Geloof en tydsgees
Geloof en tydsgees
Sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?
Lukas 18:8.
Moet gelowiges met die tydsgees saamgaan of nie? Hierdie vraag is veertig jaar gelede deur die kerke in Suid-Afrika met 'n besliste "nee" beantwoord; nou is die antwoord 'n duidelike "ja", skryf prof. Sakkie Spangenberg van UNISA in Rapport (6 Mei, bl. 13). Hy verwys na prof. Johan Heyns wat in die jare sestig geskryf het dat dit fataal is vir die teologie om in die greep van die tydsgees te beland (in sy boek Sterwende Christendom?), teenoor dr. Ben du Toit wat in sy pas bekroonde boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd sê dat as die teologie nie met die tydsgees erns maak nie, geloof in God binnekort 'n rariteit gaan wees. Waaraan kan die linksomkeer binne die kerk toegeskryf word?
Perspektief van ons eietydse geskiedenis⤒🔗
Prof. Spangenberg verduidelik die ommeswaai aan die hand van die geskiedenis van die afgelope sestig jaar. Die ontnugtering wat die Europese Christendom na die Tweede Wêreldoorlog oorspoel het, het ook op Suid-Afrika 'n invloed gehad, skryf hy. Die waarheid van die "tradisionele Godsbeeld" waarmee gelowiges grootgeword het, is bevraagteken en het in Suid-Afrika, na afloop van die apartheidsera, mense wantrouig gemaak teen dit wat vanuit die gereformeerde teologie nog altyd as Bybelse waarhede verkondig is. Al worstelende met die vraag na waarheid, het die kerk in Suid-Afrika ontvanklik geraak vir die tydsgees van die postmodernisme met sy nuwe idees oor waarheid.
Wat sê die postmodernisme nou weer oor waarheid? Waarheid is nooit absoluut vas nie maar verander voortdurend na gelang van tyd en omstandighede. Geloofswaarhede word nie "van Bo" gegee nie maar is die produk van die mens se eie vertolking van dit wat hy/sy waarneem. Wat gister waar was, is nie noodwendig vandag meer waar nie, want ons situasie het verander. So gee prof. Spangenberg in breë trekke die nuwe waarheidsbeskouing weer.
Met so 'n waarheidsbeskouing word die kerk "bevry" van die bagasie van die verlede en kan die kerk sy siening van die waarheid telkens verstel ten einde van "verleenthede" voor die wêreld gered te word. Maar die kerk wat nie bereid is om hierdie tydsgees met sy waarheidsbeskouing te omhels nie, sal nie in die 21e eeu kan oorleef nie. Tot sover prof. Spangenberg.
Perspektief van die afgelope drie eeue←⤒🔗
Ter wille van beter perspektief behoort die verhouding tussen geloof en tydsgees myns insiens nie net binne die historiese raamwerk van ons eietydse geskiedenis beoordeel te word nie. Die kerk van die 20e en 21e eeu bestaan immers nie in 'n vakuum nie. Kyk ons 'n bietjie verder terug in die kerk se geskiedenis, sien ons dat die aandrang dat die kerk met die tydsgees moet saamgaan, niks nuuts is nie. Sedert die 18eeeu moes die reformatoriese kerke hierdie aandrang dikwels weerstaan.
Die tydsgees van die Rasionalisme het in die 17e eeu in Europa posgevat en die Aufklarung (verligting) van die 18e eeu tot gevolg gehad. 'n Klimaat is geskep waarin elkeen wat nie met hierdie nuwe tydsgees wou saamgaan nie, as agtergeblewe beskou is. Immanuel Kant, die groot Duitse filosoof van daardie tyd het verklaar: "Die Aufklarung is die uittrede van die mens uit sy onmondigheid wat hy aan homself te wyte het."
Ter wille daarvan om nie "agter te bly" nie, het baie kerke van daardie tyd hierdie nuwe tydsgees omhels. Die gevolge was vernietigend. Deur die rasionalisme se grenselose vertroue op die menslike rede te aanvaar, het die kerk self die gesag van die Skrif en die Skrifwaarhede begin bevraagteken. Die Bybel kan vir geen mens voorskryf nie, want elkeen het die mondigheid om vir homself te besluit wat waarheid is en wat nie. Onvermydelik het dit daartoe gelei dat die kerklike tug verval het en is alle geloofstandpunte binne die kerk verdra. Koning Frederik die Grote verklaar: Elkeen word op sy eie manier salig.
Hierteenoor was daar tog 'n aantal gereformeerdes wat nie bereid was om met die gees van hulle tyd saam te gaan nie. Hulle het die Drie Formuliere van ons gereformeerde geloof bly omhels as die belydenis van die waarheid volgens die Woord van God. Hulle beskouings was ver van volmaak af. Sommige van hulle het die prooi van puritanisme (terugtrekking in 'n kokon van vroomheid) geword, ander weer van piëtisme (gevoelsgodsdiens). Maar deurgaans is hulle gekenmerk deur die geloofsoortuiging dat God volgens sy Woord gedien moet word en nie volgens menslike goeddunke nie.
Vreemd genoeg het die Aufklarung-teologie met sy kenmerkende verdraagsaamheid geen verdraagsaamheid vir die gereformeerde teoloë aan die dag gelê nie. Teoloë soos a’Brakel, Comrie en Smytegeldt wat nie die beskouings van die Aufklarung onderskryf het nie, was in terme van die destydse wetenskap as onwetenskaplik afgemaak en het nie deel van die populêre hoofstroom van teologie uitgemaak nie. Tog was dit juis hulle geskrifte wat vir gereformeerd-gesindes in later tye van onskatbare waarde was, bv. die Voortrekkers in die 19e eeu.
Perspektief vanuit die Reformasie←⤒🔗
Gaan 'n mens nog vroeër terug, na die Reformasie van die 16e eeu, dan hoor 'n mens hoedat die groot hervormer Johannes Calvyn self enige poging om die mens en sy insigte tot norm van waarheid te verhef, met oortuiging afgewys het: "Die mens se rede kom nie naby die waarheid nie - dit strewe en mik ook nie daarna om te begryp wie die ware God is en hoedanig Hy teenoor ons wil wees nie" (Inst. 2.2.18). Dit wat die mens self bedink, hetsy uit sy eie rede of vanweë sy eie omstandighede, kan hom nie by die waarheid uitbring nie.
Wat hierdie groot voorloper van die gereformeerde godsdiens eeue gelede geskryf het, kan tot vandag op die mens in sy voortvarendheid toegepas word. Sodra ons te groot van onsself begin dink en oortuig raak dat ons saam met God medebepalers van die waarheid word, herinner hy ons aan die nederige plek wat ons eintlik beklee. So nederig maak die opregte geloof ons dat ons nooit te klein sal praat van God se openbaring nie. Want, skryf Calvyn, "God kom hierdie stompsinnigheid en onkundigheid te hulp wanneer Hy die mens se verstand deur die onderwysing van sy Woord in die rigting stuur waarin dit nie sonder sy leiding sou kon kom nie" (Inst. 2.2.21).
Gedring deur nederigheid van die geloof, durf ons nooit ons eie behoeftes en insigte - ook nie ons eie verstaan van die Bybel - verhef tot die waarheid nie. Maar dieselfde nederigheid dring ons ook om te bly bely dat God se woord ons bring by 'n vaste en onbeweeglike waarheid wat bo onsself uitgaan. Om by daardie waarheid uit te kom, moet ons bereid wees om self minder te word sodat Christus deur sy Gees in ons meer word. Ons het nie die waarheid in onsself nie. Maar deur sy genade laat God ons met die verligting van sy Woord en Gees daarheen groei.
Die les van die geskiedenis←⤒🔗
'n Huwelik tussen ons geloof en die tydsgees? Uit die les van die geskiedenis sien ons dat dit fataal is vir die geloof. As die kerk hom deur die tydsgees laat verlei om die woord van God as vaste waarheid buite onsself te verwerp, dan sal, na my oortuiging, geloof in God tydens die 21e eeu nie net 'n rariteit word nie maar gevaar loop om te verdwyn. Dit laat dink ʼn mens aan die vraag wat die
Here Jesus gevra het: "Sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?" (Lukas 18:8).
Ons heil lê egter nie in enige tydsgees nie maar by God self. Daarom: In sy Woord lei God ons egter tot die sekerheid dat Hy nooit die werke van sy hande laat vaar nie (Matt. 16:18). Hy sal die wat aan Hom behoort, deur die onverklaarbare en kragtige werking van sy Gees, in die geloof vasbind aan sy waarheid.
En waar ons insigte tekortskiet, sal Hy ons gees verlig sodat ons al nader sal groei aan sy waarheid wat bo ons almal vas en seker staan. Nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig" (1 Kor. 13:12).