Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

In Gesprek met Jouself

praat in jouself🔗

Vergeet Nie om te Kommunikeer nie🔗

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs roep sy lesers op om tog nie na te laat om mededeelsaam te wees nie (13:16). Met meedeelsaamheid kan verskillende dinge bedoel word. Ons moet van ons rykdom aan ander wat behoeftig is meedeel. Maar dit is ook belangrik om ons gedagtes, ons innerlike gevoelens met ander te deel. Daar is 'n Engelse vertaling wat lui: 'Don't forget to communicate'. Vergeet nie om te kommunikeer nie. Ons is mos geskape om te kommunikeer. Kommunikasie met die medemens is 'n weldaad. Kommunikasie met God wat deur Woord en Gees bewerk word, is 'n seën. Kommunikasie met jouself is ook belangrik. Dit kan selfs baie noodsaaklik wees.

Praat in Jouself🔗

Daar is mense wat 'in hulleself' praat. Soms word beweer dat jy dit hoor by jong kinders en ou mense. Soms is dit verstaanbaar, maar ander kere kan jy glad nie hoor wat hulle in hulleself mompel nie. In jouself praat is egter iets geheel anders as met jouself praat. Dit is goed en soms kan dit selfs noodsaaklik wees om met jouself in gesprek te tree.

'n Voorgenome Gesprek🔗

Die Bybel ken ook die verskynsel van mense wat met hulleself 'n gesprek voer, wat met hulleself kommunikeer. Jesus vertel in Luk. 12 die gelykenis van 'n ryk man wat hard gewerk en goed geboer het en nou wil rus en van sy verworwe goedere geniet. Die dag voor sy dood vertel hy van sy beplanning. Hy gaan groter skure bou en daarin sy graan opgaar. "Dan sal ek vir myself sê: mens, jy het baie goed weggesit vir baie jare..." (vs. 17). Letterlik staan daar: "Ek sal vir my siel sê: 'Siel...'" Hy wil sy siel aanspreek. Siel is nie iets van homself nie, nie een of ander onderdeel van sy bestaan nie, nee die siel is die mens self. Hy beoog om met homself in gesprek te tree. Hierdie gesprek het egter nooit plaasgevind nie. Nog dieselfde nag het God sy siel, sy lewe van hom opgeëis (vs. 20).

Selfgesprek uit die Nood Gebore🔗

In die Ou Testament lees ons van iemand wat met homself kommunikeer, van 'n selfgesprek wat uit die nood gebore is. Die digter van Ps. 42 en 43 (hierdie twee Psalms vorm 'n eenheid) voel dat alles teen hom is. God, die mense, die skepping, alles lyk vir hom 'n bedreiging. Wat doen hy nou in sy nood? Hy praat met homself. In sy nood en vertwyfeling spreek hy sy eie siel aan: "Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my?" (42:6).

Hy praat met homself en hy vertel dat alles so onrustig is binnekant. Dit storm in sy binneste. Hy weet dit mos. Ja, en tog sê hy dit vir homself. Partykeer kan dit baie goed wees om in jou nood met jouself te praat, om jouself rekenskap te gee hoe dit vir jou lyk daar binnekant.

Selfaanmoediging🔗

Die digter bly in sy dialoog met homself nie staan by sy treurige toestand, die onrus van binne nie. Hy sê vir homself: ''Hoop op God!'' Hoop is vir die digter nie iets onsekers nie maar 'n vaste vertroue vir die toekoms. Sy siel, hyself moet op God hoop, dit van die Here verwag. 'Ja, ek sal weer 'n loflied vir Hom sing.' Daar mik hy op, op die lofprysing van God. Hy weet wanneer hy die Here weer kan loof, dan is die onrus, die spanning, die stres weg uit sy siel. Die mens is mos geskape vir die lofprysing van God. Daarin lê die hoogste geluk. Die mens is ten diepste 'n liturgiese wese (Van Ruler).

besorg🔗

Herhaling van die Selfgesprek🔗

Soms gebeur dit dat ons onsself opwek tot Godsvertroue, maar die onrus wil nie uit ons hart wyk nie. Dit bly onrustig binnekant. Wat doen die digter? Hy bly aanhou om met homself te praat. Ons moet tog daarop let dat in Ps. 42 en 43 tot drie maal toé die gesprek met homself genoem word (42:6, 12; 43:5). Hier kry ons 'n belangrike les. Soos die Here Jesus Christus in die tuin van Getsémané drie maal met dieselfde woorde met sy Vader gepraat het (Mat. 26:44), so gebruik die digter van Ps. 42 en 43 drie maal dieselfde woorde in sy gesprek met homself.

Die Groot Verandering🔗

Na die gesprek met homself het daar nog niks by die digter verander nie. Die storm het nog nie bedaar nie en die dreiginge het nog nie opgehou nie. Tog het daar baie verander. 'n Nuwe siening op God. God is nie meer vir hom die God wat Hom sou vergeet het (42:10), die God wat Hom sou verstoot het nie (43:2), maar Hy is sy Helper en sy God (42:6, 12; 43:5), die God van sy jubelende blydskap (43:4). So sien ons hoe goed dit is om in tye van nood met jouself te praat.