Gereformeerde Welsyn
Gereformeerde Welsyn
⤒🔗
Die Voorbeeld van Korinte←⤒🔗
Wat moet vir die kerk van vandag aanbeveel word as ‘goed vir die gesondheid’?
So verstaan ek die vraag na ‘gereformeerde welsyn’.
Dit is dalk ʼn goeie idee om dié vraag ʼn slag te benader vanuit die korrespondensie wat Paulus met die Christengemeente in Korinte gevoer het. Wat daar ook al sedert die eerste eeu verander het, in praktyk verskil dit nie veel of jy as gemeenteliggaam-van-Christus in ʼn pre-Christelike of ʼn post-Christelike tyd na jou gesondheid moet omsien nie.
Ons kan dalk deeglik aangespreek voel wanneer ons posisie vergelyk word met dié van die Korintiese gemeenskap. Was hulle dan nie die klein Christelike vuurtoring in ʼn groot veelrassige en multigodsdienstige wêreldhawestad nie? Dit was vir seker nie toevallig nie; en dít is – ook vir ons – ʼn belangrike besef. Die Heer van die Kerk het juis dié plek gekies om vir Hom ʼn bouwerk op te rig (1 Korintiërs 3:10). ʼn Strategiese plek as vrugbare akker vir sy Woord (1 Korintiërs 3:6-9); ʼn frontlinie van die Koninkryk. Die geskiedenis van die planting van die gemeente is aangrypend (Handelinge 18:1-18; 1 Korintiërs 2:1-5). Terwyl hy die evangelie van Christus verkondig, het Paulus die fondament gelê. Die gesonde leer moes die voedingsbodem wees waarop ʼn gesonde lewe voor God kon opbloei (1 Korintiërs 3:10vv). Dit gebeur nie vanself nie!
‘Liggaam’ as Kernbeeld←⤒🔗
Keer op keer hou die apostel vir hulle die spieël voor. ‘Hoe lyk ons as gemeente in die oë van God?’ is die voortdurende, noodsaaklike vraag. ‘Hoe funksioneer ons?’ Om as ʼn goeie instrument in diens van God en sy Ryk te kan funksioneer, is selfbewussyn nodig. Anders ploeter jy, voor jy weet, maar net aan.
Paulus gebruik heelwat beelde om die lewende, aktiewe gemeente van God te teken, maar dié van ‘die liggaam’ is die mees sprekende daarvan (1 Korintiërs 12, vgl. Romeine 12, Efesiërs 4, Kolossense 1). Dit is nuttig as ons die vraag na gereformeerde welsyn vertaal met ‘hoe gaan dit met die gesondheid?
Dit is ʼn bietjie dieper as ‘voel jy goed?’ Alles dui daarop dat dié gemeente oor die algemeen heeltemal ‘goed gevoel’ het. Was daar dan nie baie geestesgawes onder hulle nie (1 Korintiërs 14)? Afgesien van die feit dat hulle op party punte onseker was en enkele kwessies vir advies aan hulle oud-sendeling voorgelê het (bv. 1 Korintiërs 7-10), adem die geheel tog ʼn atmosfeer van ‘ons kan heeltemal goed vir onsself sorg’ (bv. 1 Korintiërs 4:7). ʼn Gevoel van ‘gearriveerdheid’ was dus nie vreemd nie. Maar hulle ís nog nie daar nie!
‘Dokter’ Paulus skryf dan ook aan hulle ʼn brief, met diagnoses en medikasie, wat nie lieg nie.
Laat Sien Wie Christus Is←⤒🔗
Dit word soms oor die hoof gesien dat dit hier om meer as ʼn vergelyking gaan. Paulus sê nie dat die gemeente soos ʼn liggaam is nie, maar dat die gemeente die Liggaam van Christus self ís! (1 Korintiërs 12:12, 27. Vgl. ook Handelinge 9:4: raak aan die gemeente, en jy raak aan Christus self).
Ons liggaam, met alles daaraan en daarin, wys aan ons omgewing wie ons is – die Liggaam van Christus. Die Liggaam, die gemeente in totaliteit, moet laat hoor en sien wie Christus is in ʼn wêreld wat Hom moet leer ken. En dit nie so nou en dan, op ‘godsdienstige geleenthede’ nie, maar voltyds. Dit is die impak van ʼn gehoorsame gemeente! En die negatiewe impak van ʼn ongehoorsame gemeente.
Die buitestaander wat die kerk – deur die skuld van die lidmate – leer ken as ‘gearriveerd’, op ʼn afstand, na binne gekeer, nie gasvry nie, onderling verdeeld, verdraagsaam oor sondige praktyke, onregverdig, onbarmhartig, leer Christus nie ken soos Hy is nie. En dit is juis die bedoeling! Die Liggaam het ʼn groot verantwoordelikheid gekry! ʼn Hele uitdaging!
ʼn Ontdekkende Beeld←⤒🔗
Lewe-as-Liggaam beteken baie dinge. Ons kan nie na volledigheid streef in die kort bestek nie, maar gee ʼn kort opsomming.
- Lewe-as-Liggaam is om voortdurend jou gesamentlike afkoms te besef: deur één en dieselfde Gees in die liggaam ‘ingedoop’ (1 Korintiërs 12:13).
- Lewe-as-Liggaam beteken om te besef dat jy sonder Christus niks kan doen nie. Soos by die menslike liggaam elke beweging, hoe minimaal ook al, plaasvind danksy die ‘sentrale’ (die brein), só het die Liggaam vir Christus as Sentrale: al die lyne van diensbaarheid kom by Hom uit (1 Korintiërs 12:27).
- Van diensbaarheid gepraat: nie net sómmiges, die ‘happy(?) few’ is in diens nie, maar álmal moet leef vanuit die oortuiging: ek is diensbaar op my eie plek en met my eie gawes; in diens genéém (1 Korintiërs 12:18, 28).
- Lewe-as-Liggaam beteken dat ons die diens verrig in onderlinge afhanklikheid. Om in partyskappe (1 Korintiërs 1:10-17) by mekaar verby te lewe of andersins nie vir mekaar daar te wees nie (1 Korintiërs 12:21) beteken vir die Liggaam-as-geheel gewaarborgde ongeluk (Christus verdeeld). Niemand kan op sy of haar eie voortgaan nie (1 Korintiërs 12:14, vgl. Nederlandse Geloofsbelydenis art. 28), want niemand beskik oor al die nodige gawes nie (1 Korintiërs 12:17-20). Net so kan geen lid ontbeer word nie, elkeen kry immers gawes, en nie sonder rede nie (1 Korintiërs 12:7-11, vgl. Heidelbergse Kategismus Sondag 21 V&A 55).
- Lewe-as-Liggaam beteken dat daar nie plek is vir trots of jaloesie nie (1 Korintiërs 12:21; vgl. 1 Korintiërs 13:4). Vir onafhanklike gedrag is daar nie plek nie (1 Korintiërs 12:21vv).
- Daar moet wel wedersydse respek tussen die lede wees: juis omdat elkeen uniek is én daar terselfdertyd eenheid is in afkoms, doel en werkswyse, kan die geheel in harmonie funksioneer. Hulle is mekaar onderling tot steun (1 Korintiërs 12:25-26; 14:26v; 1:5; 2 Korintiërs 13:11).
- Lewe-as-Liggaam beteken om daaraan toegewy te wees om te groei – bewustelik (1 Korintiërs 12:31 en 1 Korintiërs 13). Ons is nog nie daar nie! Hoe baie moet ons nie nog groei in harmonie, statuur en bruikbaarheid vir God nie. Dit is noodlottig as ʼn gemeente die idee kry dat hulle byna op pensioen is, terwyl hulle in werklikheid, by wyse van spreke, nog maar in die puberteit is (vgl. Efesiërs 4:13-15).
- Die sement vir die opbou van ʼn geestelike Liggaam is die liefde wat beoefen kan word in ʼn reënboog van moontlikhede (1 Korintiërs 13; vgl. Efesiërs 4:16).
As die Liggaam Siek is....←⤒🔗
Ons weet dit: wie siek is, het genoeg aan sy eie probleme. Hoe sal ʼn (ernstig) sieke ʼn ander te hulp kan kom?
Hoe sal die Liggaam werfkrag hê as hy sy hande vol het met homself? Dan hier, dan daar, breek die siekte uit. Dit bring leed en stryd (1 Korintiërs 12:26) vir al die lede. Die siekte moet bestry word. En die medisyne? Liefde (dit wil sê geduld, vriendelikheid, volharding, regverdigheid ...) Ek noem ʼn paar siektes wat dikwels voorkom. U kan op dié spoor soek na kindersiektes (jong gemeentes) of ouderdomskwale.
-
Amputasie is ingrypend, maar kom voor (1 Korintiërs 12:15-16). Lede wat hulleself amputeer. Wat doen ons daaraan? Om dit te laat gebeur lei tot groot skade aan die Liggaam, en dus aan Christus.
- Iets heel anders is lede wat soos ʼn soort galstene wel ín die Liggaam is, maar nie daar hoort nie en net kwaad aanrig (1 Korintiërs 5:13). ʼn Groot operasie is noodsaaklik.
-
Olifantsiekte. In hierdie geval nie soseer ʼn tropiese siekte nie as ʼn Westerse een. Enkele lede het proporsies aangeneem wat veel groter is as wat goed is vir hulleself en die gemeenskap. Hulle kan nie hulle taak self meer verrig nie en is die liggaam eerder tot las as tot lus. Elkeen sal sy eie gawes moet ontdek en benut. Niemand kan alles op sy eie skouers neem nie (1 Korintiërs 12:29-30).
-
Algehele slapte. Geestelik uitgeteer deur (hoe paradoksaal!) net te bly inneem. Niks meer doen as om, dik tevrede met jouself, jou plekkie in die erediens in te neem nie. Daar sal geóefen moet word met daardie opgegaarde geestelike energie. Die energie sal verbrand moet word (1 Korintiërs 14:24-25).
‘Oefening van die liggaam is tot weinig nut’ leer Paulus vir Timoteus (1 Timoteus 4:8). Waarom? Omdat daar dan te min aandag oorbly vir die oefening van die Liggaam. Lees 1 Korintiërs 15:28!
-
Breuke in die liggaam: weet ons daarvan (1 Korintiërs 12:26), of het ons gevoelloos geword? ʼn Liggaam wat normaal funksioneer ly aan elke gebreekte toon. Hy dink gedurig daaraan en doen alles om herstel te bewerk. As ons ons meer indink wat ons Hoof, Jesus Christus, moet voel as sy liggaam so deur veelvuldige breuke geteister word, sal dit ons ook aan die hart gryp. Partyskappe is ook breuke of ‘dreigende breuke’ (1 Korintiërs 1:10).
- Dit is nie net ryk ou mense wat aan jig ly nie. Ook die Liggaam kan daaraan ly: litte skuur teenmekaar. Dit is uiters pynlik as die kraakbeen van die liefde (1 Korintiërs 13) nie meer daar is nie. Alles gaan stroef en teësinnig.
- As die gemeente met introversie gepla is, sal daar aan ander nie veel gedoen word nie. Aan finansiële noodleniging (1 Korintiërs 16; 2 Korintiërs 9)? Of geestelike nood (1 Korintiërs 4:23-25)? Daar sal nie veel van teregkom nie.
←⤒🔗
Ten Slotte←⤒🔗
Ons het gesien, al was dit kort en onvolledig, wat dit inhou om Liggaam van Christus te wees. Ons het ʼn paar komplikasies genoem wat bestry behoort te word. En laat ons een ding duidelik stel: dit kán bestry word! Dit is nie verniet nie dat die Gees van Christus sy Liggaam toerus met ʼn groot verskeidenheid genadegawes (charismata), dienste/bedienings (diakoniai) om daarmee aan die werk te gaan, en werkinge (energemata: krag om dit aan te durf) (1 Korintiërs 12:4-11). Wanneer elkeen hulle daarop toelê om sy of haar lewe as lewende lid saam met die ander te lewe, is daar persoonlik blywende lesse uit hierdie boek te leer:
-
Laat ek nie die gawes wat God aan ander gegee het, minag of hulle daaroor beny nie.
-
Laat ek deurgaans daaraan dink dat ‘die vyand’ verdeeldheid tussen lede van die liggaam saai, terwyl die Gees verenig.
-
Laat ek insien dat ook ek nodig het om te leer van Christene wat nie dieselfde is as ek nie, en nie bly hang in my eie ‘vriendskapsklub’ nie.
-
Laat ek nie vergeet om die Heilige Gees te vra om my die gawes te laat ontdek wat Hy my in beginsel te bate van die hele Kerk toebedeel het nie.
-
Laat ek op my hoede wees om nie selftevrede te wees met wat ek bereik het nie: ek moet ‘hoër gawes’ verlang en deurentyd daaraan dink dat diensbaarheid Jesus se kriterium vir grootheid was en is.
- Laat ek bid dat ek deurgaans sal besef dat die kroon van die gawes van die Gees is om die pad van liefde te wil gaan: die enigste Weg wat werklik groei kan gee, werklike gesondheid, werklike welsyn.