Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Fundamentalistiese geloftes?

Gelowiges wat poog om getrou aan die Skrif en die belydenisskrifte te leef, is al gewoond daaraan om as “fundamentaliste” geëtiketteer en afgeskryf te word. Sodra daar enigsins vermoed word dat 'n gelowige op sekerheid van waarheid aanspraak maak, word dit as “fundamentalisme” afgemaak. Skynbaar word die begrip “fundamentalisme” deesdae in verband gebring met begrippe soos “sékere waarhede” en word dit as “onverdraagsaam” beskou. Dít wat die hartklop van die reformatoriese teologie was, word vandag onder verdenking gebring. Vir die reformatore was die volkome sekerheid van die absolute Waarheid die kern van hul leer en lewe. Van relativisme is daar geen sprake in die reformatoriese teologie nie.

Hierdie “reformatoriese hartklop” het in die meeste gereformeerde kerke neerslag gevind in die legitimasie-eed wat aspirant predikante onderteken ten einde toegelaat te word tot die bediening van die Woord. Alle leraars van die Nederduitse Gereformeerde Kerk het die volgende gelofte onderteken:

“Ek, die ondergetekende……, toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk deur die Algemene Regskommissie wat daartoe gemagtig is, verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, deur die Sinode van Dordrecht in die jare 1618-1619 aangeneem – ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om die voorgenome leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. En net soos ek hierdie leer te goedertrou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer” (my aksentuering – CS).

Dit geld egter nie net van leraars nie. Álle lidmate het hul tot dieselfde gelofte verbind, wel nie per handtekening nie, maar met 'n mondelingse verklaring. Dié gelofte klink só:

Ek glo dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof vervat en in hierdie kerk geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is.

asook:

Ek beloof om as lidmaat van Sy gemeente deur Sy genade tot die einde van my lewe in hierdie leer te volhard en alle leringe wat daarvan afwyk te verwerp.

'n Mens kan nie anders as om die absolute taal raak te hoor nie. Dit is vir geen misverstand vatbaar nie. Die leraar en lidmaat lê 'n gelofte af dat die Bybel die gesaghebbende Woord van God is. Die Bybel bevat nie die Woord nie, dit ís die Woord van God. En dit geld van sowel die Ou- as die Nuwe Testament. Die fundamentele gesag van die Woord word onomwonde bely. Die “Artikels van die Christelike geloof” is die gereformeerde belydenisskrifte te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls. Die leraar/lidmaat lê 'n gelofte af dat hierdie belydenis 100% met die Woord ooreenstem (nie “in soverre as wat dit ooreenstem” nie) en dat slegs dit die Waarheid is en dat hy/sy daarmee vertroud is en dit liefhet. Deur 'n gelofte word verklaar dat die gereformeerde belydenis die suiwerste formulering van die Waarheid is. Daar word ook beloof om lewenslank spesifiek gereformeerd te wees en te bly. Elke leraar en lidmaat het verklaar dat slegs die gereformeerde leer die ware leer van die Skrif is en dat geen ander leer of teologie hieraan gelyk is nie. Daarom word beloof om slégs in die eksklusiewe gereformeerde belydenis te volhard tot die lewenseinde en om voortdurend alle afwykende leer met beslistheid te verwerp. Let op die sterk en besliste (fundamentalistiese) taal. Dít is die soort “fundamentalisme” wat die passie van die sestiende eeuse reformatore se bloedwarm evangelie verkondiging gekenmerk het en waartoe élke leraar en lidmaat van die NG Kerk verbind is.

Ja, daar kan geredeneer word dat hierdie geloftes maar net mensgemaakte formuleringe is en daarom nie eerbiedig hoef te word nie. Die feit bly: élke leraar, ouderling, diaken en lidmaat was aanvanklik maar té gewillig om hierdie gelofte af te lê – in sommige gevalle sonder dat die inhoud van die gelofte enigsins deurdink is. Die feit is vêrder, mensgemaak of nie: Dit is gelóftes wat voor die Here se aangesig afgelê is. Wie sy mond teenoor die Here oopgemaak het, mag dit nie terugtrek nie (Rigters 11:35). Solank as wat die kerk die aflê van hierdie geloftes handhaaf, móét élke leraar, kerkraadslid en lidmaat hom/haar ten alle koste daarby hou. Andersins moet die eerbare weg gevolg word: skaf die aflê van hierdie geloftes af en loop die pad van die relativisme en die verloëning van die geopenbaarde Waarheid – 'n pad wat in elk geval tot 'n groot mate reeds in die praktyk gevolg word. Of dalk moet individuele teoloë, predikante, ouderlinge, diakens en lidmate – wat hulle gelofte nie gestand wil doen nie - die eerbare weg volg en bedank uit die NG Kerk.

Maar waarom dan so negatief wees? Wat is meer heerlik as om met vurige passie getrou te bly aan die sekerheid van die enigste Waarheid? Laat die etiket van “fundamentalisme” dan maar kom. Binne die hedendaagse konteks sou Calvyn beslis ook as 'n “fundamentalis” bestempel word. Lees maar net sy Institusies en oortuig uself. Die styl, inhoud, taal en diepte van Calvyn se evangelie verkondiging is totaal vreemd in vandag se kerklike konteks. Dit is hierdie passievolle sekerheid van die Waarheid van die Woord, wat weer op kansels moet begin brand. Die gevolg sal wees dat mense weer na die eredienste begin stroom. Wat mense na die kerk laat terugkeer is nie gemoedelike relativisme, leraars wat nederig-onseker voorkom, geselsies oor die Bybel en informele samekomste nie. Dit waarna lidmate dors, is die brandende vlam van oortuigde en onverskrokke Woordverkondiging waaruit die sekerheid van die evangelie kragtig straal.