"Hier beneden is het niet?"
"Hier beneden is het niet?"
Die kerkgeskiedenis leer ons dat Christene en die Christelike kerk dikwels in uiterstes verval. So is daar diegene wat klem lê op die aardse roeping van die mens (soms aktiviste genoem), terwyl ander weer aandag vra vir die hemelse bestemming (soms kwiëtiste genoem). Daar is die bekende uitspraak vervul jou roeping (in die tyd van premier John Vorster ook nog politiek gelade), maar ook die uitroep, veral in swaar tye: Hier beneden is het niet (Van Lodensteyn).
Die teoloog Totius was allesbehalwe iemand wat die mens se aardse roeping sou ontken, inteendeel, en tog kon hy by geleentheid dig: die wêreld is ons woning nie. Hierdie gedig kan egter maklik misverstaan word in die sin van roepingsontvlugting en wêreldmyding. Maar dis nie só bedoel nie. Totius het immers uit eie ervaring kennis gedra van die Anglo-Boereoorlog, tans Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) genoem. Hy het die verwoesting gesien wat hierdeur veroorsaak is, die konsentrasiekampe, duisende slagoffers, afgebrande plaaswonings en kerkgeboue, verstrooide veekuddes en gemeentes.
En dan, as ’n mens na só ’n wêreld kyk, moet jy saamstem: dié (só ’n) wêreld is ons woning nie. God het die wêreld immers mooi geskape, en Hy het die mens opdrag gegee om dit mooi te hou.
Die veelal vergete teoloog, dr. C van der Waal, het in 1985 ’n interessante boekie gepubliseer met die titel Die wêreld is ons woning: Christelike kultuurtaak. Daarin verset hy hom tereg teen ’n eensydige hemelverlange en ’n verwaarlosing van Christene se kultuurtaak. Hy lewer ook kritiek teen Totius en Calvyn se pelgrimgedagte.
Hy wys verder tereg daarop dat die mens se eindbestemming die nuwe hemel en die nuwe aarde is, maar wys ten onregte die gedagte af dat die mens ’n pelgrim op aarde is. Daarvoor is die boodskap van Hebreërs, asook ander Skrifgedeeltes, net te duidelik. Die mens is nie óf ’n arbeider óf ’n pelgrim nie, maar beide. Terwyl hy werk, wag hy op ’n beter toekoms/Toekoms, en terwyl hy die beter toekoms/Toekoms verwag, werk hy. Hy werk met hoop, en hoop terwyl hy werk.
Weinig teoloë het meer as Calvyn klem gelê op die aardse roeping van die Christen, en tog het hy geoordeel dat “die oordenking van die toekomstige lewe” een van die drie kenmerke van die Christelike lewe behoort uit te maak.
Pelgrims, ja, dit is álle Christene, al woon hulle lekker in hulle ou of nuwe vaderland. In ’n bepaalde sin kan Christene hulle eintlik in enige land tuismaak. Ek herinner my aan wat ’n onbekende skrywer lank-lank gelede in ’n brief aan ’n vriend (genaamd Diognetus) geskryf het: Elke vreemde land is my vaderland en elke vaderland is 'n vreemde land.
Die Christelike geloof (en kerk) neem wel ’n bepaalde gestalte aan in elke land en volk, maar dit kan nie daartoe beperk of daardeur ingekluister word nie – dit is na sy aard katoliek en ekumenies. Die koninkryk van God ken geen grense nie.
Ons familie en vriende wat tans in die buiteland woon en – onvermydelik – terugverlang na Suid-Afrika, verstaan dalk iets beter van die verlange wat daar in die hart van elke Christen behoort te wees, die verlange na ’n “beter vaderland”, na die koninkryk van God, na die nuwe hemel en die nuwe aarde.
In watter land ons as Christene ons ook al bevind, oral is ons werkende pelgrims en pelgrimerende werkers, en moet ons diensbaar wees aan die voortgang van die koninkryk van God, draers van die evangelie van hoop van die Groot Toekoms.