Wanneer ‘n mens die erns van God se oordeel besef en deur selfondersoek sy eie swakheid gewaar, kan hy nie anders as om ootmoedig en nederig voor God te wees nie. Christus is immers gestuur om sondaars – en nie regverdiges nie! – te verlos. Want voor God, in al sy majesteit en volmaaktheid, is daar nie een mens regverdig nie. Daarom is daar geen plek vir eiewaan, verwaandheid of selftevredenheid nie.

Augustinus en Bernardus se opvattings in verband met God se geregtigheid word ook bespreek.

1984. 11 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 12 Om vas en seker van ons onverdiende regverdigmaking oortuig te wees, moet ons ons gedagtes na God se regbank ophef

1. Voor God se regbank is daar nie een wat regverdig is nie.🔗

Hoewel dit aan die hand van voortreflike getuienisse duidelik is dat al hierdie aspekte baie waar is, sal dit nogtans nie vir ons duidelik wees voordat ons die fondamente van ons hele bespreking in oënskou geneem het nie. Ons moet dus ten eerste daarop bedag wees dat ons bespreking nie oor geregtigheid voor 'n menslike regbank handel nie maar voor 'n hemelse, sodat ons nie miskien aan die hand van ons eie geringe maat sou opweeg hoe suiwer die werke moet wees waardeur aan God se oordeel voldoen kan word nie. En tog is dit verbasend met hoeveel onbesonnenheid en verwaandheid mense dit oor die algemeen omskryf. Ja, 'n mens kan sien dat niemand met groter oormoedigheid en, soos die spreekwoord lui, met voller kieste, oor die geregtigheid van hulle werke  klets as juis die mense wat afgryslik gebuk gaan onder kennelike ipekonders of krioel van gebreke wat net onder hulle vel lê nie. Dit gebeur omdat hulle nie oor God se geregtigheid nadink nie, want as hulle selfs die geringste aanvoeling daarvoor gehad het, sou hulle dit nooit so bespotlik voorgestel het nie. En tog word God se geregtigheid seer seker van buitengewone geringe waarde geag as daar nie erken word dat dit sodanig volmaak is dat niks daarin aanvaarbaar is as dit nie in alle opsigte suiwer, volmaak en onbevlek is nie. So 'n geregtigheid was nog nooit en sal ook nooit in 'n mens te vinde wees nie.

Natuurlik is dit vir enigeen maklik en moontlik om in die skadukolle van hulle skole oor die waarde van sy werke ter regverdigmaking van die mens onsin kwyt te raak maar wanneer 'n mens voor God se aangesig kom, moet hy sulke beuselagtighede laat vaar, omdat dit daar oor ernstige sake gaan en belaglike woordwedstryde nie daar beoefen word nie.1

Hierop, ja, hierop moet ons ons gedagtes rig as ons ware geregtigheid met vrug wil ondersoek, naamlik hoe ons die hemelse Regter moet antwoord wanneer Hy ons tot rekenskap roep.2 Laat ons ons dan die Regter voorstel - nie soos ons verstand Hom vanself vir ons afbeeld nie maar soos Hy in die Skrif vir ons geskilder word. Dit is naamlik die Regter deur wie se glans die sterre verduister word,3 deur wie se krag berge wegsmel,4 deur wie se toorn die aarde beef,5 deur wie se wysheid slim mense in hulle slim streke betrap word,6 voor wie se reinheid alles onrein word,7 wie se geregtigheid selfs nie die engele opgewasse is om te dra nie,8 wat 'n skuldige nie in 'n onskuldige verander nie,9 wie se toorn, as dit eenmaal ontbrand het, tot in die verste hoeke van die hel deurdring.10

Ek herhaal: Gestel dan dat Hy sit om mense se dade te ondersoek: Wie sal met gerustheid voor sy troon staan? "Wie sal met 'n verterende vuur saamwoon?" vra die profeet. "Wie sal met 'n ewigdurende gloed saambly? Hy wat in geregtighede wandel en die waarheid praat".11 Maar laat so iemand na vore kom, wie hy ook al is! Ja, die antwoord op hierdie vraag veroorsaak inderdaad dat niemand na vore kan kom nie. Want aan die ander kant weerklink die verskriklike uitspraak: "As U, o Here, ons ongeregtighede in aanmerking sou neem, wie, o Here, sal dan nog bestaan?''12 Soos elders geskryf is, moet almal terstond tot niet gaan: "Sal enige mens ooit regverdig gestel word wanneer hy deur God opgeweeg word? Of sal hy reiner wees as sy Maker? Kyk, die wat Hom dien, is nie getrou nie en in sy engele vind Hy ongeregtigheid. Hoeveel te meer sal mense wat in kleihuise woon en 'n aardse grondslag het, deur wurms afgemaai word? Van die oggend af tot die aand toe sal hulle afgemaai word".13 Net so: "Kyk, onder sy heiliges is daar nie een wat getrou is nie, en selfs die hemel is nie rein in sy oë nie. Hoeveel te afstootliker en waardeloser is die mens dan wat ongeregtigheid drink asof dit water is?"14

Ek erken wel dat daar in die boek Job melding gemaak word van 'n regverdigheid wat bo gehoorsaamheid aan die wet uitstaan, en dit is ook nodig om hierdie onderskeid te handhaaf. As iemand immers selfs aan die wet voldoen,15 sou hy nogtans nie so voor 'n ondersoek van daardie geregtigheid wat alle verstand te bowe gaan, stand kon hou nie. Selfs al was Job bewus daarvan dat hy goed gedoen het, was hy dus oorstelp en het hy stom geword omdat hy kon sien dat God selfs nie eens deur die heiligheid van die engele versoen kan word as Hy hulle werke op die hoogste weegskaal sou lê nie.

Ek laat dus die geregtigheid wat ek hier net oppervlakkig aangeroer het, daar omdat dit onbegryplik is. Ek verklaar slegs dat, as ons lewe aan die norm van die geskrewe wet getoets word, ons meer as onverskillig is tensy soveel vervloekinge waarmee God ons uit ons sluimering wou wakker skud, ons nie met verskriklike vrees teister nie. Die volgende is onder andere 'n algemene vloek: "Vervloek is elkeen wat nie bly by alles wat in hierdie boek geskryf is nie".16 Kortom: hierdie hele bespreking sou sonder betekenis of nutteloos wees, tensy elkeen homself voor die hemelse Regter skuldig stel en diep onrustig is oor sy kwytskelding, homself nie uit sy eie neerwerp en tot niet maak nie.

2. Geregtigheid van die mens is nie geregtigheid van God nie.🔗

Hierop, ja, hierop moes ons ons oë gerig het om te leer om liewer te beef as om ligsinnig te roem. Dit kan wel maklik gebeur dat iemand reken dat hy iets het wat ander nie behoort te versmaai as hy hom met ander mense vergelyk nie. Wanneer ons egter voor God staan, stort hierdie vertroue in duie en vergaan gouer as wat ons dit kan sê. En met ons siel gebeur ten opsigte van God ten volle wat met ons liggaam ten opsigte van die sienlike hemel gebeur. So lank as die blik van ons oë besig is om voorwerpe wat naby geleë is, te ondersoek, kry dit bewyse van sy skerpsiendheid. As ons ons oë egter na die son rig, word dit deur die uitermatige glans daarvan beperk en verblind, en by die aanskouing daarvan ervaar ons oë nie minder swakheid as wat dit krag ervaar wanneer dit laer voorwerpe sien nie.17 Laat ons ons dus nie met onsinnige selfvertroue mislei nie, selfs al sou ons reken dat ons ander mense se gelyke of selfs hulle meerdere is. Dit beteken niks by God nie, en die ondersoek hiervan moet aan sy beslissing onderwerp word. Maar as ons verwaandheid dan nie deur sulke vermanings mak gemaak kan word nie, sal Hy aan ons dieselfde antwoord verstrek as aan die Fariseërs toe hy gesê het: "Dit is julle wat julleselfvoor die mense regverdig. Maar wat vir mense belangrik is, is vir God 'n gruwel".18 Gaan dan nou en roem met uitgestote bors voor die mense op jou geregtigheid terwyl dit 'n geregtigheid is wat God uit die hemel as 'n gruwel beskou.

Maar wat sê God se diensknegte wat waarlik deur sy Gees onderwys is? "Moet tog nie 'n regsaak teen u dienskneg begin nie, want niemand wat leef, sal voor u aangesig regverdig wees nie."19 'n Tweede sê dit in 'n iet wat ander sin: "Geen mens sal by God regverdig kan wees nie. As jy 'n saak teen Hom sou voer, sou jy Hom nie eens een uit duisend keer kon antwoord nie".20 Hier hoor ons reeds duidelik wat die aard van God se geregtigheid is, naamlik dat dit deur geen werke van die mens tevrede gestel kan word nie. As sy geregtigheid ons oor ons duisende oortredinge ondervra, sal ons ons nie van een daarvan kan suiwer nie. So 'n geregtigheid het Paulus, uitverkore instrument van God, wel deeglik begryp toe hy verklaar het dat hy aan niks skuldig is nie maar dat hy nie daardeur regverdig word nie.21

3. Augustinus en Bernardus se opvattings in verband met God se geregtigheid.🔗

Sulke voorbeelde kom nie alleen in die Heilige Skrif voor nie, maar al die vroom skrywers22 bewys dat dit hulle opvatting was. Augustinus sê byvoorbeeld: "Dit is die enigste hoop van al die godvrugtiges wat onder hierdie las van verderflike vlees en in hierdie lewenswakheid sug, dat ons een Middelaar, Jesus Christus, wat regverdig is, het en Hy is die voldoening vir ons sondes".23 Wat hoor ons? As dit hulle enigste hoop is, waar is dan die vertroue op hulle werke? Wanneer hy sê dat dit hulle enigste hoop is, laat hy geen ander hoop nie.

Bernardus sê trouens: "En waarlik, waar is vir die wat swak is, 'n veilige en bestendige rus en onbesorgheid anders as in die wonde van die Saligmaker? Daar woon ek rustiger namate Hy magtiger is om my salig te maak. Die wêreld grom, my liggaam druk en die duiwel beloer my. Ek val nie, omdat ek op vaste rots gegrond is. Ek het swaar gesondig. My gewete is deurmekaar, maar dit sal nie heeltemal verbysterd wees nie, omdat ek die Here se wonde in gedagte sal hou".24 Later maak hy hieruit die volgende gevolgtrekking: "Daarom is die Here se barmhartigheid my verdienste; heeltemal sonder verdienste is ek nie, solank Hy nie sonder barmhartigheid is nie. As die Here se barmhartighede baie is, besit ek dus ewe veel aan verdienstes. Sal ek dan nog my geregtighede besing? Here, ek sal slegs u geregtigheid onthou. Want dit is juis ook myne, want Hy het deur God vir my geregtigheid geword".25 Net so elders: "Die hele verdienste van die mens is as hy sy hele hoop op Hom stel wat die mens ten volle salig maak".26 Net so wanneer hy die vrede vir homself hou maar die eer vir God laat. Hy sê: "Laat die eer vir U ongeskonde bly, dit gaan met my goed as ek vrede het. Ek wys eer tenvolle van die hand sodat ek nie miskien iets wat nie aan my behoort nie, verloor as dit vir my aangebied word nie".27 Elders stel hy dit nog duideliker: "Waarom is die kerk bekommerd oor verdienstes terwyl dit vaster en sekerder gronde tot roem oor die voorneme van God het? So het jygeen rede om te vra met watter verdienstes ons goeie hoop koester nie - veral nie wanneer jy by die profeet hoor: 'Ek sal dit doen, nie om julIe ontwil nie maar om my ontwil, sê die Here'''.28 Sover dit verdienstes aangaan, is dit genoeg om te weet dat verdienstes nie genoeg is nie. Maar soos dit in soverre dit verdienstes aangaan, genoeg is om geen veronderstellings oor verdienstes te maak nie, so is om sonder verdienstes te wees, ook genoegsaam tot veroordeling.29 Die feit dat hy vry gebruik maak van die woord verdienstes in plaas van goeie werke, moet ons aan 'n gewoonte van sy tyd toeskryf. In die slot (van sy preek) was dit trouens30 sy doel om die huigelaars van sy tyd te vermorsel omdat hulle deur die vryheid om te sondig skaamteloos teen God se genade opgetree het. Hy verklaar homself weldra wanneer hy sê: "Gelukkig is die kerk waar dit nie aan verdienstes sonder vertroue ontbreek nie en ook nie aan vertroue sonder verdienstes nie. So 'n kerk het rede om te vertrou maar het nie verdienstes nie. Dit het verdienstes maar om te verdien en nie om te vertrou nie. Beteken om nie te vertrou nie dan nie juis om te verdien nie? Derhalwe vertrou so 'n kerk met groter onbesorgdheid omdat dit nie vertrou nie, want die menigvuldige barmhartighede van die Here is vir so 'n kerk oorvloedige stof tot roem".31

4. Die gedagte aan die erns van God se oordeel bring die sinsbedrog waarmee die mens homself flous, tot 'n einde.🔗

Dit is inderdaad ook so. Beproefde gewetens voel aan dat dit die enigste toevlugsoord vir hulle saligheid is waarin hulle rustig kan asem skep wanneer hulle met God se oordeel te doen het. Want as sterre wat oënskynlik in die nag baie helder skyn, hulle skittering verloor sodra ons die son sien, wat reken ons dan sal met die onskuld van die mens wat maar baie seldsaam is, gebeur as dit met God se suiwerheid vergelyk word? Want dit sal 'n uiters streng ondersoek wees wat tot in die mees verborge gedagtes van die hart sal indring en, soos Paulus sê: "Hy sal die verborge dinge van die duisternis aan die lig bring en die verskuilde bedoellnge van die harte openbaar".32 Al probeer dit skuil en weerstand bied, sal die ondersoek ons gewete dwing om alles aan die lig te bring wat ons geheue nou ontgaan het. Ons aanklaer, die duiwel, sal ons in 'n hoek dryf, omdat hy terdeë bewus is van al die oortredings tot die pleeg waarvan hy ons aangedryf het. Daar sal 'n uitwendige vertoon van goeie werke wat slegs nou hoog aangeslaan word, ons niks baat nie, want slegs opregtheid van ons wil sal daar van ons geëis word. Daarom sal nie alleen die huigelary waardeur 'n mens van sy kwaad voor God bewus is maar nogtans poog om aanstellerig voor mense te wees nie maar ook die huigelary waardeur elkeen homself aan God opdring geneig soos ons is om onsself op die skouer te klop en te vlei -, tot niet gaan en inmekaarval, al sou dit nou ook met meer as beskonke vermetelheid hoogmoedig wees. Mense wat hulle gedagtes nie op so 'n skouspel rig nie, kan wel vir 'n rukkie aan hulleself aangenaam en kalm geregtigheid toeskryf, maar net so 'n soort geregtigheid wat dadelik in die oordeel van God van hulle afgestroop moet word. Dit is soos groot rykdom wat in 'n droom bymekaar geskraap word, maar sodra jy wakker word, verdamp dit. Diegene wat egter met erns asof dit ten aanskoue van God is, na die ware reël van geregtigheid vra, sal sekerlik vind dat al die werke van die mens, as hulle na eiewaarde geweeg word, niks anders as onreinheid en vuilheid is nie. Ook is dit wat oor die algemeen as geregtigheid beskou word, voor God louter ongeregtigheid. Dit wat as regskapenheid geag word, is by Hom besoedeling,33 en dit wat as eer beskou word, is by Hom skande.

5. Om in God se barmhartigheid te deel moet gelowiges eiewaan ten volle afsweer.🔗

Ons moet nie skaam wees om van hierdie opmerking van God se volmaaktheid neer te daal om onsself sonder vleieryof blindelingse selfliefde te ondersoek nie.34 Dit is trouens nie verbasend as ons in hierdie opsig so verblind is nie, aangesien niemand van ons teen die verderflike toegeeflikheid teenoor homself waak wat, soos die Skrif luid verklaar, aan ons almal kleef nie. Salomo sê: "In sy eie oë is elke mens se pad vir homself reguit".35 Net so: "In sy eie oë lyk al die mens se paaie vir homself suiwer".36 Hoe dan nou? Word hy vanweë sy sinsbedrog vrygespreek? Hoegenaamd nie, want soos hy daar byvoeg, die Here weeg die mens se hart. Dit beteken: terwyl die mens homself vanweë die uiterlike masker van geregtigheid waarop hy roem, op die skouer klop, ondersoek die Here intussen op sy eie weegskaal die onreinheid wat in sy hart skuil.37

Aangesien sulke vleiery dus vir ons geen voordeel inhou nie, laat ons ons dus nie uit eie beweging tot ons eie verderf om die bos lei nie. Om onsself egter na behore te ondersoek, moet ons ons gewete noodwendig voor God se regbank daag. Ons het immers allesins sy lig nodig om die omhulsels van ons bedorwenheid wat andersins buitengewoon diep verskuil is, oop te vlek. Dan eers sal ons duidelik raaksien wat dit beteken dat die mens, verrotting en 'n wurm,38 gruwelik en ydel, nie voor God regverdig gestel kan word nie en dat hy ongeregtigheid soos water drink.39 "Want wie sou iemand wat uit onrein saad verwek is, rein kon stel? Daar is nie eens een nie."40 Dan juis sal ons iets ervaar van dit wat Job van homself sê: "As ek wou bewys dat ek onskuldig is, sal my mond my verdoem. As ek wou bewys dat ek regverdig is, sal my mond bewys dat ek bedorwe is".41 Want dit waaroor die profeet eertyds oor Israel gekla het, het nie net op een eeu betrekking nie maar op alle tye. Hy sê dat almal soos skape gedwaal het en dat elkeen op sy eie pad afgewyk het.42 Hy vat daar tewens almal saam tot wie die genade van verlossing sal kom. En die onverbiddelikheid van ons ondersoek behoort sover te gaan dat dit ons totaal verslae laat en ons so voorberei het om die genade van Christus te ontvang. Iemand wat trouens reken dat hy dit kan geniet sonder om eers al sy hooghartigheid te laat vaar, mislei homself. Dit is immers 'n bekende verklaring dat God die hooghartiges teenstaan maar aan die nederiges genade skenk.43

6. Ootmoed of nederigheid voor God.🔗

Hoe kan ons ons anders verootmoedig as om heeltemal hulpeloos en leeg vir God se barmhartigheid leeg te maak? Ek noem dit nie ootmoedigheid as ons reken dat daar nog iets van ons eie in ons oorgebly het nie. Diegene wat tot dusver hierdie twee, naamlik dat ons voor God ootmoedig oor onsself moet voel en dat ons eie geregtigheid tog ook 'n plekkie van sy eie moet hê, saamgevoeg het, pet 'n verderflike huigelary geleer.44 Want as ons voor God anders bely as wat ons voel, belieg ons Hom skandelik.

Ons kan egter nie oor onsself die regte gevoel hê sonder dat alles waarop ons in onsself kan roem, ten volle vernietig word nie. Wanneer jy dus by die profeet hoor dat saligheid vir die ootmoedige volk gereed is en vernedering vir die oë van die hooghartiges45 dink dan ten eerste daaraan dat jy nie tot hierdie saligheid kan toetree sonder om alle hoogmoed te laat vaar en waaragtige ootmoed aan te neem nie. Dink ten tweede daaraan dat ootmoed nie 'n soort beskeidenheid is waardeur jy 'n haarbreedte van jou reg aan die Here afstaan nie.46 So noem mense gewoonlik diegene nederig wat hulle nie trots bo ander verhef en ander ook nie verag nie, hoewel hulle nogtans van eie voortreflikheid bewus is en daarop steun. Ootmoedigheid is egter die onderworpenheid van 'n hart wat ernstig deur die aanvoeling van eie ellende en hulpeloosheid platgeslaan is. Dit word trouens oral in die Woord van God so beskrywe. Die Here praat soos volg in Sefanja: "Ek sal van jou die een wat homself verhef, wegneem, en Ek sal die gebrokene en die arme in die midde van jou volk laat en hulle sal op die Here hoop".47 Dui die Here dan nie daarmee uitdruklik aan wie ootmoedig is nie? Dit is naamlik diegene wat kennis geneem het van hulle armoede en daardeur verslae en platgeslaan lê. Aan die ander kant noem Hy diegene hooghartig wat hulle verhef omdat hulle oor hulle voorspoed jubel en hulle gewoonlik daarom voor mense verhef. Vir die ootmoediges wat Hy vir verlossing bestem het, laat hy niks anders oor as om op die Here te hoop nie. Daar staan byvoorbeeld in Jesaja: "Ek sal slegs let op hom wat arm en verslae van gees is en beefvir mywoorde".48 Net so: "Hy wat hoog en verhewe is en tot in ewigheid leef, wie se Naam Heilige is, wat in 'n hoë en heilige plek woon en saam met die verbryselde en nederige van gees is om die gees van die ootmoediges en die hart van die verbryseldes weer lewend te maak".49 Wanneer jy so dikwels die woord verbryseling50 hoor, verstaan dan daaronder 'n wond van die hart wat die mens wat verslae op die grond lê, nie toelaat om homself op te hef nie. Jou hart moet met so 'n verbryseling gewond wees as jy volgens God se uitspraak saam met die nederiges verhoog wil word.51 As dit nie die geval is nie, sal jy deur God se magtige hand tot jou skaamte en oneer verneder word.

7. Christus is gestuur om sondaars en nie regverdiges nie te verlos.🔗

Maar ons beste Onderwyser was nie daarmee tevrede om dit net in woorde vir ons weer te gee nie, en daarom het Hy ook met 'n gelykenis soos op 'n skildery die beeld van ware ootmoed vir ons geskets. Want Hy hou aan ons 'n belastinggaarder voor wat ver weg staan en nie waag om sy oë na die hemel op te slaan nie. Dan bid hy met groot geweeklaag: "Here, wees my sondaar genadig".52 Ons moenie dink dat dit 'n teken van geveinsde beskeidenheid is dat hy nie waag om sy oë hemelwaarts op te slaan nie, dat hy nie nader kom nie en dat hy op sy bors slaan en bely dat hy 'n sondaar is nie. Ons moet egter weet dat dit getuig van sy innerlike gevoelens. Aan die ander kant hou die Here aan ons 'n Fariseër voor wat God dank dat hy nie uit die gewone mense is of 'n rower of 'n onregverdige man of 'n owerspeler nie, omdat hy twee keer per week gevas het en 'n tiende van alles wat hy gehad het, gegee het.53 Met sy openlike belydenis erken hy dat die geregtigheid wat hy het, 'n gawe van God is, maar omdat hy vol selfvertroue is dat hy regverdig is, gaan hy sonder welgevalle en gehaat van God se aangesig af weg. Die belastinggaarder word deur die erkenning van sy ongeregtigheid regverdig gemaak.

Hieruit kan ons sien hoe welgevallig ons ootmoed voor die Here se aangesig is, sodat 'n mens se hart nie vir sy barmhartigheid ontvanklik is nie tensy dit volkome ontdoen is van elke indruk van eie waardigheid. Wanneer dit eers 'n mens se hart ingeneem het, sluit dit die toegang tot God se barmhartigheid af. En om by niemand enige twyfel daaroor te laat nie, is Christus met hierdie opdrag deur die Vader na die aarde gestuur: om die blye boodskap vir die armes te bring, die verbryseldes van hart te genees, vryheid vir gevangenes en vir diegene in tronke ontsluiting te verkondig en die wat treur, te troos; om aan hulle heerlikheid te gee in die plek van as, olie in die plek van droefheid, 'n lofkleed in die plek van droefgeestigheid.54 Volgens hierdie opdrag nooi Hy slegs diegene wat swaar kry en belas is, om in sy milddadigheid te deel; en elders: "Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars".55

8. Verwaandheid en selftevredenheid is struikelblokke in die gelowige se soeke na Christus.🔗

As ons dus aan Christus se roeping 'n plek wil gee, moet elke sweem van verwaandheid56 sowel as 'n gevoel van onbesorgdheid ver van ons af wees. So 'n verwaandheid ontstaan uit 'n dwase oortuiging van eie regverdigheid wanneer 'n mens dink dat hy iets het waardeur hy by God verdienstelik is en vir Hom welgevallig word. Onbesorgdheid kan selfs sonder enige oortuiging van eie werke ontstaan. Want baie sondaars dink nie aan God se oordeel nie, net asof hulle van die aangenaamheid van hulle gebreke beskonke is en van slaapsiekte bedwelmd plat op die grond lê sodat hulle nie na die barmhartigheid wat Hy hulle aanbied, streef nie. Maar ons moet so 'n traagheid nie minder van ons afskud nie as wat ons elke sweem van vertroue in onsself moet verwerp om onbelas na Christus te haas sodat ons met sy seëninge gevul kan word wanneer ons self leeg en honger is. Want ons sal nooit voldoende op Hom vertrou as ons onsself nie ten volle wantrou nie. Ons sal nooit ons gemoedere voldoende na Hom rig as ons nie eers vooraf in onsself verslae is nie. Ons sal nooit voldoende troos in Hom vind as ons nie in onsself verlate is nie.

Ons is dus geskik om die genade van God te kry en te behou as ons inderdaad alle vertroue in onsself laat vaar en waarlik slegs op die sekerheid van sy eie goedertierenheid steun, wanneer ons, soos Augustinus sê, ons eie verdienstes vergeet en die gawes van Christus omhels,57 omdat ons nie by sy gawes sal uitkom as Hy verdienstes in ons sou soek nie. Bernardus stem pragtig daarmee saam wanneer hy hooghartiges wat op grond van hulle verdienstes selfs die geringste vir hulle self toe-eien, met ontroue diensknegte vergelyk omdat hulle die lof vir die genade wat slegs deur hulle gaan, vir hulleself hou. Dit is net soos wanneer 'n muur sou sê dat hy die sonstraal voortbring wat deur 'n venster daarop val.58

Maar om ons nou nie langer hiermee op te hou nie, laat ons die kort maar algemene en onwrikbare reël neerlê dat iemand gereed is om in die vrug van die genade van God te deel wanneer hy homself heeltemal, ek sê nie van sy eie geregtigheid, waarvan hy niks het nie, maar van sy hol en opgeblase beeld van geregtigheid ontledig het. In soverre iemand tewens in homself berusting vind, is hy 'n struikelblok vir die weldadigheid van God.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. die slot van Inst. 3.14.15 (Afr. vert. 3:996) waar dieselfde gedagte weergegee word.
  2. ^ Hierdie sin kom vir die eerste keer voor in die 1539-uitgawe van die Inst. en is duidelik oorgeneem uit ealvyn se antwoord op Kardinaal Sadoletus se stelling in sy brief aan die Senaat van Genève dat Protestante die rekenskap wat hulle voor God se regbank moet lewer, behoort te vrees. Vgl. OS 1:451,480 - 486 en Beza se lewenskets, Vita (Afr. vert. 1:17 n. 88).
  3. ^ Marg. Vide praectpue librum Iob. Vgl. Job. 3:9.
  4. ^ Fr. 1541 e.v.: comme la neige au soleil (Benoit 3:232).
  5. ^ Vgl. Job 9:5 - 6.
  6. ^ Vgl.Job 5:13.
  7. ^ Vgl. Job 25:5.
  8. ^ Vgl. Job 4:18.
  9. ^ Vgl. Job 9:20.
  10. ^ Vgl. Job 26:6; Deut. 32:22.
  11. ^ Marg. Iesa. 33.b.14. Vgl. ook vers 15; Job 4:17 - 20 en oe 36:567 - 570.
  12. ^ Marg. Psal. 130.a.3. Vgl: Ps. 129:3. Vgl. OC 32:334.
  13. ^ Marg. Iob 4.d.17. Vgl. ook vers 18 - 20.
  14. ^ Marg. Iob 15.b.15. Vgl. Ook vers 16 en Vg.
  15. ^ Fr. 1560: + ce qui est impossible (Benoit 3:232).
  16. ^ Marg. Deut. 27.d.26. Vgl. Gal. 3:10 en OC 50:208.
  17. ^ Vgl. Inst. 1.1.2 (Afr. vette 1:115).
  18. ^ Marg. Luc. 16.dd.15. Vgl. OC 45:406 - 407.
  19. ^ Marg. Psal. 143.a.2. Vgl. Com. in Psal. 143:2 (OC 32:400 - 401).
  20. ^ Marg. Iob 9.a.2. Vgl. ook vers 3.
  21. ^ Marg. 1. Cor. 4.a.4. Vgl. OC 49:365.
  22. ^ Fr. 1545 e.v.: les docteurs Chrestiens (Benoit 3:234).
  23. ^ Marg. Lib. ad Bon. 3. cap. 5. Augustinus, Contra duas ep. Pelag. ad Bontf. 3.5.15 (MPL 44:599).
  24. ^ Marg. Super cant. serm. 61. Bernardus, Serm. in Cantica canticorum 61.3,5 (MPL183:1072, 1073).
  25. ^ Ibidem.
  26. ^ Marg. In Psal. Qui babit. ser. 15. Bernardus, In Psalmum "Qui babitat" sermo 15.5 (MPL 183:246)
  27. ^ Marg. Serm. 13. in Cant. Bernardus, serm. in Cantica cantteerum 13.4 (MPL 183:836)
  28. ^ Marg. Ezech. 36.e.22.f.32.
  29. ^ Marg. Serm. 68. Bernardus, Serm. in Cantica canticorum 68.6 (MPL 183:1111). In A staan hierdie verwysing voor 29 hierbo.
  30. ^ Fr, 1560: et en condamnant ceux qui n 'ont point de mérites (Benoit 3:235).
  31. ^ ibidem.
  32. ^ Marg. 1. Cor. 4.a.5. Vgl. OC 49:365 . 366.
  33. ^ Vgl. Melanchthon, Loci com. (CR 21:159 . 181, 381 . 385, 420 - 434).
  34. ^ Vgl. Inst. 1.1.2; 1.5.3, 10; 2.8.1; 3.13.3 (Afr. vert. 1:114, 132, 141; 2:499; 3:975).
  35. ^ Marg. Prov. 21.a.2 (Spr. 21:2).
  36. ^ Marg. & 16.a.2. Spr. 16:2.
  37. ^ Fr. 1560: toute l'iniquitê et ordure cachée au coeur (Benoit 3:236).
  38. ^ Vgl. Job 25:6.
  39. ^ Marg. Iob 15.6.16.
  40. ^ Marg. Iob 14.a.4.
  41. ^ Marg. Iob 9.c.20.
  42. ^ Marg. Iesa. 53.b.6. Vgl. OC 37:258 - 260.
  43. ^ Marg. 1. Pet. 5.b.5. Vgl. OC 55:287 - 288.
  44. ^ Vgl. Cochlaeus, De lib. arb. hominis (1525), fo. O7a: non sumus natura impii- ons is nie van nature goddeloos nie.
  45. ^ Marg. Psal. 18.c.28. Vgl. OC 31:183 . 184.
  46. ^ Fr. 1541 e.v.: nous quittions un seul pott de nostre droit pour nous abbatsser devant Dieu (Benoit 3:237).
  47. ^ Marg. Zepha. 3.c.ll. Vgl. ook vers 12.
  48. ^ Marg. Iesa. 66.a.2. Vgl. OC 37:437 . 439.
  49. ^ Marg. Idem, 57.c.15. Jes. 57:15. Vgl. OC 37:316 - 317.
  50. ^ Fr. 1541 e.v.: d'affliction (Benoit 3:237)
  51. ^ Vgl. Inst. 2.1.2; 2.2.11 (Mr. vert. 2:351, 382).
  52. ^ Marg. Luc. 18.c.13. Vgl. oe 45:420.
  53. ^ Vgl. Luk. 18:11 e.v.
  54. ^ Marg. Iesa. 61.a.1. Vgl. ook vers 2 en 3 en oe 37:371 - 374.
  55. ^ Marg. Mat. 11.d.28&9.b.13. Vgl. OC 45:250 - 251, 320 - 321.
  56. ^ Fr. 1541: prësomption (Benoit 3:238).
  57. ^ Marg. De ver. Apostoli, cap. 8. Augustinus, Sermo 174.2.2 (MPL 38:941).
  58. ^ Marg. Ser. 13. in Can. Bernardus, Serm. in Cantica canticorum 13.5 (MPL 183:836).