Feminisme
Feminisme
“Die vrou en die kat hoort tuis op die mat”. Só word soms oor die vrou gepraat om haar posisie in die huis aan te dui. Die onderskeid tussen man en vrou word dan veral gesien as ‘n lewe en werk buite die huis teenoor ‘n gebondenheid aan die huis. Mans doen buite die huis betaalde werk en die vrou moet haar vroulikheid tentoonstel deur tuis te bly. Hierdie voorstelling word deur baie vandag nog gesien as die vertaling van wat die Woord van die Here bedoel onder “huislik”.
Feminisme het gedeeltelik ontstaan vanuit ‘n reaksie teenoor hierdie kyk na die onderskeid tussen man en vrou – ‘n oordeel wat nie vanuit die Skrif gevorm is nie. Die Skrif sien nie ‘n vrou as ‘n onmondige kind wat eers haar mens-wees vind in verhouding tot ‘n man nie.
“Broederskap”⤒🔗
Dit is verder ook ‘n produk van die tyd na die sg. Verligting. Sedert die einde van die agtiende eeu word in verskillende lande gestry vir die regte van mense. Nie die minste bekend nie, is die kreet van die Franse Revolusie van 1789 : “liberté, égalité, fraternité” – vryheid, gelykheid en broederskap. Daarmee word ‘n ideaal van die samelewing voorgestel vanuit die mens gedink as norm. Hierdie “broederskap” het egter nie vir vroue die vryheid gebring wat baie wou hê nie. In die V.S.A. word in 1791 die Verklaring van die Regte van die Mens aangekondig. Voor die wet sou alle mense as vry en gelyk behandel word.
Vir baie was dit nog nie genoeg nie en word sonder ophou gestry vir die burgerregte, onderwysregte en stemregte van die vrou. In die sestigerjare van die twintigste eeu word die stryd gestry om die vrou nie meer as vanselfsprekend tuis in die gesin te sien nie. Gelyke werkgeleenthede en besoldiging kom op die agenda van die emansipasiebeweging. Uiteindelik mond dit uit in wat ons vandag as een van die sg. “genitiefs-/kontekstuele” teologieë ken, t.w. die feministiese teologie.
Feministiese teologie←⤒🔗
Net soos die bevrydingsteologie, is die feministiese teologie ‘n teologie wat bedryf word vanuit die konteks van vroue wat voel dat hulle onderdruk word. ‘n Bekende feministiese teoloog beskryf hierdie vorm van teologie as ‘n bevrydingsteologie wat nie gebaseer word op die uniekheid van vroue as sodanig nie. Dit gaan veel eerder oor hulle historiese ervarings van lyding, hulle psigiese en seksuele onderdrukking, vernedering en onsigbaarmaking in die samelewingstrukture en in die kerk.
In ‘n eerste fase van die Feministiese teologie het alle klem gelê op emansipasie; die vrou moes sg. mondig word. Dit het veral beteken dat sy ‘n selfstandige posisie in kerk en samelewing moes inneem. Later is tog gevoel dat emansipasie oor veel meer gaan as stemreg en werkgeleenthede. Alle stukture in die kultuur, selfs tot in ons taalgebruik, moes verander word. Deelneem aan al die sosiale funksies was nie genoeg nie. In die kerk was dit nie genoeg dat vroue ook ouderlinge en predikante word nie. Manlike name vir God moes verdwyn. Van God kon nie meer (slegs) as “Vader” gepraat word nie. “Indien God ‘manlik’ is, is die manlike god’, skryf Mary Daly in haar boek Beyond God the father.
Ander teoloë soos Judith Plaskow sien die tipiese vroulike sonde juis as die sondes van onderdanigheid en nederigheid. Vroue se sonde is volgens haar dat hulle hul by hul lot neerlê en nie hul mond oopmaak nie. Teen hierdie agtergrond moet ons as christene vandag besin oor die werklik taak, roeping en plek van vroue van God in die kerk en samelewing.