Bron: De Wekker, 2008. 3 bladsye. Vertaal deur Alet du Plessis.

Eensaamheid

eensame vrou

Dit word vandag as taboe beskou: eensaamheid. Mense swyg liewers daaroor as om met ander daaroor te praat. Terwyl dit ʼn groeiende probleem is.

Wat is die rede vir die toenemende eensaamheid? Daar word gewys na die vergrysing (veroudering) van die Nederlandse bevolking, maar volgens my is dit meer as net veroudering. Dit is bekend dat onder die jong professionele mense – dus in die ouderdomsgroep van 30-45 jaar – eensaamheid aan die toeneem is. Daar is iets anders aan die gang en een van die redes moet waarskynlik wees: groter verbintenisse verloor hulle betekenis. As kerk is ons bekommerd oor krimpende lidmaatgetalle, maar ons moet nie vergeet dat hierdie verskynsel orals aan die orde van die dag is nie. Dit word – so lyk dit – steeds moeiliker om mense te kry om te dien op die kerkraad. Ook vakbonde, verenigings en politieke partye vind dat dit al moeiliker word om hulle lede te behou, laat staan nog om te probeer lede werf. Die mens van vandag hou vas aan sy individualiteit en laat hom nie graag bind nie. Daardeur word ʼn sekere samehorigheid uit ons gemeenskap verwyder en dit het eensaamheid tot gevolg.

Dit is nie goed nie🔗

As jy jouself afvra of die Bybel iets sê oor eensaamheid, ontdek ons ʼn paar interessante dinge. Die eerste keer dat ons in die Bybel hoor dat daar gesê word dat iets in die oë van die Here nie goed is nie, is in Gen. 2:18. Elke keer is daar aan die einde van die skeppingsdae gesê dat dit goed was, maar nou is iets nie goed nie. Hoekom nie? Omdat Adam alleen is. “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” En dan word Eva vir Adam gegee as ʼn hulp vir hom. Later kan jy sien in Gen. 11 dat daar verwydering kom – en dit lyk vir my na ʼn belangrike stap in die rigting van eensaamheid – tussen die mense, na die bou van die toring van Babel. Ek sien ʼn verband tussen die verwydering tussen mense en die breuk met die Here God, wat in Gen. 3 al beskryf word, en in Gen. 11 weer onderstreep word.

In die Evangelies sien ons elke keer dat die Here Jesus mense (terug)plaas in ʼn gemeenskap. Dink maar aan die vrou in Markus 5 wat aan bloedvloeiing gely het: twaalf jaar lank was sy uitgesluit uit die gemeenskap, onrein deur haar siekte. Sy word genees deur aan Jesus te raak, maar Hy laat haar nie terugval in haar anonimiteit nie. Hy gee haar tyd om te vertel wat met haar gebeur het, sodat die omstanders dit duidelik kan hoor. Of dink maar aan die melaatses wat deur Jesus genees is en daardeur bevry is van die afsondering waarin hulle beland het as gevolg van hulle siekte. So ʼn kort kykie in die Skrif maak een ding duidelik: eensaamheid kom nie van God af nie. Inteendeel: Hy plaas mense in ʼn gemeenskap.

Die gemeenskap in die Johannes evangelie🔗

Nou moet ons versigtig wees om nie oppervlakkig hierna te kyk nie. Sonder dat ons dit weet kan ons die geheim van saamlewe mis wat die Bybel vir ons onthul. Om te verduidelik wat ek bedoel, wil ek “inzoom” op die evangelie van Johannes. Dan dink ek eerstens aan die Samaritaanse vrou in Joh. 4. Sy gaan op die hitte van die dag water skep by die put – en al sê die evangelis dit nie, jy kan maar aanvaar dat sy dit doen om mense te vermy. Hulle sou sekerlik oor haar geskinder het oor haar lewensstyl. Om die praatjies te vermy gaan haal sy water op ʼn tyd wanneer niemand anders daar is nie. Nadat Jesus met haar gepraat het, storm sy vol vreugde terug na die stad toe en roep haar stadsgenote nader. As Jesus haar verlede bekendgemaak het, en aan haar ondanks haar verlede ʼn toekoms geskenk het, kan sy met ʼn regop hoof terug in die stadsgemeenskap ingaan. Dit is opmerklik wat sy dan sê: “Kom kyk, hier is ʼn man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” As Jesus oor haar verlede begin, is dit nie bedreigend nie maar bevrydend.

waterput

Aan die einde van die evangelie sien ons Jesus in gesprek met Petrus. Tot drie maal toe vra Jesus vir hom: “Simon, het jy my lief?” So word Petrus se verloëning deur Jesus self opgehaal. En Petrus word so deur Jesus gelei, dat dit nie meer oor homself gaan nie, maar dat hy sy houvas vind in Jesus se woord: “Here U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” So word Petrus deur Jesus teruggebring in die gemeenskap van die dissipels: sy verlede is bespreek en hy ontvang ʼn nuwe toekoms.

Ten slotte: dit is betekenisvol dat Jesus in die Johannes evangelie van die kruis af vir Johannes en Maria aan mekaar gee as moeder en seun. Dit is Hy wat hulle saambring en in die gesindheid ontvang hulle mekaar ook: Jesus is altyd deel daarvan. Van die kruis af verbind Hy mense met mekaar en dit beteken dat die eenheid altyd deel is van die werk wat Jesus kom doen het. Moet nooit vergeet dat die gemeente rondom die kruis ontstaan nie.

Gemeenskap van sondaars🔗

So sien ons dat die wegneem van eensaamheid in die Bybel saamhang met die wegneem van ʼn verlede, van skuld. Ek stel dit juis so omdat dit belangrik is. Jy kan nie sê dat eensaamheid en sonde direk saamgaan nie. Maar eensaamheid is wel ʼn gevolg van die gebrokenheid van die goeie skepping. Dit beteken dat die bose uit sy pad sal gaan om eensaamheid in stand te hou. Dit is nie verniet dat sy naam in Grieks diabolos is, dit beteken “uitmekaarwerper” – dit wat een is, werp hy uitmekaar. Hy wil graag mense isoleer. Hoe? Deur hulle te laat glo dat daar nie vir hulle plek is by die Here God, in die gemeente van Christus nie. Deur hulle te laat stilstaan by hulle verlede en voor te gee dat daar vir die dinge nie vergewing is nie. Hy verander God se vriendelike aangesig in ʼn streng en onvriendelike gesig – so het hy begin (Gen. 3!) en so maak hy nog altyd. So probeer hy verhinder dat ʼn eensame mens binne die gemeente van Christus vergewing en vrede vind.

Aangesien ons dit weet, moet ons in ons kerk-wees daarmee rekening hou. Ons glo dat die kerk die gemeenskap van die heiliges is. Maar ons sien dit tog nie altyd nie? Kan ons dit waag om ʼn gemeenskap van sondaars wees? ʼn Plek op die aarde waar ons nie mooier hoef te lyk as wat ons werklik is nie, maar waar ons die maskers kan afhaal omdat ek hier nie bedreig word oor wie ek is of wat ek gedoen het nie. Ons praat binne die kerk oor alles: ons toets wat ons gawes is, soek na God se plan met ons lewens, ervaar geestelike groei – en dit alles is belangrik. Maar vergeet ons nie soms te maklik dat ons eintlik niks meer is – en niks meer wil wees nie – as ʼn gemeenskap van sondaars by die kruis? Is daar binne ons kerklike gemeenskap plek vir een wat nie so vroom is nie? Vir die sondaar? Hoe sal hy voel as hy die mense om hom net hoor praat oor die een diep ervaring na die ander? Hy sal bevestiging kry vir wat hy vermoed het: dat al hierdie mooi dinge nie vir hom bedoel is nie. Daarom lyk dit vir my belangrik dat daar binne die gemeente van Christus gepraat word oor die nood van ons lewe. Ek weet dat jy nou met gespitste ore luister. Mens kan mos maklik ontspoor en dan die mens as middelpunt stel. Maar ʼn ware gesprek, van hart tot hart, wat afgesluit word met ʼn gebed tot Hom wat alles weet – wat vir ons ʼn toekoms bewerk – dit kan groot verligting bring. Dit kan die pad vir ʼn eensame mens na die gemeenskap oopmaak. Christus bring nie vromes bymekaar nie, maar sondaars.

hande

Ten slotte: ek besef dat daar in hierdie artikel slegs op een aspek van eensaamheid ingegaan is. Die probleem is baie breër en dieper. Miskien sê jy: hou op, ek weet van alles! Maar ek hoop dat die slotsom waartoe ons kom vir die hele probleem geld: dat die gemeente van Christus in hierdie wêreld ʼn plek is waar ons die maskers kan afhaal en saam kan stil word rondom die kruis van Hom wat ons bymekaar bring. ʼn Bymekaarkom wat die eensaamheid verdryf.