Esegiel 29:17 - Rus my siel, jou God is Koning!
Esegiel 29:17 - Rus my siel, jou God is Koning!
ʼn Nuwe jaar. Dit bring onvermydelik allerlei nuwejaarsboodskappe mee. Maghebbers rig hulle tot hul volk. Spreek goeie wense uit. Daarby is ingesluit die ideale waarvoor hulle hul wil beywer. Via die media mag ons saam kyk en saamluister. En dan hoop ons dat iets daarvan bereik gaan word.
God se nuwejaarsboodskap⤒🔗
Aan die begin van ʼn nuwe jaar en ʼn nuwe jaargang wil ons saam bemoediging soek in die Skrif. Dit is goed om die groot raamwerk van alle gebeure in kerk en wêreld onder oë te sien. Ons staan stil by Eségiël 29:17 e.v.
Ook hier het ons te doen met ʼn soort nuwejaarsboodskap. Dit staan presies so daar geskrywe: “En in die sewe-en-twintigste jaar (d.i. ná die wegvoering na Babel), in die eerste maand, op die eerste van die maand”. Dit is dus nuwejaarsdag. Met ʼn boodskap van die Koning van hemel en aarde. Dit sal dus wel goed gaan. By hierdie Maghebber het jy nie nodig om dit af te wag nie. By Hom mag jy dit werklik verwag.
Situasie←⤒🔗
Dit was vir die koning en die leër van Babel nie maklik om Tirus in die hande te kry nie. Tirus was ʼn magtige handelstad. As gevolg van sy ligging op ʼn rotseiland was dit amper onmoontlik om dit in te neem. Die beleëring het dan ook dertien jaar lank geduur.
Uiteindelik moes Tirus sy trotse hoof buig. Maar finansieel het koning Nebukadnesar en sy leër feitlik geen baat daarby gevind nie. Het Tirus by die oorgawe dalk vir gunstige voorwaardes beding? Het hulle die grootste rykdomme vroegtydig in veiligheid gebring? Of het die langdurige beleëring soveel gekos dat Tirus se rykdom nie werklik kompensasie daarvoor gebied het nie? Hoe dit ook al sy, koning Nebukadnesar en sy leër het nouliks iets daarby gewen.
Loon←⤒🔗
Leë hande. En dit na soveel inspanning en stryd. Dan voel ʼn mens gekul. Opvallend. Die Here dink ook so. Nie omdat dit jammer is vir die koning van Babel en sy leër nie. Vir die Here is dit ʼn kwessie van reg. Meer spesifiek: arbeidsreg. Die arbeider is sy loon werd. Daarom het ook Nebukadnesar en sy leër reg op buit. Het hulle tekort geskiet by Tirus? Geen probleem nie! Die Here gee die land Egipte met al sy rykdomme as kompensasie. In die woorde van Eségiël 29:19-20: dit gaan om loon, om vergoeding. Om agterstallige loon wat nou nog uitbetaal word.
ʼn Onthullende woord. Die Here teken die verhouding met Nebukadnesar en sy leër as ʼn arbeidsverhouding. Daarby is die Here die groot Werkgewer. Nebukadnesar en sy leër is by God in diens. Nebukadnesar is nie bewus daarvan nie. Die man het sy eie planne en bedoelings om Tirus in te neem. Dit pas in die prentjie van sy magspolitiek. Maar sonder dat hy dit weet, gebruik die Here hom om sy planne en bedoelings uit te voer. Waarom moet Nebukadnesar en sy leër na Tirus toe gaan? Om God se rekening aan hulle te bring, die rekening vir die afkeer van God en sy volk. Nebukadnesar en sy planne is opgeneem in die verhewe plan van God, ingeskakel om aan Hom diensbaar te wees. Hoekom het die koning van Babel en sy leër reg op loon? Vanweë bewese dienste, hoe onwetend ook al! Hulle het vir My gewerk! Rus my siel, jou God is Koning! Die hele wêreld: sy gebied! En al die magte en maghebbers: in sy diens. Om saam te werk aan die uitvoering van sy plan.
Weg met bysiendheid!←⤒🔗
Wat ʼn bemoediging aan die begin van ʼn nuwe jaar. Dit lyk of mense en magte die diens hier op aarde bepaal. Hulle het hul eie planne en strategieë. Asof God nie meer in die verhaal voorkom nie. Eségiël 29 help ons om van hierdie bysiendheid ontslae te raak. Die God van die kerk, die God en Vader van
Jesus Christus, regeer in hierdie wêreld. Op al die paaie van mense en magte, ook op hul eiesinnige en krom paaie, gaan Hy sy regte gang, die voorgenome pad na sy koninkryk. Al die mense en magte moet diensbaar daaraan wees. Ook al is hulle geensins daarvan bewus nie, ook al verstaan ons as kinders van God dikwels nie hoe en hoekom nie, mag ons dit glo: die Here maak daarvan gebruik om sy doel te bereik. Geen paniek nie! Die Here regeer! Ook in die jaar 2008!
Vrymoedigheid←⤒🔗
Binnekort word Egipte geplunder. Dit word nie net vir Israel ʼn keerpunt nie. Ook vir Eségiël self het dit ʼn besondere gevolg. Aan jou sal Ek vrymoedigheid (“opening van die mond”) gee om onder hulle – Eségiël se volksgenote – te praat. As boodskapper van God het hy immers die reg om te praat! Die Here doen wat Hy sê. Die feite gee die Here gelyk.
Die reg om te praat. Ook die Christelike kerk in die jaar 2008 het die reg om te praat. Die gemeente het gesien dat God en sy Woord gelyk het, dit is bevestig in die feite van Christus kruis en opstanding. En daarom het sy iets te sê in hierdie wêreld. ʼn Boodskap van heil vir elkeen wat glo. Jy kan op die Here vertrou! Dan sal die kerk moet begin om self daardie Woord ernstig op te neem. In lewende geloof en daaglikse bekering. Dan sal daardie Woord ook die diens moet bepaal in die kerklike lewe en in die samelewing.
Dit hou ook in: probeer om mekaar opgeskerp te hou. Daaraan wil ons blad ook in die nuwe jaar diensbaar wees. Om mekaar op te skerp, is iets anders as om mekaar skerp te slyp. ʼn Kerk egter wat self maklik word as dit kom by die Woord, het steeds minder te sê aan die samelewing rondom haar. Nee, die kerk ontleen nie haar vrymoedigheid aan haar eie geloofskrag nie. Hierdie vrymoedigheid word ontleen aan die Woord van die Here. Juis daarom is dit so belangrik om allereers jouself aan daardie Woord te onderwerp. Wanneer die afstand tussen jou en die Woord groei, dan boet ook die kerk haar seggingskrag in.
Rus my siel, jou God is koning! Op sy spoor sal dit ook in 2008 goed gaan. Maar ook net op sy spoor!