Dietrich Bonhoeffer - Die Navolging van Christus
Dietrich Bonhoeffer - Die Navolging van Christus
“Gevangene Bonhoeffer, vat jou goed en kom saam”.
Bonhoeffer soek sy goed bymekaar en neem afskeid van sy medegevangenes. Aan een van hulle sê hy: “Dit is die einde – vir my die begin van die lewe”.
Na ’n lang motorrit kom hy saans laat by die kamp in Flossenbürg aan. Dan vind die verhoor plaas wat uitloop op die reeds bekende vonnis: hang.
In die dowwe môrelig sien die kampdokter deur die geopende deur van die barak hoe hy in gebed versink is. Later, by die galg, bid Bonhoeffer weer. Rustig beklim hy die skavot. Die dood volg ʼn paar sekondes later. Tien jaar later verklaar die dokter: “In my vyftigjarige praktyk het ek nog nooit iemand met soveel oorgawe aan God sien sterf nie”.
So het Dietrich Bonhoeffer deur die hand van die beul net voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, 9 April 1945, gesterf.
ʼn Te Kort Lewe⤒🔗
Hy was nog nie eers veertig jaar oud nie. In 1906 is hy gebore as kind van ’n welgestelde familie. Sy pa was een van die beroemdste sielkundiges van Duitsland. Die familie was Christelik, maar nie juis kerklik meelewend nie. Dit het almal dan ook baie verbaas dat die jong Dietrich besluit het om teologie te gaan studeer.
Hy was ʼn briljante student. Op een-en-twintigjarige leeftyd promoveer hy. Dit het gelyk asof daar vir hom ʼn pragtige akademiese loopbaan voorlê. In 1931 begin hy as dosent by die Universiteit van Berlyn werk. Verder doen hy ook nog pastorale werk. Intussen bou hy ʼn netwerk van buitelandse kontakte op, met name via die internasionale ekumeniese beweging. Maar dan breek 1933 aan: Hitler kom aan bewind. Reeds vanaf die begin verset Bonhoeffer homself teen die ideologie en die praktyk van die Nazisme. Aanvanklik het die verset ’n kerklike karakter: Bonhoeffer sit sy kragte in vir die “Bekennende Kirche”, die belydende kerk wat hulle daarteen verset het dat die Nazi’s ook hulle ideologie op die kerk sal afdwing. Hy is ook ’n aantal jare die leier van die predikantsopleiding van die “Bekennende Kirche”.
Vanaf 1940 raak Bonhoeffer nog dieper betrokke by die verset. Hy kom in kontak met hoë militêre wat ’n staatsgreep teen Hitler beplan. Hy dien dan as hulle kontakpersoon met die buiteland. Begin 1943 raak hy verloof aan Maria von Wedemeyer. Kort daarna word hy gearresteer: 5 April 1943. ʼn Aantal jare is hy in ʼn tronk in Berlyn. Aanvanklik lyk dit of die verdenkinge teen hom nie baie konkreet is nie en hoop hy dat hy vrygelaat sal word. Maar op 20 Julie 1944 vind Von Stauffenberg se mislukte aanslag op Hitler plaas. Dan word ook Bonhoeffer se rol in die verset ontdek.
In die laaste maande van die oorlog word hy heen en weer gesleep tussen die tronke en kampe van die sterwende Derde Ryk. Hitler sien sy ondergang naderkom en hy wil sy vyande daarin saamsleep. Op 5 April 1945 beveel die Führer die teregstelling van almal wat by die verset betrokke was. Dit beteken die einde vir Dietrich Bonhoeffer, die einde wat vir hom die begin van die lewe was.
Christus Sentraal←⤒🔗
Hierdie kortgeknipte lewe het ’n rykdom van inspirerende gedagtes opgelewer. Jammer genoeg kan ʼn mens nie eintlik praat van Bonhoeffer se teologie nie. Hy het nie die geleentheid gekry om tot ʼn afgeronde opvatting te kom nie. Dit het slegs by fragmente en gedeeltes gebly: ʼn paar onvoltooide manuskripte en ʼn stroom van briewe wat hy in die gevangenis in Berlyn geskryf het.
Tog is dit wel moontlik om ʼn paar lyne in sy denke raak te sien. Die eerste wat genoem moet word, is die plek wat Christus inneem.
Christus staan sentraal. Die persoon van Jesus Christus, God wat mens geword het: om Hom sirkel al Bonhoeffer se gedagtes. Onophoudelik hou een vraag hom besig: “Wie is Christus vandag vir ons?”
As jy iets van Bonhoeffer kan leer, dan is dit die volgende: die lewe van ʼn Christen is ʼn lewe waarin Christus sentraal staan. Dit gaan nie net daaroor dat jy Christelike teorieë en opvattings jou eie maak nie. Nee, dit gaan oor die konkrete betekenis van die persoon van Jesus Christus. Juis vanuit hierdie oortuiging het Bonhoeffer die Nazisme radikaal afgewys. Christus staan in die middelpunt. Dit beteken: Christus staan tussen my en alles in hierdie wêreld. So staan Christus ook tussen my en die volk waaraan ek behoort. Hy is altyd die Middelaar, vir wie jy nooit kan ontwyk nie.
Die byl aan die wortel van die “Duitse Christendom”, was dat Hitler as die deur God gegewe leier begroet is. Hitler self, die Duitse ras en volk, die Duitse bodem: dit is gesien as regstreekse openbaring van God en van sy wil. Nee, het Bonhoeffer gesê: Christus staan ook daar tussen. Hy is die Heer oor alles. Geen Führer-beginsel kan ooit daar tussen kom nie.
Navolging←⤒🔗
Maar as Christus sentraal staan, dan beteken dit konkreet dat ek Christus moet navolg. Die ingrypendste boek van Bonhoeffer handel daaroor: Navolging. Die boek is die verwerking van lesings oor die Bergrede wat Bonhoeffer aan die predikantsopleiding gehou het. Bonhoeffer se studente worstel daar met die vraag of dit nie veiliger sou wees om hulle by die “Duitse Christendom” aan te pas nie. Dit het gelyk of Hitler oppermagtig was. Wat sou hulle toekoms wees as hulle hulself sou bly verset teen die gelykskakeling?
Bonhoeffer het aan hulle die weg van radikale navolging gewys. As Christus jou vra om Hom te volg, is daar nie tyd vir verskonings nie. Dan is dit tyd vir eenvoudige gehoorsaamheid: neem jou kruis op en volg Hom.
Die eerste bladsye van hierdie boek, waarin Bonhoeffer teen “goedkoop genade” waarsku, is onvergeetlik. Goedkoop genade, dit is genade wat in diens van die sonde staan: Daar is vergewing, dus jy kan maar rustig sondig. Maar genade is nie goedkoop nie. Genade is baie kosbaar, so kosbaar soos die bloed van Jesus Christus. Kosbare genade, dit is die genade waardeur jy geroep word op die weg van navolging.
Bonhoeffer onthul radikaal die meganisme van goedkoop genade. As ʼn mens dit vir die eerste keer lees, skrik jy daarvan. Die evangelie van genade kan inderdaad in diens van die sonde misbruik word. So misbruik ek dit ook baie maklik. Slegs die evangelie van die kosbare genade in Christus kan my daarvan verlos. Hierdie weg van navolging wou Bonhoeffer gaan. Hy was bereid om sy loopbaan en sy lewensgeluk op te offer op die pad wat Christus hom gewys het. Juis dit maak Navolging so aangrypend. Bonhoeffer het hierdie boek en die inhoud met sy lewe beseël.
Die Skrif←⤒🔗
As ʼn mens Navolging lees, word jy getref deur die intense manier waarop Bonhoeffer met die Heilige Skrif omgegaan het. Die Bybel het baie groot betekenis vir hom gekry. Ek stel dit juis so, omdat die Bybel nie altyd dié betekenis vir hom gehad het nie, maar dat dit deur die loop van die tyd so gegroei het. Bonhoeffer het self daarvan getuig dat dit eers anders was. Hy was al lankal teoloog en hy het baie van die Bybel geweet. Maar in werklikheid het die Skrif maar min vir hom beteken. Op vyf-en-twintigjarige leeftyd het dit egter verander. Hy begin die Bybel lees asof dit die woord is wat God tot hom spreek. In ʼn brief skryf hy die volgende daaroor: “Vandat ek geleer het om die Bybel so te lees, word dit elke dag wonderliker vir my.”
Baie van Bonhoeffer se geskrifte getuig daarvan hoe belangrik die omgang met die Bybel vir hom was. Hy het die gewoonte gehad om daagliks te mediteer oor die dagteks van die Herrnhutter broeders. Hy het ook gepoog om hierdie gewoonte aan sy studente oor te dra. In sy briewe wat hy in die tronk geskryf het, word dit duidelik dat hy tot die einde toe hierdie gewoonte volgehou het. In die sel het Bonhoeffer beskikking gehad oor heelwat boeke, wat hy intensief bestudeer het. Maar die Bybel het sentraal bly staan. Hy was skaars ʼn jaar in die tronk toe het hy die Ou Testament alreeds twee en ʼn half keer deurgelees. Hy beroep hom ook dikwels op dit wat die Bybel sê.
Tog kan ons Bonhoeffer nie sommer ’n Bybelgetroue teoloog noem nie. Hy het sy opleiding by ʼn liberale skrifkritiese skool ontvang en die invloed daarvan is dikwels sigbaar. Die skrifleer van Karl Barth het ook ʼn invloed op hom uitgeoefen: die Bybel is slegs getuienisse van God se openbaring en nie God se openbaring self nie.
Bonhoeffer se verbondenheid met die Bybel is diep en in baie opsigte goed. Jy kan baie daarvan leer. Sy teologiese visie op die Bybel roep egter vrae op. Dit werk ook in die res van sy teologie deur.
Slot←⤒🔗
Bonhoeffer het die problematiek van ʼn gesekulariseerde wêreld goed raakgesien. Sy antwoorde op die problematiek het egter gebreke, juis as gevolg van sy visie op die Bybel.
Dit bly egter staan dat hy ʼn teoloog was van wie ons baie kan leer. Die wyse waarop Christus by hom sentraal staan, sy intensiewe omgang met die Bybel, sy preke oor die weg van navolging, sy gaan van die weg tot aan die galg: Bonhoeffer is ʼn teoloog wat jy nie meer gou sal vergeet as jy jouself met hom besig gehou het nie.
“Wie is Christus vandag vir ons?” Wat beteken dit konkreet dat die persoon van Jesus Christus in die sentrum van jou lewe staan? Wat beteken dit nou, in die een-en-twintigste eeu? Wat vra radikale navolging van ons? Dit is vrae wat Bonhoeffer se teologie nog steeds aan ons vra. Mag God ons die geloof en moed gee om antwoorde op hierdie vrae te vind.