Bron: De Wekker. 3 bladsye. Vertaal deur Alet du Plessis.

Engele (1) - God se Besondere Diensknegte

vleuels

Daar was ʼn tyd toe daar aangeneem is dat net onvolwasse mense in engele kan glo. Omtrent soos die geloof in sprokies. Redelik denkende mense was verhewe bo sulke bygelofies.

Daardie tyd is verby, of so lyk dit altans. Deesdae, noudat die godsdienstige klimaat so is dat ʼn mens maar enigiets kan en mag glo, is dit ook toelaatbaar om te glo dat daar engele bestaan.

Vir mense wat daarvan oortuig is dat die Woord van God absoluut betroubaar is, is die geloof in engele nie gekoppel aan een of ander godsdienstige siening nie. Vir hulle is dit genoeg dat die Here self van engele praat. Dit is ook vir hulle belangrik om hulle te vergewis van wat engele is, wat hulle doen en wat die verhouding tussen mense en engele is. Ons belydenis lê ook klem daarop. Sien die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 12. Dit is dus nuttig dat ons in die artikel aandag gee aan hierdie kollega-skepsels. Ons kan baie oor hulle leer. En deur hulle kan ons ook baie van God leer.

Skepsels🔗

Kom ons begin by ʼn gegewe, naamlik dat die engele, net soos ons, voortgekom het uit God se gedagtes. Net soos ons, het hulle ook deur God se stem ontstaan. Hulle is ook geskape met die doel om te bestaan tot eer van hulle Skepper. Daar is nog ander dinge wat ons mense met hulle gemeen het. Maar daar is ook opvallende verskille.

Mense is geskape as kinders van God. Engele is diensknegte. Daarom is die mens hoër in rangorde. Hierdie posisie van die engel as dienskneg gaan daarmee saan dat hy in opdrag van die Here die Seun moet dien.

Wanneer die mens sondig, loop hy weg en word ʼn verlore seun wat, as hy volhard in sy sonde, as kind verlore gaan. Maar as die dienskneg sondig, kan God hom ontslaan, iets wat Hy nie met ʼn seun kan doen nie. Daar is inderdaad diensknegte ontslaan; die diensknegte wat ongehoorsaam was en teen God in opstand gekom het. Hulle kan nie weer terugkom nie; die verlore seun kan wel. Ons sal later weer hierop terugkom.

Verder is hierdie diensknegte wonderlike en verhewe skepsels. Ons sien dit uit die name wat vir hulle gegee word. Name soos konings, heersers, gesagvoerders, maghebbers (Kol 1:16). Nee hulle is nie so verhewe soos Christus nie. God het nooit vir enige van die engele gesê wat hy vir sy Seun gesê het nie (Hebr 1:4-6). Daarom word die engele ook aangespoor om die Seun van God te aanbid. As daar van Christus gesê word dat Hy weinig minder as die engele gemaak is, dui dit op sy menswording en sy staat van vernedering.

Ons weet wanneer die mens geskape is. Op die sesde dag. Maar wanneer is die engele geskape? Daar word algemeen aangeneem dat hulle skepping saam met die skepping van die hemel plaasgevind het. Dit gebeur mede op grond van wat in Job 38:7 staan. Toe die aarde op sy voetsukke neergesit is, het die môresterre saam gesing en al die hemelinge het gejubel. Die môresterre is die engele, net so ook die hemelinge. Hulle was dus alreeds daar toe die aarde tot stand gekom het.

ster

Dat die engele die naam “môresterre” gekry het, het ʼn spesiale betekenis. Die môrester kondig die einde van die nag en die begin van ʼn nuwe dag aan. Dit was by die skepping van die aarde ook die geval. Toe die aarde geskep is, was dit woes en donker. Maar dit het verander toe God gesê het: Laat daar lig wees. Die môresterre het dit aangekondig. Hulle doen dit nog steeds. In die Kersnag, ook op die oggend van die Paasfees. Maar as die son deurbreek, dan verdof die môrester. As Christus verskyn, verbleek die glans van die engele.

Liturge🔗

Natuurlik is die engele met ʼn doel geskape. Oor die algemeen met dieselfde doel waarmee alles geskape is: tot eer van die Skepper. Maar hoe kan die engele daardie doel nastreef? Hulle is God se besondere diensknegte. In Hebr 1:14 word hulle "geeste in diens van God” genoem. “Geeste” wys daarop dat hulle sonder liggaam en daarom onsigbaar is. Hulle onsigbaarheid het daartoe gelei dat hulle bestaan ontken is. Asof dinge wat onsigbaar is nie werklik bestaan nie.

Hierdie geeste is “dienende”. Eintlik moet ons dit vertaal met “liturgies”. Die woord “liturgie” het vroeër  beteken: diens aan die hof, diens aan die vors, koningsdiens. Omdat die diens aan die keiser hoe langer hoe meer ʼn godsdienstige inhoud gekry het, het die woord “liturgie” ook ʼn meer religieuse betekenis gekry. Dit het later ʼn erediens beteken.

Engele is dus dienaars of handlangers in ʼn koninkryk. Hulle staan in ʼn direkte verhouding met die Koning, die Here van hemel en aarde. Om ons ʼn idee te gee van die aard van die verhouding moet ons die roepingsvisioen van Jesaja naslaan (Jes. 6).

Jesaja sien die serafs, dis ʼn sekere kategorie van die engele. Hy sien hulle rondom die troon van God staan. Almal het ses vlerke, verdeel in drie pare. Met die eerste paar het hulle hul gesigte bedek – ʼn aanduiding van hulle diep eerbied vir God, hulle Maker. Met die tweede paar vlerke het hulle hul voete bedek – ʼn aanduiding van hulle versigtigheid: hulle sal nie êrens heen gaan sonder ʼn bevel nie. Met die derde paar vlerke vlieg hulle – ʼn aanduiding van hulle bereidheid om onmiddellik te vertrek sodra hulle ʼn opdrag gekry het. Daarom staan daar in ʼn Psalmreël dat hulle in gereedheid wag op ʼn woord uit God se mond.

God wys dit vir Jesaja as Hy hom tot sy diens roep. Nou weet Jesaja hoe hy sy roeping moet vervul. “Soos in die Hemel so ook op die aarde”. Dit is reg dat die Kategismus, in sy verklaring van die derde bede van die Onse Vader, daarop wys dat elkeen in die gees sy roeping moet vervul. Die engele is vir ons ʼn voorbeeld.

Heerlikheid🔗

Hulle hoë posisie veroorsaak dat die engele iets van die hemelse heerlikheid aan hulle dra as hulle op die aarde hulle werk volbring. Wanneer hulle aan mense verskyn, kom daar ʼn vrees oor die mense vanweë die majesteit wat hulle uitstraal. Vrees oorval die herders in die velde van Efrata (Luk. 2:9). Vrees oorval die vroue op Paasmôre (Luk. 24:5). Daniël val met sy gesig op die grond en sy reisgenote probeer wegkruip as ʼn engel aan hulle verskyn (Dan. 10:7, 9).

gesig op grond

Dit is nie sommer niks om ʼn engel te sien nie: dis ʼn bode direk van God af. Regtig, engele lyk heeltemal anders as die afbeeldings wat ons soms op kerkorrels sien: babatjies met kaal boudjies en ʼn trompetjie voor die mond. Ons moet ons nie misreken nie.

God maak sy engele geeste (of winde); vuurvlamme. Dink daaraan: wind en vuur. Geweldige kragte wat jy nie kan tem nie. Onweerstaanbaar, of hulle nou ʼn blye boodskap bring of ʼn dreigement van oordeel. Hulle is altyd indrukwekkend – as hulle die vier winde vashou (Openb. 7:1) of vuur op die aarde gooi (Openb. 8:5, 7).

Behalwe hulle majesteit blyk ook hulle trou uit die manier waarop hulle die Here dien. Byvoorbeeld uit hulle optrede wat betrekking het op die Here Jesus. ʼn Engel verskyn aan Josef in ʼn droom om te sê dat hy met die Kind en sy moeder na Egipte toe moet vlug (Mat. 2:13). Nadat die duiwel vir Jesus veertig dae in die woestyn versoek het, kom engele om die Seun van God te dien: om Hom van kos te voorsien (Mark. 1:13). ʼn Engel kom in Getsémane om Hom in sy intense smart te versterk (Luk. 22:43). So vervul die engele as liturge hulle diens aan die groot Koning. En God verheug Hom in hulle diens. Na die verskriklike gebeurtenis – die opstand van ʼn deel van die engele in die hemel en die val van die mens op aarde – het God in ieder geval nog die getroue engele se diens oor. Ja dit is vir God ʼn vreugde.

Om met vreugde God te dien🔗

En die engele self? Hulle ervaar ook vreugde as hulle God dien. Jesaja het in sy roepingsvisioen gehoor hoe hulle sing: “Heilig, heilig, heilig is die Here”. Dit is mos verstaanbaar? Hulle het dit ervaar dat baie van hulle kollega-engele teen die Here rebelleer. Onder een se leiding het hulle probeer om God te onttroon. Toe moes al die engele kies: waar wil jy jou skaar? Die van hulle wat gekies het om aan God getrou te bly, was toe getuies daarvan dat God, tot sy groot verdriet, moes beleef dat ʼn groot deel van sy goeie skepping verwoes word.

Daarna het die getroue engele ook nog gesien dat die mens van God afvallig word. En weer was daar droefheid in die hemel. Die engele het geweet dat die Here bedroef was dat Hy die mens op aarde gemaak het, dat dit Hom diep gegrief het (Gen. 6:6). Hulle het hulle God in hulle harte so lief gehad dat hulle saam met Hom getreur het oor die verwoesting wat God se skepping getref het, in die hemel sowel as op die aarde.

Is dit te veel om te sê dat ons kan aanvaar dat die engele wat getrou gebly het, nou met dubbele ywer God dien en Hom met ekstra liefde eer en verheerlik?