5 bladsye.

Filemon - Die Brief van Paulus aan Filemon ʼn Slaaf wat Vry word en ʼn Vryman wat Slaaf moet Bly

slawe ketting🔗

Kort en Kragtig🔗

In die Bybel ontvang ons groot boeke en klein boeke. Anders as wat mens sou verwag, is die klein boeke en die kort briewe nie altyd die mees bekende nie. Dit is jammer, want van die klein boeke kan dikwels gesê word: kort, maar baie kragtig.

Neem Filémon. Dikwels weet ons nie méér as dat die briefie oor ’n slaaf wat vrygelaat moet word, gaan nie. Dan volstaan ons met ’n konklusie dat die Bybel reeds slawerny as instelling wou afskaf.

Maar daar is meer.

Ons lees byvoorbeeld oor die krag van God. Dit het ons, in ’n tyd waarin die wêreld sterker lyk as die kerk, nodig.

Ons lees van ware selfverloëning wat van meelewende gemeentelede gevra word, en dit het ons óók nodig in ’n tyd waarin ons na hernude geesdrif en besieling in die kerklike lewe soek.

Ons lees oor die voortgang van die evangelie. Dit is dié punt waaroor dit in die kerk gaan, ons moet deeglik daarvan kennis neem.

Onésimus, die Nuttelose Slaaf🔗

In hierdie kort briefie gaan dit oor drie mense.

In die eerste plek is daar Paulus, die skrywer van die brief. Hy is ’n gevangene in Rome en daarom begin die brief met die woorde “Paulus, ’n gevangene van Christus Jesus”.

Tweedens is daar Filémon. Hy is ’n welgestelde man, woonagtig in Kolosse en ’n gesiene lid van die kerk aldaar.

Derdens is daar Onésimus. Dit lyk aanvanklik asof die brief om hom draai. Onésimus was eens ’n slaaf van Filémon. Nie ’n baie goeie slaaf nie. In vers 11 staan dat Onésimus vir Filémon nutteloos was, ’n niksnut. ’n Lui kêrel wat eerder op straat of tussen misdadigers kon hoort. In vers 18 staan dan ook “as hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op my rekening”. Daar is dus skade berokken. Die meeste kommentators dink hier aan een of ander vorm van diefstal. Dit kon wel so wees.

Ná die misdaad het Onésimus by Filémon weggeloop en hom na Rome begewe. ’n Voortvlugtige misdadige slaaf kon nouliks ’n beter wegkruiplek kry as in dié wêreldstad. Sy meester in die provinsiale stadjie Kolosse sou hom nooit dáár kon opspoor nie.

Maar Christus het!

Onésimus, ’n Vrygelatene van die Here🔗

Daar gebeur ’n wonder. Onésimus kom met Paulus in aanraking. Hoe dit gebeur het, weet ons nie, maar dit het gebeur. Die slaaf word deur die Woord van Paulus in sy hart geraak. Hy, die niksnut, kom tot bekering. Paulus noem hom “...my kind, Onésimus, wat ek verwek het in my boeie” (vs. 10). Hy bedoel dit nie letterlik nie – dit is uitdrukking wat Paulus ook elders gebruik om die vrug van sy arbeid te beskryf. In 1 Korinthiërs 4:15 sê hy van die Korinthiërs: “...in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die evangelie”. Dit is stellig wat Paulus ook hier bedoel: Onésimus het deur sy prediking tot bekering gekom en Paulus het hom, die vroeëre niksnut, met sy hele hart liefgekry (vs. 12).

geld

Só het die weggeloopte slaaf ’n ware vry man geword. Nie vry in die letterlike sin nie, maar vry in geestelike sin: Onésimus het die vryheid van Christus leer ken. Hy het ’n vrygemaakte van die Here geword.

Ek dink dat hierdie kort briefie in die eerste plek bedoel was om van hierdie wonder te getuig. Aan Filémon en aan al die ander lesers, sodat hulle die wonderlike krag van God kan leer ken.

In hierdie verband is vers 15 betekenisvol. Dit trek die aandag weg van die optrede van mense en rig dit op die voorsienige handeling van God. Mense doen krom en skewe dinge, ook Onésimus. Maar dwarsdeur hierdie skewe dinge heen slaan God ’n wonderlike, reguit hou. Hierna moet die mens soek. Paulus het dit gedoen. Filémon moet dit ook doen: Onésimus is ’n tydjie (deur God) van Filémon geskei, sodat hy hom vir altyd (letterlik, aiōnios: vir ewig) kan besit. Nie in die eerste plek as slaaf nie, maar as ’n broeder in Christus. Filémon, sien tog die wonderlike en voorsienige weg van God raak! God kan ’n niksnut van ’n slaaf, wat jou tot die uiterste frustreer, ’n geliefde broeder en mede-erfgenaam maak. En Hy dóén dit.

Ons sien dikwels die omgekeerde: jongmense, en ook oueres, loop weg van die evangelie. Hulle keer, soms baie beleefd, maar beslis, die rug op die kerk. Hoe pynlik is dit nie as dit in jou vriendekring of jou familie gebeur nie.

God is onmiskenbaar by magte om wat onomkeerbaar lyk, om te keer. God is by magte om growwe ongeloof en goddeloosheid om te keer tot die vryheid van die kindskap van Christus. In sy voorsienigheid omvorm Hy ’n misdadiger vir wie daar menslik gesproke nie hoop is nie, tot ’n medewerker van die evangelie wat die hart van ’n apostel kan steel. Die brief aan Filémon roep ons op om daarop te hoop en om daarvoor te bid.

’n Versoek aan Filémon🔗

Die bekeringsgeskiedenis van Onésimus is ten slotte óók nie die hoofsaak van die brief nie. Dit lyk of alles om Onésimus draai. By nadere beskouing blyk dit ewewel nié so te wees nie. Die brief is nie bedoel om iets oor Onésimus te vertel nie, maar om iets van Filémon te vra.

Die sprake van ’n versoek aan Filémon blyk al in vers 9. Nader beskou lyk dit dus of die hoofkarakter in die brief Filémon is. Filémon, die man van wie ons met ’n geruste hart kan sê dat hy Christus en die kerk van Christus van harte liefhet (vs. 4, 5 en 7).

Wat is Paulus se versoek aan Filémon? Dit kom stuk vir stuk uit.

Dit begin in vers 11, 12: “Ek stuur hom (Onésimus) terug; ... neem hom aan”. Paulus moet dit doen, want Filémon het immers reg op die slaaf Onésimus.

Paulus stuur Onésimus dus terug. Maar nie sonder meer nie!

Ons lees in vers 15 dat hy hom terugstuur “nie meer as ’n slaaf nie, maar ... as ’n geliefde broeder”. Hierin lê die versoek opgesluit: as Paulus Onésimus só terugstuur, moet Filémon (’n goeie begryper het ’n halwe woord nodig!) hom nou ook as ’n geliefde broeder ontvang. Paulus vra dit ten slotte onomwonde in vers 17: “neem hom aan net soos vir my”.

Baie uitleggers beklemtoon dat Paulus hier in werklikheid vra dat Filémon sy weggeloopte slaaf sy vryheid moet gee. Dit kan ook die bedoeling wees, maar dit is nie die hoofsaak nie. Dan het ons net op die negatiewe sy gelet: Filémon moet Onésimus nié meer as ’n slaaf ontvang nie. Maar daar staan ook positief: ontvang hom as ’n broeder. Die positiewe versoek gaan heelwat verder as die negatiewe, en is waarskynlik ook moeiliker om aan gehoor te gee. Paulus vra hier vir Filémon niks minder nie as aanváárding van Onésimus as mede-erfgenaam van die Koninkryk en dat hy daarom as gelyke in Christus ontvang word.

stukkende ketting

Nie net Filémon self nie, maar die hele gemeente wat by hom aan huis is, moet dit doen. Appia en Archíppus, en al die ander. Hulle moet die verlede vergeet en met Onésimus ’n volkome nuwe begin maak.

Beproefde Geloof🔗

Paulus vra baie; niks minder nie as opoffering. Eerstens in finansiële sin, want die vrylating van ’n slaaf is ’n kapitaalverlies. Dit is ewewel nie die grootste offer nie. Die grootste offer is selfverloëning. Hoe moeilik moes dit nie gewees het nie: Onésimus as broeder aanvaar? Hy het ’n naam daar in Kolosse. Hulle ken hom. Hý, bekeer? Vir hoe lank? Moet hulle sommer so ’n streep deur die verlede trek?

Ja! Sê Paulus. So werk dit as iemand hom bekeer. Dalk kook jou bloed as jy die vroeëre niksnut sien, Filémon, maar jy moet jouself oorwin. Aanvaar die deugniet!

Dit is van belang om in te sien dat Filémon op hierdie manier moet toon dat sy Christelike geloof waarlik blywend werksaam is.

Filémon het wel dit vroeër bewys. Hy het, so sê vers 7, “die harte van die heiliges verkwik”. Hy het óók ’n naam gehad: hy was bekend vir sy liefde en geloof wat hy met betrekking tot die Here Jesus en al die heiliges gehad het (vs. 5). Dat ’n goeie naam, ewemin as ’n slegte naam, blywend is, is egter nie vanselfsprekend nie.

Filémon moes steeds weer wys dat hy sy goeie naam as Christen waardig is. Daarom bid Paulus in vers 6 van die brief dat die gemeenskap van die geloof van Filémon “kragtig mag word”. Moenie dink dat jy op jou louere kan rus as jy eenmaal die naam van ’n meelewende Christen het nie. Daar kom telkens ’n nuwe opdrag waarin jou geloof moet blyk. Só ’n opdrag kry Filémon nou as hy gevra word om Onésimus volkome in sy nuwe staat te aanvaar. Daarom staan in vers 6 dat dit die gemeenskap van die geloof van Filémon is wat kragtig moet word. Paulus het daarmee baie duidelik die gemeenskapsbeoefening met Onésimus as broedergeworde misdadiger voor oë.

In hierdie gemeenskapsbeoefening moet Filémon dit wat Onésimus misgaan het, van harte vergewe; en hy moet sy berou van harte aanvaar. Hy moet dit alles nie uit dwang nie, maar vrywillig doen (vs. 14).

En as Filémon dink dat hy nie kan nie (daar is immers tog so iets soos reg en geregtigheid, en Onésimus ís nog by hom in die skuld), dan moet hy daaraan dink dat hy aan Paulus baie verskuldig is. Hy is homsélf aan Paulus verskuldig (vs. 19, 20). In die verband beteken dit: hy is sy léwe, by name sy geestelike lewe, aan Paulus verskuldig. Daarmee verval ’n teeneis vir skadevergoeding teen Onésimus.

Aanvaar Mekaar🔗

Ons lees die kort briefie aan Filémon dikwels as motivering vir die afskaffing van slawerny. Dit moet egter duidelik gestel word dat dit nie daaroor gaan nie, al het die brief heelwat te sê in situasies van onderdrukking en misbruik van gesag. Die brief is naamlik ’n pleidooi vir voortgaande geloofswerksaamheid in onderlinge aanvaarding van mekaar.

Ons moet toegee dat óns krag nie altyd daarin lê nie.

Hoe moeilik sien ons nie soms van ons vooroordele af nie; hoe moeilik vergeet ons wat iemand in die verlede gedoen het; hoe bly ons hamer op slegte behandeling wat ons gekry het, op onreg wat ’n kerkraad ons aangedoen het. Dit terwyl ons moet besef dat ons almal skuldenaars van Christus is, wat mekaar nie kan verwyt nie.

hande skud

Dit is van belang in ons persoonlike en kerklike verhoudinge. Ons moet mekaar nie etiketteer (name noem!) nie. Dit skep verdeeldheid. Ons moet bereid wees om in Christelike aanvaarding na ’n ander se standpunte te luister.

Dit is van belang vir ywer en geesdrif in kerklike situasies waarin ons nie almal eenders dink nie.

Dit is van belang wanneer ons opnuut in kerklike samesprekings in gesprek tree met broeders en susters met wie ons in die verlede nie meer kon saamstem nie.

Dit is van belang wanneer ons in ’n tyd van globalisasie, Christene met ander tradisies en kulture as ons eie ontmoet.

Dit is ’n saak van gehoorsaamheid om in onderlinge aanvaarding, binne die norm van Gods Woord, voortgaande geloofsgehoorsaamheid te beoefen.

Die Voortgang van die Prediking🔗

Nog is nie alles oor die doel van die brief aan Filémon gesê nie.

Aanvanklik lyk dit asof Onésimus die hoofkarakter is. Dit het geblyk nie so te wees nie. Filémon word aangespreek en ’n versoek word aan hom gerig. Hy moet Onésimus as geliefde broeder aanvaar, en nie as ’n slaaf nie. Waarom die laasgenoemde? Gaan dit noodsaaklikerwys saam? As broeder aanvaar én vrylaat? Ja, sê diegene wat in die brief ’n pleidooi vir die afskaffing van slawerny sien, daarin sien ons die omvangryke en maatskappy-kritiese aspek van die brief. Die een gaan nie sonder die ander nie.

Die vraag ontstaan waarom Paulus hierdie twee sake nie in sy ander briewe aan mekaar verbind nie. Wat hiér geld moet immers ook elders geld!

Wanneer ons die brief aan Filémon nog eens oorlees, blyk dit dat die versoek vir die vrylating van Onésimus en aanvaarding van hom as ’n broeder, ’n baie bepaalde doel het. In vers 21 sê Paulus: “In vertroue op jou gehoorsaamheid het ek aan jou geskrywe, omdat ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek sê”.

Wat is hierdie ‘meer’ wat Paulus verwag?

Mens moet dalk bietjie daaroor tob, maar ’n goeie begryper het (weereens!) ’n halwe woord nodig. Die ‘meer’ is dat Paulus Onésimus vir homself wil hê.

Paulus het hierdie punt inderwaarheid reeds in verse 11-13 geopper. Heel skerpsinnig staan daar in vers 11 dat Onésimus nou vir Filémon baie nuttig is, maar óók vir hom, Paulus. Hy stuur hom terug, maar wou hom eintlik by hom hou “sodat hy my (Paulus) in die boeie van die evangelie ...  kan dien” (vs. 13). Eintlik het Paulus Onésimus dus self nodig, by name vir die prediking. Onésimus moet deur Filémon vrygelaat en as broeder aanvaar word sodat Onésimus uiteindelik beskikbaar word vir die diens van apostoliese prediking.

Nou gaan daar ook in vers 22 ’n lig op. Paulus hoop om uit sy gevangenisskap ontslaan te word en na Kolosse te kom. Dán moet Onésimus reeds ’n vryman wees, om by Paulus in diens te tree. Daardie voordeel, sê vers 20, hoop Paulus om van Filémon te verkry “in die Here”.

Op die keper beskou is dus nóg Onésimus, nóg Filémon die hoofkarakter in die brief, maar Paulus self. Beter gestel, die hoofsaak van die brief is nie die een persoon of ’n ander nie, maar die voortgang van die prediking van die evangelie. Elkeen moet daarvoor gereed wees.

Bybel

Daarvoor moet Onésimus, die slaaf, vrygelaat word en daaraan moet Filémon, die vry en welgestelde man, hom as dienskneg (slaaf!) verbind. Daartoe moet hy tot geestelike en materiële offers bereid wees. So kan hy ’n ware medearbeider wees (vs.1) – saam met Épafras en Markus en Démas en Lukas, almal medearbeiders.

Hierin moet ons ook verenig wees.

Dit gaan nie in die kerk oor dié een of daardie een nie. Dit gaan nie oor hulle wat uitsonderlike bekeringsgeskiedenisse (soos Onésimus) het óf oor hulle wat in geloof en meelewing uitblink (soos Filémon) nie. Dit gaan daaroor dat ons ons diensbaar stel vir die voortgang van die prediking. Daarvoor moet iedere en elke gelowige offers bring, selfverloënend en opofferend. Dit is so belangrik in ’n tyd van toenemende egoïsme. Niemand behoort homself te soek nie, maar die voortgang van die prediking van die evangelie.

Dít bring vurige ywer in die kerk – onder die erenaam: medearbeider!