5 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

God se Gebroke Beeld Oor die mens as die beeld van God

gebroke beeld

Biskop J.C. Ryle se beroemdste boek, Holiness, begin met die volgende welgekose woorde:

“Dié wat probeer om die regte insigte oor Christelike heiligheid te verkry, moet begin deur die groot en gewigtige onderwerp van sonde te ondersoek. Hy sal homself diep moet ingrawe ten einde hoog te kan bou. ʼn Fout hier kan baie nadelig wees. Verkeerde sienings oor heiligheid kan oor die algemeen teruggevoer word na verkeerde idees van die mens se verdorwenheid. Ek maak geen verskoning daarvoor dat ek hierdie bundel referate oor heiligheid begin met reguit stellings oor sonde nie.”

Die harde waarheid is dat ʼn regte kennis van sonde die fondament vorm van alle verlossende Christelikheid. Daarsonder is leerstellings soos regverdiging, bekering, heiligmaking slegs “woorde en name” wat geen betekenis aan die verstand oordra nie. Daarom is die eerste ding wat God doen as Hy ʼn nuwe skepsel in Christus skep, dat Hy sy hart verlig en aan hom toon dat hy ʼn skuldige sondaar is (Holiness, p.1).

Hoe reg was Ryle tog nie! Hy was nie net leerstellig reg nie, maar ook in besonder op die vlak van praktiese Christelike ervaring. Slegs as ons begin besef wat ons was voordat ons Christene geword het (of wat ons natuurlikerwys sou wees as ons nie Christene was nie), begin ons iets verstaan van die geweldige grootsheid van nuwe skepsels in Christus te wees. Ons sou steeds God se liefde en goedheid nodig gehad het, selfs al sou die mensdom nie in sonde en verdorwenheid verval het nie. Maar die groot las van die evangelie is dat ons omstandighede oneindig ernstiger en sorgwekkend is. Ons sal nooit die werk van God, wat in ʼn Christen se lewe plaasvind, behoorlik kan verstaan nie, tensy ons eers tot ʼn mate ʼn begrip het van hoekom ons die genade van God nodig het.

Die Gevolge van Sonde🔗

Die Skrif gebruik ʼn ryke verskeidenheid van uitdrukkings om die verbrokkeling van ons verhouding met God, ons medemens, die wêreld om ons, en met onsself, oor te dra. Sonde mis die punt of doel wat God daargestel het, en skiet te kort aan die eer van God, waarvoor ons geskep is om ons in te verheug (sien Rom. 3:23). Dit beteken dat ons afwyk vanaf die regte pad en ons ʼn skuldigbevinding in die teenwoordigheid van die Ewige Regter sal ontvang. Reguit gestel, beteken dit dat ons rebelleer teen ʼn regverdige en liefdevolle Koning. Dit is om ʼn verraaier van die goedheid van God te wees (Rom. 3:10-18).

Maar daar is vier basiese aksente wat die droewige omstandighede waarin die mensdom hulself nou bevind, toelig.

(1) Die beeld van God geskend🔗

In Genesis 1:26-27 vind ons die oorspronklike goddelike patroon van die mens se lewe. Hy was die beelddraer van God:

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die visse in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” God het die mens geskep as Sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep."

man en vrou

In die geskiedenis van die kerk was daar baie gesigspunte oor die betekenis van “beeld van God”. Het God dan fisiese en liggaamlike eienskappe? Of moet ons in die mens ook ʼn drie-eenheid van menslike eienskappe soek in ooreenstemming met die Drie-eenheid van God? Is dit miskien omdat die mens ʼn vermoë vir verbale kommunikasie het en ʼn vermoë om te redeneer, net soos God wat Sy woord aan die mens bring? Die “beeld van God” beteken waarskynlik dat God die mens oorspronklik geskep het om Sy heilige karakter te vertoon, asook sy posisie om regverdig te heers oor Sy hele skepping. In daardie opsig is hy soos God.

Dit is ʼn verstommende gedagte dat die mens in die wêreld geplaas is ten einde God se persoonlike verteenwoordiger op aarde te wees. Die eerste hoofstukke van Genesis bevat iets van hierdie stille gees van verwondering. Aan die mens word skeppende magte gegee (Gen. 1:28); hy voer heerskappy (Gen. 1:26); soos God is hy ʼn skeppende werker (Gen. 2:15).

Maar in Genesis 3 gebeur iets in elkeen van hierdie areas wat God se genadige plan verwring. ʼn Boosaardige siekte versprei deur die mens se hele lewe vanaf die eerste oomblik wat hy gesondig het. Hy kruip weg vir God in die tuin (Gen. 3:8-10); sy verhouding met sy vrou, en hare met hom, word verwring tot lelike kwaadpratery en verwyte (Gen. 3:12-17); die aarde word vervloek; die mens se daaglikse arbeid word ʼn las eerder as ʼn plesier (Gen. 3:17-19). Dit is droewig genoeg, maar dit gaan saam met ʼn verandering in die beeld van God.

Teoloë het dikwels ʼn interessante vraag hier bespreek. Bedoel die Skrif dat die mens nie meer die beeld van God is nie? Of het die beeld gebly maar was dit grootliks geskend? Op baie maniere is dit selfs ʼn meer tragiese moontlikheid. Ons kan dit verdedig as ons sou dink dat daar nie ʼn groter ramp kan wees as dat die beeltenis van God uitgewis is nie. Maar daar is. Wat daarvan as die beeld van God, waarin Sy grootheid en heerlikheid vertoon word, ʼn verwringing word van Sy karakter? Wat as die mens, in plaas daarvan om die beeld van God te vertoon, begin om die teenoorgestelde van God te vertoon? Wat as God se beeld ʼn anti-god word? In wese is dit die belediging wat die gevalle mens vir God is. Hy neem alles wat God oorvloedig aan hom gegee het om hom in staat te stel om in vrye en vreugdevolle gehoorsaamheid te lewe, en verander dit in ʼn wapen waarmee hy sy Maker kan teenstaan. Selfs die asem wat God duisende kere op ʼn dag aan hom gee misbruik hy met sy sonde. Die omvang van sy sonde is ook die maatstaf van sy behoefte aan verlossing. Die wonder van God se verlossingsdoel lê daarin dat Hy, meer as wat ons kan dink, alles wil herstel wat verlore gegaan het. Maar die ou skepping moet verbygaan en ʼn nuwe daargestel word; wat in Adam verlore gegaan het, moet in Christus herstel word, as daar enige hoop sal wees om aan die heerlikheid van God, wat ons verloor het, deel te hê. Miskien het geen skrywer hierdie gesigspunt beter vasgevang as Johannes Calvyn nie:

“Adam is aan die begin geskep na die beeld van God, sodat hy, soos ʼn spieël, die geregtigheid van God kan weerkaats. Maar daardie beeld, wat deur sonde uitgewis is, moet nou in Christus herstel word. Die herskepping van goddelikheid is in werklikheid, soos gesê word in 2 Korintiërs 3:18, niks anders as die her-vorming van die beeld van God in hulle nie. Maar daar is ʼn baie ryker en kragtiger genade van God in hierdie tweede skepping as in die eerste ... Adam het die beeld wat hy oorspronklik ontvang het, verloor en daarom is dit noodsaaklik dat dit deur Christus vir ons teruggegee sal word. Daarom leer hy dat sy herskeppingsplan ons uit die sonde moet terug lei na daardie doel waarvoor ons geskape was.” (Commentary on Galatians, Ephesians, Philippians and Colossians, p.191).

gebroke spieël

(2)  Die Mens onder die heerskappy van sonde en dood🔗

Die dreigement van sonde en dood verskyn vroeg reeds in die verhaal van Genesis. Volgens die opdrag in Genesis 2:17 is die mens op die proef gestel deur God: “Van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” Maar Satan het gekom, vermom as ʼn slang, om die God–mens gemeenskap te vernietig. Hy het die bewering dat die mens onder die heerskappy van die dood sal kom, aangeval – “Julle sal beslis nie sterf nie” (Gen. 3:4). Hy het ook die goedheid van God ondermyn deur hul in te fluister dat God nie van hulle teenwoordigheid in die tuin hou nie (Gen. 3:4-5). Die res van Genesis 3 verhaal die droewige verhaal van hoe die mens toegee aan die versoeking. En as ons omblaai sien ons: “die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry” (Gen. 4:7). Dis ʼn beeld van ʼn wilde dier wat reg staan om op die ongelukkige slagoffer te spring. Dieselfde waarheid, net met ander woorde, vind ons in die onderrig van Jesus: “Elkeen wat sonde doen, is ʼn slaaf van die sonde” (Joh. 8:34). Paulus beklemtoon dieselfde punt in Romeine: die mens is “onder sonde”, soos slawe. Inderwaarheid, in Romeine 5:12-6:23 is die verwysings na sonde in Grieks gewoonlik “Die Sonde,” asof dit persoonlike afmetings aangeneem het.

As gevolg daarvan is die mens magteloos. Selfs al is die wil sterk, tog “die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (Rom. 7:19). In dieselfde brief word die resultaat veelseggend uitgedruk: “die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood ... die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie” (Rom. 8:6-8).

(3) Die mens is skuldig voor God🔗

Die eerste twee dimensies van die mens se toestand rig ons aandag op die gevolge van sonde in sy eie lewe. Maar die Skrif beklemtoon ook dat sy verhouding met God deur sy sonde verwring is. Die mens is skuldig. Hy ly nie net aan die gevolge van sonde in die vorm van menslike ellende nie, maar hy kom ook onder die oordeel van God.

Ons vind die duidelikste uiteensetting hiervan in Romeine. In Romeine 2:1-16 gee Paulus in breë trekke die beginsels wat God gebruik om oor ons lewens te oordeel. Hy wys dat God altyd in regverdigheid oordeel (Rom. 2:2), dat dit gedoen word volgens die mens se dade (Rom. 2:6), en dat dit aangepas word volgens die lig van die openbaring wat die mens ontvang het (Rom. 2:12-15). Dit is ʼn oordeel wat deur Christus gegee sal word (Rom. 2:16), en wat dus al die geheime van ʼn mens se hart in ag sal neem. Hierdie woorde word soms geneem asof  dit die toegeeflike houding van God in Sy oordeel aandui. Maar dit sal beteken dat ons God misverstaan, en dat ons Paulus verkeerd verstaan. In hierdie gedeelte van sy brief is hy besig om die skuldigheid van alle mense voor God uiteen te sit. Hierdie beginsels is die instrumente waarvolgens die ware aard van ons sondes duidelik gemaak sal word. Ons het geen werke om ons te regverdig nie. Ons het misluk om volgens die lig wat God aan ons gegee het, te lewe. Volgens die standaard van Christus se lewe is ons skuldige sondaars. Daarom is God se oordeel volgens die waarheid. Op enigeen van hierdie oordeel-beginsels kan Paulus ’n skuldigbevinding bewys, en ʼn uitspraak van veroordeling.  Daar sal geen verskonings geldig wees op die dag wanneer die mens verskyn vir die Laaste Oordeel nie. “Niemand sal hom kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God” (Rom. 3:19).

Paulus bedoel nie dat die mens ʼn groot aanvoeling vir sonde het nie. Dit maak nie saak nie of hulle dit aanvoel of nie. Hy is besig om die goddelike oordeel te beskryf, nie die menslike sielkunde nie. Maar iets veel erger gaan saam met hierdie oordeel, want op die skouers daarvan word die toorn van God teen goddeloosheid en ongeregtigheid geopenbaar (Rom. 1:18). Behalwe deur die Seun, sê hierdie apostel van liefde, “bly die straf van God op hom” (Joh. 3:36)

skuldig

(4) Die mens in die greep van satan🔗

Dit is ʼn aksioma in die Bybel dat hoe helderder die lig van God se openbaring is, hoe skerper is die donkerheid wat daarteenoor staan. Die lig wys die ware karakter van die donkerheid. Dit is ongetwyfeld waar in die geval van die blootlegging van die magte van boosheid. In die Ou Testament kry ons reeds verwysings na Satan en sy werk, en wenke oor sy karakter en bose bedoelings. Maar slegs in die lig van Christus lyk dit dat hy in die ope kom, ongemasker en geïdentifiseer. Gevolglik vind ons in die Nuwe Testament sulke verduidelikende dele soos Efesiërs 2:1-4, waar ons sien dat die mens ʼn lewelose dood in sonde lewe, oorheers deur die rigting en modes van hierdie wêreld, maar ook dat hy onder die heerskappy van die duiwel staan. Johannes gaan selfs so ver om voor te stel dat die hele wêreld in sy mag is, en dit onderstreep Jesus se beskrywing van Satan as die “owerste van die wêreld” (1 Joh. 5:19 e.v.; Joh. 12:31; 16:11). Die uiterste tragedie van die mens se selfbegrip is dat hy homself as vry beskou, en al die gevoelens van ʼn vrye saakwaarnemer het, maar nie besef dat hy die slaaf van sonde is en die wil van Satan dien nie.

Wat is dan die basiese behoeftes waaraan die boodskap van die evangelie voldoen?

  1. Ons het herskepping deur Christus nodig sodat die beeld van God, wat deur sonde verwring is, herstel kan word.
  2. Ons benodig bevryding uit die heerskappy van sonde sodat ons vry voor God kan lewe.
  3. Ons moet gered word uit die mag van Satan sodat ons lewens aan Christus die Here gewy kan word as Sy blye slawe van die verbond.
  4. Ons moet gered word van die toorn van God sodat ons, vrygestel van hierdie afskuwelikste van alle moontlikhede, die lewe kan lei van sondaars wat vergiffenis ontvang het.

Verlossing🔗

Die heerlikheid van die evangelie is dat dit aan ons behoeftes voldoen. Dit kom tot ons in ons sonde, en begin om dit wat verkeerd gedoen is in ons lewe, ongedaan te maak sodat God se beeld herstel kan word. Maar dit verklaar ook dat ons alreeds, in Christus, is wat ons in onsself sal wees, maar slegs wanneer ons omgevorm is deur die laaste groot krisis tot Sy volmaakte ewebeeld (1 Joh. 3:1-3). Waarskynlik is die wonderlikste dat God ons nie net vanaf ons menslike aard uitlig tot op die vlak wat Adam in die Tuin van Eden gehad het nie, maar tot op die vlak wat Adam bereik het in die teenwoordigheid van God, en steeds sou hê as hy volhard het in gehoorsaamheid. Die evangelie stel ons nie gelyk aan Adam in sy onskuld nie; dit maak ons soos Christus, met al die volmaaktheid van Sy beeld van God. Dit is die kern van die verlossing wat Christus gee, en dit ondersteun die patroon van die Christelike ervaring en leerstellings wat ons in die Nuwe Testament vind (Rom. 8:29).

Maar hoe word so ʼn verlossing deur Christus voorsien? Hy het in die wêreld gekom as die tweede mens, die Laaste Adam (1 Kor. 15:45,47). Uit hierdie volmaakte weergawe van die beeld van God kan ons krag verkry uit die krag van die Heilige Gees. Ons het deel daaraan dat Hy vir die heerskappy van die sonde dood is (Rom. 6:10). Onder Hom skuil ons vir die toorn van God, wetende dat Hy ons skuld gedra het (Gal. 3:13).

man by kruis

Hy is as sondaar behandel hoewel Hy sonder sonde was, sodat ons deur God, in Christus, vrygespreek kan word (2 Kor. 5:21). Hy het gesterf, die onskuldige vir die skuldiges, om ons tot God te bring (1 Pet. 3:18). Aan die kruis het Christus vir Satan oorwin, en hom ontbloot as ons vyand (Kol. 2:15).  Ons kan dus ook in Sy naam oorwin (Openb. 12:10). Christus is ons wysheid, vryspraak, heiliging en verlossing (1 Kor. 1:30). En ons sal vind dat deur Sy genade alles wat ons nodig het, aan ons voorsien sal word.

Daar is dan nog net twee vrae wat beantwoord moet word, en die antwoorde vorm die hoofbestanddeel van alles wat volg op hierdie bladsye.

Hoe kan ek in Christus kom, om die verlossing wat in Hom is, te kan ontvang. Ons sal die antwoord kry deur die bybelse lering oor die ingaan tot die Christelike lewe te ondersoek

Hoe verkry ek die genade en wese van Christus in my lewe? Ons sal die antwoord vind namate ons voortgaan om die bybelse lering oor heiligmaking en die uitwerking van die Christelike lewe te beskou.