God en genot
God en genot
Goeie mense gebruik die wêreld om God te kan geniet, terwyl die slegte (mense) God wil gebruik om die wêreld te genietAugustinus
Die bekende kerkvader uit Noord-Afrika, Aurelius Augustinus (354-430), is bekend vir sy soeke na die ware God en na die waarheid van God. In een van sy belangrikste boeke, Oor die stad van God (413-427), handel hy oor twee stede of twee lewenswyses: ’n lewenswyse volgens die vlees (van die mens) of volgens die Gees (van God), ’n lewe uit selfliefde of ’n lewe uit Godsliefde, ’n lewe in selfroem of ’n lewe in Godsroem.
In boek 15 van hierdie groot boek, wat uit 22 boekdele bestaan, bespreek die kerkvader die begin van hierdie twee stede (of koninkryke). Die twee stede (of koninkryke of lewenswyses) begin met Kain en Abel, Kain as verteenwoordiger van die stad van die wêreld wat stryd voer, teen Abel as verteenwoordiger van die stad van God.
Dit is duidelik dat daar in die teologie van Augustinus ’n besondere fokus is op God – natuurlik soos Hy Hom in Jesus Christus aan ons geopenbaar het. Die kerkvader maak ook ’n duidelike onderskeid tussen God en mens, God en wêreld. Nié so dat daar vir mens en wêreld geen plek in die koninkryk van God is nie, maar wél so dat die mens en wêreld hulle juiste plek ontvang en daaraan nie meer waarde toegeken word as aan (die onverganklike) God nie.
Augustinus oor “geniet” en “gebruik”⤒🔗
In hierdie verband gebruik die kerkvader twee begrippe wat nogal wye ingang gevind het, maar waarteen daar ook kritiek ingebring is, naamlik geniet en gebruik. Daar is dinge vir “genieting”, sê hy, en daar is dinge vir “gebruik”. Voorwerpe van “genot” maak ons gelukkig en voorwerpe van “gebruik” help ons op weg na dit wat ons gelukkig maak.
Om iets te “geniet”, is om iets in liefde aan te hang ter wille van daardie ding self, en om iets te “gebruik”, is om iets aan te wend ten einde dít te verkry wat jy begeer. Ons “geniet” dit waarin ons onsself verheug en ons “gebruik” daardie dinge wat ons met die oog op hoër doeleindes (ewige dinge) begeer. Tydelike dinge moet dus eerder “gebruik” as “geniet” word. En wat is nou die hoogste “ding”? God. Net God mag “geniet” word, dit wil sê ter wiIle van Homself liefgehê word.
Alle menslike ontaarding bestaan daarin dat mense begeer om te “gebruik” wat “geniet” behoort te word, en om te “geniet” wat “gebruik” behoort te word. Die goeie orde van sake bestaan immers daarin dat “geniet” word wat “geniet” moet word (naamlik net God) en dat “gebruik” word wat “gebruik” behoort te word (naamlik mense en dinge).
Tydelike dinge moet dus eerder “gebruik” as “geniet” word. Mense is dwaas wanneer hulle (byvoorbeeld) geld spandeer, nie ter wille van God nie, maar God dien ter wille van geld. In boek 15 van sy genoemde boek staan die beroemde formulering: Goeie mense gebruik die wêreld om God te kan geniet, terwyl slegte (mense) God wil gebruik om die wêreld te geniet (15.7).
Wat sê die Bybel?←⤒🔗
Augustinus het sekerlik ’n punt beet, want met sy onderskeiding wil hy verhoed dat ons die grote God op ’n klein skaal sal liefhê en die verganklike dinge op ’n groot skaal. Ons mag nie verganklike dinge onbeperk liefhê en die onverganklike God op beperkte wyse nie. Ons mag nie ons naaste met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons krag liefhê nie, en ons mag nie God liefhê soos ons ons naaste liefhet nie. In die eerste geval word alles gevra, in die tweede geval nié.
Ook die Bybel waarsku daarteen dat daar ’n tyd sal kom dat mense meer liefde vir (persoonlike) genot sal hê as liefde vir God (2 Tim 3:4). En het Christus nie ook gewaarsku dat die goeie saad van die Woord deur sorge en rykdom en genietinge van die lewe gaandeweg verstik kan word nie (Luk 8:14)? Wanneer ’n mens se lewe in aardse genietinge opgaan, gaan dit daarin onder.
Die vraag ontstaan onwillekeurig of ’n mens God ook kan “geniet”? – soos Augustinus aangevoer het. Inderdaad, as ’n mens dit reg verstaan in die sin van “vreugde hê in” en jou “verlustig in” die Here. Psalm 147:1 praat daarvan dat dit ’n “genot is om die loflied te sing wat die Here God toekom.”
Augustinus gaan egter te ver as hy oordeel dat Christene aardse dinge nie ook mag “geniet” nie – al is dit op voorlopige en beperkte wyse. Die Bybel waarsku wel daarteen dat Christene nooit hulle hoop op die onsekerheid van rykdom mag vestig nie, want ons hoop moet op Gód gevestig wees “wat alles ryklik aan ons gee om te geniet” (1 Tim 6:17). God gee álles aan ons om te “geniet” – maar ons mag nooit ons hoop op verganklike dinge plaas nie. Die “alles” sluit inderdaad álles in, van ons kos tot ons klere, ons huis tot ons motor, ons sport en ons vakansie, ons seksualiteit en ons liggaamlikheid, ons gebede en ons kerkgang.
Ons mag dus ook God se pragtige skepping geniet met sy bome en bosse en berge, sy kranse en klowe, sy vlaktes en vleie en valleie, sy spruite, riviere en mere, sy see en son en sterrestelsels (waaroor daar breedvoerig in hierdie uitgawe gehandel word). Alles mag geniet word, maar nie mateloos, soos vir God nie. Ons mag nie verganklike dinge “geniet” soos ons die onverganklike God “geniet” nie, naamlik volledig, met ons hele wese, met alles wat ons is en het.
Daarom: geniet jou vrou en man en kinders, jou grootouers en jou kleinkinders, jou familie en vriende, jou werk en ontspanning; geniet die kerk en die koninkryk van God; geniet Suid-Afrika, Afrika, die wêreld en die ganse grote skepping. Maar bo alles – en in alles – moet ons God met alles liefhê.