Na die sondeval het die hele mensdom ontaard. Deur Adam se ongehoorsaamheid is almal onderworpe aan die erfsonde. Erfsonde is nie net ‘n nabootsing van Adam se sonde nie (aldus Pelagius), maar elkeen word daarmee gebore. Sonde het die héle mens besmet en daarom moet alle kwaad aan die mens self toegeskryf  word. Die skuld kan nie op God of die natuur gepak word nie.

Selfkennis oor ons toestand voor én na die sondeval lei daartoe dat ons nie in onsself roem nie, maar hou ons nederig voor God.

1984. 18 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 1 Deur Adam se val en opstand is die hele mensdom aan die vloek onderworpe en het hulle van hulle eerste oorsprong ontaard. Oorspronklike sonde.

1. Ware Kennis van onsself berus op die Kennis van ons voortreflike toestand voor en ons droewige toestand na die sondeval🔗

Dit is nie sonder rede dat die mens kennis van homself volgens 'n spreekwoord van die ou tyd altyd so hoog geag het nie.1 As dit immers as 'n skande beskou word om onkundig te wees oor die dinge wat op die verloop van die mens se lewe betrekking het, dan is dit inderdaad 'n baie groter skande om onsself nie te ken nie. Die gevolg daarvan is tewens dat ons ons jammerlik misreken en dat ons selfs blind is wanneer ons dringend oor die een of ander aangeleentheid 'n besluit moet neem. Maar aangesien die beginsel om onsself te ken baie nuttig is, moet ons des te noukeuriger toesien dat ons dit nie verkeerd gebruik nie. Soos ons sien, is dit wat met sommige filosowe gebeur het. Want wanneer hulle die mens aanspoor om homself te ken, is hulle doelstelling terselfdertyd dat hy sy eie waardigheid en voortreflikheid moet ken. Hulle bedoeling is dat hy in homself niks anders moet waarneem as net die eienskappe waardeur hy van ydele selfvertroue kan opswel en van hoogmoed opgeblase kan wees nie.2

Kennis van onsself is egter in die eerste plek daarin geleë om, wanneer ons nadink oor die gawe wat in die skepping aan ons gegee is en met watter goedertierenheid God sy genade jeens ons laat voortduur, te weet hoe groot die voortreflikheid van ons natuur sou gewees het as dit inderdaad ongeskonde gebly het. Terselfdertyd moet ons egter daaroor nadink dat ons in onsself niks van ons eie het nie, maar dat ons oor alles wat God aan ons gegee het, onseker3 besit uitoefen, sodat ons altyd van Hom afhanklik is.

In die tweede plek is kennis van onsself daarin geleë dat ons gedagtig moet wees aan ons droewige toestand na Adam se val, sodat ons kennis  daarvan al ons roem en selfvertroue kan vernietig, ons met skaamte kan bedek en ons ons waarlik kan verootmoedig. Want God het ons in die begin na sy beeld geskep4 om ons gedagtes enersyds tot die strewe na deugsaamheid en andersyds tot die oordenking van die ewige lewe op te wek. So moet ons ook weet dat ons daarom met rede en verstand begaaf is om, deur heilig en eerbaar te lewe, na die vooropgesette doel van 'n  geluksalige onsterflikheid te strewe, sodat ons adellike afkoms wat ons van redelose diere onderskei, nie onder ons eie traagheid begrawe sou word nie.

Verder kan ons ook nie aan hierdie eerste waardigheid van die mens dink sonder dat 'n droewige beeld van ons afstootlikhetd en skandelikheid terselfdertyd voor ons opdoem nie.5 Dit kleef ons aan sedert ons in die persoon van die eerste mens van ons oorsprong afvallig geword het. Daaruit ontstaan 'n afkeer en mishae in onsself en ware ootmoed; dan word ons tot nuwe ywer aangevuur om God te soek. In Hom kan elkeen die besittings herwin waarvan ons bevind dat dit volkome en geheel en al by ons ontbreek.

2. Kennis van onsself moet ons van vertroue in onsself en selfroem tot ware ootmoed bring🔗

Die waarheid van God leer ons tewens dat ons in ons selfondersoek na die volgende moet soek: dit eis naamlik van ons 'n kennis van so 'n aard dat dit ons van alle vertroue op ons eie vermoë kan wegroep, ons alle stof tot roem kan ontneem en ons tot nederigheid kan bring. Ons moet ons dus aan hierdie maatstaf hou as ons die ware doel van ons wysheid en ons optrede wil bereik. Dit is nie aan my onbekend hoeveel aangenamer die gevoel is wat ons eerder lok om oor ons seëninge na te dink as om ons jammerlike gebrek en skande, wat ons met skaamte moet bedek, in te sien nie. Want daar is niks waarna die mens se natuur meer smag as om met vleitaal gestreel te word nie. En wanneer hy hoor dat sy gawes opgehemel word, is hy daarom geneig om dit met uitermatige liggelowigheid te aanvaar. Daarom is dit nie verbasend dat die meeste mense hierin so gevaarlik afgedwaal het nie. Aangesien daar trouens in alle mense meer as net 'n blinde eieliefde aangebore is, oortuig hulle hulleself met die grootste graagte daarvan dat daar niks afkeurenswaardig in hulle is nie. Sonder aanmoediging glo mense dus oral die ydel opvatting dat die mens heeltemal selfgenoegsaam is om goed en gelukkig te lewe.6 En as daar nog mense is wat 'n meer beskeie opvatting hieroor wil huldig en iets aan God wil afstaan om nie die indruk te skep dat hulIe alles vir hulleself toe-eien nie, verdeel hulle dit tog so dat die grootste stof tot roem en vertroue altyd by hulleself bly. As daar dan nog 'n lofbetuiging bykom om die hooghartigheid wat alreeds vanself in murg en been in die mens woed, met vleitaal te prikkel, is daar niks wat hom groter genot verskaf nie. Daarom is elkeen wat in sy lofrede die voortreflikheid van die mens se natuur met groot toegeeflikheid opgehemel het, feitlik in alle eeue met groot toejuiging verwelkom. Maar al is die aanprysing van die mens se uitnemendheid nog so groot dat dit hom leer om in homself 'n behae te vind, veroorsaak dit niks anders as genot deur selftevredenheid nie, en dit mislei hulle so dat dit 'n mens wat daarmee saamstem, droewig die verderf instort.

Want wat is die doel daarvan dat ons ten volle op ydel selfvertroue steun en planne bedink, aanpak, van stapel stuur en onderneem wat ons belangrik reken, net om dan by die begin daarvan moed te verloor en deur gesonde verstand en ware krag in die steek gelaat te word maar dan tog onbesorg voort te ploeter totdat ons die verderf instort? En tog kan dit nie anders gaan met mense wat vertrou dat hulle uit eie krag iets vermag nie. As iemand dus na sulke leermeesters luister wat ons slegs daarmee besig hou om oor ons eie besittings na te dink, sal hy geen vordering in selfkennis maak nie maar in die slegste onkunde weggesleur word.

3. 'n Samevatting van die Twee Aspekte van ware selfkennis🔗

Hoewel God se waarheid dus met die algemene opvatting van alle sterflike wesens daarin ooreenstem dat die tweede deel van ons wysheid in kennis van onsself geleë is, is daar nogtans onder hulle groot verskil oor die wyse waarop ons die kennis opdoen. Want na die oordeel van sy vlees lyk dit vir die mens asof hy homself deeglik ondersoek het wanneer hy op sy verstand en sy eie regskapenheid vertrou. Dan skep hy moed en wek homself op tot die beoefening van deug. Dan verklaar hy oorlog teen sy gebreke, en hy poog om hom met alle ywer toe te lê op dit wat mooi en eerbaar is.

Iemand wat homself volgens die maatstaf van die oordeel van God bekyk en ondersoek, vind in homself niks om sy siel tot goeie vertroue op te beur nie. Hoe dieper hy homself ondersoek, hoe meer word hy terneergeslae totdat hy alle selfvertroue geheel en al laat vaar en niks meer oor het om sy lewe reg in te rig nie.

Tog wil God nie hê dat ons ons vroeëre adel moet vergeet wat Hy aan ons vader, Adam, verleen het nie, aangesien dit ons tereg behoort op te wek om ons vir regverdigheid en goedheid te beywer. Want ons kan nie oor ons eerste oorsprong of oor die doel van ons skepping nadink sonder om ook geprikkel te word om oor onsterflikheid na te dink en die koninkryk van God te begeer nie.

Verre sy dit egter daarvan dat die kennis van ons eerste oorsprong ons sou bemoedig! Dit ontmoedig ons eerder en slaan ons tot ootmoed neer. Want wat is daardie oorsprong nou eintlik? Dit is inderdaad die een waarvan ons afvallig geword het. Wat is die doel van ons skepping? Dit is die doel wat ons heeltemal die rug toegekeer het, sodat ons vol afkeer oor ons droewige lot sug en deur ons versugtinge na daardie verlore waardigheid smag.7

Maar wanneer ons sê dat die mens in homself niks moet raaksien om hom te bemoedig nie, verstaan ons daaronder dat hy niks het waarop hy kan vertrou of roem nie. Laat ons dus, as u dit goedvind, die kennis wat die mens van homself moet hê, soos volg verdeel.

In die eerste plek moet die mens weet met watter doel hy geskep is en hy moet nadink oor die gawes waarmee hy toegerus is,8 sodat hy deur die oordenking daarvan tot diens van God en tot nadenke oor die lewe in die toekoms opgewek kan word.9

In die tweede plek moet hy sy kragte, of eerder sy gebrek aan kragte, oorweeg. Wanneer hy dit ondersoek het en daarmee niks uitgerig het nie, moet hy uiters beskaamd wees.

Die eerste oorweging is daarop gerig dat hy moet weet wat sy plig is; die tweede daarop dat hy moet weet watter krag hy het om dit te volbring. Soos die gang van ons onderwys vereis, sal ons elkeen hiervan behandel.

Deur Adam se val het die mens sy oorspronklike gawes verloor en in die verderf ingestort (Afdeling 4- 7)

4. Adam se ongelowige ongehoorsaamheid was die bron van al die euwels wat in die mens is10🔗

Dit moet inderdaad geen ligte oortreding nie, maar 'n afstootlike misdaad gewees het wat God streng gestraf het. Daarom moet ons die soort sonde in Adam se val oorweeg wat die verskriklike wraak van God teen die hele mensdom laat ontbrand het. Die algemene opvatting dat dit aan Adam se onbeheerste gulsigheid toe te skryf is, is kinderagtig net asof die volle totaal en kern van alle deugde daarin bestaan het dat hy homself slegs van een vrug moes onthou hoewel al die genietinge wat hy kon begeer, hom van oral af oorstroom het en die gelukkige vrugbaarheid van die aarde nie alleen 'n pragtige oorvloed nie maar ook 'n wye verskeidenheid daarvan tot sy beskikking gestel het.

Ons moet dus dieper ondersoek daarna instel, omdat die verbod van die boom van die kennis van goed en van kwaad daarop gemik was om Adam se gehoorsaamheid op die proef te stel om deur sy gehoorsaamheid te bewys dat hy hom blymoedig aan die heerskappy van God onderwerp. Maar juis die naam van die boom dui aan dat die doel van die verbod slegs was dat hy met sy lot tevrede moes wees en hom nie met bose begeerte moes verhef nie. Die belofte waarvolgens hy gebied is om sy hoop op die ewige lewe te stel solank as wat hy van die boom van die lewe sou eet, was gemik daarop om sy geloof te bewys en te beproef. Maar aan die ander kant weer het die verskriklike verkondiging van die dood sodra hy van die boom van die kennis van goed en van kwaad sou proe, ook ten doel gehad om sy geloof te bewys en te beproef. Dit is nie moeilik om hieruit af te lei hoe Adam die toorn van God teen hom verwek het nie. Augustinus druk dit inderdaad goed uit wanneer hy sê dat hoogmoed die begin van al die kwaad was.11 Want die mens sou in sy oorspronklike toestand kon bly as dit nie was dat sy eersug hom verhef het bo wat vir hom geoorloof en betaamlik was nie.

Tog moet ons hiervoor 'n vollediger omskrywing put uit die vorm van die versoeking wat Moses beskrywe. Want wanneer die vrou deur die listigheid van die slang uit ongeloof van die Woord van God weggelei word, is dit reeds duidelik dat ongehoorsaamheid die begin van die val was. Dit bevestig Paulus ook wanneer hy leer dat almal deur die ongehoorsaamheid van een mens bedorwe is.12 Tog moet ons terselfdertyd daarop let dat die eerste mens van die heerskappy van God afvallig geword het, nie alleen omdat hy deur die verleiding van die Satan mislei is nie, maar ook omdat hy die waarheid verag het en hom tot die leuen gewend het. En as God se Woord verag word, word alle eerbied vir Hom sekerlik ook vernietig, want sy majesteit kan slegs onder ons bly voortbestaan en sy diens kan slegs ongeskonde bly so lank as wat ons aan sy Woord verkleef bly.

Ongelowigheid was daarom die wortel van die afvalligheid. Hieruit het egter ook eersug en hoogmoed te voorskyn gekom. Hiermee is ook ondankbaarheid verbind, omdat Adam God se weldadigheid waarmee hy verryk is, onwaardig verag het deur meer te begeer as wat aan hom toegestaan is. Dit was inderdaad sonderlinge goddeloosheid dat dit vir die aardse kind van weinig waarde gelyk het dat hy na die gelykenis van God geskep is, as hy nie ook aan God gelyk is nie. As die val waardeur die mens homself van die heerskappy van sy Skepper onttrek het, ja, sy juk moedswillig van hom afgewerp het, 'n skandelike en verfoeilike misdaad was, dan word Adam se sonde tevergeefs verklein. Tog was dit nie blote afvalligheid nie maar dit was verbind met skandelike verwyte teenoor God. Die verwyte onderskryf trouens die valse beskuldigings van die Satan waarmee hy God van leuentaal, nydigheid en kwaadwilligheid aankla.

Kortom: ongelowigheid het die deur vir eersug oopgemaak. Eersug weer was die moeder van hooghartigheid. Die gevolg daarvan was dat die mens sy vrees vir God laat vaar het en homself gewerp het waarheen sy luste hom gevoer het. Derhalwe leer Bernardus heeltemal tereg dat die deur van saligheid vir ons oopgemaak word wanneer ons vandag die evangelie hoor.13 So is die dood ook binnegelaat toe die vensters daarvan vir die Satan oop was.14 Want Adam sou nooit gewaag het om hom teen God se heerskappy te verset as dit nie was dat hy aan sy Woord ongelowig was nie.

Om al sy hartstogte te beheer sou dit inderdaad die heel beste teuel gewees het om daaraan te dink dat daar niks beter is as om God se gebooie te gehoorsaam en geregtigheid te beoefen nie: en verder dat die uiteindelike doel van 'n gelukkige lewe is om deur God bemin te word. Meegesleur deur die laster van die duiwel het die mens dus God se volle heerlikheid tot niet gemaak sover dit in sy vermoë was.

5. Adam het sy nageslag in dieselfde bedorwenheid ingedompel. Die kerkvaders noem dit Erfsonde🔗

Adam se geestelike lewe het daarin bestaan dat hy aan sy Skepper verbind en met hom verenig was. Net so was sy vervreemding van Hom die dood van sy siel.15 Dit is ook geen wonder dat hy deur sy afvalligheid sy hele geslag ten gronde laat gaan het nie omdat hy die hele natuurorde in die hemel en op die aarde omgekeer het. Paulus sê: "Al die skepsels sug, omdat hulle aan die verderf blootgestel is sonder dat hulle dit wil".16 As ons na die oorsaak hiervoor vra, bestaan daar geen twyfel daaroor nie dat die skepsels 'n deel dra van die straf wat die mens verdien het, tot wie se voordeel hulle geskep is. Aangesien die vloek wat deur al die wêreldstreke woed, as gevolg van sy skuld na bo en na onder gevloei het, is dit nie vreemd dat dit ook op sy hele nageslag oorgeplant is nie. Nadat die hemelse beeld dus in hom uitgewis is, het hy nie alleen die straf gedra dat in die plek van wysheid, krag, heiligheid, waarheid en geregtigheid - versiersels waarmee hy beklee was - verskriklike gruwels ingetree het nie, naamlik blindheid, magteloosheid, onreinheid, ydelheid en ongeregtigheid, maar ook het hy sy nageslag in dieselfde ellendes verwikkel en ingedompel. Dit is sy erflike bedorwenheid wat die kerkvaders erfsonde genoem het. Onder die woord sonde het hulle die bedorwenheid van die natuur, wat tevore goed en rein was, verstaan.17 Oor die saak het hulle baie gebots aangesien niks vir die algemene gevoel vreemder was as die gedagte dat almal weens die skuld van een mens skuldig is, en dat sy sonde so almal s'n word nie.

Dit is klaarblyklik die rede waarom die oudste leraars van die kerk hierdie onderwerp so duister en oppervlakkig aanraak of ten minste minder duidelik verklaar as wat paslik was. En nogtans kon hulle beskroomdheid nie verhinder dat 'n Pelagius sou verrys nie.18 Sy onheilige versinsel was dat Adam slegs tot sy eie skade gesondig het en dat hy sy nageslag nie benadeel het nie.19 Natuurlik het die Satan gepoog om met hierdie skelmstreek die siekte te bedek en ongeneeslik te maak. Toe hy verder uit duidelike Skrifgetuienis oortuig is dat die sonde van die eerste mens na sy hele nageslag oorgegaan het,20 het hy die drogrede aangevoer dat dit deur nabootsing oorgegaan het, maar nie deur voortplanting nie. Gevolglik het vroom manne - en onder hulle besonderlik Augustinus - hulle ingespan om aan te toon dat ons nie bedorwe word deur boosheid wat ons later verkry nie, maar dat ons van moederskoot af 'n aangebore bedorwenheid met ons meebring.21 Om dit te ontken was die toppunt van verwaandheid. Maar iemand wat uit hierdie heilige man se geskrifte kon agterkom wat se liederlike diere hulle in alle ander dinge was, sal hom nie oor die onbesonnenheid van die Pelagiane en die Caelestiane verbaas nie.

Dawid se belydenis is in elk geval ondubbelsinnig, naamlik dat hy in ongeregtigheid gebore en deur sy moeder in sonde ontvang is.22 Daar keur hy nie sy vader of sy moeder se sondes af nie, maar om God se goedheid teenoor hom beter te prys bely hy by herhaling sy eie verkeerdheid van sy geboorte af. Aangesien dit vasstaan dat dit nie 'n besondere eienskap net van Dawid was nie, volg daaruit dat die algemene lot van die hele mensdom in sy voorbeeld aangedui word.

Ons almal dus wat van onrein saad afkomstig is, word besmet deur die vlek van die sonde gebore. Ja, nog voordat ons die lewenslig aanskou,23 is ons voor die aangesig van God reeds vuil en besoedel. "Want wie sou 'n reine uit 'n onreine gee? Nie een nie",24 soos daar in Job geskrywe staan.25

6. Erfsonde berus nie soos die Pelagiane sê op die nabootsing van Adam se sonde nie🔗

Ons hoor dat die onreinheid van ouers so op hulle kinders oorgedra word dat hulle almal sonder uitsondering van hulle oorsprong af besmet is. Maar ons sal nie die begin van hierdie besmetting vind nie tensy ons na die eerste vader van almal soos na 'n fontein opklim. So moet ons dit as gewis en seker aanvaar dat Adam nie alleen die voortplanter van die menslike natuur was nie, maar as't ware die wortel daarvan. Daarom is die mensdom met reg in Adam se bedorwenheid bedorwe. Die apostel verduidelik dit vir ons aan die hand van 'n vergelyking tussen Adam en Christus. Hy sê: "Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het, en deur die sonde die dood, wat tot alle mense deurgedring het,"26 omdat almal gesondig het -, so is geregtigheid en die lewe deur die genade van Christus aan ons teruggegee.27

Wat sal die Pelagiane hieroor babbel? Dat die sonde van Adam deur nabootsing voortgeplant is? Dat ons dan geen ander voordeel uit die geregtigheid van Christus trek as dat dit as 'n voorbeeld ter navolging aan ons voorgehou is nie? Wie sou sulke heiligskennis kon duld? As daar dan geen geskil daaroor is dat die geregtigheid van Christus en die lewe wat daaruit ontstaan, ook ons geregtigheid en ons lewe is nie, kan ons terselfdertyd die afleiding daaruit maak dat albei so in Adam verlore was dat dit weer in Christus herwin moes word. Verder kan afgelei word dat die sonde en die dood so deur Adam ingesluip het dat dit deur Christus tot niet gemaak moes word.

Die volgende woorde is nie duister nie: "Dat baie deur die gehoorsaamheid van Christus geregverdig word soos hulle deur die ongehoorsaamheid van Adam tot sondaars gestel is".28 Daar is derhalwe die volgende verhouding tussen Adam en Christus: Adam het ons insy eie verderf verstrik en ons saam met hom bederwe; maar Christus het ons deur sy genade tot ons saligheid herstel. Ek meen nie dat ons in so 'n helder lig van die waarheid 'n langer of moeisamer bewys nodig het nie. Wanneer hy die vromes in hulle vertroue in die opstanding wil versterk, toon die apostel in die eerste brief aan die Korintiërs aan dat ons die lewe wat ons in Adam verloor het, in Christus herwin.29 Wanneer hy verklaar dat ons almal in Adam gesterwe het, getuig hy terselfdertyd openlik dat ons in sy sondesmet verstrik is. Want die verdoemenis sou nie mense wat deur geen skuld van hulle ongeregtigheid besmet is, te beurt geval het nie. Maar sy bedoeling kan nie duideliker begryp word as uit die verhouding hiervan tot die ander deel van die vergelyking nie, naamlik waar hy leer dat die hoop op die lewe in Christus herstel is. Dit is immers bekend genoeg dat dit slegs gebeur wanneer Christus sy geregtigheid wonderbaarlik met ons deel en sy krag oor ons uitstort. So is daar elders geskrywe dat die Gees vir ons die lewe is vanweë die geregtigheid.30 Derhalwe mag ons dit wat daar gesê word, naamlik dat ons in Adam gesterwe het, nie anders vertolk as dat hy deur te sondig nie alleen vir homself 'n ramp en verderf op die hals gehaal het nie maar dat hy ook ons natuur in 'n soortgelyke verderf gestort het. En dit nie deur sonde wat aan hom alleen behoort en ons nie aangaan nie, maar omdat hy sy hele saad met die sondigheid waarin hy geval het, besmet het. Paulus se verklaring dat almal van nature kinders van die toorn is,31 sou trouens andersins nie stand kon hou as dit nie was dat hulle alreeds van moederskoot af vervloek was nie. Ons kan geredelik aflei dat daar inderdaad na 'n natuur verwys word, nie soos wat dit deur God geskep is nie, maar soos dit in Adam bedorwe is. Dit sou immers glad nie betaamlik wees om God die oorsprong van die dood te maak nie. Adam het homself dus op so 'n wyse bederwe dat die besmetting daarvan van hom af na sy hele nageslag oorgegaan het.

Juis ons hemelse Regter, Christus self, verklaar duidelik genoeg dat alle mense sleg en sondig gebore word wanneer Hy leer dat alles wat uit die vlees gebore word, vlees is32 en dat die deur van die lewe dus vir almal gesluit is totdat hulle weer gebore word.33

7. Inleiding tot die begrip erfsonde🔗

Om die onderwerp te begryp hoef ons ons nie te bekommer oor die geskil wat die kerkvaders van ouds gekwel het nie, naamlik of die siel van 'n kind as 'n spruit van die siel van sy vader ontstaan omdat die besmetting veral in die siel gevestig is.34 Ons behoort tevrede te wees dat die Here die gawes wat Hy aan die menslike natuur wou toeken, by Adam in bewaring geplaas het. Toe Adam dus die gawes wat hy ontvang het, verloor het, het hy dit nie slegs vir homself verloor nie maar vir ons almal. Wie sou hom dan oor die oordrag van die siel bekommer wanneer hy sou hoor dat Adam die gawes wat hy verloor het, nie minder vir ons as vir homself ontvang het nie? Dit was nie net aan een mens gegee nie maar is toegeken aan die mens se hele natuur. Daar is dus niks ongerymds daarin as Adam se natuur naak en ontbloot gelaat is toe hy daarvan beroof is en as die smet daarvan in sy natuur voortwoeker nadat hy deur die sonde besmet is nie. So het verrotte takke uit 'n verrotte wortel gespruit, en hulle het hulle verrotting oorgedra op die ander takkies wat daaruit ontstaan het. Want die kinders is so in hulle ouers bedorwe dat hulle ook hulle nakomelinge besmet het. Dit beteken dat die begin van die bederf so in Adam was dat dit deur voortdurende afvloeiing van die voorouers af oor hulle nageslag uitgestort word. Want hierdie smet het nie syoorsprong in die substansie van die vlees of die siel nie, maar dit is so deur God beskik dat die mens die gawes wat God aan die eerste mens toegeken het, vir homself sowel as vir sy nageslag sou besit en sou verloor.35

Die drogredenasie van die Pelagiane dat dit onwaarskynlik is dat kinders bedorwenheid uit vroom ouers sou put terwyl hulle eerder deur hulle ouers se reinheid geheilig behoort te word,36 kan maklik weerlê word. Want hulle stam nie uit die geestelike wedergeboorte van hulle ouers nie maar uit hulle vleeslike geboorte. Daarom bring geeneen van beide, of 'n skuldigeongelowige of 'n verloste gelowige, verloste kinders voort nie maar skuldiges, omdat elkeen van hulle hulle kinders uit 'n bedorwe natuur voortbring - soos Augustinus sê.37 Dat kinders verder op een of ander wyse in die heiligheid van hulle ouers deel het, is 'n besondere seën vir God se volk. Dit verhinder nogtans nie dat die eerste en algemene vervloeking van die mensdom daaraan voorafgaan nie. Want die mens se skuld is uit sy natuur, maar sy heiligmaking uit bonatuurlike genade.38

8. Definisie en Bespreking van oorspronklike sonde39🔗

En laat ons nou oorspronklike sonde omskrywe sodat dit nie dalk lyk asof ons oor 'n onsekere en onbekende saak gepraat het nie. Ek is trouens nie van voorneme om elke afsonderlike definisie wat skrywers daarvoor aangebied het, te ondersoek nie. Ek sal slegs een definisie aanbied, wat na my mening die beste met die waarheid ooreenstem. Oorspronklike sonde is dus klaarblyklik die oorerflike boosheid en bedorwenheid van ons natuur wat oor al die dele van ons siele versprei is. Dit maak ons in die eerste plek skuldig aan die toorn van God en bring ook in ons werke voort wat die Skrif werke van die vlees noem.40 Dit is eintlik wat so dikwels deur Paulus sonde genoem word. Die werke wat trouens daaruit voortkom, soos owerspel, ontug, diefstal, haat, moord en brassery, noem hy om hierdie rede vrugte van die sonde.41 Tog word dit sowel deur die Skrif as deur Paulus oral sonde genoem. Ons moet dus noukeurig op hierdie twee fasette let, naamlik dat ons van nature in alle opsigte so bedorwe en sleg is en alreeds slegs vanweë so 'n bedorwenheid met reg verdoem en voor die aangesig van God skuldig verklaar is, omdat niks anders as net geregtigheid, onskuld en reinheid vir Hom aanvaarbaar is nie. Dit is egter nie 'n verbintenis vir 'n ander mens se oortreding nie. Want wanneer daar gesê word dat ons deur Adam se sonde skuldig geword het aan die oordeel van God, moet ons dit nie opneem asof ons self onskuldig is en sonder dat ons dit verdien, die skuld vir sy sonde dra nie. Omdat ons almal deur sy oortreding vervloek is, word daar gesê dat hy ons daarmee verbind het. Nogtans het die straf alleen nie van hom af na ons oorgekom nie, maar die smet wat deur hom in ons ingedrup is, is ook in ons gevestig, en dit moet met reg gestraf word. Hoewel Augustinus dit dikwels iemand anders se sonde noem om duideliker aan te dui dat dit deur voortplanting ook na ons toe afgelei word, verklaar hy daarom tog terselfdertyd dat dit elkeen se eie sonde is.42 En die apostel getuig self ook baie uitdruklik dat die dood alle mense oorgekom het omdat almal gesondig het, dit wil sê omdat hulle almal in die oorspronklike sonde verstrik is en deur die smette daarvan besoedel is.43 Daarom is kinders ook nie deur die sonde van 'n ander nie maar deur hulle eie sonde skuldig, omdat hulle hulle eie verdoemenis van moederskoot af met hulle saamneem. Want al het hulle nog nie die vrug van hulle ongeregtigheid voortgebring nie, het hulle tog die saad daarvan in hulle ingeslote. Ja, hulle hele natuur is saad van die sonde. Derhalwe moet hulle natuur ook vir God afkeurenswaardig en verfoeilik wees. Daaruit volg dat die bedorwe natuur eintlik as sonde voor God beskou word omdat dit nie aangekla sou kon word as dit nie skuld gehad het nie.

Hierby kom die tweede punt waarop ons moet let, naamlik dat hierdie verwrongenheid nooit in ons tot 'n einde kom nie maar voortdurend nuwe vrugte voortbring. Die vrug is natuurlik die werke van die vlees wat ons tevore beskrywe het. Dit is soos 'n oond wat aan die brand gesteek word en vlamme en vonke uitblaas, of soos 'n fontein wat eindeloos water uitspuit. Die mense wat die oorspronklike sonde beskryf het as die ontbering van die oorspronklike geregtigheid wat in ons behoort te wees, het daarom nie duidelik genoeg die krag en werking van die oorspronklike sonde tot uitdrukking gebring nie, hoewel die definisie alles saamvat wat die onderwerp raak.44 Want ons natuur is nie alleen ontbloot van en sonder die goeie nie maar ook so vrugbaar en ryk aan alle kwaad dat dit nie ledig kan wees nie. Die mense wat beweer het dat oorspronklike sonde begeerte is,45 het 'n woord gebruik wat nie te onvanpas is nie. Hulle moes slegs iets daar bygevoeg het - iets wat die meeste mense glad nie toegee nie, - naamlik dat alles wat in die mens is, van sy verstand tot sy wil, van sy siel tot sy vlees, met hierdie begeerte besmet en tot oorlopens toe vol is; of, om dit bondiger te stel: die mens in sy geheel is uit homself niks anders as begeerte nie.

9. Sonde het nie net die sintuiglike emosies nie maar die Hele Mens besmet🔗

Daarom het ek gesê dat al die dele van die siel deur die sonde besmet is vanaf die stadium waarin Adam van die bron van geregtigheid afvallig geword het. Want dit was nie alleen 'n ondergeskikte lus wat hom verlei het nie, maar 'n skandelike boosheid het die vesting van sy siel ingeneem en hoogmoed het diep binne-in sy hart ingedring, sodat dit niksseggend en dwaas sou wees om die bedorwenheid wat daaruit voortkom, slegs tot die sogenaamde sintuiglike emosies te beperk.46 Dit sou net so dwaas wees om dit 'n vonk te noem wat slegs dié deel wat hulIe die sintuiglike noem, tot sonde sou verlei, aanhits en trek.47

Daarin het Petrus Lombardus sy growwe onkunde ge openbaar toe hyop die spore daarvan na die setel van die bedorwenheid gesoek het. Hy het verklaar dat dit volgens die getuienis van Paulus in die vlees is, nie in eintlike sin nie, maar omdat dit meer in die vlees na vore kom,48 net asof Paulus slegs maar 'n gedeelte van die siel hier aandui en nie die hele natuur wat teenoor die bonatuurlike genade gestel word nie.

Paulus ruim alle twyfel daaroor uit die weg wanneer hy leer dat die bedorwenheid nie alleen in een deel gevestig is nie maar dat daar niks is wat vry en suiwer van die dodelike smet daarvan is nie. Want wanneer hy die bedorwe natuur bespreek, verdoem hy nie alleen die ongereelde opwelling van begeertes wat by die mens na vore kom nie, maar hy verklaar veral dat die mens se verstand aan blindheid en sy hart aan boosheid uitgelewer is.49 Die derde hoofstuk van sy brief aan die Romeine is niks anders as 'n beskrywing van die oorspronklike sonde nie.50 Dit blyk nog duideliker uit die teenoor die ou mens en die vlees gestel word, dui nie alleen op die genade waardeur die laer deel van die siel of die sintuiglike verbeter wordn nie, maar sluit ook die volle hervorming van al sy dele in. Daarom bevel Paulus ons dat ons nie alleen growwe begeertes tot niet moet maak nie, maar ook dat ons in die gees van ons siele nuut gemaak moet word.51 So beveel hy ons ook elders dat ons deur die vernuwing van ons gees verander moet word.52 Daaruit volg dat daardie deel waarin die uitnemendheid en adel van ons siele in die besonder skitter, nie alleen verwond is nie maar so bedorwe is dat dit nie alleen nie genees kan word nie maar met 'n bykans nuwe natuur beklee moet word. Ons sal weldra sien in hoeverre die sonde ons verstand en hart inneem. Hier wou ek slegs bondig daaraan raak dat die mens in sy geheel van sy kop tot tone soos deur 'n stortvloed begrawe is, sodat geen deel vry van die sonde is nie, en daarom moet alles wat die mens voortbring, aan sonde toegereken word. So sê Paulus dat al die gevoelens of gedagtes van die vlees vyandskap teen God en daarom die dood is.53

10. Die mens self dra die skuld vir sy sonde en nie God nie🔗

Laat die mense dan wat waag om God die skuld vir hulle sondes te gee omdat ons sê dat mense van nature bedorwe is, nou maar hulle pad gaan.54 In hulle eie besmetlikheld soek hulle verkeerdelik na die werk van God. Hulle moes eerder in Adam se nog ongeskonde en onbedorwe natuur daarna gesoek het. Ons verderf spruit dus uit die skuld van ons vlees en nie uit God nie omdat ons om geen ander rede verlore gegaan het as omdat ons van ons eerste staat afgewyk het nie. Laat niemand nou teenstribbel dat God beter voorsorg vir ons saligheid kon getref het as Hy Adam se val sou verhinder het nie.55 Want godvrugtige mense moet die beswaar vanweë die uiterrnatig vermetele wysneusigheid daarvan verafsku; andersyds het dit betrekking op die geheimenis van die predestinasie wat te geleëner tyd behandel sal word.56

Laat ons dus daaraan gedagtig wees dat ons ons val aan die bedorwenheid van ons natuur moet toeskryf om te verhoed dat ons God as oorsaak van ons natuur sou beskuldig. Dit is inderdaad waar dat die verderflike wond daarvan aan ons natuur kleef, maar dit is baie belangrik of dit van elders af daarbygekom het en of dit van die oorsprong af daarin gevestig is. Dit staan egter vas dat die wond deur die sonde toegedien is. Daar bestaan dus geen rede waarom ons moet kla behalwe oor onsself nie. Die Skrif het dit ook noukeurig aangeteken. Want die Prediker sê: "Dit weet ek: dat God die mens reg gemaak het; maar hulle het baie slim planne gesoek".57

Dit is duidelik dat die mens sy verderf slegs aan homself moet toeskryf aangesien hy deur sy eie dwaasheid in ydelheid verval het ten spyte daarvan dat hy deur die goedertierenheid van God geregtigheid gekry het.

11. Die mens se natuurlike bedorwenheid het nie uit die natuur ontstaan nie🔗

Ons sê dus dat die mens deur 'n natuurlike gebrekkigheid bederf is. Dit is egter 'n bedorwenheid wat nie uit die natuur voortgekom het nie.58

Ons verklaar dat die gebrekkigheid nie uit die natuur voortgekom het nie om aan te dui dat dit 'n bykomstige hoedanigheid is wat die mens te beurt geval het, eerder as 'n wesenlike eienskap wat van die begin af aan hom toegeken is. Ons noem dit nogtans natuurlik, sodat niemand moet reken dat iemand dit deur 'n slegte gewoonte verkry nie, aangesien dit volgens erfreg alle mense insluit. Ons doen dit ook nie sonder gesag nie. Want die apostel leer om dieselfde rede dat ons almal kinders van die toorn is.59 Hoe sou God Hom kon vertoorn oor die edelste van al sy skepsels as selfs sy geringste werk Hom behaag? Maar God vertoorn Hom eerder oor die bedorwenheid van sy werk as oor sy werk self.

As dit dus 'n verstandige verklaring is dat die mens weens sy bedorwe menslike natuur van nature vir God afstootlik is, dan sal dit ook nie dwaas wees om te sê dat hy van nature sleg en sondig is nie. So skroom Augustinus nie om die sonde wat noodwendig in ons vlees heers, omrede die mense se bedorwe natuur natuurlik te noem wanneer God se genade nie daarin aanwesig is nie.60 So verdwyn die onnosele onsin van die Manicheërs, wat gewaag het om 'n ander Skepper vir die mens te versin toe hulle hulle verbeel het dat daar wesenlike kwaad in die mens aanwesig is. Hulle het dit gedoen om nie die indruk te skep dat hulle die oorsaak en begin van die kwaad aan die regverdige God toeskryf nie.61

Endnotes🔗

  1. ^ Hierdie woorde brei die tema uit wat alreeds in die openingswoorde van die Institusie ingelei is, naam lik dat die som van ons kennis uit kennis van God en uit kennis van onsselfbestaan (Inst. 1.1.1). Die spreekwoord van die ou tyd waarna Calvyn verwys. Dit is in die manuskrip wat vir die vertaling gebruik is, in konternporêre handskrif geskrywe en was 'n bekende uitdrukking in die klassieke, bv. Xenophon, Memorabilia 4.2.24-29 (LCL, 286); Aristoteles, Retorika 2.21.1395 (LCL, 282 e.v.): Cicero, Tusc. Disp. 1.22.52; Fin. 5.16.44; Leges 1.22.57.
  2. ^ Marg. Gen. 1.d.27. Vgl. n. 6. Kantaantekeninge (marginalia) is in die oorspronklike teks (A) dikwels verkeerd of in verkeerde volgorde geplaas. In hierdie vertaling word kantaantekeninge weergegee soos dit in die oorspronklike voorkom. Daar word 'n boek, hoofstuk, 'n presisering van die versinhoud en die betrokke vers gegee. Verspresisering is gewoonlik in volle hoof- of volle bysinne gedoen en dan verdeel in a, b, c, d, e, ens. Aangesien die sinsbou in Laryn van dié in Afrikaans verskil, kan hierdie onderverdelings van verse nie in Afrikaans presies omlyn word nie. Hier volg egter wel 'n duidelike voorbeeld: Marg. 2. Co. 5.d.21 (recte: 2 Kor. 5:19). Die dverwys na die inhoud van die eerste sinsdeel van vers 19, volgens die 1957 Afr. vert., wat die vierde bysingedeelte is van die hele sin wat by vers 18 begin.
  3. ^ Precario. Middeleeuse leksikograwe verwys na die betekenis van hierdie woord in die feodale stelsel, waar die grondbewoner nie werklik grond of eiendom besit nie maar van die welwillendheid van die grondbesitter afhanklik is. Vgl. Forcellini (p. 848-849): Est qui habetur ex precibus, qui tandiu obtinetur, qui concessit, permiserit (Hy wat iets uit versoeke verkry, behou dit net so lank as wat hy wat dit toegestaan het, dit toelaat). Ou Cange (p. 479-482): Precarium utendum conceditur, quamdiu patitur qui concessit (Prekêre (onsekere) besit word toegelaat so lank as wat die man wat dit toestaan, dit toelaat).
  4. ^ (Gen. 1:27.)
  5. ^ Vgl. die droewige beeld van die sondaarmens wat Paulus in Rom. 3:9-18 teken.
  6. ^ 'n Gelukkige lewe was die ideaal van elkeen van die klassieke fllosofleë 'en verskeie skrywers het ook daaroor geskrywe, o.a. Seneca, De vita beata en Cicero, Tusc. Disp. Die waarde om goed en gelukkig te lewe kom net sa by Cicero voor. Hierdie gedagte is alreeds vroeg deur Christenskrywers opgeneem, o.a. in die sewende boek van Lactantius se Institusie. Vgl. ook Augustinus, Ep. 186.11.37(CSEL 57:76-77).
  7. ^ Die teks hier stem in breë trekke ooreen met die 1541-Franse uitgawe. Pannier merk in sy kommentaar LV.m. hierdie stelling op dat Calvyn hier die dinamiek van die leer van die onvrye wil (serf-arbitre) openbaar. Wanneer ons die doel van die mens se oorspronklike skepping tesame met ons huidige morele onmag insien, lei dit ons om ons krag en verlossing by God alleen te soek (J Pannier, Inst. 1.311, n. a, wat na p. 84 terugverwys). Dit is letterlik dieselfde in die Latynse 1539-uitgawe vanaf bladsy 17.
  8. ^ Vgl. Inst. 1.15.1-4 (Afr. vert. 1:285-294). Calvyn se mensbeskouing word hoofsaaklik op twee plekke in die Institusie aangetref: in 1.15.1-4 (Afr. vert. 1:285-294) handel hy oor die mens soos hy geskep is, en in 2.1-4 (Afr. vert. 2:349-355) bespreek Calvyn die toestand van die gevalle mens (Battles 1:183, n.1).
  9. ^ Calvyn bespreek die nadenke oor die toekomstige lewe in Inst. 3.9.
  10. ^ Vgl. Calvyn, Com. in Gen. 3 (OC 23:51 e.v.).
  11. ^ Augustinus, Enar. in Ps. 18 (Enar. 2.15): Magnum hoc delictum est, et caput atque causa omnium delictorum. Scriptum est enim: Initium peccati omnis superbia (MPL 36:163; eeSL 38:112). Die betrokke psalm met sy verse wat Augustinus hier uitlë, is in die Afr. Bybel Ps. 19:13, 14. Vgl. ook Augustinus,In Ioan. Tract. 25.16 (MPL 35:1604);-De Genesi 15.19 (MPL 34:436).
  12. ^ Marg. Rom. 5.d.19.
  13. ^ Bernard van Clairvaux, Sermones in cantica canticorum 28.5 (MPL 183:923). Kyk Inst. 1.14.10 (Afr.vert. 1:270, n. 72).
  14. ^ (Jer. 9:21.)
  15. ^ Aussi la mort a esté d'en estre séparé (Benoit 2:12).
  16. ^ Marg. Rom. 8.d.22. Vgl. ook Rom.8:20.
  17. ^ Augustinus, Retractationes 1.12.6 (CSEL 36:60-61); 1.13.5 (MPL 32:603-604); Contra Iul. 3.26.59 (MPL 44:732); Contra Iul. op. imperf.. naturale peccatum (MPL 45:1469 e.v.). Ambrosius, Enar. in Ps. 48:8-10 (MPL 14:1158-1159).
  18. ^ Vir Pelagius, kyk Afr. vert. 1:39-40. Vgl. Augustmus. Contra Jul. Pelag. 1.6.21; 3.26.59 (MPL 44:654 e.v.; 44:732 e.v.), Bettenson, Documents 74-87; Banles 1:247 n. 8.
  19. ^ Augustinus, Contra duas ep. Pelag. 2.4.6; 6.4.9 (MPL 44:575,826; CSEL 60,1:466).
  20. ^ (Rom. 5:12.)
  21. ^ Augustinus, De civ. Dei 16.27 (MPL 41:506; eest 48:531-532; CSEL 40,2:175); De pee. mer. et remis. 1.35.65 (MPL 44:147; CSEL 60,1:65).
  22. ^ Marg. Psal. 51.b. 7.
  23. ^ Die Franse uitgawe het:...  et mesmes devant que sortir en lumière (Benoit 2:13).
  24. ^ Fr.: Car qui est-ce quipourra faire une chose pure, qui est introduite (1541: produicte) d'immondicité (1541: d'immundicité - Benoit 2:13).
  25. ^ Marg. Iob. 14.a.4.
  26. ^ Marg. Rom. 5. b.12. Vgl. Augustinus, Contra jul. Pelag.1.6.27 (MPL 44:658).
  27. ^ (Rom. 5:15, 17-18). Vgl. Calvyn, Com. in Rom. 5:12 (OC 49:95); Augustinus, De pee. mer. et remis. 1.10.11 (MPL44:115). Lg. bou sy argument op die foutiewe vertaling van Vg.: in quo, d.i., "in wie almal gesondig het".
  28. ^ (Rom. 5:19.)
  29. ^ Marg. Cap. 15.c.22. 1 Kor. 15:22.
  30. ^ Marg. Rom. 8. b.l0.
  31. ^ Marg. Ephes. 2.a.3.
  32. ^ Marg. Iohan. 3.a. 6.
  33. ^ (Joh. 3:5.)
  34. ^ Vgl. Inst. 1.15.5 (Mr. vert. 1:294, n. 61 en 64). Calvyn bespreek die kerkvaders se gebruik van die woord tradux (d.i. spruit) i.v.m. die oorsprong van elke mens se siel. Soos tevore gesë, kies Calvyn vir die kreasionisme, waarvolgens elke siel afsonderlik by die begin van die lewe uit niks geskep word: Hic tam movetur quaestio, quomodo a pareruibus peccatum transferatur in ftlios: quae deinde aliam parit de traduce animae, quia multi labem pareruis adftlium peruenire negant, nisi anima gignatur ex substantia animae (Hier ontstaan die vraag hoe die sonde van ouers af na hulle kinders oorgedra word. Dit veroorsaak 'n verdere vraag in verband met die oordrag van die siel, want baie skrywers sê dat die smet van 'n ouer nie op sy kind oorgaan nie, behalwe as die kind se siel uit die wese van sy ouers se siel ontstaan - Calvyn, In lib. Psalmorum Com.: OC 31:514). Volgens die tradusianisme word in Adam se siel'n element geplaas wat uit die Goddelike Wese daarop oorgedra is en as die bron van alle siele beskou word. Vgl. Augustinus, De anima et ejus origine 1.4; 2.14 (MPL 44:477; 507); De pee. mer. et remis. 3.10.18 (MPL 44:196; CSEL60,1:144-145); Battles 1:249, n.10. Vir die oordrag van die oorspronklike sonde vgl. Calvyn, Com. in ev. loan. 3:6 waar o.a. die volgende voorkom: ... Porro quum Christus hic ratiocinetur, renasci oportere bomtnes quia tantum caro sunt,totum procul dubio hominem sub carne comprehendit. Caro itaque non corpus hoc loco significat, sed animam sirnul adeoque singulas eiuspartes (. .. Wanneer Christus hier redeneer dat mense weer gebore moet word omdat hulle slegs vlees is, sluit Hy sonder twyfel die volle mens onder vlees in. Vlees dui hier dus nie alleen die liggaam aan nie maar terselfdertyd ook die siel en elke afsonderlike deel daarvan - OC 47:56).
  35. ^ Calvyn, Com. in ev. Ioan. 3:6 (OC 47:56-58).
  36. ^ (1 Kor. 7:14); vgl. Augustinus, De pec. mer. et remis. 3.8.14,15 (MPL 44:194; CSEL60,1:141).
  37. ^ Marg. Lib. contra Pelag. & Caelest. Augustinus, De grat. Christi et de pec. orig. 2.40.45 (MPL 44:407; CSEL42:202).
  38. ^ Die verhouding tussen naturalis en supernaturalis in Calvyn se werke is 'n onderwerp wat indringender studie vereis. Natura is volgens Calvyn die skouburg van God se skeppingswerk en saam met die Skrif die openbaring van God. Die bonatuurlike is ten dele geopenbaar maar omdat die volle openbaring daarvan eers met die wederkoms van Christus aan alle mense bekend sal word, is daar perke in die mens se ondersoek na die supernaturale (d.i., die bonatuurlike).
  39. ^ "Oorspronklike sonde" (peccatum originale) en "erfsonde" (peccatum hereditarium) word in die vertaling onderskei. Sedert Augustinus speel die term peccatum originale 'n belangrike rol in die teologie. Kyk Augustinus, De gratia Christi et de peccato originali 2.40.45 (MPL 44:407; CSEL 42:198); Thomas van Aquino se onderskeiding tussen verskillende sondes in Summa Theol. 1,2.72 (Marietti 2:324) en sy bespreking van peccatum ortginale. ibid. 1,2.82 (Marietti 2:381 e.v.) en die  Konsilie van Trente se decretum de peccato ortginali soos geformuleer tydens die vyfde sessie op 17 Junie 1546 (Mansi 33:27 e.v.). Calvyn het hierop geantwoord met Acta Synodi Tridentinae cum antidota (OC 7:426 e.v.). In die begin van art. 15 NGB word bely. ... peccatum originis in totum genusbumanum diffusum fuisse; quod est totius naturae corruptie et uitium baereditarium ... Fr.: ... Ie Peche Origine! a estë espandu par tout Ie genre bumain, lequel est une corruption de toute la nature, et un vice hereditaire ... Cornelissen (1583) vertaal peccatum originis tereg met "originale oft oorspronckelicke zonde", terwyl dit in die offisiële Nedl. vertaling eenvoudig "erfzonde"word (Bakhuizen van den Brink, 86-87).
  40. ^ Marg. Galat. 5. c.19
  41. ^ (Gal. 5:19-21.)
  42. ^ Marg. Cum alibi saepe, tum uero 3 de peccatorum merit. & rem. cap. 8. Augustinus, De pec. mer. et remis. 3.8.15: Nulla, inquiunt, ratione conceditur, ut Deus quipropria peccata remittit, imputet aliena (MPL 44:194; eSEL 60,1:141).
  43. ^ Marg. Rom. 5.b.12.
  44. ^ Thomas haal Anselmus se definisie van die peccatum ortginale met instemming aan. Dit is: Originale peccatum est carentia originalis iustitiae, sic originale peccatum est quaedam priuatio(Oorspronklike sonde is die ontbering van die oorspronklike geregtigheld, so is oorspronklike sonde dus 'n gebrek). Lees daarmee saam die baie belangrike n. 1 van Marietti i.v.m. die ontwikkeling van die begrip en die kritiek teen Luther en Calvyn (Thomas, Summa Theol. 1,2.82 Marietti 2:381). Melanchthon se beskrywing van peccatum originale het in die ontwikkeling van sy dogmatiese beskouing verander (CR 21:97, 380,668); vgl. Melanchthon, Loci tbeologici: Peccatum originis est carentia iustitiaeoriginatis debitae inesse (CR 21:668).
  45. ^ Augustinus, De nuptiis et concupiscentia (MPL 44:413 e.v.) handel oor die huwelik en begeerte. Lombardus beskrywe oorspronklike sonde as "die brandhout van die sonde, d.i. begeerte" (Sent.2.30.7 - MPL 192:722).
  46. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 2,1.74.3,4 (Marietti 2:342 e.v.). Lees in besonder n. 1 waarin die Protestantse leer aangeval word na aanleiding van die besluite van die Konsilie van Trente.
  47. ^ Vgl. n. 46. Lombardus noem die peccatum ortginale 'n fomes peccati.
  48. ^ Lombardus, Sent. 2.30.7,2.31.2-4 (MPL 192:722; 724-725).
  49. ^ Vgl. Inst. 2.2.15, 2.3.2 (Afr. vert. 2:387, 408).
  50. ^ (Rom. 3:1-20.)
  51. ^ Marg. Ephes. 4.c.23.
  52. ^ Marg. Rom. 12. a.2.
  53. ^ Marg. Rom. 8.b.7. Vgl. ook Rom. 8:6
  54. ^ Calvyn, Contre la sectepbantastique etfurieuse des Libertins quise nommentspirituele, hfst. 13 (OC 7:183-186); êpistre contre un certain Cordelier suppost de la secte des Libertins, 1547 (Oe 7:347). Vgl. ook sy Com. ad Rom. 11:12 (OC 49:218 e.v.; Parker (1981):248 e.v.).
  55. ^ Augustinus, De Gen. ad lit. 11.4, 6, 10, 13 (MPL 34:431-434).
  56. ^ Inst. 3.21-24.
  57. ^ Marg. Eccles. 7.d.30. Vgl. ook Pred. 7:29.
  58. ^ Vgl. Inst. 1.1.2, n. 7; 1.14.3, n. 15 (Afr. vert. 1:115; 1:262).
  59. ^ Marg. Ephes. 2.a.3.
  60. ^ Augustinus, De Gen. ad lito imperf liber 1.1.3 (MPl 34:221; CSEl 28,1:460); Contra sec. Jul. resp. imperf opus 5.40 (MPl 45:1476-1477.
  61. ^ Oor die Manicheërs kyk Inst. 1.7.3; 1.13.1 (Afr. vert. 1:156, n. 9; 1:157, n. 11 en 12; 1:211, n. 3).