Gelowige Besinning
Gelowige Besinning
Ons lees in Handelinge 15:6 dat die apostels en ouderlinge vergader het om die besnydenis-kwessie wat in die gemeente van Antiochië opgevlam het, te ondersoek.
Dit is opmerklik dat die gemeente van Jerusalem ten nouste by hierdie besondere vergadering betrokke is. Reeds toe die ampsdraers van Antiochië in Jerusalem aangekom het, was die gemeente daar om hulle te verwelkom. Later in die hoofstuk bemerk ons dat die gemeente die verrigtinge met belangstelling gevolg het (vers 12). As daar besluite geneem moet word, is die gemeente selfs by om hulle inset te lewer (vers 22). So is dit reg. ’n Kerklike vergadering is geen geheime samekoms agter geslote deure waarvan die gemeentes uitgesluit word nie. Uiteraard is daar sekere sake wat in camera bespreek en beslis moet word. Deurgaans is die vergadering egter oop. Dit is goed dat lidmate weet wat daar gebeur. Per slot van sake raak dit wat daar bespreek en besluit word ons almal direk.
Goeie Begin⤒🔗
Die vergadering in Jerusalem het op ’n hoë noot begin. Die afgevaardigde ampsdraers van Antiochië doen verslag van al die dinge wat God met hulle gedoen het. Nie die ‘Handelinge van die apostels’ nie, maar die ‘Handelinge van God’ dien as vertrekpunt vir die vergadering se werksaamhede. Dit is belangrik om in die kerk van die Here op hierdie manier te werk. Wie met menslike verskilpunte begin, sal hoogs waarskynlik in menslike verskilpunte eindig. Maar wie met eenheid in die Here begin, sal die verskilpunte in die Here kan uitsorteer. Die begin in Jerusalem was goed.
En Toe?←⤒🔗
In reaksie op die verslag van die ampsdraers uit Antiochië het sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs opgestaan (vers 5). In die Grieks word ’n sterk woord vir hulle optrede gebruik. Hulle het driftig opgestaan, opgevlieg in die vergadering. Dit wat hulle sê sluit by hulle onstuimige optrede aan: ‘dit is noodsaaklik dat hulle – die heidene wat tot geloof kom – besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou’. Hier is geen sprake van rustige, ordelike gesprek nie. Daar word onmiddellik eise gestel: die besnydenis is ’n moet, die onderhouding van Moses se wet is ’n moet. Hierdie eise is selfs meer as dit wat die predikers in Antiochië gestel het.
Daar word nie gesê: ‘so sê die Here’ nie. Dit is menslike eise. Omdat dit menslike eise is, is dit ook waarskynlik die rede waarom dit so heftig gestel word. As ’n mens jou saak wil stel, help dit soms om ontsag in te boesem deur kras op te tree. Party mense val daarvoor. Maar so verwag die Here dit nie van sy kinders nie. Sy lewende Woord kan rustig gestel en aangehoor word. Die oortuigingskrag sit immers in die Woord self!
Beheers deur die Gees←⤒🔗
Die driftige optrede van die gelowiges uit die party van die Fariseërs het opnuut tot ’n groot woordewisseling gelei. Die geskiedenis van Antiochië is besig om homself te herhaal. Só kom daar geen vordering nie. Daarom staan Petrus op. Hy is in die gemeente van Jerusalem ’n gerespekteerde voorganger. Hy skep orde in die onstuimige vergadering. ‘Broeders’ – so spreek hy die aanwesiges aan. Broeders, medegelowiges: almal van julle. Die ampsdraers uit Antiochië is broeders. So-ook die gelowiges uit die party van die Fariseërs. ‘Broeders’: in dié aanspraak lê ’n enorme appèl opgesluit. Broeders, laat ons onsself nie onnodig opwerk en vertoorn nie. Laat ons daaraan dink wie ons is, wat die doel van die vergadering is, wat ons hier moet doen. Ons is almal kinders van God, ampsdraers in diens van die Allerhoogste, geroep om in rustigheid en verantwoordelikheid die sake te behandel wat ter tafel is.
Die Praktyk Praat←⤒🔗
In lyn met die aanspraak gaan Petrus voort om die inhoud van die besnydenis-vraagstuk aan te roer. Hy verwys na sy eie optrede in die huis van die hoofman Cornelius. Vir hom wat Petrus is, was dit aanvanklik nie maklik om na die heidenman Cornelius toe te gaan nie. Die Here moes hom met ’n laken vol rein en onrein diere oortuig dat Christus die Ou Testament vervul het en die pad na die heidene oopgemaak het. Petrus het toe gegaan en die heiden-gesin, wat tot geloof gekom het, gedoop. Op daardie dag het hy met sy eie oë gesien hoe die Heilige Gees op Cornelius-hulle uitgestort word. Oor al hierdie dinge praat Petrus vrymoedig. Na aanleiding van dit wat hy beleef het stel hy die kritiese vraag: mag daar ’n ekstra juk op die heidene gelê word deur te verwag dat hulle besny moet word? Is dit reg om te eis: glo in Jesus Christus én word besny? Petrus antwoord die vraag self. ‘Ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook’. Broeders uit die party van die Fariseërs: julle eis is verkeerd. Broeders wat in Antiochië gepreek het: julle preek was dwaalleer, dit is nie Skriftuurlik nie.
Die hele menigte het daarna geswyg. Petrus se spreekbeurt skep rustigheid. Wat hy sê, is die waarheid. Tog ontbreek daar iets in wat hy sê. Almal swyg: niemand verskil nie, maar ook is daar niemand wat tot ’n besluit kan kom nie.
Die volgende sprekers is Barnabas en Paulus. In dieselfde trant as Petrus vertel hulle van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Die praktiese voorbeelde van hoe God in Christus die Ou Testament vervul het, word vermenigvuldig. Maar die hele menigte swyg steeds.
Geopende Woord←⤒🔗
Toe praat Jakobus, ’n ander voorganger in die Jerusalemse gemeente. Jakobus bevestig alles wat Petrus en Barnabas en Paulus reeds gesê het, maar gaan dan ’n stap verder as hulle. Hy maak die Skrif oop en beduie: kyk, alles wat gesê is, staan swart op wit geskrywe. Dit wat Petrus en Barnabas en Paulus beleef het, stem ooreen met die woorde van die profete. Jakobus haal uit die profesie van Amos, hoofstuk 9:11 en 12, aan. God gaan die vervalle hut van Dawid weer oprig. Hoe? Vir wie? Allereers vir die gelowige oorblyfsel uit Israel wat die HERE van harte soek; dan ook vir die ander nasies oor wie die Naam van die Here uitgeroep is. Ook die heidene sal na Pinkster in God se ryke beloftes deel.
Vanuit die Skrifte toon Jakobus aan dat die ander ampsdraers wat uit die praktyk gepraat het, reg is. Op grond van die Skrifte kom hy tot ’n slotsom. ‘Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie’ (vers 19). Broeders wat preek dat die besnydenis ’n moet is, broeders uit die party van die Fariseërs wat maak asof Christus die Ou Testamentiese wet van Moses nie vervul het nie – kom ons buig almal saam voor die Skrifte!
Jakobus se oordeel oor die eis van die strydende broeders is klinkklaar. Die Skrifte het gepraat – dan is dit klaar gepraat.
Die Bybel in Praktyk←⤒🔗
Jakobus rig ook nog ’n boodskap aan die adres van die bekeerde heidene. Oor hulle nuwe lewenswandel oordeel hy dat hulle hul geheel en al moet weerhou van alle heidense praktyke, soos afgodsoffers en hoerery en alles wat daarmee saamgaan. Heidene wat Christene geword het, moet deur hulle lewenswandel laat blyk dat hulle waarlik kinders van God is. Hulle is mos gedoop in die Naam van die Drie-enige God? Laat dit dan ook sigbaar wees in hulle optrede! Leef soos kinders van die lig! Dit is Jakobus se Skriftuurlike boodskap aan die bekeerde heidene.
Uit hierdie verloop van sake leer ons hoe om in die kerk van die Here gehoorsaam en weloorwoë en soekend vir die behoud van die ander op te tree. Erken en respekteer mekaar as broeders, ook al verskil ’n mens op ’n bepaalde punt radikaal van mekaar – daar begin dit. Gaan vanuit daardie beginpunt na die Woord van God toe. Menslike ervarings, hoe waar en mooi en goed hulle ook al mag wees, gee nie die deurslag nie. Omdat ’n ding altyd so gewerk het, is nog geen bewys dat dit reg is en dat ’n mens daarmee moet voortgaan nie (vergelyk Artikel 7 NGB). Die Woord van God is die waarheid. Op sterkte daarvan kan sake uitgesorteer word. Gelei deur die Woord kan kerklike vergaderinge tot beginselvaste oordele kom wat met vrug in die kerklike lewe uitgevoer kan word.