nie begaan nie tensy dit tot in die dood voortduur. Ek sien ook nie waaruit ander mense hulle bewering ontleen dat iemand teen die Heilige Gees sondig as hy afgunstig is oor die genade wat aan sy medebroeder geskenk is nie.170
Laat ons egter die ware omskrywing daarvan aanbied. Wanneer ons dit met onomstootlike getuienis bewys het, sal dit maklik al die ander opvattings hieroor omverwerp. Ek verklaar dus dat mense teen die Heilige Gees sondig as hulle hulle met doelbewuste kwaadwilligheid nogtans teen die waarheid van God verset - en dan bloot om hulle daarteen te verset - ten spyte daarvan dat hulle deur die glans van hierdie waarheid so geraak word dat hulle nie onkunde daarvan as verskoning kan aanvoer nie. Toe Christus sy woorde trouens wou verklaar, het Hy onmiddellik bygevoeg: "Elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens sê, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat laster teen die Gees, dit sal hom nie vergewe word nie''.171 Matteus stel ook 'n gees van lastering in die plek van lastering teen die Gees.172
Hoe kan iemand die Seun beledig sonder om die Gees terselfdertyd leed aan te doen? Dit doen mense wat, sonder dat hulle dit weet, met die waarheid van God bots omdat hulle dit nie ken nie, dié wat Christus uit onkunde vervloek en intussen die gesindheid het dat hulle God se geopenbaarde waarheid nie sou wil uitdoof as hulle geweet het dat Hy die Gesalfde van die Here is nie. Hulle sondig wel teen die Vader en die Seun. So is daar vandag nog baie mense wat die leer van die evangelie baie lelik vervloek. As hulle egter geweet het dat dit die leer van die evangelie is, sou hulle bereid wees om dit van ganser harte te eerbiedig. Mense wat egter in hulle gewete oortuig is dat dit die Woord van God is wat hulle verwerp en verstoot, maar nogtans nie ophou om dit aan te val nie - van hulle word gesê dat hulle teen die Heilige Gees laster. Hulle stry trouens teen dié verligting wat die werk van die Heilige Gees is. Onder die Jode was daar ook party sulke mense wat nograns volgehou het om hulle daarteen te verset ofskoon hulle die Gees wat deur Stefanus gepraat het, nie kon teenstaan nie.173 Ongetwyfeld is baie van hulle deur hulle ywer vir die wet meegesleur, maar dit is ook duidelik dat daar party was wat met kwaadwillige goddeloosheid teen God self te velde getrek het - dit is, teen dié leer waarvan hulle terdeë bewus was dat dit van God afkom. Die Fariseërs was selfook sulke mense. Die Here bestraf hulle immers dat hulle met die naam Beëlsebul die Heilige Gees ontheilig het om sy krag te vernietig.174
Dit is dus 'n gees van laster wanneer die mens vermetel en opsetlik die Naam van God smaad. Dit is wat Paulus te kenne gee wanneer hy leer dat hy barmhartigheid verkry het omdat hy uit ongelowigheid sondes begaan het sonder dat hy dit geweet het terwyl hy die Here se genade andersins nie waardig sou gewees het nie.175 As sy onkunde saam met sy ongelowigheid veroorsaak het dat hy vergiffenis kon verkry, volg hieruit dat daar geen plek vir vergiffenis is waar die kennis van die waarheid by die ongeloof gekom het nie.
23. Mense wat die gemeenskap met Christus opsetlik opsê, kan nie tot hierdie gemeenskap terugkeer nie.←⤒🔗
As jy jou aandag goed daarop toespits, sal jy begryp dat die apostel inderdaad nie van een of twee gevalle praat nie maar van die algemene verval waardeur verworpenes van hulle saligheid afstand doen. Dit is egter nie verbasend dat mense van wie Johannes verklaar dat hulle nie onder die uitverkorenes was van wie hulle afvallig geword het nie,176 agterkom dat God onversoenlik is nie. Hy rig sy betoog trouens op mense wat hulle verbeel het dat hulle die Christelike godsdiens weer terug kan kry al het hulle een maal daarvan afvallig geword. Dit is hulle wat hy van hierdie valse en verderflike indruk terugroep en aan wie hy iets sê wat baie waar is, naamlik dat mense wat willens en wetens die gemeenskap met Christus verwerp het, nie daarheen kan terugkeer nie. Dit is egter nie mense wat eenvoudig met 'n onbeteuelde losbandige lewe die Woord van die Here oortree wat die gemeenskap met Christus verwerp nie, maar die wat opsetlik sy leer in sy geheel verwerp. Daar is dus bedrog in hulle afvalligheid en sonde.
Die aanhangers van Novatianus vertolk afvalligheid177 tewens as iets wat iemand doen wanneer hy hom nie van diefstal of hoerery weerhou nie ten spyte daarvan dat hy volgens die wet van die Here geleer is dat hy nie mag steel en nie mag hoereer nie.
Ek verklaar daarenteen dat daar in sy woorde 'n verswygde teenstelling aanwesig is waarin alles wat strydig is met die dinge wat hy vooraf gesê het, herhaal word. Hier word dus nie die een of ander besondere sonde nie maar die algemene afkeer van God af en, om dit so te stel, die hele mens se afvalligheid uitgedruk. Wanneer hy dus sê dat mense wat afvallig is nadat hulle eenmaal verlig is, nadat hulle die hemelse gawe gesmaak en deelgenote van die Heilige Gees geword het, nadat hulle ook die goeie Woord van God en die kragte van toekomstige tye gesmaak het,178 moet ons daaronder dié mense verstaan wat die lig van die Gees met hulle opsetlike goddeloosheid versmoor en die voorsmaak van 'n hemelse gawe uitgespoeg het; dié wat hulle van die heiligmaking van die Gees vervreem en die Woord van God en die kragte van toekomstige rye vertrap het. Om die gewisse bestemming van hulle goddeloosheid nog beter uit te druk voeg hy later op 'n ander plek uitdruklik die woord vrywillig by. Wanneer hy tewens sê dat daar geen offer meer oorbly vir die wat moedswillig gesondig het nadat hulle die kennis van die waarheid ontvang het nie,179 bedoel hy nie daarmee dat Christus nie 'n ewige offer is om die ongeregtighede van die heiliges te versoen nie. In sy verduideliking van die priesterskap van Christus roep hy dit trouens in die hele brief openlik uit. Hy sê egter wel dat daar geen ander offer meer oorbly wanneer mense van hierdie offer afgewyk het nie. 'n Mens wyk inderdaad daarvan af as hy die waarheid van die evangelie opsetlik loën.
24. 'As hulle roep, sal Ek nie luister nie'.←⤒🔗
Dit kan vir sommige mense te hard en ook vreemd aan die sagmoedigheid van God lyk dat mense wat hulle toevlug daartoe neem om die Here om sy barmhartigheid te smeek, vergiffenis geweier word.180 Dit is egter 'n vraagstuk wat ons maklik kan oplos. Hy sê immers nie dat vergiffenis hulle geweier word as hulle hulle tot die Here bekeer nie. Hy ontken egter heeltemal dat hulle tot berou kan oorgaan, natuurlik omdat hulle vanweë hulle ondankbaarheid volgens God se regverdige oordeel vir ewig verblind is. Dit verhinder dieselfde apostel egter nie om later die voorbeeld van Esau hierby in te pas wat met trane en geweeklaag tevergeefs gepoog het om sy eersgeboortereg terug te kry nie.181
Ook die profeet se dreigemente is nie minder daarmee in stryd nie. Hy sê: "Wanneer hulle roep, sal Ek hulle nie verhoor nie".182 Ware bekering of die aanroeping van God word immers nie met sulke uitdrukkings aangedui nie. Dit dui egter wel die angs van goddelose mense aan wanneer hulle daardeur in die hoogste nood vasgevang is en gedwing word om dit wat hulle tevore versrnaai het, in aanmerking te neem, naamlik dat hulle niks goeds het nie as die Here hulle nie daartoe help nie. Hulle bid egter nie soseer om God se hulp nie maar hulle sug daaroor dat sy hulp van hulle weggeneem is. Met sy uitroep dui die profeet, en met sy trane die apostel.183 dus niks anders aan as die verskriklike foltering wat goddelose mense vanweë hulle wanhoop verskroei en pynig nie.184 Dit is belangrik om noukeurig hierop te let, want God sou andersins met Homself in stryd wees wanneer Hy deur sy profeet uitroep dat Hy genadig sal wees sodra 'n sondaar hom bekeer het.185 En soos ek alreeds gesê het,186 is dit vas en seker dat die mens se gesindheid nie verbeter kan word tensy God se genade daaraan vooraf gaan nie.
Sover dit sy aanroeping aangaan: God se belofte sal nooit faal nie. Die blinde foltering waardeur verworpenes verskeur word wanneer hulle merk dat hulle God moet soek om 'n hulpmiddel teen hulle kwaad te vind en nogtans van Hom af wegvlug, word verkeerdelik bekering en gebed genoem.
25. Ware berou en skynheilige berou.←⤒🔗
Aangesien die apostel egter verklaar dat God nie met geveinsde berou versoen kan word nie, ontstaan die vraag tog hoe Agab genade kon kry en hoe hy die straf wat oor hom uitgespreek is, kon afwend.187 Soos uit die res van sy lewensloop blyk, is hy tog nie deur skielike angs platgeslaan nie. Hy het wel 'n sak aangetrek en as oor hom gestrooi; hy het op die grond gaan lê,188 en, soos daar van hom getuig word, het hy hom voor God verootmoedig. Dit was egter van weinig waarde dat hy sy klere geskeur het, aangesien sy hart halstarrig en met boosheid opgeblaas was. Tog sien ons hoe God (in sy geval) tot sagmoedigheid beweeg word.
My antwoord is dat geveinsdes soms vir 'n tydjie so vergewe word dat die toorn van God nogtans altyd oor hulle hang en dat dit nie om hulle ontwil nie maar as 'n algemene voorbeeld gebeur. Want watter voordeel het Agab daaruit behaal dat sy straf versag is anders as net dat hy die straf nie gevoel het terwyl hy nog op die aarde geleef het nie? Hoewel God se vloek oor hom verborge was, was dit wel deeglik in sy huis gevestig. Hy het self egter na die ewige verderf gegaan. Ons kan dieselfde ook in die geval van Esau sien. Hoewel hy immers verwerp is, is 'n tydelike seën nograns vanweë sy trane aan hom toegestaan.189 Omdat die geestelike erfdeel volgens God se uitspraak slegs in die hande van een van die broers kon berus, is Esau oor die hoof gesien en Jakob uitverkies. Sy verwerping het God se barmhartigheid so uitgesluit.190 Asof hy 'n mensdier was, het hy slegs die troos oorgehad dat hy deur die vet grond van die aarde en met die dou van die hemel versadig sou word.
Soos ek so pas gesê het, is dit ook die rede waarom ons na die voorbeeld van ander moet verwys, sodat ons kan leer om ons gesindheid en ons ywer vuriger op opregte berou te rig. Daar kan trouens geen twyfel daaroor bestaan dat God die mense wat hulle waarlik en van harte bekeer het, maklik sal vergewe nie, omdat Hy sy genade selfs tot mense wat dit nie verdien nie, uitbrei wanneer hulle maar net die een of ander misnoeë in hulleself toon. In dieselfde werk word ons ook geleer hoe verskriklik die oordeel is wat op alle weerbarstiges wag vir wie dit 'n speletjie is om onbeskaamd en met ysterharte God se dreigemente in die wind te slaan en as iets waardeloos te beskou. So het Hy sy hand dikwels na die kinders van Israel uitgestrek om hulle teenspoed te verlig hoewel hulle geroep na Hom geveins en hulle harte dubbelsinnig en vol wantroue was. So kla Hy self in die psalm daaroor dat hulle onverwyld na hulle ou geneigdheid teruggekeer het.191 So wou Hy hulle met vriendelike toegeneentheid tot ernstige bekering bring of alle verontskuldiging van hulle af wegneem. Hoewel hy hulle straf 'n tydjie uitstel, lê Hy Homself tog nie 'n ewige wet op nie, inteendeel, Hy tree dikwels strenger op teen geveinsdes en Hy verdubbel hulle straf sodat daaruit duidelik kan blyk hoe 'n groot misnoeë Hy in geveinsdheid het.
Soos ek vroeër gesê het, gee Hy egter ook blyke van sy bereidwilligheid om genade te verleen, sodat godvrugtige mense daardeur aangewakker kan word om hulle lewe te verbeter en sodat diegene wat voortdurend teen hierdie prikkels skop, swaarder veroordeel kan word.