Geloof en Vertroue
Geloof en Vertroue
Uit die verskillende maniere waarop geloof in die Skrif beskryf word is dit duidelik dat die saligmakende geloof uit verkillende “handelinge’ bestaan. Ons sien in hierdie beskrywings ʼn bepaalde ontwikkeling en groei van die geloof wat aan gelowiges gegee word en deur hulle beoefen word. In Lukas 17:5 staan daar byvoorbeeld: “Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof”.
Christus is altyd die hoofsaak van die geloof, maar geloof hou in om jou na Christus te wend (Jes. 45:22), na Hom te kom (Matt. 11;28), na Hom te vlug vir beskerming (Heb. 6:18), Hom aan te neem (Joh. 1:12), jou met Hom te beklee (Rom. 13:14) en jou aan Hom te gee (2Kor. 8:5).
Al hierdie dinge beskryf die tweede handeling van saligmakende geloof, naamlik vertroue in Christus. Ons het reeds gesê dat die ander hoofsaaklike handeling van saligmakende geloof die kennis is. vertroue is dan die ander. Hierdie twee elemente van saligmakende geloof word in 2 Timótheüs 1:12 in hulle verhouding tot mekaar beskryf: “ . . . ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe”. Dié vers wys daarop dat vertroue, of oortuig wees, op kennis gegrond is. die woord oortuig beklemtoon dit. ʼn Mens word immers deur die waarheid en deur gesonde en redelike argumente oortuig.
Ons kan nie vertrou of oortuig word as ons nie weet nie. Sonder om te weet dat Christus die openbaring van God in die vlees is (1 Tim. 3:16), die Een wat sy lewe as ʼn losprys vir baie gegee het (Matt. 20:28), kan ons nie op Christus vir ons saligheid vertrou nie.
Deur die tweede element van saligmakende geloof — vertroue in Christus — word die persoonlike aard van saligmakende geloof beklemtoon. Dit is juis hierdie vertroue wat die kennis van geloof nie net “weet van” maak nie, maar ware “kennis” van God, soos Hy Homself, persoonlik, deur Jesus Christus openbaar.
Sonder die element van vertoue sou daar geen verskil tussen saligmakende geloof en die “geloof” van die duiwels wees nie want “die duiwels glo . . . ook” dat daar een God is, “en hulle sidder” (Jak. 2:19). Die duiwels is ook nie die enigstes wat in hierdie opsig glo nie. Baie mense het die waarheid van die woord geleer en kan geen argument daarteen aanvoor nie, maar hulle het God of Christus nooit vertrou nie.
Vertroue as ʼn element van die saligmakende geloof stel iemand in staat om te sien dat die Woord waar is én dat die Woord vir homself waar is. Vertroue kan dus beskryf word as om na Christus te kom en om in Hom rus te vind (Matt. 11:28). Dit behels dit ʼn volkome oorgawe en onderwerping van die siel aan Hom, deur die krag en genade van die Gees.
Sommige mense praat van geloof as blote kennis of verstandelike instemming. Ons glo ook dat kennis teenoor “gevoel” en teenstand teen die gesonde leer wat deesdae so gewild is, gestel moet word. In die lig van die leer van die Skrif self glo ons egter nie dat geloof afdoende beskryf kan word in terme van die verstandelike sy daarvan nie. Dit is, soos Paulus in 2 Timótheüs 1:12 sê, ook ʼn saak van oorgawe aan Christus om daarmee in Hom vrede en rus te vind. Daarsonder is ons niks, en het ons niks.