Faith like potatoes
Faith like potatoes
Dit is die titel van 'n plaaslik-vervaardigde rolprent wat onlangs landswyd in teaters begin draai het. Dit is gebaseer op die ware verhaal van die wedervaringe van ene Angus Buchman en sy gesin wat vroeër ook as outobiografie in boekvorm (met dieselfde titel) verskyn het. Regardt van den Bergh het Buchman se verhaal in 'n rolprent omskep.
Angus Buchman het aanvanklik in Zambië geboer, maar vanweë allerlei faktore moes hy sy boerdery tot niet maak en het hy en sy gesin na Suid-Afrika gegaan om in Natal 'n nuwe boerdery in die omgewing van Greytown op die been te bring. Hy was 'n onverskillige tipe mens, vol rassehaat en oorgegee aan drankmisbruik wat tot huwelikspanning gelei het. Op die uitnodiging van vriende, beland Angus en sy gesin egter in 'n kerkdiens van die Metodistekerk, waar hy op die appèl van die predikant reageer, vorentoe stap en tot bekering kom. Sy lewe verander merkbaar en hy word 'n lewende getuie vir Christus en 'n leke-prediker. Hy staan bekend as 'n “man van geloof”. Onder andere bid hy vir 'n vrou wat deur weerlig doodgeslaan is en sy word uit die dood opgewek. Die geseënde verhouding tussen Angus en sy swart naaste, wat die gevolg is van sy geloof in Christus, dra 'n kragtige en hoopvolle boodskap uit. Droogte tref egter die gebied en niemand kan aartappels plant nie. Angus besluit egter om in die geloof te waag en te plant. Dwarsdeur die tydperk wat die aartappels moes groei bly die reën weg, maar toe dit oestyd word, oes Angus pragtige aartappels – 'n wonder van Bo! Voorwaar 'n getuienis wat 'n diep impak op die kyker maak.
Van den Bergh se inisiatief, waagmoed en passie om die evangelie op hierdie wyse te verkondig, is prysenswaardig. Sonder twyfel sal die rolprent ook seën tot gevolg hê.
Gereformeerde gelowiges, wat na die rolprent gaan kyk, behoort egter fyn te let op die teologiese beklemtonings, wat afwyk van die wyse waarop die Skrif en gereformeerde belydenis die evangelie aan die orde stel. Die rolprent lê klem op die volgende teologiese bakens: Bekering volgens die tipiese metodistiese patroon van 'n emosionele sondebesef gevolg deur 'n “altar call”, die vorentoe-stap van die bekeerling en die nasê van 'n “sondaarsgebed”. Omdat die Arminianisme hand aan hand loop met die Metodisme, is die klem wat daarop gelê word dat Angus gered is ómdat hy 'n besluit geneem het, geen verrassing nie. Die fokus word dus baie duidelik verskuif wég van Christus se verlossingswerk ná die menslike aktiwiteit wat die éíntlike verlossing bewerkstellig. Hieruit volg vanselfsprekend die hoofklem van die rolprent: Angus se geloof – wat wondere doen en berge versit. Die boodskap is duidelik: Wie só kragtig kan glo soos wat Angus doen, sal groot dinge beleef. Die gelóóf is die krag wat alles vermag. By die Skrif se fokus op God se genadige belofte wat alles vermag, en wat dankbaar geglo mag word, gaan die rolprent tragies verby. Dat die geloof – volgens die Bybel, leeg en bankrot is, word verswyg. Dalk is dit nie dramaties genoeg nie. Die verband wat die fliek lê tussen geloof en wonderwerke is ook 'n klem wat nie misgekyk mag word nie. Dooies word lewendig. Aartappels word uit droë grond ge-oes. By diegene wat wáárlik gló, moet dit só wonderlik gaan – aldus Faith like Potatoes. Hoe moedeloos verlaat sommige fliekgangers nie die teater nie! Die verlammende besef van: “hoe gaan ek myself op só 'n vlak van geloof kry? Hoe hard moet ek nog probeer? Ek slaag nie. Ek is onderdeur!” Dit is wat gebeur wanneer die fokus weggeskuif word ván God se verlossing ná die vrome méns. Die ware troos van die evangelie – dat God geen “vlak van geloof” eis nie, maar mense uit vrye genade eiehandig ingesluit het by Christus se dood en opstanding en dat dít die ware krag is, word deur die fliek vir kykers versluier en word die ware Skriftuurlike rus en heilsekerheid sodoende vernietig.
Indien die kyker waaksaam is vir hierdie onbybelse beklemtoning, kan die fliek egter tog sinvol geniet word en kan die eer aan die Hére gegee word vir die wonders wat Hy in en deur Angus Buchman gedoen het.