Waar Calvyn in die vorige hoofstukke oor God se algemene openbaring in die skepping praat, fokus hy nou op God se spesiale openbaring: die Skrif/Woord waarin ons Hom reg leer ken.

Die enigste manier hoe die mens die ware kennis van God kan kry, is deur die Skrif as leerling te ondersoek. Só word die ware kennis van God in die mens (wat van nature geneig is tot allerlei dwalinge) ingeplant.

Ten spyte daarvan dat die skepping die heerlikheid van God verkondig, kan die swak mens slegs deur die heilige Woord Hom daarin sien.

1984. 5 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 6 Om tot God die Skepper te kom het almal die Skrif as gids en leermeester nodig

1. God het Sy Woord as Hulpmiddel aan die Mens gegee om Hom te leer ken🔗

Die glans wat in die hemel en op die aarde almal se oë tref, beroof die mens deur sy ondankbaarheid heeltemal van alle verontskuldigings. Soos God sy Goddelike mag, soos dit in sy skepsels afgebeeld is, sonderuitsondering aan alle mense voorhou om die hele mensdom in dieselfde skuld te verstrengel, moet daar tog 'n ander beter hulpmiddel bykom om ons behoorlik na die Skepper van die wêreld op koers te bring.

Daarom het Hy nie sonder rede nie die lig van sy Woord daar bygevoeg sodat Hy daardeur tot ons heil aan ons bekend kan word. Hy het die mense wat Hy nader en inniger by Hom wou versamel, hierdie voorreg waardig geag. Omdat Hy gesien het dat die gemoedere van alle mense deur hulle onbestendige en onstandvastige drif rondgesleur word, het Hy, nadat Hy die Jode as besondere volk uitverkies het, hulle met bepaalde perke omring om te verhoed dat hulle soos ander mense sou vergaan. Met dieselfde middel hou Hy ons nie doelloos aan die suiwer kennis van Homself vas nie, omdat selfs dié wat skynbaar bo ander standvastig bly, ook andersins weldra sou vergaan. Hoewel bejaardes of halfblindes of stiksienige mense byvoorbeeld sou agterkom dat daar iets geskrywe staan as 'n mens die pragtigste boek aan hulle sou voorsit, sal hulle tog beswaarlik twee woorde aan mekaar kon verbind. Maar as jy aan hulle 'n bril as bystand gee, sal hulle duidelik begin lees. Net so versamel die Skrif die kennis van God wat andersins verward in ons verstand lê, verdryf die duisternis en toon duidelik die ware God aan ons.

Dit is dus 'n sonderlinge gawe wanneer God nie slegs van stom leermeesters gebruik maak om sy kerk te leer ken nie maar ook sy heilige mondstuk daarvoor aanwend. Dit verkondig nie alleen dat ons 'n God moet dien nie, maar dit verklaar terselfdertyd ook dat Hy die God is wat ons moet dien. Dit leer die uitverkorenes nie alleen om na God op te sien nie, maar dit openbaar ook aan hulle na wie hulle moet opsien.

Van die begin af het Hy dit as verordening vir sy kerk gehou om benewens die gewone tekens ook sy Woord te gebruik, omdat dit 'n juister en sekerder teken is om Hom te leer ken. Daar bestaan geen twyfel daaroor nie dat Adam, Noag, Abraham en die ander vaders met hierdie hulpmiddel tot 'n innige kennis van God deurgedring het en dat dit hulle op 'n sekere wyse van ongelowiges onderskei het.1 En nou praat ek nog nie van die besondere geloofsleer waardeur hulle tot die hoop op 'n ewige lewe verlig is nie. Want om van die dood na die lewe oor te gaan moes hulle God nie alleen as Skepper leer ken nie, maar ook as Verlosser. So het hulle inderdaad kennis van albei uit die Woord verkry.

Want die soort kennis waarin dit hulle gegun is om te begryp wie dié God is deur wie die wêreld geskep is en bestier word, het daarin ordelik eerste gekom. Daarop is daar 'n tweede inniger soort kennis hieraan verbind, wat alleen dooie siele lewend maak en waardeur God nie soseer  as Skepper van die wêreld en as Grondvester en Regter van alles wat ontstaan, erken word nie maar ook as Verlosser in die Persoon van die Middelaar.

Maar omdat ons nog nie die val van die wêreld en die bedorwenheid van die natuur bereik het nie, sien ek ook daarvan af om die teenmiddel te behandel.2

My lesers moet dus daaraan gedagtig wees dat ek nog nie die verbond waarvolgens God die kinders van Abraham vir Homself aangeneem het,3 en ook nie die deel van die leer waarvolgens die gelowiges in besonder van onheilige heidene geskei is, bespreek nie, omdat hierdie deel van die leer in Christus gevestig is. Ek verduidelik slegs hoe ons uit die Skrif moet leer dat dié God wat die Skepper van die wêreld is, met bepaalde tekens van die skare valse gode onderskei word. Te gelegener tyd sal die volgorde ons by die verlossing bring.

Hoewel ons baie getuienis uit die Nuwe Testament sal put en sommige daarvan ook uit die wet en die profete, waar Christus uitdruklik vermeld word, het alles dît ten doel om aan te dui dat God as Skepper van die wêreld in die Skrif aan ons geopenbaar word en om te verduidelik wat ons in verband met Hom moet gevoel sodat ons nie met ompaadjies na 'n onsekere goddelike mag moet soek nie.

2. Om Ware Kennis van God te verkry moet ons almal leerlinge van die Skrif word🔗

God het egter deur godsprake en gesigte aan die aartsvaders bekend geword, of Hy het Hom deur bemiddeling en diens van mense voorgestel, en dit het hulle daarop van mond tot mond aan hulle nageslagoorgelewer. Tóg is dit ongerwyfeld so dat 'n vaste sekerheid van die leer in hulle harte ingegrif is, sodat hulle daarvan oortuig was en ook begryp het dat dit wat hulle geleer het, van God afkomstig was. Want deur sy Woord het God hulle geloof onbetwyfelbaar gemaak, sodat dit bo alle menslike opvatting verhewe was. Met die oog daarop dat die waarheid van sy leer met volgehoue vordering deur al die eeue heen op die wêreld sou bly voortbestaan, was dit eindelik God se wil dat die godsprake wat Hy aan die aartsvaders voorgehou het, soos in openbare dokumente beseël moes word.

Volgens sy raadsplan is die wet afgekondig en profete later as uitleggers daarvan gegee. Die gebruike van die wet was menigvuldig soos ons op die regte plek daarvoor beter sal sien, en dit is veral aan Moses en al die profete opgedra om die wyse van versoening tussen God en die mens te leer. Daarom noem Paulus Christus die einde van die wet.4

Tog herhaal ek weer eens dat die Skrif behalwe die besondere leer wat op die geloof en berou betrekking het en Christus as Middelaar voorstel, die enige en ware God van die Skrifte met bepaalde tekens en kenmerke aanwys in soverre as wat Hy die wêreld geskep het en dit nog bestier, om te verhoed dat Hy met die valse menigte gode verwar sou word. Hoewel die mens dus sy oë in alle erns moet inspan om die werke van God te aanskou aangesien hy in hierdie skitterende skouburg5 as toeskouer gestel is, moet hy tog veral sy ore vir die Woord spits om nog meer voordeel daaruit te haal.

Dit is daarom geen wonder dat die mense wat in die duisternis gebore is, al meer in hulle onverstandigheid verhard nie. Want 'n baie klein handjievol van ons mense betoon hulle bevatlik vir die Woord van God om hulle binne die perke daarvan te hou. Hulle is eerder uitgelate van vreugde in hulle eie ydelheid.

Ons beskouing daaroor moet egter so wees dat ons met die hemelse leer moet begin, sodat die ware godsdiens sy lig oor ons kan laat skyn en dat niemand selfs die geringste smaak van die egte en gesonde leer kan kry as hy nie 'n leerling van die Skrif was nie.

Hieruit spruit ook die beginsel van die ware kennis voort wanneer ons dit wat God daarin van Homself wil getuig, eerbiedig aanvaar. Want uit die gehoorsaamheid daaraan word nie alleen volmaakte of volkome geloof nie maar ook alle opregte kennis van God gehore. En God het gewis  in alle tye met sonderlinge voorsienigheid in hierdie opsig vir sterflinge gesorg.

3. Die Dwaling van die mens kan nooit uitgeroei word voordat hy Ware Kennis oor God uit die Woord verkry het nie🔗

As ons nadink hoe glibberig die mens se verstand is en hoe maklik dit daarin verval om God te vergeet, hoe groot sy geneigdheid tot allerlei dwalinge is en hoe groot sy begeerte is om by herhaling nuwe valse godsdienste te versin, kan ons duidelik sien hoe noodsaaklik so 'n teboekstelling van die hemelse leer was. Die doel daarvan was dat dit nie deur vergeetagtigheid verlore moes gaan of deur dwaling verydel of deur die vermetelheid van die mens bederf sou word nie. Aangesien dit gevolglik duidelik is dat God die onderskraging van sy Woord onder al die mense wat Hy ooit met vrug wou leer, aangewend het omdat Hy voorsien het dat sy beeld, wat op die pragtige voorkoms van die wêreld afgestempel is, nie doeltreffend genoeg sou wees nie, betaam dit ons om hier die regte weg in te slaan as ons ernstig na 'n egte oorweging van God strewe.

Ek herhaal: ons moet tot die Woord kom waar God reg en lewendig na aanleiding van sy werke beskrywe word, terwyl sy werke juis nie na aanleiding van die mismaaktheid van ons eie oordeel nie maar na die maatstaf van ewige waarheid gewaardeer moet word. As ons van die Woord afwyk, sal dit ons nooit geluk om, soos ek so pas gesê het, die eindpuntbte bereik nie, met hoeveel voortvarende snelheid ons ons ook al daarvoor inspan, omdat ons dan buite die regte weg koers sal vat. Want ons moet soos volg daaroor dink: Die glans van die aangesig van God, wat die apostel ook ontoeganklik noem,6 is vir ons soos 'n doolhof  sonder uitkoms tensy ons deur die rigsnoer van die Woord daartoe gelei word. Dit sou gevolglik beter wees om al hinkende op hierdie pad te gaan as om weg van die pad af baie vinnig voort te snel. 7

Wanneer Dawid ons baie dikwels leer dat die bygelowe uit die wêreld weggeneem moet word sodat die suiwer godsdiens tot volle wisdom kan kom, vermeld hy ook dat God regeer.8 Met die woord regeer bedoel hy nie die mag waarmee God toegerus is en wat Hy in sy volle regering van die natuur beoefen nie, maar die leer waarvolgens Hy vir Homself regmatige heerskappy opeis. Want dwaling kan nooit uit die mens se hart weggeskeur word voordat die ware kennis van God nie daarop ingeplant is nie.

4. Ten spyte daarvan dat die Skepping die Heerlikheid van God verkondig, moet die mens, vanweë die swakheid van sy verstand, deur die Woord geleer word om dit raak te sien🔗

Daarom vermeld dieselfde profeet dat die hemel die heerlikheid van God vertel, dat die uitspansel die werke van sy hande verkondig en dat sy  majesteit deur die gereelde opvolging van dag en nag geroem word.9 Daarop keer hy tot die vermelding van die Woord terug en sê: "Die wet van die Here is onbevlek en bekeer die siel; die getuienis van die Here is getrou: aan die geringes gee Hy wysheid, die geregtigheid van die Here is reg en dit verbly ons harte. Die gebod van die Here is suiwer: dit verlig die oë."10

Want al sou hy ook ander gebruike van die wet ken, bedoel hy tog in besonder dat hierdie wet 'n sonderlinge skool van die kinders van God is, aangesien Hy al die volke deur die aanskoue van die hemel en die aarde tevergeefs na Hom toe nooi. Psalm 29 het dieselfde strekking. Daar preek die profeet oor die verskriklike stem van God wat in donderweer, wind, reën, orkane en storms die aarde skud, berge laat bewe en sederbome knak. Aan die einde voeg hy uiteindelik by dat sy lof in sy heiligdom gesing word omdat al die ongelowiges doof is vir die stemme van God wat in die lug weergalm.11

Hy sluit 'n ander Psalm, waar hy die verskriklike seevloed beskrywe, soos volg af: "U getuienis is bewaarheid en u heiligheid 'n sieraad vir u tempel tot in lengte van dae".12 Hieruit vloei ook voort wat Christus aan die Samaritaanse vrou gesê het, naamlik dat haar volk en al die ander volkere aanbid wat hulle nie weet nie, maar dat die Jood alleen God waarlik dien.13

Want aangesien die mens se verstand vanweë sy swakheid God op geen manier kan bereik behalwe as hy daarin deur sy heilige Woord onderskraag en verlig is nie, moes al die mense tog in daardie tyd, met uitsondering van die Jode, in ydelheid en dwaling verkeer het omdat hulle God sonder sy Woord gesoek het.

Endnotes🔗

  1. ^ (Hebr.11).
  2. ^ Calvyn behandel hierdie temas in boek 2.
  3. ^ Calvyn kom weer op die verbond terug in Inst. 2.8.21; 2.10.1-5,8; 2.11.4,11; 3.17.6; 3.21.5-7; 4.14.6; 4.15.22; 4.16.5,6,14; 4.17.20.
  4. ^ Rom. 10:4
  5. ^ Die beeld van die skepping as skouburg en die mens as toeskouer is reeds deur Cicero en Lactantius gebruik; vgl. De nat. deorum 2.56.140 ... homines non ut incolae atque babitatores sed quasi spectatores superarum rerum atque caelestium, quarum spectaculum ad nullum aliud genus animantium pertinet, Lactantius, Div. Inst. 3.9.9: quis te in hoc spectaculum induxit? (MPL 6:372; CSEL 19,1:200).
  6. ^ 1 Tim. 6:16.
  7. ^ Vgl. Augustinus, Enarrationes in Psalmos 31.2.4 (MPL 36:260; eeSL 38:227); Sermo 141:4: Melius est enim in via claudicare, quam praeter uiam fortiter ambulare (MPL 38:778); Sermo 169.15: Melius it claudus in via, quam cursor praeter viam (MPL 38:926).
  8. ^ Psalmis 93, 96, 97, 99 et similibus (PS. 93:1; 96:10; 97:1; 99:1).
  9. ^ Ps. 19: 1-3.
  10. ^  (Ps. 19: 8-9).
  11. ^  (Ps. 29).
  12. ^ Ps. 93:5. (Ps. 92:3-5 Vg.).
  13. ^ Joh. 4:22.