Gulsigheid & Matigheid
Gulsigheid & Matigheid
In die meeste gesprekke oor gulsigheid kom gewoonlik twee misverstande voor. Eerstens die wat net verwys na mense met nie-so-vleiende middellyne nie; die tweede misverstand is dat kos altyd ter sprake kom. In werklikheid kan dit van toepassing wees op speelgoed, televisie, vermaak, seks, of verhoudings. Dit gaan oor die oormaat van enigiets.
Selfs die ou heidene het dit reg verstaan. By Delphi (in laer sentraal-Griekeland) staan op die heiligdom van Apollo die wyse opskrif: “Niks in oormaat nie”. Die probleem hiermee was natuurlik dat die individu self die beoordelaar oor sodanige gulsigheid was, terwyl dit vir die volgelinge van Christus die Skeppergod Self is. En ons ken Sy denke oor hierdie onderwerp, nie omdat ons in ʼn soort beswyming gaan en Sy woorde spreek nie – soos gesê is van die orakel van Delphi – maar omdat ons Sy gegewe Woord het. Kyk byvoorbeeld na Spreuke 23:1-3: “As jy aansit om saam met ʼn hoë amptenaar te eet, wees tevrede met wat jou voorgesit word en bedwing jou as jy ʼn groot eetlus het. Moenie sy lekker kos begeer nie; dit kan jou duur te staan kom.”
Dit is basies ʼn waarskuwing om selfbeheersing uit te oefen wanneer jy gekonfronteer word met die uitspattigheid van die goddelose rykes wat mag poog om jou uit te lok om soos hulle te dink. Wie se lewe, voor Jesus gebore is, het dit die beste geïllustreer? Daniël het aan die tafel van oorvloed gesit, maar: “Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie... (Dan. 1:8). Soos hierbo genoem is dit van toepassing op enige goeie ding wat God geskape het. Ons mag dit sekerlik geniet (hierdie is nie ʼn oproep tot streng selfverloëning nie), maar ons moet dit nie met ʼn hongerige gulsigheid verorber nie, en daardeur meer van hierdie eenvoudige genietinge vereis as wat Gees-vervulde omsigtigheid toelaat nie.
Terloops, omsigtigheid is die teenoorgestelde van gulsigheid. Omsigtigheid, in die sin van wyse versigtigheid of matigheid, is die hemelse deug wat, volgens die kerkvaders Chrysostomus en Hieronymus, by Adam en Eva algeheel ontbreek het in die tuin van Eden; in so ʼn mate dat hulle as gevolg van hul onbeheerste aptyt uit die Paradys uitgegooi is, want hulle het hulself verhef tot die beoordelaars van wat buitensporig is (baie soos die ou Grieke en Romeine).
Gulsigheid, of ʼn gebrek aan matigheid, laat baie van ons eis dat alles presies moet wees soos ons dit wil hê. Hoewel dit ʼn meer subtiele vorm van gulsigheid is, word hierdie ondeug nie net verdra in hedendaagse kerke nie, dit vind selfs byval. Dit het fatsoenlik geword. Jy sal moeilik iemand vind wat, soos die ou Romeine, soveel plesier wou hê dat hulle hulself gaan ontledig het sodat hulle nog meer kan eet. Maar as mens mooi oplet is daar baie keer iets wat ons ʼn delikate gulsigheid kan noem. C.S. Lewis beskryf hierdie gebrek in sy Scewtape letters waar dit die “pasiënt se moeder” aantas. Sy voer ʼn “absolute skrikbewind uit teenoor gasvroue en bediendes .... draai altyd weg van wat aan haar aangebied word om met ʼn aanstellerige suggie en ʼn glimlag te sê: “Ag, asseblief, asseblief, al wat ek wil hê is ʼn koppie tee, flou maar nie te flou nie, en ʼn piepklein stukkie werklike bros roosterbrood.” Lewis wys daarop dat, omdat haar versoek kleiner en goedkoper is as wat sy aangebied is, sy nie verstaan dat die aandrang om te kry wat sy wil hê, ongeag daarvan hoe moeilik sy dit vir ander maak, eintlik gulsigheid is nie. In werklikheid sal sy “verstom wees as sy moet agterkom dat haar hele lewe verslaaf is aan hierdie tipe wellus.” En Wormwood lig Screwtape in dat hierdie tipe gulsige wellus “ ʼn soort grofgeskut voorbereiding is vir aanvalle op reinheid.” Die grofgeskut bombardeer natuurlik die vyand se verdediging om die weg voor te berei vir ʼn deurslaggewende aanval. So lank ons onbewus van hierdie gebrek in ons is (en die feit dat selde daaroor van die kansel af gepreek word, help nie juis nie), sal ons rustig voortgaan en op die uiteinde net so verbaas wees as die pasiënt se moeder.
Saam met hierdie delikate gulsigheid kom dikwels ook die neiging om te veel van ander te eis, sodat hulle hulle vererg, en dit kan lei tot onttrekking of woede. Vriendskap (om nie eens te praat van huweliksverhoudings nie) is ware geskenke van God, maar dit kan ook objekte vir gulsigheid word. Om hoë verwagtings te koester is een ding, maar om onrealistiese verwagtings te koester – deur meer te vereis van ander (soos van ʼn kind) as wat gepas is – vir die gulsige navolging van plesier, is iets heel anders.
Maar daar is goeie nuus. Gulsigheid, wat ʼn saak van die hart is, word nogtans dikwels beperk deur ons liggame. As ons ons ooreet sal ons liggame ons meestal laat weet. As ons te puntenerig is en alles presies na ons sin wil hê, sal ons aangesê word om die taak self te doen. As ons te veel vereis van ander sal hulle nie naby ons wil wees nie. En al hierdie dinge kan dien as katalisators vir verandering. Dank God, verandering is moontlik. Deur die krag van Sy Gees word ons in staat gestel om sulke veranderings aan te bring, om selfbeheer asook ʼn gesonde dosis selfverloëning toe te pas (wat nogal moeilik vir ons Amerikaners is).
Ons as Christene het onnadenkend ons gemeenskap se begeerte na “net ’n bietjie meer” aanvaar in ons gewaande hoofdoelwit in ons lewens – opwaartse beweeglikheid. Maar dit is weinig meer as die skynheilige sonde van gulsigheid, in werklikheid word dit beskou as fatsoenlike sondes.