Geloofsblymoedigheid
Geloofsblymoedigheid
Die baie bekende "verbly julle altyd in die Here" van Efesiërs 4:4 is op die oog af 'n maklike opdrag. Ook die daaropvolgende "laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word" (4:5). Want wat kan makliker wees as om met 'n glimlag rond te loop en om met 'n gereelde goeie kwinkslag die gesigte om jou te laat ontplooi?
Altyd blymoedig?⤒🔗
Maar baie moeiliker as die glimlag en die kwinkslag is daardie “altyd" van Efesiërs 4:4. Wat van die dag as dit swaar gaan, of as rampe jou tref, as vernedering of vervolging oor jou kom, wanneer jou ergste vrese oor die uitslag van die referendum bewaarheid is: is 'n glimlag dan nóg moontlik? Of in die geval van siekte, of as 'n dierbare skielik deur die dood weggeruk word: pas 'n glimlag dan by die gelowige?
Valse blymoedigheid←⤒🔗
Onder sulke omstandighede moet 'n mens natuurlik baie versigtig wees vir 'n valse glimlag. Allermins bedoel Efesiërs 4:4 dat ons in teëspoed 'n blote vertoon van blymoedigheid moet opsit — 'n glimlag aan die buitekant, terwyl dit hierbinne vreet. So-iets is nie blymoedigheid nie, maar dwaasheid. Valse blymoedigheid is 'n resep vir spanning en depressie.
Die bedoeling is ook nie dat ons maar alle probleme van ons moet probeer weglag nie. Wie met 'n blote skouerophaling die krisisse van die lewe oor hom laat spoel, of selfs 'n grap van die lewe probeer maak, is nie blymoedig nie, maar onverantwoordelik. So iemand probeer om van sy probleme af weg te vlug, maar God verwag van sy kinders om die lewe in die gesig te kyk, elke probleem aan te pak en te doen wat Hy in sy genade jou toelaat. “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing", skryf die apostel vroeër in die Filippensebrief 2:12.
Egte geloofsblymoedigheid←⤒🔗
Maar dan steeds met blymoedigheid. En blymoedigheid hoef nie noodwendig aan 'n glimlag op die gesig gesien te word nie. Ware blymoedigheid lê dieper. Dit is iets wat uit die hele lewe van die gelowige uitstraal. Dit is 'n lewenshouding, vrug van die geloof (Gal. 5:22).
Ware geloofsblymoedigheid is 'n lewenslied van die sondaarmens wat die vreugde daarvan het om God te ken. Dit is 'n blydskap wat voortspring uit algehele vertroue op God:
- vertroue dat God vir sy kinders alles ten goede laat meewerk (Rom. 8:28);
- vertroue dat die Here sy beloftes sal uitvoer (Heb. 10:23);
- vertroue dat God altyd naby is (Fil. 4:4) om ons te beskerm en om elke gebed te verhoor (4:6-9);
- vertroue dat die Here weer kom om, soos Hy beloof het, alles en almal volkome nuut te maak (Open. 21:10).
Geloofsekerheid←⤒🔗
Die blydskap van die gelowige bestaan dan daarin dat hy nie selfversekerd of vol selfvertroue die môres en oormôres aanpak nie, maar in die sekerheid van geloofsvertroue in ons Here God.
Wanneer geloofsvertroue in die Here ons hele lewe stuur en rig, dan is blymoedigheid 'n onaf-skeidbare deel van ons mondering. Dan kan ons altyd bly wees, want ons is bly "in die Here"! Altyd: soos Paulus wat hierdie befaamde woorde in gevangenskap skrywe.
Vir ons kan die teleurstelling van 'n referendum dan nie die einde van die wêreld wees nie, want ons het 'n blye vertroue op die sorg en beskikking van God. Die siekte kan maar pynig; die beursie kan maar leeg wees; die plek langs my stil wees; die magte van geweld kan oor ons losbars: ons gaan met geloofsekerheid vorentoe, want "met U loop ek 'n bende storm, met my God spring ek oor 'n muur!" (2 Sam. 22:30).