Bron: Kompas. 6 bladsye.

Inleiding tot 'n Beter Model vir Christelike Filmkritiek

film

Histories gesien was daar nog altyd ’n redelik komplekse verhouding tussen (gereformeerde) gelowiges en films. Nog nie so lank gelede nie is die bioskoop gesien as ’n plek waar Christene nie behoort te wees nie en sommige gemeentelede het uit beginsel nie ’n televisie gehad nie. Sonder om verder ’n oordeel daaroor te vel, kan ’n mens met taamlike sekerheid sê dat dit tans selde die geval is. Die meeste mense (veral die jonger generasie) kyk ’n magdom films en weet alles daarvan.

Die vraag is nou of dit nie dalk tyd geword het om ’n model te skep om op ’n Christelike wyse krities na films te kyk nie. Die doel van hierdie artikel is om as ’n inleiding daartoe te dien.

Op die oomblik sal Christelike filmkritiek veelal fokus op die morele aspekte van ’n film. Is daar seks en naaktheid in die film? Is daar kru taalgebruik of lastering? Word daar oormatige geweld gewys? Deur dié vrae te beantwoord, word die film be(ver)oordeel. Natuurlik is dit tereg, maar as filmkritiek beteken dit dan nie veel meer as die driehoekige simbool op die filmplakkaat nie. Hierdie inligting is relevant, maar die film word nie dieper bespreek nie. Verder kan ’n mens ook kanale soos M-net so opstel dat alle vloekery en lasterings uitgesny word, wat beteken dat ’n mens sodanige films kritiekloos kan kyk in die vertroue dat daar ‘geen lastering’ is nie.

Die Christelike literatuurkritiek is wat dit betref baie verder gevorder as die Christelike filmkritiek. Maar omdat films so ’n groot invloed op ons lewens en kultuur het, is ’n Christelike filmkritiek van onskatbare belang.

William Romanowski, ’n dosent by die Calvin College in Grand Rapids, VSA, skryf in sy boek: Eyes Wide Open, dat daar meestal vier verskillende reaksies van Christene is:

​1. Afwysing vanuit Beginsel🔗

Soos eerder gestel, het kerkmense films aanvanklik uit beginsel afgewys. Films is geheel en al vermy. Hierdie houding is onrealisties. As individu kan hierdie oorweging gemaak word, maar of ’n mens dit wil of nie, films is tans baie populêr en dit het ’n groot invloed op ons kultuur. Om slegs hierdie riglyn te handhaaf, is amper dieselfde as om te sê Christene mag nie die internet gebruik nie. Ook al word daar baie sonde via die internet vertoon, word dit tog deur almal gebruik.

2. Toe-eiening🔗

Die reaksie van Christelike filmmakers en die Christelike publiek is om die filmmedium aan te pas vir ’n Christelike publiek. Dieselfde resep vir films word gebruik, maar Bybelse figure word dan filmsterre, die aksiehelde of ’n Christelike boodskap word by die film ingewerk. Daardie films bied dan ook nie veel meer waarde as enige ander deursnee Hollywood-film nie: dieselfde film, maar met ’n ‘boodskap’. En daarmee word die Christelike filmkritiek ontwapen: die bespreking eindig in ’n oppervlakkige morele beoordeling. Want is ’n film waarin nie gevloek word nie, noodwendig ’n goeie film? En is elke film met ’n Christelike tema goed? Dieselfde geld andersom: is ’n film sonder ’n Christelike tema of waarin gesondig word, noodwendig sleg? Dit lyk twyfelagtig. ’n Film wat handel oor sonde (byvoorbeeld oorloë of geldgierigheid) kan tog opbouend wees, ook al sondig die karakters in die film.

film kyk🔗

3. Kritieklose Verbruik🔗

Helaas word die meeste films kritiekloos gekyk, ook deur Christene. Baie mense het wel ’n probleem met die tekort aan moraliteit in films (veral lastering), maar dikwels kyk ons tog maar, want die storie is interessant of ons dink dat dit tog maar net ’n film is wat geen invloed op ons het nie. Dis ’n maklike redenasie, want ’n mens kyk ’n film en daarna is dit verby. Maar tog is dit naïef en gevaarlik om so te dink. ’n Mens hoef slegs om jou te kyk en te luister om te sien dat die invloed van die filmmedia verstrekkend is.

​4. Christelike Kritiek binne ’n Bestaande Filmkultuur🔗

Romanowski stel dat die korrekte benadering êrens tussen bogenoemdes in lê. Hy glo dat ’n mens nie so eenvoudig die wêreld van die geloof en dié van die film kan skei nie. Films is te veel deel van ons kultuur (direk en indirek) om dit werklik te kan uitsny uit ons lewens. En aan die ander kant maak geloof volgens Romanowski ook nog altyd deel uit van die filmwêreld. Soms meer eksplisiet as ander kere. ’n Voorbeeld hiervan is die herhalende filmtema in Hollywood van ‘good vs evil’. Hy pleit daarvoor dat ’n mens as’t ware die koring tussen die kaf gaan soek. Deur nie slegs te fokus op die moraliteit of aanwesigheid van Christelike boodskappe nie. Dan kan daar veel dieper na films gekyk word. Romanowski gee ’n paar punte om films gebalanseerd te beoordeel:

  • Die film as produk van ons kultuur: wat beteken die film vir die publiek en wat word as belangrik gesien in die film?
  • Die film as kunswerk: hoe is die film gemaak en dra dit iets by as kunswerk?
  • Die film as narratief: hoe word die verhaal vertel?
  • Wêreldvisie van die film: wat is die lewensgevoel, die uitbeelding van godsdiens, die beeld van God, die skepping, die mens, sonde, verlossing, mag, seksualiteit en geweld?

’n Paar punte waarmee die Christelike filmliefhebber die film kan beoordeel, is die film as produk van ons kultuur, as kunswerk, as narratief en die wêreldvisie van die film.

Hierdie is maar net ’n paar vrae wat kan dien in die skepping van ’n model vir diepgaande, volledige en Christelike filmkritiek. As ’n mens hierdie vrae in diepte en met die nodige kritiese houding bespreek, kan dit dien as ’n wegspringpunt vir ’n goeie model vir Christelike filmkritiek.

’n Model vir Filmanalise🔗

Een tekort wat daar in die huidige Christelike filmkritiek bestaan, is dat die inhoud, kunsvorm en verhaal dikwels geïgnoreer word, omdat daar slegs gelet word op die meetbare ‘moraliteit’ van die film, byvoorbeeld taalgebruik en lastering, seks, geweld, ensovoorts. Alhoewel hierdie alles baie geldige en selfs deurslaggewende punte is in keuses wat Christene moet maak met betrekking tot films, is dit nie naastenby volledig as filmanalise/kritiek nie.

Die redes hoekom dit nie voldoende is nie, is omdat televisie kan toelaat dat hierdie aspekte van films vermy word – M-Net het byvoorbeeld ’n funksie om kru en lasterlike taalgebruik uit films te sny en baie mense sal byvoorbeeld fast forward deur gedeeltes in films waarin daar baie seks of geweld te sien is.

Die gevolg kan dus wees dat die indruk ontstaan dat die film dan wél goed of geskik is vir Christen-kykers. Die ander rede hoekom volledige filmkritiek nodig is, is omdat dit baie naïef is om te dink dat allerhande films nie in Christelike kringe gekyk word nie. Ja, uiteraard is daar baie mense wat konsekwent films wat moreel sleg is, vermy of streng televisie- en filmdissipline in hul huise toepas, maar ongelukkig is dit nie die norm nie. Boonop het films en televisie só ’n groot invloed in die moderne samelewing dat bitter min mense dit volledig sal kan vermy.

Dit is dus nodig om as’t ware filmgeletterdheid aan te leer. Die boodskappe en ideologieë wat deur die media van film aan ons deurgegee word, word meestal verpak in vermaak en oulike storielyne, en juis daarom is dit noodsaaklik dat ons leer om dit uit te pak en te weeg.

despicable me

Die bedoeling is nou om ’n raamwerk of struktuur te skep waarvolgens films geresenseer kan word. Hierdie raamwerk sal nou bespreek en toegepas word op grond van die film Despicable Me (2010). Dit mag dalk lyk na ’n vreemde keuse in ’n artikel soos hierdie, maar daar is vir hierdie film gekies op grond van twee redes: eerstens moes die gekose film spesifiek een wees waarin daar nie soseer sogenaamde ‘morele probleme’ (lastering, naaktheid, ens.) is nie. Sodoende kan die inhoud en vorm meer in diepte bespreek word, sonder dat daar uit die staanspoor gestel moet word dat ’n Christen die film nie behoort te kyk nie. Boonop dien hierdie bespreking bloot as riglyn vir die bespreking en resensering van enige ander films. ’n Verdere rede hoekom dit van pas is om Despicable Me in hierdie publikasie te bespreek, is omdat dit ’n film is wat deur die meeste mense gesien is of gesien kan word. Die film is vreeslik populêr onder ’n baie groot verskeidenheid ouderdomsgroepe. Die doel is dus om deur middel van die bespreking van hierdie film ’n goeie raamwerk en idee te kry van hoe ander films vanuit ’n Christelike perspektief beoordeel en bespreek kan word. Die bespreking word opgedeel in ’n verskeidenheid van aspekte – dit kan dan ook toegepas word op ander films.

Kort Opsomming van die Film🔗

Despicable Me is ’n animasiefilm wat gaan oor ’n sogenaamde ‘Supervillain’ (super-booswig), Gru, wie se beroep dit is om gemene dinge te doen. Hy word in hierdie bisarre beroep bygestaan deur ’n klomp ‘minions’, klein geel helpertjies. Die tipe gemene dinge wat hulle doen is om landmerke en monumente te steel, maar ook om kinders se ballonne te bars, ensomeer. Sy lewe staan in die teken van sy beroep as booswig, totdat hy op ’n keer die drie weeskinders Margo, Edith en Agnes ontmoet. Hulle verander sy lewe en leer hom om goed te doen, lief te wees en lief te hê. Ondertussen is hy ook verwikkel in ’n wedywering met ’n ander booswig, Vector, en beide stry om die maan te steel.

Die Film as Kunsvorm🔗

Despicable Me is gemaak deur middel van besonder goeie animasie, in ’n pragtige Franse styl. Die karakters is baie goed ontwikkel en in die meeste tonele is daar baie subtiele humor. Wat verder baie indrukwekkend is van die animasies is dat die makers van die film dit reggekry het om die karakter van Gru beide soos ’n booswig, maar tog innemend te maak. Verder is die ‘minion’-karakters vanuit ’n kuns- én bemarkingsoogpunt geniaal uitgedink. Hulle is nierassig, geslagloos, baie oulik en hulle het (moontlik onder andere danksy hierdie redes) ’n direkte populariteit by miljoene mense verkry, ongeag kultuur en ouderdom. Dit het die film beide op estetiese en ekonomiese vlak ’n enorme sukses gemaak.

Soos by die meeste moderne animasiefilms het die humor in die film verskillende vlakke. Kinders geniet die fisiese humor, terwyl daar ook baie subtiele humor vir volwassenes is. ’n Voorbeeld hiervan is die uitstekende karakterisering van mense in die film, byvoorbeeld die stereotipiese onkundige toeris wat net foto’s wil neem van die besienswaardighede, sy bedorwe kind en sy oorbesorgde vrou. Die film het ook ’n hele paar tonele waar die humor meer diepgang of selfs skerper van aard is. In een toneel sien ’n mens ’n wit duif wat oor die Groot Muur van China vlieg. ’n Oorlogstenk skiet die duif vervolgens lukraak dood. Hierdie toneel verwys baie duidelik na die land China wat nie soseer pro-vrede is nie. In ’n ander toneel is daar weer duidelike verwysings na Noord-Korea wat kernwapens vervaardig, al ontwikkel hulle in die film eerder ’n ‘Shrink-ray’. Op ’n komiese wyse het die film dus baie subtiele politieke humor, wat uiteraard nie deur die kinderkykers verstaan word nie, maar wat die nodige vermaak verskaf vir volwasse kykers. Opgesom sal Despicable Me na alle waarskynlikheid vanweë puik animasie, fyn humor en veral briljante karakters nog vir jare lank as ’n sogenaamde ‘classic’ beskou word.

film🔗

Toepassing by ander Films:🔗

Wat is die estetiese waarde van die film? Is daar spesifieke redes hoekom die makers sekere visuele keuses gemaak het? Dink byvoorbeeld aan die gebruik van swart-en-wit film in Schindler’s List – die film sou nie dieselfde impak kon gehad het in kleur nie. Verder moet ’n mens aandag skenk aan die manier waarop die film vertel word en of dit treffend genoeg is. Sommige films werk baie met terugblikke in die karakters se lewe, ander gebruik weer baie effektief dramatiese tonele met warm kleure, ensovoorts. In hierdie afdeling beoordeel ’n mens dus nog geensins die boodskap van die film nie, maar veel eerder net die film as kunsvorm.

Die Ideologieë wat in die Film vorendag kom🔗

Elke vorm van kommunikasie word vanuit ’n sekere ideologie gedoen, so ook films. Selfs die mees oppervlakkige kinderfilm word gemaak vanuit ’n wyer siening. Despicable Me is hierop nie ’n uitsondering nie.

Wanneer ’n mens die film ontleed, kom ’n mens agter dat dit, breed gestel, vanuit ’n humanistiese perspektief gemaak is. Dit is taamlik logies, omdat die film veral kommersiële sukses as doel gehad het. Die mees toeganklike ideologie wat die meeste mense aanspreek en die minste mense beledig, is een waar menslikheid en die gedrag van mense onderling die meeste fokus kry. ’n Paar duidelike temas val dan op. Eerstens is dit baie opvallend hoe baie kere die film speel met ons persepsie van wie goed is en wie sleg is en dat ’n mens nie op die uiterlike moet oordeel nie. Die superbooswig Gru is in alles die cliché van die tipiese slegte ou uit films (groot, krom, bles, swart klere en met ’n Oos-Europese aksent). Tog blyk dit dat hy ’n goeie hart het. Aan die ander kant is die matrone van die kinderhuis die tipiese film-cliché van heilsaamheid (vroulik, konserwatief, ‘Southern’ aksent, ensovoorts). Tog is sy op die ou end ’n baie slegte en hartelose mens. Duidelik wil die film sê dat mense nie noodwendig is soos wat hulle lyk of klink nie. ’n Ander opvallende tema wat baie deurkom is ’n ligte anti-kapitalistiese houding. Geldgierigheid word sterk afgekeur, onder andere deur die afbeelding van die bankbestuurder as ’n groteske, onsimpatieke persoon – die tipiese fat cat. Gru se aartsvyand, Vector, word ook uitgebeeld as ’n bedorwe brokkie met te veel geld en te min gesonde verstand.

’n Derde en tipiese Hollywood-tema wat deurkom is die spanning tussen die onskuldigheid en onbedorwe spontaniteit van ’n kind teenoor die lompheid, slinksheid en ongevoeligheid van volwassenes. Hierdie tema kom vreeslik baie voor by animasiefilms en kan oor die algemeen toegeskryf word daaraan dat die film aanklank soek by hul teikenmark, naamlik kinders. Dit kom egter ook voort uit die heersende gedagte dat kinders nog nie deur geld, mag, trots, ensovoorts beïnvloed en ‘opgemors’ is nie. Hierdie word dan uitgebeeld deur lomp volwassenes wat telkens hul meerdere moet erken in die kinders of wat deur die kinders herinner word aan hul verpligting tot menslikheid. Dan is daar verder nog ’n bekende tema in Despicable Me en dis een wat in tallose films aangeraak word, naamlik dat mag bederf (power corrupts). Karakters is miskien aan die begin van die film nog redelik innemend of sjarmant, maar na ’n tydjie (wanneer hulle meer sukses en mag verwerf) begin hulle arrogant en vervolgens sleg raak. Dit is wat gebeur met Gru se aartsvyand Vector, wat begin as ’n lomp, maar oulike ‘nerd’, maar wat na enkele suksesvolle missies verander in ’n klein diktator.

Egter, die hooftema van Despicable Me is dat mense kan verander en dat liefde en goedheid altyd haat en slegtheid sal oorwin. Gru was ’n booswig wat vreugde geput het uit slegte dade, maar deur middel van die drie weeskinders leer hy liefde ken en leer hy ook dat daar meer vreugde is in die doen van goeie dade. Hierdie tema kom telkens terug in films, al kom dit voor in ’n groot verskeidenheid verpakkings.

Vector🔗

Toepassing op ander Films:🔗

Die belangrikste is om te besef dat elke film gemaak is vanuit ’n breër denkraamwerk. Sommige films het temas van materialisme, van anti-geloofsentimente, liberalisme of ander. Die meeste het egter (hoofsaaklik vanweë kommersialiteit) ’n humanistiese inslag. Dan moet ’n mens egter probeer om die verskillende subtemas raak te sien en uit te lig.

Beoordeling🔗

Despicable Me is ’n film wat uitstekend gemaak is. Die temas is oor die algemeen taamlik oppervlakkig en onskuldig. Dit behels hoofsaaklik mense se omgang met mekaar. Die film bly waarskynlik doelbewus so oppervlakkig. ’n Mens moet onthou dat die meeste films gemaak word met slegs een doel: om geld te maak. Vanweë hierdie rede sal ’n film wat toeganklik moet wees vir die hele familie, nooit te veel kontroversiële temas hê nie, want dit hoef nie noodwendig mense aan te spreek op ’n dieper vlak nie – dit moet veral nie mense beledig nie. Die gevolg is dus dat die dieper betekenis van hierdie tipe films niks meer is as ’n warm wees-lief-vir-mekaar sentiment nie. Daar is op sigself natuurlik niks fout daarmee nie, maar die film dra vervolgens verder ook nie veel by tot jou lewe nie. Dit is niks meer as ’n uur en ’n half se vermaak nie, maar is inderdaad ook baie vermaaklik en slaag wonderlik in hierdie missie. In breë lyne kan ’n mens dit dus sien as ideale vermaak vir die hele gesin en kan ’n mens met sekerheid sê dat die meerderheid van alle mense (selfs Kompas-lesers) die film met ’n groot glimlag op hul gesig sal kyk.

Toepassing op ander Films:🔗

Die temas wat in die films aangeraak word, moet nou krities bespreek word, vanuit ’n Christelike perspektief. Die volgende vrae moet gevra word: is dit in stryd of in ooreenstemming met God se Woord (let wel: die temas, nie die karakters nie)? Dra dit iets by tot die kyker se lewe (is dit nuttig of opbouend)? Hoekom sal ’n Christen dit wel kyk of nie kyk nie? Wat is die invloed wat die film op jou lewensuitkyk kan hê?

Morele Beoordeling🔗

In Despicable Me is daar geen lastering, naaktheid, seks of eksplisiete geweld nie.

Toepassing op ander Films:🔗

Hierdie afdeling is in wese dieselfde as die waarskuwingsmerkie op filmplakkate, maar kan uiteraard deurslaggewend wees in ’n mens se kykkeuse.

Kritiese Opmerkings wat kan dien as Goeie Besprekingspunte🔗

Despicable Me het ’n paar fasette wat nie gesien kan word as hooftemas nie, maar wat wel nuttige vrae sal wees wat ’n kyker vir hom- of haarself kan vra.

Die eerste punt is natuurlik die rol van Gru as superbooswig. Booswigte is nie iets wat oor die algemeen goedgekeur kan word nie. Egter, in die film is die booswigtery só duidelik absurd en satiries dat ’n mens dit nie as egte kriminaliteit kan sien of veroordeel nie. Die booswigtery van die karakters hou die hele tyd die gevoel van spelerigheid en herinner meer aan die spel van kinders in pouses (‘polisie en dief ’ of ‘bendes’) as aan regte kriminaliteit.

’n Belangriker aspek om na te kyk is die gebruik van gewere in die film, ook al het hierdie gewere geen fatale vermoëns nie. Net soos die kriminaliteit kom die gewere ook baie speels oor, maar tog is hulle oorduidelik gewere. ’n Mens sou kon afvra of hierdie uitbeelding van gewere as speelgoed wel heilsaam is, veral vir kinders en veral in ’n land waar daar taamlik ligsinnig met vuurwapens omgegaan word. Deur gewere uit te beeld asof dit nie gevaarlik is nie of selfs speelgoed is, kan die erns en gevaar van vuurwapens moontlik onderskat word. Hieroor sal die menings waarskynlik ook drasties verskil.

despicable me

’n Interessante toneel in die film is waar die drie weeskinders hul aandgebedjie doen. Dit is iets wat nie veel voorkom in films nie, omdat dit impliseer dat die karakters Christelik is, en die meeste filmstudio’s bang is dat hulle daardeur groot kykersgetalle sal verloor. Hierdie toneel vra direk ’n baie belangrike vraag, naamlik wat die rol van gebede in films kan wees. Aan die een kant wonder ’n mens of dit gepas is, aangesien die ‘gebed’ nie ’n werklike gebed is nie (want dis in ’n toneel ingeskryf as deel van ’n narratief). En is ’n namaakgebed tot die Here in wese miskien ’n ydellike of leë gebruik van sy Naam? Of kan die uitbeelding van gebede in films juis dien as getuienis en onderskei dit Christene van die wêreld? In Despicable Me wil dit voorkom asof die doel van die uitbeelding van die gebed meer is om kinderlike onskuld uit te wys. Die kinders bid of hulle tog eendag iemand mag kry wat hulle sal aanneem (’n tipiese en eerlike kindergebed), maar die makers van die film wil klaarblyklik nie ‘kant kies’ vir Christene nie, want vervolgens word die gebed deel van ’n komiese toneel as die jongste kind bid: “Can we please have a pet unicorn?” Dit is oulik en humoristies, maar ’n mens weet dat dit in die film geplaas is omdat dit die ware diepgang en kommunikasie met die God van Christene ontwapen en dit toeganklik maak vir die breë nie-Christelike publiek (as iets wat kinders doen, nes slaaptydstories).

Toepassing op ander Films:🔗

Enige opvallende elemente van die film wat nie noodwendig hooftemas is nie, kan hier vanuit die Woord bespreek of as vrae gestel word.

Finale Beoordeling🔗

Despicable Me is ’n oulike, humoristiese film wat nie ouderdomsgrense ken nie. Dit is oppervlakkig, maar vermaaklik en daar is niks fout met gewone alledaagse vermaak nie. Die makers het op geniale wyse die film bemarkbaar gemaak en waarskynlik sal ’n mens nog jarelank te pas en te onpas veral die ‘minion’-karakters raaksien. En miskien is dit nog die grootste vraag wat ’n mens jouself moet afvra: Die film is onbeskryflik populêr. Gelukkig is in hierdie spesifieke geval die boodskap van die film oppervlakkig en taamlik onskuldig (omdat die deursnee kultuur nog relatief onskuldig is). Maar stel jouself voor dat die norme van die algemene kultuur net meer en meer afwyk van God se Woord en daar meer en meer antichristelike ’n sentiment heers? Kommersiële films soos Despicable Me volg slegs die norme van die heersende kultuur. Dit word dan verpak in bemarkbare karakters waarvan ons almal hou. Maar het jy dan ook die vermoë om deur die pragtige animasie, die skreeusnaakse karakters en die oulike storielyn te kyk en die boodskappe raak te sien?

Hopelik kan hierdie model vir filmkritiek daartoe bydra.