Hoe om na die Preek te Luister
Hoe om na die Preek te Luister
‘n Luisterende hart behoort vier ‘snare’ te hê. Een van die vier (waarna ons hier nie sal kyk nie), is om te luister met ontsag. Ons wil in hierdie artikel daarop let dat dit belangrik is om biddend te luister, verlangend te luister en krities te luister.
Biddend Luister⤒🔗
Om biddend na die prediking te luister, is beslis nodig. Sonder om te bid dat God lig werp op sy Woord, kan ons met ons natuurlike vermoëns helaas niks begryp van die geestelike dinge nie (1 Korintiërs 2:10-14). Net soos Dawid moet ons bid met die woorde: “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet” (Psalm 119:18). Dit is noodsaaklik om die Heilige Gees se hulp te vra, want Hy is die Gees van die waarheid wat ons lei “in die hele waarheid” (Johannes 16:13). Die prediking is dus allereers ‘n saak van God. Toe die opgestane Christus met twee dissipels gepraat het en die Skrifte vir hulle oopgemaak het, was hulle hart brandende in hulle (Lukas 24:32). Nog steeds open God sy Woord deur die Gees, sodat ons voel dat ons hart brandende in ons is.
Paulus verbind die prediking van God se Woord met die Heilige Gees. Daar is ‘n noue band tussen die twee. “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Tessalonisense 5:19-20). In hierdie verband is die volgende gedeelte in Handelinge 16 opmerklik. Lydia, ‘n godvresende vrou, “het geluister: die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is” (Handelinge 16:14). God open ons harte sodat ons aandagtig kan luister na die prediking van God se Woord. Wie is welgeluksalig? Slegs die man wie se “behae is in die wet (Woord) van die Here, en hy oordink sy wet (Woord) dag en nag” (Psalm 1:2).
As ons God ‘n luisterende God is wanneer ons tot Hom bid, moet die omgekeerde ook geld: dat ons na God luister wanneer Hy deur middel van die prediking tot ons spreek. Dit is nie vryblywend nie, maar noodsaaklik dat ons bid, sodat ons hart van klip sal verander in ‘n hart van vlees, van ‘n ontevrede hart na ‘n tevrede hart. ‘n Mens vol ontevredenheid begin al gou te kla as hy ‘n enkele Woord van God aanhoor, en by hom of haar is daar nie ‘n krieseltjie dankbaarheid te vinde nie.
Dit is ook nodig dat ons God se Woord goed begryp en dit persoonlik toepas. ‘n Hoorder wat luister sonder om te bid, kan God se Woord verkeerd begryp, maar ook verkeerd toepas. As mense met ‘n sondige lewenswyse in die prediking vermaan word, dink hulle dat die predikant iets teen hulle het en maak hulle nie erns met wat die Here vir hulle wil sê nie. Maar iemand wat hom goed voorberei het in gebed en daardie selfde vermanende woord hoor, sal sy eie hart ondersoek, sy sondes bely en om vergewing vra. ‘n Biddende mens sal dus sekerlik ‘n milde hart van God ontvang, sodat hy keer op keer God se liefde in die prediking sal ervaar.
Wanneer ons die prediking van God se Woord hoor, kom ons met al ons sorge en probleme voor God se aangesig. Juis dan is dit ‘n wonder hoe God dikwels die een Skrifwoord gebruik om elkeen in sy eie omstandighede te troos en te bemoedig. Dit is die misterie en die geheim van die prediking wat deur die gebed vir ons oopgaan.
Verlangend Luister←⤒🔗
Die verlange na God en sy Woord mag nie ontbreek wanneer ons die prediking aanhoor nie. Die psalmdigter bely eerlik sy verlange na God se Woord: “My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur” (Psalm 119:20). Die digter sê verder: “Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek” (Psalm 119:131). Met kragtige uitdrukkings, soos sy siel wat vergaan en sy gehyg, gee hy uitdrukking aan sy verlange na God se Woord. Is dit by ons ook so, of vergaan ons harte omdat ons hyg na allerlei wêreldse en materiële dinge?
In ‘n ander psalm verwoord ‘n digter dieselfde verlange op die volgende manier: “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?” (Psalm 42:2-3). In die Nuwe Testament skryf Petrus ook dat die profete van die Ou Testament “aangaande hierdie saligheid (van julle siele)” ondersoek, nagevors en nagespeur het (1 Petrus 1:9-11). Ja, daar staan selfs dat die engele begerig is om in te sien in die Evangelie (vgl 1 Petrus 1:12). Maria is deur die Here Jesus geprys, omdat sy die goeie deel uitgekies het: sy wou aan sy voete sit en na Hom luister (Lukas 10:42).
Wanneer ‘n mens na die prediking luister, is ons harte veral belangrik. Die belangrikste aspek van luister is nie die kennis van die Bybel nie; die prediking is in die eerste plek ‘n saak van die hart en die binneste.
Krities Luister←⤒🔗
Dit wil egter nie sê dat ons verstandelike denke ingeperk moet word wanneer ons luister nie. Om na die prediking te luister, moet op ‘n positiewe manier krities wees, want om te luister is bepaald nie ‘n passiewe saak nie, maar ‘n aktiewe een. Dit is nie om maar net te hoor nie, maar om intens te luister met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand.
Ons moet krities luister of die prediker wel daadwerklik God se Woord bring. Die Jode-Christene in Berea is as volg beskryf: “...hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge (Paulus se woorde) so was” (Handelinge 17:11). Die herder se skape ken sy stem en volg hom (Johannes 10:4). Dit is slegs vir hulle moontlik om sy stem te onderskei deur die opgeskrewe woorde, die Heilige Skrif. Om dit te kan doen, moet ons dus die Bybel persoonlik en gesamentlik lees. Die Bybel moet noukeurig en in sy geheel gelees word. Ons moet ‘n enkele boom kan raaksien, maar terselfdertyd nie die hele bos uit die oog verloor nie. Soos wat ons uit eie ervaring weet, kan ‘n Christen wat deur die week sy Bybel lees die prediking op Sondag ten volle geniet, terwyl die prediking minder waarde het vir iemand wat nie gereeld Bybel lees nie.
Wat krities luister betref, kan aanbeveel word dat ‘n mens aantekeninge maak tydens die preek. Die Puriteine in die sestiende en sewentiende eeu in Engeland en Noord-Amerika was daarvoor bekend dat hulle notas gemaak het tydens die preek (‘sermon note-taking’). Dit het ook in ‘n groot mate die ‘huisgodsdiensoefening”, die daaglikse diens aan God binne die raamwerk van die gesin ondersteun. By die Puriteine was dit gebruiklik dat die hoof van die familie na die preek met die ander gesinslede daaroor gepraat het. Die aantekeninge was dan ‘n hulpmiddel om dit wat gehoor is, te onthou.
Verwerking van die Prediking←⤒🔗
Ter afsluiting moet nog genoem word dat die prediking altyd toegepas moet word. Die hoorders van die Woord moet ook gehoorsaam wees aan die Woord: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22). Om te luister is nie neutraal of sonder verpligting nie, maar dit vra ‘n keuse en gehoorsaamheid. Eers wanneer die prediking in die praktyk uiting vind, dra dit vrugte. Dit is nutteloos om net God se Woord te hoor en niks daarmee te doen nie (Jakobus 1:21-24). Die geloof sonder werke is dood, soos wat die liggaam sonder gees dood is (Jakobus 2:26). Kenmerkend van ‘n dwase man wat sy huis op die sand bou, is dat hy die woorde van die Here hoor en dit nie doen nie (Matteus 7:26). As iemand Jesus as sy Here aanneem, dan moet hy ook handel volgens sy woorde. “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Elkeen wat die wil van God doen, dié is Jesus se broer en suster en moeder (Markus 3:35). “Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar” (Lukas 11:28). “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3). Kortom, die prediking wil lewe: nie net in die kerkdiens nie, maar ook in die aktuele lewe van ons gesin, skool en werk. Week in en week uit moet ons gewone lewe diens aan God wees. Dit is wat dit beteken om voor God se aangesig te lewe!
‘n Voorbeeld van Chinese Christene Ek herinner my aan ‘n onvergeetlike foto. Dit is deur my vriend geneem wat ‘n paar jaar as sendeling in China gewerk het. Hy het ‘n oomblik van ‘n kerkdiens op film vasgelê. Die kerkgebou is kaal en sonder versierings. Daar is nie eens stoele nie. Ongeveer dertig Christene, mans en vroue met ou en verslete klere, sit op die grond. Wat my van die foto aangespreek het, is hoe dit wys hoe intens hulle na die preek geluister het: die hoorders sit almal voor die preekstoel heeltemal na vore gebuig om so ernstig en ywerig moontlik na die preek te luister. Ek bid dat alle Christene vandag so na die prediking uit God se Woord sal luister! |