Bron: Die Kerkblad, 1986. 3 bladsye.

Hou diakens tred met huidige nood?

geld

Die voorspoed wat die meeste Gereformeerdes vir 'n aantal dekades be­leef het, het die probleem geskep dat baie diakens nie altyd ten volle bedag is op probleme wat tans deur lidmate ondervind word nie. Dit is dringend nood­saaklik dat diakens (indi­vidueel en tydens diakensvergaderings) ernstig besin oor die uitoefening van hulle roeping in die lig van eiesoortige tydseise.

Identifisering van nood🔗

Die versorging van be­jaardes, eensames, be­hoeftiges, weduwees en wewenaars vereis meer aandag en inisiatief as ooit tevore. Hoewel dit veel groter eise aan die beplan­ning en werkywer van die diakens stel, bestaan daar geen rede waarom dia­kens nie, soos vroeër, hier­die omvangryker taak met bekwaamheid en me­delye sal kan hanteer nie.

Maar word daar gelet op die minder opvallende noodsituasies, wat ewen­eens lidmate se daaglikse bestaan en geloofslewe negatief beïnvloed? Dink maar aan die geweldige styging in lewenskoste, sowel as werkloosheid van 'n toenemende aantal Ge­reformeerde lidmate. Die probleem strek veel ver­der as gevalle waar die man (as tradisionele broodwinner) sy betrek­king verloor. Wat van die dilemma waarin 'n gesin beland indien die vrou, wat deesdae in 'n al hoe groter mate 'n finansiële bydrae tot die gesin se sty­gende lewensbehoeftes lewer, haar werk verloor? Is daar die nodige mede­lye met gemeentelede wat voorheen welvarende sakemanne of boere was en wat nou worstel om in hul­le gesinne se lewensbe­hoeftes te voorsien? Ver­leen 'n diakonie van 'n welvarende gemeente die nodige bystand (geestelik en materieel) aan 'n buur­diakonie van 'n minder welvarende gemeente waar geloofsgenote veel meer deur ekonomiese probleme geteister word en veel groter druk op die diakonie kom (en in hier­die verband word veral ook aan ons anderskleu­rige geloofsgenote gedink)? Daar moet voortdurend verder as die eie gemeente gekyk word. Die nood van medegelowiges in buurgemeentes en selfs oor landsgrense heen behoort ons net so aan te gryp as gemeentelike nood.

Die diakens mag nie net na die lidmate se stoflike welvaart omsien nie, maar ook na lidmate se geestelike welsyn. Dit is opvallend dat daar weens toenemende ekonomiese en politieke probleme by 'n groot aantal lidmate 'n vrees vir die toekoms, wat in sommige gevalle tot geloofsonsekerheid aanlei­ding gee, ontstaan het. Dit sou 'n growwe dwaling wees om te reken dat die geestelike welsyn van lid­mate net ouderlinge en predikante raak. Ook dia­kens het die roeping om sodanige nood te identifi­seer en met die hulp van die wyksouderling en pre­dikant aandag daaraan te skenk.

Praktiese optrede in nood🔗

Dit is 'n uitgemaakte saak dat die dienswerk van dia­kens veel verder strek (of iets heeltemal anders is) as die insameling van kerklike bydraes. Die taak en roeping van diakens kan op 'n tweërlei wyse prakties beoefen word.

besoek bring🔗

In hulle persoonlike verhouding tot lidmate kan diakens aan die volgende aspekte aandag skenk:🔗

  • Die diaken moet sy eie geloofslewe opskerp voor­dat hy aan ander persone daadwerklike en liefdevol­le bystand kan verleen. Bid vir die regte ingesteld­heid vir die besoek, die no­dige toerusting om die nood die hoof te bied en vir (en saam met) die lyden­de lidmaat(e).
  • Berei voor vir die be­soek. Die beste vertroos­ting en bemoediging kom steeds uit die Bybel. Dink na aan vorige gesprekke met die lidmaat(e) om so­doende herhaling te voorkom.
  • Die enigste wyse om nood te identifiseer is deur gereelde huisbesoek aan die lidmate! Tydens soda­nige huisbesoeke is dit noodsaaklik om 'n beson­dere vertrouensverhou­ding met die lidmate op te bou, wat selde gebeur as die gesprek nie verder as koeitjies en kalfies vorder nie.
  • Dit vergemaklik die taak van 'n diaken gewel­dig indien daar voor 'n al­gemene huisbesoekgeleentheid (waar die dia­ken al die lidmate in sy wyk besoek) 'n tema aan hom verskaf word wat hy as aanknopingspunt met lidmate kan gebruik. So 'n tema kan deur bepaalde gespreksriglyne en Skrifverwysings aangevul word om die diaken in staat te stel om indringend met lidmate te praat. Dit neem vanselfsprekend nie die diaken se verantwoordelikheid weg om in geval­le van spesifieke nood self­standig individuele aan­dag aan 'n probleem te skenk nie.
  • Deur wyksbyeenkom­ste te reël skep die diaken 'n geleentheid waar hy in­formeel met wykslede kan byeenkom, die lidmate mekaar beter kan leer ken en wykslede meer bedag op mekaar se nood ge­maak kan word. Hierdie wyksbyeenkomste hoef nie noodwendig 'n groot 'okkasie' te wees nie, maar kan bloot van tyd tot tyd 'n koppie tee by een van die wykslede se huis wees. 'n Gesamentlike ete kan egter baie gesellig en opbouend wees. Onthou gerus om die predikant en wyksouderling ook te nooi — hulle sal so 'n geleent­heid verwelkom.
  • 'n Diaken mag nie sy dienswerk tot rand en sent verskraal nie. Sy roeping hou in dat hy die geeste­like welsyn en onderlinge verbondenheid van lidma­te uitbou tot die liefdesdiens wat dit behoort te wees.

'n Diaken wat pligsge­trou na die welsyn van wykslidmate omsien, vind dit dikwels baie moeilik om alle proble­me alleen die hoof te bied. Die volgende per­sone kan van groot hulp wees:🔗

  • Die voor die hand lig­gende raad en bystand moet die diaken eerstens by medediakens, die wyksouderling en die pre­dikant soek. Vele hande maak ligte werk!
  • Getroude diakens be­hoort tot 'n groot mate op hulle vrouens se hulp en bystand te kan steun. Die tref van reëlings vir 'n wykstee of -ete, die ver­voer van bejaardes, die hulpverlening by die fi­nansiële beplanning en aankoop van huishoude­like goedere van behoef­tige geloofsgenote en sie­kebesoek kan dikwels aan eggenote oorgelaat word. Dit beteken nie dat eggenote u dienswerk volledig oorneem nie, maar hulpverlening en bystand deur u eggenote stel u in staat om u roeping be­ter te vervul. Die wyksus­ter behoort enige diaken se bondgenoot te wees en gereelde skakeling met die wyksuster behoort 'n prioriteit te wees.
  • Medelidmate in die wyk is dikwels uiters be­hulpsaam indien hulle om hulp gevra word en beson­dere nood taktvol onder hulle aandag gebring word. Die voorbehoud is egter dat vertroulike pro­bleme wat tot verleent­heid kan lei, nie op 'n on­taktvolle wyse aan die groot klok gehang behoort te word nie. Dat ons egter mekaar se laste moet dra, is 'n Skriftuurlike eis (Galasiërs 6:2).
  • Kundige medelidmate, soos prokureurs, geneeshere, ouditeure, bouers, eiendomsagente, kan dik­wels op 'n eenvoudige en goedkoop wyse 'n oplos­sing vir 'n skynbaar onop­losbare probleem bied. Nader gerus hierdie lidmate — u sal verbaas wees oor die hulp en by­stand wat meestal op hier­die wyse verkry kan word.

gesin en besoeker🔗

Hoe lidmate die diaken kan help🔗

Hoe ontvang u as lid­maat u diaken? Diakens kla soms dat enkele lid­mate hulle met kwalik be­dekte ongeduld meedeel dat hulle geen bystand van die diakonie benodig nie en gevolglik geen behoefte aan die diaken se huisbe­soek het nie. Die diaken se dienswerk is beslis nie tot hulpbehoewende lidmate beperk nie. Sy huisbesoek is daarop toegespits om die lidmate van mekaar se behoeftes bewus te maak en die onderlinge verbon­denheid van lidmate in die gemeente te bevorder. Skep dus gerus 'n rustige gesinsatmosfeer tydens die diaken se besoek, so­dat hy die geleentheid kry om sy saak aan die hele gesin te stel. U belangstel­ling in die diakonie se akti­witeite sal dit vir die dia­ken baie makliker maak om sy saak aan u te stel en u om bystand (in watter vorm ook al) te nader.

Lidmate wat bystand benodig, bemoeilik dik­wels die diaken se taak deur hulle valse trots. Wees openhartig met u diaken, want dit is al wyse waarop hy kan vasstel hoe hy u van hulp kan wees.

Predikante en wyks­ouderlinge vergeet soms om die wyksdiaken van nood in kennis te stel (ver­al in gevalle van geeste­like nood). Hulle kan ook veel doen in die opsker­ping van die lidmate om die diaken tydens huisbe­soek na behore te ontvang en die diaken in sy diens­werk te help. By baie Gereformeerde kerke is dit ook gebruiklik dat die wyksouderling 'n nuwe diaken by die eerste huisbesoekgeleentheid vergesel en aan die wykslidma­te voorstel.

Die voorsitter en be­stuur van 'n diakonie kan 'n diaken se taak verge­maklik deur aan die dia­kens duidelike huisbesoek­temas te verskaf, 'n aan­tal noodsituasies van lid­mate te identifiseer en geskikte Skrifdele vir be­sondere noodsituasies aan diakens beskikbaar te stel. 'n Jaarlikse kursus om diakens in hulle dienswerk te skool, kan besonder nut­tig wees.

Die onderlinge verbon­denheid van lidmate kan net op een wyse bevorder word: Dien mekaar met liefde, want daardeur word God vereer (Johannes 15:9-12; 1 Petrus 4:8-10) .