Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Hebreers 11:11 - Lewe in die Dooie Moederskoot

Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het.

Hebreërs 11:11

Baba

"Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word." Dit is woorde wat 'n mens eintlik verbaas. Want is dit so dat Sara se hantering en belewing van haar kinderloosheid van diepgewortelde geloof getuig? In Genesis 15 word vertel hoe God met Abraham sy verbond gesluit het. Een van die verbondsbeloftes was dat Abraham se nageslag die land Kanaän sal beërf. Hieroor was Abraham verbaas. Sy onmiddellike reaksie is: "Here, aan my het U geen nageslag gegee nie; my bediende sal my erfgenaam wees" (15:2). Die Here het Abraham geantwoord: "jou bediende sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam voortkom sal jou erfgenaam wees". Toe het die Here vir Abraham uitgevat die donker nag in. Hy het vir hom die sterre aan die hemel laat sien en beduie: "So sal jou nageslag wees". En Abraham het in die Here geglo.

Maar Sara, sy vrou, het anders oor die saak gedink. Sy het vir Abraham gesê dat die Here haar nie toegelaat het om moeder te word nie (Genesis 16:2). Toe raai sy vir Abraham aan om by Hagar, haar Egiptiese slavin, in te gaan. Miskien — so dink Sara — sal daar uit die slavin 'n nageslag gebou word (16:2). Abraham het na sy vrou Sara geluister. Hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Toe Abraham 86 jaar oud was, is Ismael gebore.

Maar Ismael was nie die erfgenaam wat die Here vir Abraham belowe het nie. Dit word dertien jaar later duidelik as die Here weer oor dieselfde saak aan Abraham verskyn. Toe Abraham 99 jaar oud was sê die Here vir hom: "Ek sal Sara seën en vir jou uit haar ook 'n seun gee. Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word. Konings van volke sal uit haar voortkom". Toe Abraham dit hoor, val hy op sy aangesig. Hy eerbiedig die Here en kniel voor Hom neer. Maar in sy hart het hy gelag en gesê: "Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, 'n kind gebore word? Kan Sara, wat negentig jaar oud is, nog geboorte skenk?"

Op vyf-en-tagtig jarige leeftyd het Abraham nog geglo dat daar 'n nageslag uit hom verwek kan word. Maar nou, dertien jaar later, nou lag hy. Nou betwyfel hy die moontlikheid van dit wat die Here belowe. En Sara lag saam met hom. Toe die Here by 'n volgende geleentheid aan Abraham verskyn, staan Sara by die ingang van die tent en luister. Sy hoor alles wat die Here vir Abraham sê. Sy hoor die belofte van die Here: "Ek sal oor 'n jaar sekerlik weer na jou toe kom — dan sal jou vrou Sara 'n seun hê". En sy lag oor die belofte. Geen lag van blydskap en vreugde en opwinding nie, maar 'n spotlag, 'n ongeloof-lag. Hoe kan die Here so-iets belowe? Is sy dan nie gans te oud om swanger te word nie? Was sy nie bowendien haar lewe lank onvrugbaar nie?

Die Here het Sara se spotlag gehoor. Hy konfronteer haar daaroor. Sara skrik groot Sy ontken selfs dat sy gelag het, want sy was bang. Op hierdie somber noot stop die beskrywing van Sara se ongeloof in die boek Genesis.

En nou sê die Hebreërskrywer: "deur geloof het Sara Hom getrou geag wat dit beloof het". Weerspreek die Hebreërskrywer die feite soos ons dit in Genesis lees? Is daar op hierdie punt 'n teenstrydigheid in die Bybel? Nee, dit is onmoontlik. Die Heilige Gees het alle Bybelskrywers geïnspireer. Die Gees weerspreek Homself nie. Wat hier ter sprake is, is dat die Hebreërskrywer voortgaan op die plek waar Genesis gestop het. Genesis teken Sara in haar absolute twyfel. Dit wat die Here belowe kan nie gebeur nie. Hebreërs 11 teken Sara in die krag van haar geloof. Sy het bevrug geword, en toe sy ver oor die leeftyd was het sy aan 'n kind geboorte geskenk.

laggende mond

Dit beteken dat daar iets ingrypend met Sara gebeur het waarvan Genesis geen melding maak nie. Maar uit Hebreërs weet ons baie goed wat met Sara gebeur het. In enkele woorde word vertel dat die Here vir Sara tot geloof gebring het. Die spotlag het uit haar hart verdwyn toe die Here vir haar vra of daar iets is wat vir Hom te wonderbaar sou wees. Die Here breek Sara se hart oop sodat ongeloof plek maak vir geloof. Sara leer om die HERE wat beloftes maak, getrou te ag. Al die twyfel van die verlede, al die opstandigheid omdat die Here haar moederskoot gesluit het, al die menslike planne wat Sara beraam om vir Abra­ham op haar manier 'n nageslag te besorg - dit word alles tot niet gemaak deur die geloof. Deur die geloof kom Sara tot die erkenning dat God almagtig is. God kan lewe uit die dood gebied.

Van sulke geloof moet die kerk van die Here Jesus Christus deur alle tye vol word. Want dit is eg menslik om teen die berge in die lewe vas te kyk en te sê: hierdie berg kan nie geroer word nie. Dan verhef 'n mens sekere situasies in die lewe tot feite waarmee kwansuis nie verder gewerk kan word nie. Binne die mure van die kerk gebeur dit. Dan word daar besin oor die negatiewe houding wat sekere mense jeens die kerk van die Here inneem. Daar word gepraat: mooi gepraat, hard gepraat, baie gepraat; ook gebid. En dan kan 'n mens tot die slotsom kom: praat help nie, dit kan niks verander nie.

Of ons besin oor 'n bepaalde opdrag wat die Here vir ons gee wat ons saam in die geloof moet uitvoer, byvoorbeeld die sending-opdrag. Dan kan 'n mens in jou hart tot die menslike gedagte kom dat dit nie baat om onder die heidene te gaan sendingwerk verrig nie. Wat gaan daar buitendien verander? Hoe sal 'n kultuur gekersten word wat al vir duisende jare 'n goddelose lewenstyl handhaaf?

En soos wat daar binne die kerkmure gedink word, word daar dikwels ook buite die kerkmure gedink. As 'n man en 'n vrou in hulle huwelik 'n dooie punt bereik het, hoe sal daar ooit weer liefde en lewe in so 'n huwelik kom? As familie- en vriendskapsbande deur onsmaaklike voorvalle gebreek is, hoe sal dit weer gesmee word? As finansiële omstandighede jou keel toetrek, hoe sal jy weer op jou voete kom? As ernstige siekte jou aan die bed vaskluister, hoe sal jy weer jou werk kan doen?

Dan help dit nie om te sê: toe maar, alles sal regkom nie. Mooi praatjies maak niks reg wat krom en skeef is nie. Dit bring geen lewe waar dood is nie. Inteendeel, dit maak alles net erger.

Wat dan? Dan let ons op die geloof wat die Here in Sara gewerk het. Sy het aanvanklik in ongeloof gelag en gespot Sy het die Here se beloftes nie geglo nie. Totdat sy voor die feite gestel is: "sou iets vir die Here te wonderbaar wees"? Kan Hy nie haar dooie moederskoot tot lewe bring nie? Net so: kan die Here nie 'n negatiewe mens tot positiwiteit bekeer nie? Kan Hy nie 'n godlose kultuur tot Godsvrees lei nie? Kan Hy nie lewe in 'n dooie huwelik bewerk nie? Kan Hy nie die breuke in families en vriendekringe herstel nie? Kan Hy nie die wurggreep van die ekonomie verslap nie — vir sy kinders ten goede? Kan Hy nie 'n einde aan 'n siekbed maak nie?

kniel in gebed

Sou iets vir die Here onse God te wonderbaar wees? Maar ons sing dan in Psalm 68:9 (berym) Geloofd sy God met diep ontsag, want Hy oorlaai ons dag aan dag met ryke seëninge. Hy versterk ons in die dag van stryd en dra ons deur die lewe. Hy kan en wil en sal in nood, selfs as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms gewe.

Die vraag is nie of God kan nie. Hy kan beslis. Die vraag is: vertrou ons Hom daarin? Neem ons sy beloftes ernstig op? Is ons werklik vol diep ontsag vir sy almag? Of reken ons by voorbaat dat daar geen nuwe lewe kan kom waar daar reeds dood ingetree het nie?

Bid vir vertroue in God. Vra die Here om in geloof verby die dooie punt te kan kyk. Dan is dit nie langer 'n kwessie óf ons die berge gaan beweeg nie. In geloof sál ons hulle versit Daartoe sal God vir ons die vermoëns gee.