Genesis 32 - Waarom het God met Jakob geworstel?
Genesis 32 - Waarom het God met Jakob geworstel?
Waarom het God met Jakob geworstel (Gen. 32:24-30)? Was dit werklik 'n fisiese worsteling?⤒🔗
Prof. G.J.C. Jordaan antwoord:←↰⤒🔗
Die gebeure daardie nag by die Jabbok, soos Genesis 32 dit beskrywe, het 'n radikale wending in Jakob se lewe teweeggebring. God het daar 'n ingrypende verandering in Jakob se lewe aangebring, sodat hy wat tot op daardie stadium Jakob (dit beteken: bedrieër) was, 'n nuwe naam ontvang: Israel (dit beteken: stryder van God, of: God regeer).
Watter verandering het Jakob dan daardie nag ondergaan? Dit was die verandering van die bekering. Ons weet dat God Jakob van die begin af uitgekies het om die verbondslyn van die aartsvaders voort te sit (vgl. Maleagi 1:2), maar Jakob was nog nie gereed vir hierdie taak nie. Jakob was nie bereid om geduldig te wag dat God sy beloftes tot vervulling bring nie. Getrou aan die betekenis van sy naam "Jakob" ("bedrieër") het hy op allerlei skelm maniere probeer vooruitgryp om die beloftes van die Here self te bekom:
- Eers koop hy Esau se geboortereg deur Esau se honger uit te buit;
- Daarna bedrieg hy sy blinde vader Isak deur hom as Esau voor te doen en om so die seën te verkry;
- En daardie dag voordat hy deur die Jabbok Esau tegemoet sou trek, stuur hy eers 'n groot klomp geskenke vooruit om Esau "om te koop".
Hierdie Jakob moes eers verander word voordat hy die beloftes van God kon ontvang.
Daarom is hy daardie nag by die Jabbok as't ware ingebreek. Aan die einde van die worsteling vra God hom na sy naam, en hy antwoord: "Jakob". Hierdie antwoord was in werklikheid 'n skuldbelydenis: hy erken dat hy tot nog toe as 'n bedrieër opgetree het. Hy dring ook daarop aan dat God hom sal seën. Daarmee het hy sy geloof in die almag van God bely: die seën van Isak het hy met bedrog verkry; die seën van God ontvang hy omdat God in erbarming gee aan dié wat Hom met 'n opregte hart smeek.
Die stryd wat Jakob daardie nag deurgemaak het, was dus die worstelstryd van bekering, wat 'n totale hartsverandering by hom veroorsaak het. Daarom kan 'n mens met stelligheid beweer dat sy stryd veel eerder 'n geestelike worsteling was as 'n fisiese worsteling. Verskeie verklaarders verwys dan ook na die gebeure van daardie nag as 'n visioen. 'n Fisiese worsteling kon dit kwalik wees, want, soos Calvyn dit stel: wie sou een oomblik kon bly staan teen Hom voor wie se asem alle vlees verdwyn en wie se blik die berge wegsmelt? Maar al was dit 'n geestelike worsteling, was dit steeds 'n werklike worsteling - daarom die teken van die mank heup.
Dit is ook insiggewend dat God nie teen Jakob geworstel het nie, maar met hom geworstel het. Die worstelstryd van die bekering is immers 'n worsteling waarin Jakob slegs kon oorwin indien God (saam) met hom geworstel het.