Ek beloof om die Evangelie te verdedig - die legitimasie-eed
Ek beloof om die Evangelie te verdedig - die legitimasie-eed
Staupitz, wat instrument was in die hand van die Here om Martin Luther toe te rus vir sy kerklike taak, het hom by geleentheid gevra om voor te gaan in die prediking van die evangelie in die Augustynse klooster. Luther, wat toe nog maar ‘n jong professor in die teologie was, het hierdie taak probeer vermy. Graag het hy hom beperk tot sy meer akademiese verantwoordelikhede. Na aandrang van Staupitz, het Luther steeds bly antwoord : “Nee, nee, dit is geen geringe saak om voor mense in die Naam van die Here te praat nie!”
In hierdie erns van Luther merk mens reeds die besef van die goddelike roeping waarmee hy toe en ook later sy werk as bedienaar van die Woord gedoen het. Op 18 Oktober 1512 het hy sy lisensiaat in die teologie ontvang en by hierdie geleentheid die volgende eed afgelê : “Ek sweer dat ek die evangeliese waarheid met al my mag sal verdedig” (Juro me veritatem evangelicam viriliter defensurum). Hierdie eed van Luther as doctor in die godgeleerdheid, is ‘n ekwivalent van wat later in gereformeerde kerke praktyk geword het in die ondertekening van die belydenis van die kerk deur predikante en ander ampsdraers.
Die tyd waarin ons vandag leef is egter glad nie meer ten gunste van só ‘n binding deur ‘n belofte nie. Trouens, talle predikante en ander ampsdraers vind dit geen sonde teen die Here en hul naaste om hulle woord te verbreek nie. Die binding aan hul eie woord deur ‘n belofte en selfs ‘n eed (legitimasie-eed!!), het tot ‘n mate betekenisloos geword. Dit is op sigself al ‘n haglike situasie dat dit só kan gaan in ‘n kerk. Dit is immers niks minder nie as ‘n ydellike inroep van die Here as getuie nie. ‘n Oortreding van die derde gebod! Terwyl daar aan die derde gebod ‘n sanksie verbind is - “die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie”. Boesem dit geen vrees vir die Here meer in nie? Kan predikante hulle legitimasie-eed ligtelik verbreek en dan werklik verwag dat die Here se oordeel sal uitbly?
In tye waarin Luther kerklike en politieke leiers teenoor hom sien staan het in vyandskap, het hy juis geweldig groot versterking en bemoediging ontvang uit die eed wat hy afgelê het. Selfs in tye waarin hy so goed as die dood in die oë gestaar het, kon hy in sy getuienis standvastig, rustig en vol geloofsvreugde bly, want hy het homself herinner dat hy in die Naam van die Here begin het. Met sy “legitimasie-eed” het hy homself in die hand van die Here geplaas. Hy vra dan ook op ‘n heel kritieke oomblik in sy lewe : “Wie het God gebid om my ‘n doktor te maak? As dit Hy is wat my een gemaak het, laat Hy my dan ondersteun; of andersinds, as Hy berou het oor wat Hy gedoen het, laat Hy my uit my amp wegneem”.
Vryheid as predikant om jou legitimasie-eed te verbreek, het niks te doen met christelike vryheid nie. Dit is gewoon misbruik maak van die Naam van die Here. ‘n Kerk wat nie van haar predikant verwag om hom te hou aan sy eed nie, stel nie christelike ruimhartigheid en verdraagsaamheid ten toon nie. Dit is ‘n prysgee van haar karakter as “pilaar en grondslag van die waarheid” (1 Tim. 3 : 15). Die band aan die belydenis van die christelike kerk, kan nie prysgegee word, sonder om die taak, naam en funksie as gemeente van Christus ook prys te gee nie.
Op die sinode van Emden 1571 word die belydenis reeds met ‘n geskrewe eed erken as belydenis van elke afgevaardigde. Die ondertekening van die belydenis het beteken: “Dit glo ook ek”. Wanneer die belydenis deur meerdere gelowiges onderteken word, begin dit funksioneer as formulier / simbool van eenheid. Die ondertekening was dus geen verwysing na die belydenis as dokument van ‘n gelowige voorgeslag nie. Dit was op sigself ‘n belydenis van persoonlike geloof.
Wanneer ‘n ampsdraer die belydenis onderteken (soos in die aflegging van die legitimasie-eed deur predikante), ontvang die kerk/e waarin die predikant gaan dien, die waarborg dat hy sy ampswerk getrou en volgens die geloof–eenmaal-aan-die-gelowiges-oorgelewer, sal vervul. Die ondertekening is niks minder as ‘n belofte nie. ‘n Belofte of eed gedoen voor die aangesig van die Here (coram deo) en sy gemeente. Die legitimasie-eed is op sy minste ‘n belofte van die predikant voor God en sy gemeente, dat die predikant deur die Here se genade die leer van die Skrif met sy lewe sal verdedig, verkondig en bevorder.
Elkeen wat dit onderteken het, is vir sy lewe lank aanspreekbaar op hierdie eed / belofte; as beskerming van die gemeente van Christus, die eer van Christus self en tot heil van die ampsdraer self.