Georg Friedrich Händel: 'Ek Weet my Verlosser Leef'
Georg Friedrich Händel: 'Ek Weet my Verlosser Leef'
Georg Friedrich Händel is op 23 Februarie 1685 in Halle gebore.
Dit was skaars vier weke voor sy belangrike tydgenoot, Johann Sebastian Bach, en ook nie ver van sy geboorteplek Eisenach af nie. Bach is uit 'n geslag van musici gebore en die beoefening van musiek was van jongs af vir hom vanselfsprekend. Daarenteen was Händel se vader, Georg, 'n barbier en sjirurg in diens van die hertog van Weissenfels. Hy was wel nie afsydig teenoor musiek nie, maar sy ideaal was tog dat sy seun 'n regsloopbaan moes volg.
Händel was 'n wonderkind wat reeds op sewejarige ouderdom as orrelis die aandag van die Hertog op hom gevestig het. Op laasgenoemde se aandrang het Georg sy seun laat les neem by F. W. Zachau, die orrelis van die Liebfrauenkirche in Halle en wat self 'n gesiene musikus was. Net soos Bach het Händel op 18 jarige ouderdom die pos van orrelis beklee. Sy strewe was egter om met die wye musiekwêreld kennis te maak en gevolglik vertrek hy na Hamburg waar hy besef dat sy ontwikkelingsrigting nie op die gebied van die kerkmusiek nie, maar wel in die operawêreld lê. Hy vertrek dus na Italië waar hy in Florence, Rome, Napels en Venesië met die belangrikste Italiaanse komponiste van sy tyd, Alessandro en Domenico Scarletti asook Corelli, in aanraking kom. Hier het Händel naas verskeie operas ook 'n aantal kerkmusiekwerke gekomponeer. Dan volg 'n kort verblyf in Hannover in diens van die Keurvors wat die latere George I van Engeland sou word. Daarna gaan hy na Londen. Dit sou sy tweede tuiste word en in 1726 aanvaar hy Engelse burgerskap. Hier is hy as groot komponis geëer en was hy ook 'n gesiene gas op die landgoedere van die adellikes. In 1719 het hy opdrag gekry om 'n nasionale opera tot stand te bring.
Lewenswerk in Oratoria⤒🔗
Händel het 'n groot deel van sy lewe en kragte aan die opera gewy, nogtans is dit veral as komponis van oratoria dat hy vandag algemeen bekend is. Na die mislukking van sy opera-onderneming het hy hom in die laaste gedeelte van sy lewe uitsluitlik op die oratorium toegelê. Hiervan het hy tot 1757 in totaal 32 gekomponeer. Agter sy vergeefse stryd vir die opera staan 'n onbuigsame wil en heroïese energie. Sy wending van opera na oratorium getuig van selfoorwinning en ongewone menslike grootheid.
Hierdie werke word sonder handeling uitgevoer, maar hulle kan in 'n sekere sin as kooroperas bestempel word. Die rede hiervoor is dat die dramatiese verloop in die meeste gevalle in die groot koorgedeeltes aangedui word. Dit is opmerklik dat die stof vir hierdie werke byna uitsluitlik uit die Ou Testament geneem is. Die musikale weergawe van die Bybelse figure kry by Händel nie die teologiese besinning soos 'n mens in die werke van J. S. Bach aantref nie. Händel wat by uitstek 'n operadramaturg was, dui veral menslike eienskappe aan. Van sy belangrike werke in die verband is Israel in Egipte, Saul, Simson, Salomo, Ester, Josua, Jefta en Judas Makkabeus.
"Die Messias"←⤒🔗
Daar is een werk wat eintlik verantwoordelik was vir die ontstaan van 'n oratoriumtradisie, veral in die Engelssprekende wêreld. Dit is die Messias, wat ook meer as enige ander oratorium uitgevoer word. Dit is Händel se enigste oratorium wat op 'n Nuwe Testamentiese tema gebaseer is. Die teks is deur Charles Jennens saamgestel. Dit is geneem uit die Profete, die Evangelies, die Sendbriewe en die Openbaring van Johannes. Dit is op so 'n wyse saamgestel dat dit die profesie oor die koms van Christus, sy geboorte, lyding, sterwe en opstanding sowel as sy verlossingswerk belig. Hierdie werk is nie 'n "helde-oratorium", in die sin dat die sentrale figuur self aan die woord gestel word nie. Veel eerder word die Messias in die vorm van liriese beskouinge in die arias aangedui word – soos in: Hy sal sy skape laat wei; Hy was verag. Die koor het in hierdie werk 'n belerende, profeterende en lofprysende funksie.
Hierdie monumentale werk is in 1741 geskep – binne 24 dae. Dit gee 'n aanduiding van Händel se ongelooflike werkywer en vitaliteit. Die Messias is die eerste keer in April 1742 in Dublin uitgevoer en die opbrengs was ten bate van liefdadigheid. En hierdie gebruik het Händel voortgesit om die oratorium in Londen te laat uitvoer ten bate van liefdadigheid. Dit het gebeur van 1750 af – selfs na hy blind geword het – tot kort voor sy dood op 14 April 1759. Engeland het aan Händel die laaste eer bewys deur hom 'n rusplek in Westminster Abbey te gee. Die grafmonument beeld Händel uit met 'n bladsy uit Die Messias in sy hande – en daarop verskyn 'n gedeelte van die aria Ek weet dat my Verlosser lewe.