God se verrassing (Gereformeerd nagedink oor die betekenis van Kersfees)
God se verrassing (Gereformeerd nagedink oor die betekenis van Kersfees)
Die geboorte van Christus was God se verrassing vir die wêreld. Die Jode het wel ’n verlosser verwag, maar hulle het gedink dit sal ’n mens wees; net ’n mens, hoewel ’n baie begaafde leier. Hulle het gedink hierdie man sal koning word in Jerusalem en net so ’n groot koning wees soos Dawid was. Hulle het dit in die Bybel gelees, byvoorbeeld in Jer. 23:5 en Eseg. 37:24.
Toe verras die Here Sy volk en die wêreld. Dit was ’n geweldige verrassing. Die Here het sélf aarde toe gekom, want Jesus was ook God. Maar vêrder het Hy nie soos ’n koning gelyk nie, maar soos ’n slaaf. Hy het wel soos ’n koning, ja soos God self, gepraat, maar soos ’n slaaf gelyk. Waarom sou God dit so ánders gedoen het? So anders as wat óns dit sou gedoen het?
Jesus was nie nét ’n mens nie, want géén mens kan sterk genoeg wees om die werk te doen wat Jesus moes kom doen nie. Selfs die sterkste en heiligste mense is sondaars. Hulle het self ’n verlosser nodig. God alléén kon die mense verlos. So groot was die ellendige gemors waarin die mense was, dat slegs Gód hulle kon red. Jesus was dus ’n mens, soos hulle verwag het, en Hy móés dit ook wees, want ’n méns moes betaal vir die sondeskuld van ménse. Maar Hy was tegelyk ook volkome en waaragtig God. Die Heidelbergse Kategismus sê dit helder en reguit: “Hoe ’n middelaar en verlosser benodig ons?” Antwoord: “So een wat ’n ware en regverdige mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is.” (Sondag 5).
Maar waarom het Jesus nie soos ’n koning of soos God gelyk nie? Waarom het Hy soos ’n bediende gelyk? Omdat Jesus slawewerk moes kom doen. Vuilwerk. Skoonmaak-werk. Jesus moes al die sondelaste van die mense op Sý skouers neem, en dit gaan begrawe. En Jesus moes die toonbeeld wees van die genade van God, dit beteken van God se jammer-kry. As Jesus net as die Koning-God gekom het, wat mense regverdig oordeel en veroordeel, sou Hy die mense vir hulle misdade moes verdoem en teregstel. Maar toe kom Hy as ’n slaaf, as ’n nederige dienskneg wat die skuld vir alles kry, die onreg verduur, en só die mense red. God het Hom in Jesus verneder – daarom het Jesus ook so nederig gelyk.
As jy dus weer die Kersverhaal lees, moet jy hierdie dinge in gedagte hou. Dan sal jy die bekende verhaal ook baie beter verstaan. Jy sal verstaan waarom Jesus in ’n arm familie en in ’n krip en ’n stal gebore is – sonder dat daar eens ’n vroedvrou was wat kon help. Maria moes Hom sélf in doeke toedraai onmiddellik na sy geboorte (Luk 2:7). Jy sal verstaan waarom Hy wel, soos voorspel, in die gehuggie Betlehem gebore is (Mat 2:6) en in die veragte Nasaret grootgeword het (Joh. 7:42). Dit sal vir jou duidelik word waarom engele sy verwagting en geboorte aangekondig het, maar nie aan die paleis-elite van Herodes nie – aan vuil skaapwagters; waarom daar ’n spesiale ster vir Hom in die hemel verskyn het, maar die enigste mense wat dit opgevolg het, was sterrekykers – mense soos sigeuners, van wie die Jode se wette bepaal het dat iemand wat hom aan ’n sterrekyker steur, gestenig moet word. Hy was ’n koning, maar met die status van ’n slaaf, ’n kneg, ’n bediende.
Ons het gewoond geword aan ’n Kersfees met baie liggies, kleure en vrolikheid. Dit is nie verkeerd as ons bly is oor Kersfees nie. Met Kersfees het God self na die aarde toe gekom om ons te red – om te keer dat ons hel toe gaan. Met Kersfees het God begin om die mense te red selfs toe hulle nie gered wou wees nie. Dit was die begin van die wedergeboorte van die hele skepping. Kersfees is nie ’n wêreldse fees nie, maar ’n fees vir die wêreld. Die bankrot wêreld. Maar God het hulle so jammer gekry omdat hulle sulke bobaas-sukkelaars was. Dit het nie Kersfees geword sodat God die vromes van hierdie wêreld daarmee kon beloon nie. Die enigste rede waarom God mense met Kersfees begin red het, was omdat Hy hulle jammer gekry het. Ons is nie vrolik omdat God met Kersfees die mense ’n bietjie verdiende rus en vrede kom gee het nie. Ons is vrolik omdat God met die onverdiende vrye genade van Kersfees die bankrot-arm mense te hulp snel met ’n Redder. Maar ons moet nóóit vergeet nie – ook as ons fees vier – dat Sy menswording ’n vernedering vir Hom was en dat dit die begin van Sy lyding was (Vgl. HK Sondag 15). Ons moenie vergeet dat dit óns sonde was wat hierdie menswording en lyding veroorsaak het nie.
Daarom moet Kersfees ’n dankfees wees. ’n Nederige dankfees, waar ons bid: “Here, ons is so jammer dat dit vir U nodig was om na die wrede aarde toe te kom. Maar baie dankie dat U nie teruggedeins het nie. Dankie dat U gekom het – om ons met God se genade te kom verras. Amen.”