God is volmaakte eer verskuldig. Hy word van sy heerlikheid beroof wanneer Hy saam met vreemde gode aanbid word (bygeloof). Ware godsdiens darenteen verbind ons aan die enige almagtige God. Ons moet Hom dien (douleia) én vereer (latreia).

1984. 5 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 12 God word van die afgode onderskei sodat Hy alleen ten volle gedien kan word

1. Die Betekenis van die woorde Religio en Superstitio: die Ware Godsdiens verbind ons aan die Enige Almagtige God, en bygelowe wil Hom saam met vreemde gode aanbid🔗

In die begin het ons gesê dat die kennis van God nie in koue bespiegeling geleë is nie1 maar dat dit ook diens aan Hom meebring. Maar ons het bloot terloops aan die wyse geraak waarop Hy na behore gedien moet word, omdat ons dit elders breedvoeriger moet verduidelik.2 Nou herhaal ek slegs kortliks dat die Skrif elke keer wanneer dit verklaar dat daar maar net één God is, nie oor 'n blote term stry nie maar ook gebied dat niks wat sy Godheid toekom, op iets anders oorgedra mag word nie. Daaruit blyk tewens wat die verskil tussen bygeloof en die suiwer godsdiens is.

Die woord eusebeia3 het vir die Grieke net soveel krag as egte diens, omdat juis die mense wat altyd blind in die duisternis rondtas, gevoel het dat hulle aan 'n bepaalde maatstaf moes vashou om te verhoed dat God verkeerd gedien word. Hoewel Cicero die woord religie waar en verstandig van die Latynse woord relegere (herlees) aflei, is die rede wat hy daarvoor aanvoer, tog gedwonge en vergesog, naamlik dat opregte dienaars baie dikwels herlees en sorgvuldig oordink wat die waarheid is.4 Ek meen eerder dat die woord gestel word teenoor ongebonde teuelloosheid, omdat die grootste deel van die wêreld alles wat dit teëkorn, onbesonne aangryp, ja, selfs heen en weer daarmee rondfladder. Maar godsvrug verbind hom aan bepaalde perke om op vaste voet te staan.

So skyn dit vir my asof die woord bygeloof 5 afgelei is daaruit dat dit met die maat en voorgeskrewe redelikheid nie tevrede is nie maar 'n oortollige versameling nuttelose dinge opmekaarstapel.

Maar kom ons los maar die woorde. Mense het deur al die eeue saamgestem en aanvaar dat die godsdiens deur valse dwalinge bedorwe en verwronge word. Daaruit lei ons af dat, wanneer ons ons enigiets uit onbesonne ywer toelaat, dit 'n waardelose dekmantel is wat bygelowiges voorhou. En hoewel hierdie belydenis uit die mond van alle mense weerklink, kom hulle skandelike onkunde tog intussen aan die lig, omdat hulle die een God nie aangehang en geen onderskeid in sy diens maak, soos ons hierin tevore geleer het nie.6 Maar om sy reg daarop vir Homself op te eis roep God uit dat Hy 'n jaloerse God is en dat Hy Hom streng sal wreek as Hy met 'n denkbeeldige god gelykgestel word.7 Daarop omskryf Hy die wettige diens om die mensdom aan Hom gehoorsaam te hou. Hy vat albei aspekte in sy wet saam wanneer Hy eers die gelowiges aan Homselfverbind sodat Hy hulle enigste Wetgewer is. Daarop skryf Hy 'n reël voor waarvolgens Hy na behore en na sy goeddunke gedien moet word. Omdat die wet menigvuldige gebruike en doelstellings het, sal ek op die regte plek daaroor praat.8 Nou roer ek slegs die onderwerp aan, naamlik dat daardeur 'n teuel op die mens gelê is om nie na die valse godsdienste af te wyk nie.

Ons moet egter vashou aan die beginsel wat ek in die eerste plek gestel het, naamlik dat Hy van sy eer beroofword en dat sy diens geskend word as alles wat eie aan sy Godheid is, nie in die enige God gevestig is nie. Hier betaam dit ons om met groter sorgvuldigheid op te let met watter skelmstreke die bygeloof ons bedrieg. Want dit wyk nie so duidelik af na vreemde gode dat dit lyk asof dit die allerhoogste God verlaat of Hom saam met die ander gode groepeer nie. Maar terwyl die bygeloof aan Hom die hoogste plek verleen, omring dit Hom met 'n skare minder belangrike gode, en tussen hulle verdeel dit dan die funksies wat aan Hom eie is. So word die heerlikheid van sy Godheid, al is dit bedek en slinks, verskeur om dit nie volkome by Hom alleen te laat nie.9

So het die mense van ouds, uit sowel die Jode as die heidene, 'n groot menigte gode aan die vader en beskikker van die gode ondergeskik gemaak om die bestuur van hemel en aarde volgens rangorde met die allerhoogste God te deel. So is enkele eeue tevore ook die heiliges wat te sterwe gekom het, tot 'n vennootskap met God verhef om in sy plek gedien, aangeroep en verheerlik te word.10

Tog meen ons dat die majesteit van God nie deur so 'n gruwel verduister word nie, hoewel dit grotendeels daardeur onderdruk en uitgeblus word en ons niks anders as 'n koue gevoel van sy allerhoogste gesag oorhou nie. Intussen word ons deur hierdie dekmantel bedrieg en na verskeie ander gode verlei.

2. Die Skrif dui aan dat die Onderskeid tussen Diens en Verering kunsmatig is🔗

Ja, die onderskeid tussen latreia (verering)11 en douleia (diens)12 soos hulle dit noem, is ook met hierdie doel ontwerp, sodat dit sou lyk asof die eerbetoon van God straffeloos aan engele en afgestorwenes oorgedra kan word.13 Want dit is algemeen bekend dat die diens wat die pousgesindes aan heiliges bewys, in werklikheid niks van hulle diens aan God verskil nie. Want hulle aanbid God en die heiliges sonder onderskeid - behalwe dat hulle wanneer hulle in 'n hoek gedryf word, met hierdie voorbehoud14 probeer wegkom, naamlik dat hulle vir God ongeskonde behou wat aan Hom behoort, omdat hulle verering15 vir Hom laat. Maar aangesien die vraag nie oor 'n woord nie maar oor die werklikheid handel, wie sou dan toelaat dat hulle ons in 'n saak van die allergrootste belang so onbesorg mislei?

Maar om dit ook maar agterweë te laat: hulle sal met hulle onderskeid  niks anders bereik as om verering aan die één God te betoon en diens  aan die ander nie, want die woord Iatreia het onder die Griekse Vaders dieselfde beteken as die woord cultus16 onder die Latynse Vaders. Maar douleia beteken eintlik 'diens'. Nogtans word die onderskeid soms in die Skrif verwar.17

Gestel nou verder dat ons sou toegee dat die Skrifvoortdurend dieselfde onderskeid maak, dan moet ons bowendien nog ondersoek instel na die betekenis van elkeen. Douleia beteken naamlik 'diens' en latreia 'verering'. Nou is daar niemand wat twyfel dat 'dien' ietwat belangriker as 'vereer' is nie. Want dit sou baie dikwels vir jou moeilik wees om iemand te dien, hoewel jy nie sou weier om hom te eer nie. Gevolglik sou dit 'n onbillike verdeling wees om aan heiliges iets wat belangriker is, toe te skryf en vir -God iets wat minder belangrik is, oor te laat.

Maar verskeie van die ou skrywers het van hierdie onderskeid gebruik gemaak. Wat nou gedaan as almal bemerk dat dit nie alleen onbetaamlik nie maar geheel en al ydel is?

3. Dit is Heiligskennis om die Eerbetoon wat God toekom, op iets of iemand anders oor te dra🔗

Maar laat ons hulle spitsvondighede los en die werklikheid self oorweeg. Wanneer Paulus die Galasiërs daaraan herinner hoe hulle was voordat hulle in die kennis van God verlig is, sê hy dat hulle diens betoon het aan gode wat dit nie van nature was nie.18 Moet hulle bygeloof dan vir hulle 'n verontskuldiging wees omdat hy nie van 'verering' melding maak nie? Sover dit hom aangaan, verdoem hy nietemin hulle bedorwe bygeloof, en daaraan gee hy die naam 'diens', net asof hy dit met die woord verering tot uitdrukking bring. En wanneer Christus die aanval van die Satan met hierdie skild afweer dat daar geskrywe is "Jy moet die Here jou God aanbid",19 het die word verering20 nie in besonder in gedrang gekom nie, want die Satan het niks anders van Christus as 'n kniebuiging21 geëis nie. Net so wanneer Johannes deur die engel bestraf word omdat hy op sy knieë voor hom neergeval het.22 Ons moet nie daaronder verstaan dat Johannes so waansinnig was dat hy die eer wat aan God alleen verskuldig is, op 'n engel wou oordra nie. Maar omdat dit nie anders kon as dat die eerbetoon wat aan die godsdiens verbind is, ook 'n mate van goddelikheid insluit nie, kon hy nie sy knieë voor die engel buig sonder om aan die heerlikheid van God afbreuk te doen nie.

Ons lees trouens dikwels dat mense geëerbiedig is, maar dit was, om dit so te stel, 'n blote burgerlike eerbewys. Maar met die godsdiens is dit anders gesteld, omdat dit die ontheiliging van die eer van God meebring sodra dit met verering gepaard gaan. Ons kan dieselfde bemerk in die geval van Cornelius. Want hy het nie sulke swak vordering in godsvrug genlaak dat hy nie die hoogste eer aan God alleen sou betoon nie. Die feit dat hy hom dus voor Petrus neergewerp het, het hy sekerlik nie gedoen met die doel om hom in plaasvan God te aanbid nie. Petrus gebied hom egter streng om dit nie te doen nie.23 Waarom dan anders as omdat die mens nooit so uitdruklik tussen die eerbewys aan God en dié aan sy skepsele onderskeid maak nie, sonder om iets wat in besonder aan God toekom, sonder onderskeid op 'n skepsel oor te dra?

As ons daarom een God wil hê, moet ons daaraan gedagtig wees dat selfs nie eens die geringste deeltjie van sy heerlikheid van Hom weggeneem kan word en dat Hy nogtans behou wat aan Hom behoort nie. Wanneer  Sagaria dus oor die herstel van die kerk preek,24 maak hy uitdruklik duidelik dat daar nie alleen net één God moet wees nie maar dat ook sy Naam Een moet wees, sodat Hy naamlik niks met hulle afgode sou deel nie.

Wat die aard van die eer is wat God van ons eis, sal ons elders op die reg te plek daarvoor sien.25 Want dit was sy wil om in sy wet aan die mens voor te skryf wat betaamlik en reg is, en om hom daarom aan 'n vaste reël te verbind, sodat niemand homself sou toelaat om 'n willekeurige verering vir Hom uit te dink nie.

Maar omdat dit my nie betaam om baie aspekte van die saak saam te groepeer en my lesers te oorlaai nie, roer ek dié onderwerp nog nie hier aan nie. Dit sou genoeg wees om te onthou dat dit nie sonder heiligskennis is om enige plig van die godsvrug op 'n ander as op die enige God oor te dra nie. Maar allereers het bygeloof eerbewyse van God aan die son, die sterre of aan afgode geheg. Daarop het eersug gevolg, wat gewaag het om alles wat heilig was, te ontheilig deur die sterflike mens te tooi met dit wat van God geroof is. Hoewel hierdie beginsel gebly het dat hulle die allerhoogste God moes dien, is dit deur gebruik aanvaar om sonder onderskeid offers aan beskermgeeste en gode wat minder belangrik is, of gestorwe helde te bring. Die mens is so maklik geneig om in hierdie sonde te verval om iets wat God ten strengste vir Homself alleen opeis, met 'n groot menigte gode te deel.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 1.2.2 en 1.5.6, 9 en 10.
  2. ^ Vgl. Inst. 2.8.17-19 en 4.10.9-32.
  3. ^ Godsvrug.
  4. ^ Cicero, De nat. deorum 2.28.72. Lactantius lei egter die woord af uit religere. In sy DivInst: 4.28 e.v. sê hy: Hoc vinculo pietatis obstricti Deo et religati sumus unde ipsa religio nomen accepit, non ut Cicero interpretatus est, a relegendo (MPL 6:536; CSEL 19,2:389).
  5. ^ Superstitio. Vgl. ook Lactantius, Div. Inst. 4.28 (MPL 6:536; CSEL 19,2: 390-391).
  6. ^ Inst. 1.4.1; 1.5.8.
  7. ^ (Ex. 20:5).
  8. ^ Inst. 2.8.
  9. ^ Augustinus, De civ. Dei 4.9 (MPL 41:119).
  10. ^ Vir die verering van heiliges kyk onder andere, naas die ensiklopidieë, die besluite van die 2de Konsilie van Nicea, 787, en die Konsilie van Trente, 1545 (Mansi 13:506 e.v.; 33:171). Heiliges wat in die RK Kerk vereer word, is gelowige lidmate wat as gevolg van bonatuurlike voortreflikheid deur die Kerk na hulle dood as heilig verklaar is. In diehemel dien hulle dan as tussengangers tussen God en die siele wat in 'n proses van reiniging verkeer. In die Roomse tradisie en praktyk neem dit die vorm van verering, nabootsing van hulleIeefwyse en aanroeping van heiliges aan (NCE 12:852, 962).
  11. ^ Verering. Vgl. Petrus Lombardus, Sent. 3.9.1 (MPL 192:775-776); Inst. 1.11.11; Tertullianus, De idololatria (MPL 1:737-774).
  12. ^ Diens. Inst. 1.11.11.
  13. ^ Petrus Lombardus, Collectanea in epist. ad Philipp. 3:1-6 (MPL 192:241-244); Thomas, Summa Theol. 2.103.3; Eek, Enciridion, hfst. 15; Coehlaeus, De veneratione et invocatione sanctorum (1534), A 5 a; Coehlaeus, De sanctorum invocatione et intercessione (1544) B 3 b e.v.: passim.
  14. ^ Exceptione hac evadunt. Vir Exceptio (uitsondering, voorbehoud) kyk REW 6,2:1553-1565.
  15. ^ Kyk Inst. 1.11.14, p. 201, n. 66.1
  16. ^ Verering.
  17. ^ Hoc discrimen confunditur
  18. ^ Gal. 4:8.
  19. ^ Matt. 4:10
  20. ^ Petrus Lombardus, Sent. 3.9.1 (MPL 192:775-776); Thomas, Summa Theol. 2,2.84.1;2.103.3,4: Eek, Enchiridion, hfst. 15,16.
  21. ^ nocoxovácvc
  22. ^ Openb. 19:10 (22:8 en 9).
  23. ^ Hand. 10:25.
  24. ^ Sag. 14:9.
  25. ^ Inst. 2.7,8.