Dierebeskerming
Dierebeskerming
Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed.
Spreuke 12:10
⤒🔗
Wysheid←⤒🔗
In die Spreuke-boek ontvang ons wysheid uit die mond van Salomo. Hierdie koning is geïnspireer deur die Gees van Christus, voor sy vleeswording. Ons ontvang wysheid en praktiese lewensinsig, vir ons lewe van elke dag, vir ons handel en wandel, vir ons werk buitenshuis en ons lewe by die huis, vir ons omgang met ons medemense, vir ons huwelik, die opvoeding van ons kinders, ens.
Met die bostaande spreuk ontvang ons van Christus ons omgang met ons diere, of ons nou in die stad of op die platteland of op ’n plaas woon. Ons hou tog almal van kaas, melk, botter, eiers, van leer en vleis (ook van biltong). Ook met die hantering van ons diere gee God uit die hemele vir ons openbaringe.
Maak van jou diere geen afgod nie←⤒🔗
Om die diere te verafgod, vind ons baie by die heidendom, of dit nou ’n ou sekte of ’n nuwe sekte is. Dink maar aan die ou heidense volke wat die dier aanbid het. Tot vandag word die heilige koeie in Indië nie geslag nie. Mense bewys hierdeur dat die diere goddelik vereer moet word.
Iets van diere-afgodery vind ons vandag al meer onder die mense: Die keuse van ’n troeteldier in die huis eerder as ’n verbondskind van God, of mense wat nooit ’n dier wil afslag nie. In Spreuke 12:27 lees ons: “Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is ’n kosbare skat vir ’n mens.” Met ander woorde die vlytige sal sy wild vang en ook daarvan mag geniet.
Dieremishandeling←⤒🔗
Langs alle vorme van afgodery hoor ons ook van die verwaarlosing en die mishandeling van diere. Ons hoor van diere wat geskop word, en wat mekaar vertrap in veels te klein vervoertrokke waarin hulle vervoer word, van katte wat met knuppels doodgeslaan word en van hondegevegte.
Dit is alles redes om Spreuke 12:10 te oorweeg met die hantering van ons diere. Die vertaling van prof. Gemser lui as volg: “De rechtvaardige kent aard en behoefte van zijn vee, maar het hart der goddelozen is zonder erbarmen.”
Die regverdige boer←⤒🔗
Regverdig is die man wat van God barmhartigheid ontvang het. Hy het deel aan die redding van (die komende) Christus. ’n Regverdige wil dankbaar naas die Wet van God lewe, en as hy gesondig het, dan was daar die diereoffers, die voorafskaduwing van die offer van die LAM van God, Jesus Christus. Deur hierdie offer is daar vrede vir die regverdige boer. Deur Christus se Gees ken die boer voortdurend die lewe van sy diere, hy het steeds hart vir sy diere, hy voel sy diere aan, hy ken hul gemoedstoestand en hul gevoelstoestand. Dit is vir hierdie boer nie die onnosele beeste wat weer gemelk moet word nie. Wanneer hy in die stal kom, sien hy dat die diere nie soos gister is nie, die perd reageer anders as gewoonlik. Wat word dit dan: ’n vloek? Of gaan hy die diere toespreek?
Die hele Wet in jou hart←⤒🔗
Die regverdige boer leef die hele Spreuke-boek uit. Daarom het hy sy eie vrou en neem nie deel aan die gevloek van die goddeloses nie, hy voorsien die leegheid in die lewe sonder Christus, van leuenagtige lippe en bose harte wil hy niks weet nie. Hy wil wys wees en nie dwaas nie. Wysheid vir ons hele lewe leer ons tog uit die Spreuke-boek. Hierdie man het ook hart vir sy diere.
Ons moet nie oordrewe of eksklusiewe aandag vir ons diere hê nie, en die Wet van God aan ons voordeur vasspyker soos dit wel die geval by sommige dierebeskermers is nie. Ons veg hard vir die beskerming van seediere soos robbe en pikkewyne wat met olie besoedel is, maar nie vir ’n ongebore kind nie.
’n Dier wat mishandel word, behaal die voorblad van die koerante, maar van die 500 (of meer?) wat op dieselfde dag geaborteer word, hoor ons nie eers van nie. Dit is selektiewe verontwaardiging.
Die teenoorgestelde is dus ook waar, ons stry teen aborsie met groot entoesiasme, maar oor ander misdaad praat ons nie eers nie. Wie homself regverdig ag, dra die hele Wet van God in sy hart.
Om ’n hart vir jou diere te hê←⤒🔗
Waaruit bestaan die sorg van ’n boer teenoor sy diere? Sonder om volledig te wees, word op die volgende vyf punte gewys:
- Gee jou diere ook ’n dag vry. Baie kerkmense hoor elke Sondag die vierde gebod van God se Wet: “...die sewende dag is die sabat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie jy, of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel, of enige dier van jou...” Deut. 5:14.
- Jy moet vir hulle sorg kos en water op die regte tyd, en voldoende leefruimte (nie in te klein hokke nie).
- In die ou Israel moes die volke hulle diere teen wilde diere beskerm. “So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie, en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak” (Eség. 34:5) “soos ’n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red.” (Miga 5:7)
- Jy moet jou diere teen die koue beskerm.
- Jy moet jou diere nie onnodig slaan nie (soos Biliam met sy esels gemaak het).
Goddelike wette←⤒🔗
Die Here God wil hê dat alle diere goed versorg moet word. Daarom het Hy verskillende wette uitgevaardig rondom die beskerming van diere. Ons lees in Deut. 25:4 dat daar in Israel gierige boere was, wat ’n os gemuilband het om die graan te dors. Die diere kon tydens die dorstyd nie van die koring eet nie, hulle het met hulle hoewe daaroor geloop om die korrels uit te kry. Maar die Here het die muilband verbied. Jy mag ’n dorsende os nie muilband nie, hy mag maar lekker eet van die korrels tydens sy sware arbeid. Gierigheid mog nie bestaan nie. Bowendien is God vir al Sy skepsele goed, vergelyk maar Psalm 145 ook.
“As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie: jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.” (Ex. 23:5) “Jy mag die esel van jou broer of sy bees nie sien val op die pad en jou vir hulle verberg nie; saam met hom moet jy hulle sekerlik ophelp.” (Deut. 22:4) God se goeie sorge vir mens en dier is in die Wet vasgestel. Daar is baie meer voorbeelde.
Wees ’n nugtere boer←⤒🔗
Dit is baie duidelik dat jy wel goed sal vaar by die goeie behandeling van jou diere. Dit lees ons in Spr. 27:23-27 “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee.” Dit beteken dat ons ywerig moet wees in die versorging van ons diere! Bestee volle aandag daaraan, want anders (ekonomiese motief) verdwyn jou rykdom. Dit is nugtere taal.
Wie sy diere verwaarloos, raak sy skatte kwyt. Wie in die somer goed vir sy diere sorg, geniet in die herfs, en in die winter (as die gras verdwyn en die groen verdor, dit wil sê die na-gras van die jaar) van die wol van sy skape (vir kleding). Jy kan van jou diere verkoop en ’n land aankoop, jy het dan genoeg melk, voeding en lewensonderhoud vir jou personeel. Dit is nugtere taal.
So geniet jy die seëninge in die verbond. Jy kan opreg lewe en geniet soos ’n regverdige boer: Die skaap lewer vleis en wol, die bokke gee melk, van bokhaar kan jy tentdoeke weef en van die vel van die bok kan jy watersakke maak. Die os was jou trekdier vir die ploeg en die wa, en die esel jou pakdier en lasdier, en duiwe kan boodskappers wees, so het dit omtrent gegaan in die boerelewe in die dae van ou Israel.
God self het ook ’n hart vir diere←⤒🔗
Herhaaldelik lees ons in die Bybel hoe God se hart ook vir diere is. Dit is geen wonder nie, want dit is ook Sy skepsele. Hy het hulle nie verniet geskape nie (Gen. 1). Ons lees ook dat Jona graag sou wou sien dat die Here die wêreldstad Ninevé moes verwoes. Maar die Here het gedink aan Ninevé, aan die mense, aan die kinders en aan die diere wat voor Hom in sak en in as gegaan het. Ook die dier moes ’n rougewaad om hê. (Jona 3:8) “...maar mens en dier moes ’n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep...” Die diere moes saam met die mense ly en vas vanweë die skuld van die goddelose bevolking.
Toe spaar die Here die stad. Maar Jona was kwaad, want hy wou sien dat die stad verwoes word, en dat die mense moes sterf. Hy wou die diere in die stad sien rondhardloop in die brandende stad, te midde van die verstikkende rook. Maar God was barmhartig, ook teenoor die diere wat in Ninevé was. “Maar Ek mag Nineve, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?” (Jona 4:11).
God sorg vir Sy skepsele←⤒🔗
Dit is God wat vir die leeuin haar prooi gee (vergelyk Job 39). Psalm 104 leer dat God aan die diere gras gee om te eet (dus nie die boer nie). Dit is die honger leeu wat vir prooi brul en van God sy spyse smag (nie van die mense nie). (vergelyk Ps. 104:14,21,27 en ook Ps. 36:7).
’n Vreesagtige Kerk kry van Christus die hoogste wysheid, ons hoor dit in Matt. 10:29-31, dat die Vader selfs vir die mossies sorg. Dan tog seker ook vir Sy Kerk? Is julle nie baie meer werd as die voëls van die hemel nie (Matt. 6:26).
Ons Heiland het ook ’n hart vir die skape gehad, wat op ’n sabbat in die put geval het (Matt. 12:11). Die regverdige ken by uitstek die lewe van sy diere!
Die Barmhartige Christus leer ons om barmhartig te wees teenoor mense en diere. Ook in om hantering van ons diere moet ons navolgers van Hom wees.
Geen sentiment←⤒🔗
Daar is baie mense wat ’n jassie vir hulle hond of vir hulle kat brei, ek kan nie heeltemal oordeel of dit baie naby aan verkeerde sentiment is nie. Die leser(s) moet maar self oordeel. Soms moet hardhandig teenoor diere opgetree word. Wie gevoel vir sy diere het, sal hulle soms hard moet aanpak.
Lastige, nukkerige diere is reeds in die Bybelse tyd met ’n ossestok in toom gehou, op die punt van die stok was ’n skerp voorwerp. Miskien was die ploeg en die dorswa ook met prikkelende voorwerpe voorsien. Wanneer die os agtertoe beweeg, verset hy hom teen die bevele van sy baas, en sal hy wel agterkom dat dit seer is teen die prikkels. Die Here Christus het hierdie beeld ook gebruik teenoor Saulus (Hand. 26:14): “Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.”
Geen sentiment nie. Ons weet dat ons ook diere mag slag: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees.” (Gen. 9:3). Maar daar is ook ’n verskil tussen slag en uitmoor, en tussen jag en uitroei. Die regverdige ken ook hier fyngevoeligheid. Wie goed is vir sy diere, is ook goed vir mense.
Die wrede hart van die goddelose←⤒🔗
In Spreuke 12:10 staan die regverdige teenoor die goddelose. Die regverdige ken die natuur en die behoefte van sy diere, maar die goddelose se hart is wreed en sonder erbarming. Daar is antitese, ook met die hantering van jou diere. Teenoor die liefdevolle gevoel ten aansien van jou diere staan die wrede lewensinstelling. Dit is nie net teen diere alleen nie, maar ook teenoor mense. Sê my hoe jy jou diere hanteer, en ek sal jou sê wie jy is.
Tog is daar ook goddeloses wat hulle diere liefdevol en opreg hanteer, maar bogenoemde spreuk is teen die wrede goddelose. Hulle wil nie leef van die bloed van (die komende) Christus nie. Hulle wil nie weet van versoening en van die Wet van God nie. Hulle lewe nie van God se barmhartigheid nie, en is ook nie barmhartig teenoor mense en diere nie.
Die goddeloses word in hierdie spreuk geteken. Hulle leef net vir hulle eie belange. Hulle wil net weet wat hulle diere vir hulle kan oplewer. Hulle gee nie om vir mense en diere nie, maar net oor hulle eie belange. Hulle bekommer hulle net oor die wins wat hulle van mense en diere kan ontvang, dan is hulle wreed.
←⤒🔗
Perspektief←⤒🔗
Wie wys wil word, wie Christus, die “Wysheid”, wil leer ken, lees die Spreukeboek. Om ’n hart vir jou diere te hê, is die toets vir jou regverdigheid (Spr. 12:10). En wie na die Vrederyk van Jesaja 11 uitsien, na die oomblik as die wolf en die lam bymekaar sal wei, en as die luiperd gaan lê by die bokkie, die kalf en die jong leeu bymekaar en die vetgemaakte vee, en ’n klein seuntjie hulle aanjaag. ’n Nuwe skepping wat hom verlustig in die Vader, die Seun en die Heilige Gees, dié Skepping is in wording. Die lydende skepping is met ’n halsreikende verlange daarheen oppad (vergelyk Rom. 8:18-22).