Satan heers in verworpe mense en verhard hul harte, maar dit is ook deel van God se werkswyse: Hy gebruik die Satan om sy raadsplan te volbring. Die werke van die duiwel openbaar God se geregtigheid asook die Satan en die mens se boosheid.

God buig die mens se wil om by sy voorsienigheid aan te pas. Wanneer die mens die goeie kies, is dit slegs uit God se genade.

1984. 9 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 4 Die wyse waarop God in die mense se hart werk

1. Die Mens doen gewilliglik die werke van die duiwel.🔗

As ek my nie misgis nie, is daar nou voldoende bewys gelewer dat die mens so onder die juk van die sonde gevange gehou word dat hy uit eie natuur nie na die goeie kan strewe nie, al begeer hy dit ook, en dat hy hom nie daarvoor kan inspan nie, al beywer hy hom ook. Daarbenewens is daar ook 'n onderskeid gemaak tussen dwang en noodsaaklikheid. Daaruit het dit duidelik geword dat iemand nietemin vrywillig sondig wanneer hy uit noodwendigheid sondig.1

Wanneer die mens homself in slawerny aan die duiwel uitlewer, lyk dit egter asof hy eerder deur die duiwel se oordeel as deur sy eie aangedryf word. Daar bly dus oor dat ons aan die aard van elkeen van hulle se werk daarin oorweging moet skenk; dan moet ons die vraagstuk oplos of ons iets in slegte werke aan God moet toeskryf, omdat die Skrif te kenne gee dat 'n sekere optrede van God daarin voorkom.

Augustinus vergelyk die mens se wil iewers met 'n perd wat op 'n bevel van sy ruiter wag, God en die duiwel dien vir hom as die ruiter. Hy sê: "As God op hom ry, regeer Hy die mens se wil rustig soos 'n gematigde en ervare ruiter. Wanneer dit traag is, spoor Hy dit aan; wanneer dit te vinnig is, hou Hy dit in toom; Hy beteuel sy moedswilligheid en baldadigheid; Hy staan sy koppigheid teen en lei hom op die regte pad. Maar as die duiwel die mens se wil in die hande kry, laat hy dit soos 'n onnosel, wrede ruiter voortsnel oor 'n plek waar daar nie 'n pad is nie. Hy dryf dit in slote in; hy laat dit oor afgronde tuimel; hy hits dit aan tot koppigheid en wreedheid."2 Omdat 'n beter vergelyking hom nie aan ons voordoen nie, salons vir die huidige bespreking met syne tevrede wees.

Die feit dat daar gesê word dat die natuurlike mens3 se wil aan die heerskappy van die duiwel onderworpe is om uit hierdie oord aangedryf te word, beteken dus nie dat die wil teenstribbel en hom daarteen verset om die duiwel te gehoorsaam nie. Kragtens die eiendomsreg dwing ons byvoorbeeld ons slawe om ons te gehoorsaam. Dit beteken wel dat die wil deur die oëverblindery van die Satan betower is en homself noodgedwonge oorgee om elke bevel van hom te gehoorsaam. Want die Here lewer die mense wat Hy nie waardig ag om deur sy Gees geregeer te word nie, volgens sy regverdige oordeel aan die werk van die Satan uit. Daarom sê die apostel dat die god van hierdie wêreld die verstand van die ongelowiges wat vir die verderf bestem is, verblind het sodat hulle nie die lig van die evangelie kan sien nie.4 En elders sê hy dat hy in koppige kinders werk.5 Die verblinding van die goddeloses en al die oortredinge wat daaruit volg, word werke van die Satan genoem. Tog moet die oorsaak hiervan nie buite die mens se wil gesoek word nie, daaruit rys die wortel van die kwaad omhoog; daarin is die fundament van die koninkryk van die Satan, dit is die sonde.

2. In een en dieselfde werk veroorsaak die verskillende doelstellings en handelswyses dat God se Geregtigheid onberispelik daarin skitter maar dat die Satan en die mens se boosheid in die kalklig kom.🔗

Daar is 'n heeltemal ander rede vir God se werk in sulke mense. Om dit vir ons baie duidelik te maak moet ons die teenspoed wat die heilige Job deur die Chaldeërs aangedoen is, as voorbeeld noem. Die Chaldeërs was sy vyand en het sy herders doodgemaak en sy vee gebult.6 Klaarblyklik was hulle daad onregmatig. Die Satan bly in hulle werk ook nie op die agtergrond nie, want die geskiedenis vertel dat al sy lyde uit die Satan ontstaan het.7 Tog herken Job daarin die werk van die Here wanneer hy sê dat die Here dit wat deur die Chaldeërs van hom geroof is, van hom weggeneem het.8 Hoe kan ons nou een en dieselfde werk aan God, aan die Satan en aan die mens as bewerker daarvan toeskrywe, sonder om die Satan te verontskuldig omdat hy saam met God optree, en sonder om te verklaar dat God die Bewerker van die kwaad was? Maklik genoeg as ons eers die doel en daarop die wyse van elkeen se optrede ondersoek.

Die Here se doel is om die geduld van sy dienskneg deur teenspoed te beproef. Die Satan poog om hom wanhopig te maak. Die Chaldeërs probeer om strydig met wat reg en geoorloof is, uit 'n ander se eiendom wins te slaan. So 'n groot uiteenlopendheid in hulle doelstellings het alreeds hulle werk sterk onderskei. Ook in die wyse waarop hulle werk, is daar ewe veel onderskeid. Die Here laat die Satan toe om sy dienskneg te gésel. Die Here laat ook die Chaldeërs wat Hy gekies het om sy werk te doen, aan hom oor en Hy lewer hulle aan hom oor om hulle aan te dryf. Die Satan prikkel die Chaldeërs se harte, wat andersins in elk geval bedorwe is, met sy venynige angels om die vergryp te begaan. Die Chaldeërs breek rasend in ongeregtigheid uit en verstrengel en besmet hulle heeltemal met hulle oortreding. Eintlik kan daar dus gesê word dat die Satan in verworpe mense werk, want in hulle voer hy heerskappy oor die boosheid. Daar kan ook gesê word dat God op sy eie manier werk omdat die Satan hom juis na sy goeddunke en op sy bevel hierheen of daarheen wend om sy regverdige oordele te volbring, aangesien die Satan 'n werktuig van sy toorn is. Ek bekommer my nou nie oor die algemene bemoeienis van God waardeur alle skepsels onderhou wordn en die krag ontvang om iets te doen nie.9 Ek praat slegs van daardie besondere werking wat in elke afsonderlike daad na vore kom.

Ons sien dus dat dit nie ongerymd is om een en dieselfde werk aan God, aan die Satan en aan die mens toe te skrywe nie. Die verskil in doelstelling en handelwyse veroorsaak dat God se geregtigheid onberispelik daarin skitter maar dat die Satan en die mens se boosheid tot hulle skande daarin na vore kom.

3. God laat nie alleen die verharding van die goddelose toe nie, maar Hy gebruik die Satan ook daarin om Sy Raadsplan te volbring.🔗

Die skrywers van die ou tyd deins soms ook te eerbiedig van 'n eenvoudige belydenis van die waarheid oor die onderwerp terug. Hulle vrees naamlik dat hulle vir goddelose mense 'n skuiwergat sal gee om oneerbiedig oor die werke van God te praat. Hoewel ek hulle nugterheid hartlik verwelkom, is my oordeel daaroor dat dit hoegenaamd geen gevaar inhou as ons maar net doodeenvoudig vashou aan dit wat die Skrif ons leer nie. Soms was selfs Augustinus nie van die bygeloof vry nie, byvoorbeeld wanneer hy sê dat verharding en verblinding nie op die werking van God gerig is nie maar op sy voorkennis.10 Maar soveel uitsprake van die Skrif aanvaar glad nie sulke spitsvondige redenasies nie. Dit dui trouens duidelik aan dat daarin iets meer as net die voorkennis van God voorkom. Augustinus het self in 'n lang betoog in sy vyfde boek teen Julianus verklaar dat God die sonde nie alleen toelaat en duld nie, maar dat Hy dit ook moontlik maak, sodat vorige sondes so gestraf kan word.11 Net so is hulle redenasie in verband met sy toelating te swak om staande te bly.

Daar word baie dikwels gesê dat God die verworpenes verblind en verhard, dat Hy hulle harte omkeer, wend en aandryf soos ek elders breedvoeriger verduidelik het.12 Die verduideliking van die wyse waarop dit gebeur, is egter van nul en gener waarde as ons ons toevlug tot sy voorkennis of toelating neem nie.13 Ons antwoord dan dat dit op tweërlei wyse geskied. Want wanneer sy lig weggeneem word, bly daar niks anders as duisternis en blindheid vir ons oor nie, as sy Gees weggeneem word, word ons harte hard soos klip; as sy bestiering ophou, word ons harte verwronge. Daar word dus tereg gesê dat Hy mense verblind, verhard en wegdraai wanneer Hy hulle verrnoë om te sien, te gehoorsaam en dit wat reg is, te doen, van hulle wegneem.14

Die tweede rede kom baie nader aan die inhoud van die woorde. Dit is naamlik dat Hy hulle planne stuur waarheen dit Hom behaag, hulle wil aanhits en hulle pogings versterk om deur die Satan as dienaar van sy toorn sy oordele te volbring. Wanneer Moses byvoorbeeld vertel dat koning Sihon die volk nie laat deurtrek het nie omdat God sy gees verhard en sy hart koppig gemaak het, voeg hy dadelik die doel van sy raadsplan by wanneer hy sê: "sodat Hy hom in ons hande kan oorlewer".15 Omdat God hom dus wou laat verlore gaan, het Hy sy hart verhard16 om hom reg te maak vir sy val.

4. Voorbeelde uit die Skrif wat God se blote voorkennis en toelating van die werke van goddeloses weerlê.🔗

Klaarblyklik is die volgende uitspraak in ooreenstemming met die eerste rede: "Hy verwyder die spraak van waaragtiges en neem die raad van die oudstes weg,17 Hy neem die hart van die owerstes van die volke van die aarde weg en laat hulle op omweë dwaal.''18 Net so: "Here, waarom beroof U ons van ons verstand; waarom verhard U ons harte sodat ons U nie vrees nie?"19 Hierdie verwysings dui egter eerder aan hoedanig God die mens maak deur hom te verlaat as op wat die aard van sy optrede teenoor hulle is. Daar is egter ander getuienis wat verder gaan. So byvoorbeeld in verband met Farao se verharding: "Ek sal Farao se hart verhard sodat hy nie na julle luister en die volk laat trek nie".20 Later sê Hy dat Hy sy hart verswaar en hard gemaak het.21 Het Hy dit dan verhard deur dit nie te versag nie? Dit is wel waar, maar Hy het iets meer gedoen, naamlik dat Hy sy hart aan die Satan oorgegee het om dit met koppigheid te sterk. Daarom het Hy tevore gesê: "Ek sal sy hart vashou".22 Die volk trek uit Egipte; vyandelike bewoners van die landstreek kom hulle tegemoet. Wie het hulle aangehits? Moses het in elk geval vir die volk gesê dat dit die Here was wat die vyand se harte verhard het.23 Wanneer die profeet dieselfde geskiedenis weergee, sê hy dat God self hulle harte geneig het om sy volk te haat.24 Nou sou 'n mens nie kon sê dat hulle deur die Here verlaat is en teen sy raadsplan gebots het nie. Want as hulle verhard en omgekeer word, word hulle volgens sy bestemming juis daarheen gedraai. Afgesien hiervan - hoe het Hy sy werk in verworpe mense volbring so dikwels as wat dit Hom behaag het om die oortredinge van sy volk te straf? 'n Mens kan sien dat die kragdadige werking daarvan in sy hande was en dat hulle hulle net as sy diensknegte geleen het. Daarom dreig Hy soms dat Hy hulle vyande met 'n gefluit sal oproep25 en dan weer dat Hy vir hulle soos 'n net sal wees om hulle daarin te verstrik.26 Dan weer dreig Hy dat Hy soos 'n hamer sal wees om Israel te slaan.27 Maar Hy het besonderlik verklaar dat Hy nie onverskillig teenoor hulle sou wees nie, toe Hy Sanherib 'n byl genoem het wat deur sy hand bestem en verorden is om te kap.28 Elders beskrywe Augustinus dit goed wanneer hy sê dat dit van hulle self kom dat hulle sondig. Die feit dat hulle deur te sondig die een of ander ding doen, spruit volgens hom uit die krag van God, wat die duisternis verdeel soos dit Hom behaag.29

5. Hoe die Satan in 'n verworpe mens heers en hoe God in albei werk. 🔗

Net uit een aanhaling sal dit genoegsaam blyk dat die diens van die Satan tussenbeide tree om verworpe mense aan te hits so dikwels as wat die Here dit deur sy voorsienigheid so bestem. In die boek Samuel word daar dikwels gesê dat 'n bose gees van die Here en 'n bose gees uit die Here oor Saul vaardig geword of van hom gewyk het.30 Ons mag dit nie aan die deur van die Heilige Gees lê nie. Dit is dus 'n onrein gees. Dit word egter 'n gees van God genoem omdat dit aan sy wil en gesag beantwoord en 'n werktuig in sy werk eerder as skepper van die werk is. Terselfdertyd moet ons egter ook Paulus se leer byvoeg, naamlik dat die kragdadige werking van dwaling en verleiding van Godsweë gestuur word sodat die wat die waarheid nie gehoorsaam het nie, in die leuen kan glo.31 In een en dieselfde werk is daar nogtans 'n groot verskil tussen wat die Here doen en wat die Satan en die goddelose bedryf. God laat die bose instrumente wat Hy onder sy hand het en wat  rigting kan laat swenk, dienaars van sy geregtigheid wees. Die Satan en sy trawante weer bring daarin hulle goddeloosheid wat hulle deur die  boosheid van hulle geaardheid ontvang het, aan die lig, goddeloos soos hulle is. Die res, wat daarop gemik is om God se majesteit teen valse beskuldigings te verdedig en om alle uitvlugte van goddelose mense af te sny, is reeds in die hoofstuk in verband met God se voorsienigheid behandel.32 Hier was my voorneme net om kortliks aan te dui hoe die Satan oor 'n verworpe mens heers en hoe die Here in albei werk.

6. Wanneer dit in ons gedagte opkom om iets tot ons beswil te kies, moet ons dit ook aan God se Besondere Genade toeskryf.🔗

Hoewel ek hierbo aan die vraag geraak het watter vryheid 'n mens in werke het wat op sigself nie regverdig en ook nie bedorwe is. nie en wat op die liggaamlike eerder as op die geestelike lewe sien, het ek dit tog nie opgeklaar nie.33 Sommige mense het in sulke werke aan die mens 'n vrye keuse toegestaan.34 Na my mening wou hulle nie oor 'n saak van weinig belang twis eerder as om hulle toegewing as 'n vaste reël te verdedig nie. Sover dit my aangaan, erken ek dat die mense wat meen dat hulle geen vermoë het om regverdigheid te behaal nie, 'n houding het wat besonderlik noodsaaklik is vir die kennis van hulle saligheid. Tog dink ek nie dat ons hierdie onderwerp moet verwaarloos nie, naamlik om te weet dat dit 'n eienskap van God se besondere genade is wanneer dit in ons gedagte opkom om iets tot ons beswil te kies; wanneer ons wil daartoe geneë is; en, aan die ander kant, wanneer ons verstand en ons gemoed 'n afkeer het van iets wat andersins skadelik sou wees. Die krag van God se voorsienigheid strek ook so ver, nie alleen dat sake geslaagd verloop in soverre as wat Hy voorsien het dat dit voordelig is nie, maar ook dat die mens se wil hom daarop moet rig. Want as ons met ons verstand oor die hantering van uitwendige dinge nadink, salons nie daaroor twyfel dat dit slegs in soverre in die mens se oordeel geleë is nie. Maar as ons ons ore vir soveel getuienisse oopmaak wat uitroep dat die Here die mens se gemoed ook in hierdie dinge regeer, sal dit ons dwing om ook ons oordeel aan die besondere beïnvloeding van God ondergeskik te stel. Wie het die wil van die Egiptenare gunstig gemaak vir die Israeliete sodat hulle hulle kosbaarste vase aan hulle geleen het?35 Hulle sou nooit vanself die gesindheid gehad het nie. Hulle gemoedere was dus eerder aan die Here onderwerp as wat dit deur hulleself geregeer is. As Jakob nie daarvan oortuig was dat God na sy welbehae aan die mens verskillende gemoedstemminge gee nie, sou hy in elk geval nie in verband met sy seun Josef, wat hy gemeen het 'n onheilige Egiptenaar is, gesê het nie: "Mag God dit julle gun om barmhartigheid te vind voor hierdie man".36 Wanneer God Hom byvoorbeeld oor die kerk wil ontferm, bely die hele kerk in 'n Psalm dat die wrede harte van die heidene deur God tot goedertierenheid versag is.37

Toe Saul aan die ander kant in toorn ontbrand het om hom vir die stryd aan te gord, word die oorsaak daarvan wel uitgedruk, naamlik dat die Gees van God oor hom vaardig geword het.38 Wie het Absalom afkerig gemaak om Agitófel se raad aan te neem hoewel dit gewoonlik as 'n profesie gedien het?39 Wie het Rehábeam beinvloed om deur die raad van die jong manne oortuig te word?40 Wie het die heidene, wat vooraf groot vermetelheid aan die dag gelê het, by die aankoms van die Israeliete verskrik?41 Die straatvrou Ragab het in elk geval bely dat dit God se werk was. Wie het verder die harte van die Israeliete met vrees en bewing neergeslaan anders as net Hy wat in die wet gedreig het dat Hy aan hulle 'n hart vol bewing sal gee?42

7. God buig die mens se wil om by Sy Voorsienigheid aan te pas.🔗

Iemand sal die beswaar opper dat die voorbeelde hierbo uitsonderlik is en dat alles nie aan die maatstaf daarvan gemeet behoort te word nie. Sover dit my aangaan, verklaar ek dat dit my opvatting voldoende bewys, naamlik dat God selfs in uitwendige sake die wil van die mens buig en omkeer wanneer Hy 'n weg vir sy voorsienigheid wil baan. Verder dink ek nie dat die mens se keuse so vry is dat God se oordeel nie nog oor sy vryheid heers nie. Die alledaagse ervaring dwing 'n mens trouens om teen wil en dank die bemoeienis van God athanklik is as van sy vryheid om 'n eie keuse te maak. Selfs in die geringste probleme ontbreek dit die mens dikwels aan oordeel en verstand. In sake wat maklik gedoen kan word, begewe 'n mens se moed hom dikwels, maar aan die ander kant word in die duisterste sake dadelik nuttige raad aan hom gegee, en in belangrike en gevaarlike sake skep die mens dikwels moed wat hom bo elke probleem laat uitstyg. So interpreteer ek Salomo se verklaring wanneer hy sê: "'n Oor wat hoor, 'n oog wat sien - die Here het albei gemaak".43 Want dit lyk vir my asof hy nie van die skepping praat nie maar van die besondere genade om dit te gebruik. Wanneer hy trouens skryf dat die Here die harte van konings soos waterstrome in sy hande hou en dat Hy hulle lei waarheen Hy wil,44 vat hy inderdaad onder een enkele groep mense die hele mensdom saam. Want as daar iemand is wie se wil vry van alle onderworpenheid is, is dit 'n bevoegdheid wat besonderlik die wil van die koninklike prerogatief pas, omdat hy ook so oor ander heers. As die wil van konings dan deur die hand van God gebuig word, word ons wil nie daarvan uitgesonder nie. In verband hiermee is daar 'n voortreflike uitspraak van Augustinus. Hy sê: "As ons die Skrif deeglik ondersoek, toon dit nie alleen dat die goeie wil van die mens, wat God self uit 'n bose wil goed maak, deur Hom goed gemaak is om goeie werke te verrig en dat Hy dit op die ewige lewe rig nie. Dit toon immers ook aan dat die wil wat die skepping van die wêreld bewaar, op so 'n wyse in die mag van God is dat Hy dit na sy oordeel, wat wel in diepte verborge is maar tog baie regverdig, laat neig waarheen en wanneer Hy wil om weldade te bewys of om te straf.45

8. Die vraagstuk in verband met wilsvryheid sentreer nie in die geslaagde verloop van wat die mens wil nie, maar daarin of hy enigsins 'n vrye keuse en uitdrukking van sy wil het.🔗

Hier moet my lesers onthou dat 'n mens se oordeelsvermoë nie aan die verloop van gebeurtenisse gemeet moet word soos sommige onkundiges gewoonlik met voorbarigheid doen nie. Dit lyk immers vir hulle asof hulle voortreflik en vindingryk daaruit kan bewys dat die mens se wil aan slawerny gebonde is, omdat selfs nie eens die grootste monarge se planne altyd na wens verloop nie. Daardie vermoë waarvan ons praat, moet binne-in die mens oorweeg word en nie aan die uiterlike welslae daarvan gemeet word nie. Want in 'n bespreking van die vrye oordeel is die vraag nie of die mens alles wat hy hom van harte voorgeneem het, ten spyte van struikelblokke van buite af, kan voltooi en volbring nie, maar of hy in enigiets 'n vrye keuse en oordeel en 'n vrye  uitdrukking van sy wil het. As die mens 'n vrye keuse en 'n vry wil sou gehad het, sou Atilius Regulus net so 'n vrye oordeel gehad het toe hy in 'n vat met skerp punte toegeslaan is, as wat Keiser Augustus gehad het toe hy 'n groot deel van die wêreld na sy goeddunke geregeer het.46

Endnotes🔗

  1. ^ Inst. 2.3.5 (Afr. vert. 2:413).
  2. ^ Vgl. Augustinus, Enar. in Ps. 33:5; 148:2 (MPL 36:310; MPL 37:1938-1939); Pseudo-Augustlnus, Hypomnesticon (ook bekend as Hypognosticon) 3.11.20 (MPL 45:1632-1633). Ons vind dieselfde vergelyking by Luther in sy De servo arbitrio: Sic humana voluntas in medio posita est, ceu iumentum, si insederit Deus, vult et vadit, quo vult Deus, ... Si insederit Satan, vult et uadit, quo vult Satan ... (So is die mens se wil soos 'n trekdier: as God daarop sit, dan wil hy en hy beur voort in die rigting waarin God wil. Maar as die Satan daarop sit, dan wil en beur hy na waarheen die Satan wil ... WA 18:635).
  3. ^ animalis.
  4. ^ Marg. 2 Co. 4.a.4.
  5. ^ Marg. Ephes. 2.a.2.
  6. ^ (Job 1:17). Vgl. Calvyn, Sermons de Iob (OC 33:82).
  7. ^ (Job 1:12). Vgl. Calvyn, ibid. 1:12 (OC 33:70).
  8. ^ (Job 1:21). Vgl. Calvyn se preek oor Job 1:20-22 (OC 33~91-104).
  9. ^ Vgl. Inst. 1.16.4 (Afr. vert. 1:307-309).
  10. ^ Marg. Lib de praedest. & gratia. Calvyn aanvaar klaarblyklik Augustinus as outentieke skrywer van die werk. Die feit dat daar egter half-Pelagiaanse sieninge in voorkom, het uitgewers vanaf 1577 genooclsaak om dit uit die corpus van Augustinus se werke weg te laat en dit onder 'n pseudo-Augustinus te groepeer. Vgl. Migne se uiteensetting in verband hiermee in MPL45:1665. Calvyn verwys hier na die skrywer se uiteensetting i.v.m. God se voorkennis (MPL 45:1668).
  11. ^ Augustinus, Contra Jul. 5.3.8 (MPL 44:786-787).
  12. ^ Vgl. Inst. 1.18 (Afr. vert. 1:338-348).
  13. ^ Vgl. Eek, Ench. (1541), hfst. 31 stelling 11, 7b, (Battles 1978:218).
  14. ^ (Vgl. o.a. Jes. 6:9,10; Matt. 13:11-15; Joh. 12:40.)
  15. ^ Marg. Deut. 2.f.30
  16. ^ Die teks het obstinatioc, ordis i.p.v. obstinatio cordis.
  17. ^ Marg. Ezech. 7.g.26; Iob 12.d.20.
  18. ^ Marg. Psal. 107.d.40. Vgl. ook Job 12:24.
  19. ^ Marg. Iesa. 63.d.17.
  20. ^ Marg. Exod. 4.c.21 & 7.a.3. Vgl. ook Eks. 7:4.
  21. ^ Marg. Exod. l0.a.1. Vgl. ook Eks. 10:20, 27; 11:10; 14:8.
  22. ^ Marg. Exod. 3.f.19 Reeds in die uitgawes 1539-1550 is die marginale verwysing verkeerd (recte: Eks. 4:21). Vgl. Calvyn se Eksoduskommentaar (OC 24:46).
  23. ^ Marg. Deut. 2.f.30.
  24. ^ Marg. Psal. 105.c.25.
  25. ^ Marg. Iesa. 5.f26 & 7.c.18.
  26. ^ Marg. Ezech. 12.d.13 & 17.f.20.
  27. ^ Marg. Iere. 50.d.23.
  28. ^ Marg. Iesa. 10.d.15.
  29. ^ Marg. Aug. de praedest. sanct. Augustinus, De praedest. sanct. 16.33 (MPL 44:984).
  30. ^ Marg. 1 Sam. l6.c.14 & l8.c.l0 & 29.b.9. Vgl. ook 1 Sam. 19:9.
  31. ^ Marg. 2 Thes. 2. c.l0. Vg. ook 2 Tess. 2:11.
  32. ^ Inst. 1.16-18 (Afr. vert. 1:302 e.v.).
  33. ^ Inst. 2.2:13-17 (Afr. vert. 2:385-391).
  34. ^ Hierdie gedagte vind weerklank in art. 18 van die Augsburgse Konfessie (1530): De libero arbitrio docent, quod humana voluntas habeat aliquam liberiatem ad efficiendam ciuilem iusticiam, et deligendas res rattoni subiectas (In verband met oordeelsvryheid leer (die Lutherse kerke) dat die mens se wil 'n mate van vryheid het om burgerlike geregtigheid te laat geskied en 'n keuse te maak tussen dinge wat aan die rede onderworpe is - CR26:282·283). In die res van die artikel word hierdie opvatting verklaar. Melanchthon het dié opvatting breedvoerig geformuleer in sy Loci Communes (1535), en later (1543·1559) groter erkenning aan oordeelsvryheid gegee (CR 21:654). In 1543 het Calvyn sy geskrif teen Pighius oor die vrye wil juis aan Melanchthon opgedra, ten spyte daarvan dat hulle toe alreeds en gaandeweg al hoe meer oor die kwessie verskil het. Luther bespreek ook die onderwerp in breë trekke (De serv. arb. - WA18:635 e.v.; 262).
  35. ^ Marg. Exod. 11.a.3.
  36. ^ Marg. Gen. 43.c.14.
  37. ^ Marg. Psal. 106.f.46.
  38. ^ Marg. 1 Sam. 11.b.6.
  39. ^ Marg. 2 Sam. 17.c.14.
  40. ^ Marg. 1 Reg. 12.b.l0. Vgl. ook 1 Kon. 12:15.
  41. ^ Marg. Iosue 2.b.9. Jos. 2:9 (e.v.).
  42. ^ Marg. Levit. 26.136; Deut. 28.g.63.
  43. ^ Marg. Provo 20. b.12.
  44. ^ Marg. Provo 21.a.1.
  45. ^ Marg. De grat. & lib. arbit. ad Va/ent. cap. 20. Augustinus, De grat. et lib. arb. 20.41 (MPL44:906)
  46. ^ Marcus Atilius Regulus was 'n aanvoerder van Romeinse magte teen die Kartagers. Hy is in 255 V.C. deur die Kartagers oorwin, deur hulle na Rome gestuur om gevangenes uit te ruil en by sy terugkeer na Kartagowreed om die lewe gebring. Syheldemoed is deur verskeie Romeinse skrywers aangeprys, hoofsaaklik om die Kartaagse wreedheid in die kalklig te stel. seneca, Dial. 1.3.9; Ep. 67.1; Cicero, In Pisonem 19; De officiis 1:13. Augustinus het ook van die legende gebruik gemaak om die Christendom en heidendom te kontrasteer. Vgl. Augustinus, De civ. Dei 1:15 (MPL 41:28; CSEL 40,1:27-30). Oor Regulus kyk ML13:669; OCD, 757.