God se Wysheid
God se Wysheid
Wat ons bely en skryf oor God se wysheid lê in die verlengde van God se almag. Dit gaan weereens nie oor ʼn abstrakte term of oor ʼn woordeboek definisie nie. Dit gaan hier oor die wysheid van God, die Almagtige. As ons terug kyk na wat ons oor God se almag geskryf het, sê ons nou: God se wysheid is nie onsamehangend of toevallig nie. Dit word nie nou hier en dan weer in die teenoorgestelde rigting openbaar nie. Nee, God se wysheid karakteriseer Sy dade. Daar is ʼn samehang, ʼn diepgaande verband met die oog op die doel wat God vir Homself gestel het. Dit geld vir die geskiedenis in sy geheel, dit geld ook waar dit die klein, eenvoudige menselewe aangaan. In Romeine 16:27 lees ons oor die alleenwyse God. Dit wil nie sê dat mense nie ook wys kan wees nie. Die Spreukeboek is een en al onderrig in die wysheid, wat God vir ons leer. Die alleenwyse God wil sê dat God wysheid besit en betoon op so ʼn wyse soos wat geen mens dit kan doen nie. Wysheid volgens God se maatstaf. Hierdie wysheid betref dinge en mense op sigself.
Dink daaraan hoe alle onderdele in ons liggaam op mekaar ingestel is, maar ook hoe ingewikkeld ons oog gemaak is. ʼn Oogarts het eenkeer gesê dat ʼn mens dit nooit so sou kon uitdink nie. God se wysheid raak ook die samehang van die dinge in die groot geskiedenis van kerk en wêreld en in ʼn klein mense lewe. Ek sê soms: As God iets doen, kyk Hy nie maar net vorentoe, soos wat ons dit doen nie. Hy kyk na alle kante. Hy dink in die hede aan die verlede en aan die toekoms. Hy is immers die wyse, ewige God. Wie terugkyk op (ʼn periode van) sy lewe moet sê: Hoe het God my lewe nie met wysheid gelei nie. Soms moet iemand sê: Watter dwaas was ek toe ek my aan hierdie wysheid onttrek of daarteen ingegaan het nie.
In Psalm 104:24 lees ons “Hoe talryk is U werke o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak." Dieselfde vind ons in Jeremia 10:12 “Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.” Let hier op die samehang tussen krag, wysheid en verstand. Hoe verskillend van mekaar, is hulle tog één. Paulus jubel in aanbidding in Romeine 11:33
“O, diepte van die rykdom, en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!”
Dan is Paulus aan die einde van sy beskouing oor God se geskiedenis met Israel. Tevore het hy oor die heil in Christus gepraat. Daarin openbaar die Here in die besonder Sy wysheid. Want Christus is aan ons gegee tot wysheid (1 Korintiërs 1:30). Dit is opvallend dat Paulus in 1 Korintiërs in verband met Christus oor die krag en die wysheid van God gelyktydig praat (1:24). In Hom is alle skatte van wysheid en kennis van God verborge (Kolossense 2:3).
Christus die Middelaar is in woord en daad die verpersoonliking van die wysheid van God, destyds op aarde, maar nou in die hemel. God openbaar hierdie wysheid aan ons sodat ons deel daaraan kry (2 Timoteus 3:15; Efesiërs 1:17). Om te deel beteken nie dat ons so wys soos God sal wees nie. Hy is immers die alleenwyse God – wys soos niemand anders nie. Maar dit laat ons God se wysheid herken en aanbid, daarop vertrou en daaruit lewe. God wil daarom hê dat Sy wysheid oral bekend sal word, deur middel van die gemeente (Efesiërs 3:10). God se wysheid is een met Sy volmaaktheid, soos Sy almag, Sy alomteenwoordigheid, Sy ewigheid en onveranderlikheid. Al hierdie deugde werp ʼn eie lig op die volkomenheid van God se wese. Hulle is van mekaar onderskei, maar hulle vul mekaar aan. God is in Sigself ʼn Volheid.