Die Wese van die Klassiek-Gereformeerde Belydenis
Die Wese van die Klassiek-Gereformeerde Belydenis
Stellig lyk dit asof die einde van die klassiek-gereformeerde Christendom aangebreek het. Dit lyk asof gereformeerd-wees in ‘n ernstige krisis verkeer. ‘n Soort “vervagingsproses” is aan die gang waar die fundamentele “eiegoed” van die gereformeerde belydenis al hoe meer onduidelik word en waar gereformeerd-wees al hoe meer opgaan in ‘n algemene ekumenies-gesinde christendom. Om slegs ‘n “algemeen-protestantse“ kerk te wees, is vir baie eens-gereformeerdes genoeg.
Daarom word daar gevra of gereformeerd-wees nie ‘n oorbodige luukse is nie. Veral in ‘n tyd waar alle Christene mekaar broodnodig het. Wat beteken gereformeerd-wees nou juis teenoor ander tradisies soos die Lutherse of Metodistiese of Pinkster tradisies? Moet gereformeerd-wees nie eerder opgaan in een algemene Christelike kerk nie? Wanneer dit gaan om die hoofsake en wese van die geloof, mag daar tog nie verskille tussen kerke wees nie? Die eiegoed van die gereformeerde belydenis raak tog sekerlik nie die wese van die saak nie. Dit handel mos maar meer oor bykomstighede. Gesien in die lig van Christus se duidelike opdrag om “een” te wees, tree gereformeerdes mos onchristelik op deur vas te klou aan die wesens-aspekte van hul belydenis! Sodoende skep hulle mos eerder verdeeldheid as eenheid!
‘n Verdere beswaar hou verband met die vraag of die klassiek-gereformeerde belydenis nie verouderd is nie. Kan iets uit die sestiende eeu nog pas in die 21ste eeu? Daar is immers ‘n hemelsbreë verskil in geestelike klimaat tussen die 16de en 21ste eeu?
In die tyd van die Reformasie het die mens geleef onder ‘n sterk bewussyn van skuld en sonde. Die vraag was: waar kry ek ‘n genadige God? By die moderne mens leef eerder ‘n vraag na die bestaan van God en die sin van die lewe.
Die vraag is dus of die klassiek-gereformeerde belydenis nog enigsins rekening hou met die ontwikkelinge wat sedert die 16de eeu plaasgevind het en of dit nog antwoorde kan bied op die vrae van die moderne tyd. Is dit nie grootliks verouderd nie? En, is die teologie en prediking wat op hierdie belydenis gebou is, nie net so verouderd nie? Moet die wese van die geloof en die boodskap van die Bybel nie juis nuut vertolk en bely word nie? Die wetenskapsbeoefening rondom die verstaan en uitleg van die Bybel het tog grootliks ontwikkel. So byvoorbeeld was die histories-kritiese omgaan met die Bybel ‘n stap vooruit. Die Bybel word immers vandag beter hanteer en verstaan as voorheen?
Ten grondslag van hierdie vrae lê die tendense van die moderne tyd. ‘n Ekumeniese gees beheers immers wêreldwyd die christendom. Ter wille van kerklike eenheid word die eie konfessie verdring. Die gemeenskaplike dra groter gewig as die eiesoortige. In ‘n ekumeniese liggaam word ‘n konfessionele basis immers gereduseer tot slegs ‘n skamele basiese inhoud.
Verder leef ons in die tyd van individualisme waar gesag op kritiese wyse verwerp word. Elke mens moet self besluit wat hy glo of nie glo nie. Dit wat uit die verlede kom is onaanvaarbaar. Die menslike rede is die god wat oor alles oordeel. Hieruit spruit die gees van relativisme waarvolgens elke mens self besluit wat “waarheid” is. Sodoende word dit wat uit die verlede kom verwerp of radikaal geherinpreteer. Omdat ons vandag in ‘n ander konteks leef, moet ons eerder na ‘n nuwe belydenis vra wat relevant is vir die moderne mens.
Teen hierdie agtergrond gesien, is dit belangrik vir elke gereformeerde gelowige om duidelikheid te kry oor die vraag waarom dit werklik gaan in die gereformeerde belydenis? Gaan dit om bykomstighede en menslike eiesinnigheid en sentimentele tradisies? Of, gaan dit om fundamentele geloofsgronde wat die wese van die heil raak?
Indien die gereformeerde belydenis van nader beskou word, blyk dit dat daar ‘n prinsipiële verskil is met alle ander tradisies binne die Christelike geloof. Vir die gereformeerde belydenis is daar slegs een kriterium: die gesaghebbende Woord van God. Alle ontwikkeling en waarheid en ervaring word gemeet aan die onderwerping aan die Woord. Die unieke boodskap van die Woord is daarby dat die verhouding tussen God en mens ‘n verhouding is wat slegs op grond van die inisiatief van God ontstaan en in stand gehou word. Hierin sien ons die eksklusiewe teonome aard van die gereformeerde belydenis.
Hierteenoor sien ons die afwyking wat alle ander tradisies op die een of ander manier kenmerk. Hoewel die Woord gehandhaaf word, word ‘n ekstra kriterium bygevoeg: die mens en sy ervaring en sy rede en sy vrome potensiaal. Die mens en sy handelinge word ‘n wesenlike komponent van die verhouding tussen God en mens. Op ‘n uiters gerafineerde wyse word daar telkens gesoek na ‘n verbindingslyn tussen die Skrif en die menslike ervaring. Deur middel van ‘n wisselwerking (resiprositeit) of dialoog tussen God en mens, word na die waarheid gesoek. Daaruit blyk ook waarom daar so naarstigtelik met ontwikkeling en verandering rekening gehou moet word. Die belydenis van die kerk moet dus met hierdie ontwikkeling meegaan. Hieruit blyk die fundamentele outonome aard van die nie-gereformeerde tradisies.
Die gereformeerde belydenis sny hierdie outonomie by die wortel af deur te bely dat die Woord alleen die grond en maatstaf van alles is, en dat Sy handelinge alles moontlik maak en deurentyd voorop staan. Dit is immers eie aan die aard van ware geloof dat dit juis afsien van enigiets wat uit die mens opkom.
Ware geloof sluit glad nie eens by die mens en sy ervaring aan nie. Dit rus op die openbaring van God! Dit is die fundamentele verskil tussen die ware Evangelie en die misverstaan van die Evangelie: sodra die mens op watter manier ook al ‘n aandeel saam met God ontvang, kry ons te make met ‘n misverstaan van die Evangelie. In die drie bekendste gereformeerde belydenisskrifte ( die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) vind ons drie van die suiwerste belydenisse van die ware teonome Evangelie.
Hieruit kan duidelik gesien word hoedat die gereformeerde belydenis en alle nie-gereformeerde belydenisse eintlik twee wesenlik-verskillende soorte godsdienste is! Hier is nie slegs sprake van aksentverskille nie! Hier word gevra na die wese van die geloof! Vind die waarheid slegs in God sy grond of word daardie grond gevorm deur God en mens? Hier is ‘n saak van beslissing.
Die keuse wat gemaak moet word, word nie bepaal deur verouderde denkpatrone of kultuurpatrone nie. Dit staan ook onafhanklik van die invloed van die wysbegeerte. Dit is ‘n keuse wat bepaal word deur die oormag van die Woord van God. Dit is die keuse van alle tye. In die sestiende eeu het die Reformatore hierdie kernwaarheid helder raakgesien en op outentieke wyse bely. In hierdie belydenis word die wese van die Christelike geloof bepaal.
Die klassiek-gereformeerde belydenis staan dus lynreg teenoor alle ander tradisies waar die mens op subtiele (en deeglik religieus-verpakte) wyse by die heil betrek word en ‘n mederol speel. Die Reformasie was tog geen nuwe kerk of nuwe teologiese skool of nuwe filosofie nie. Die Reformasie het geen eie boodskap gehad nie. Dit het geen nuwe leer gebring nie. Dit wou net die algemene geloof van die ware kerk van alle eeue opnuut bely.
Die gereformeerde belydenis is dus die naelstring wat ons vandag verbind met die een, algemene Christelike kerk wat gegrond is op die leer van die Apostels. Sny ons hierdie naelstring af, word ons kerklik geaborteer. Die Reformasie wou slegs naby die heilige Skrif staan en die Woord verwoord. Daarom is die gereformeerde belydenis blywend aktueel en dra dit blywende gesag.
Dit is dus ‘n goeie vraag of nuwere ontwikkeling in die mens se denke en ook teologiese denke, regtig so “nuut” is! Wie insig in die wese van die gereformeerde belydenis het, vind dit maklik om dieselfde tipe outonome grondlyne binne alle nie-gereformeerde teologiese denke, tradisies en filosofië te onderskei. Dan blyk dit dat dit altyd weer dieselfde outonome grondbeginsels is wat alle nie-gereformeerde denke beheers het deur al die eeue. Selfs “nuwere ontwikkelings” word uitgeken as verouderde denke wat reeds tevore aangespreek is.
Die stryd tussen teonome en outonome denke vorm dus die grondslag van die stryd tussen die ware Evangelie en die afwyking, hoewel die vormgewing van hierdie stryd deur die eeue gedurig verander en verskil. Hierdie stryd dra trouens die hele geskiedenis van God en mens. Hoewel daar deur die eeue voortdurende ontwikkeling en verandering in die vormgewing van die stryd was, het die wortels en gronde van die stryd nog nooit verander nie. Dit is die rede waarom ons so versigtig moet wees met die term “nuwe “ denke. Daarom moet ons so versigtig wees om te praat van “nuwere interpretasies” van die gereformeerde belydenis. Die vraag is: is hierdie nuwere insigte werklik so nuut? Is dit nie bloot ‘n oplewing van die outonome denke nie?
In hierdie verband kan gedink word aan die verskeie gestaltes van die wysbegeerte deur die eeue. Dink byvoorbeeld aan die invloed van Kant en Descarte. Het daar regtig ‘n volstrekte nuwe tyd in die denke van die mens aangebreek met Kant en Descarte se wysgerige invloed, soos wat beweer word? Of was dit ‘n nuwe vormgewing van die outonome denke?
Dieselfde kan gesê word van die humanisme van die Renaissance van die 17de en 18de eeu. Eintlik was die Renaissance ‘n erfgenaam van die Hellenisme met sy hoë waardering vir die mens. Dit bly ‘n wonder dat Calvyn die teonome aard van die Evangelie kon eien, terwyl hyself ‘n kind was van die humanisme van sy tyd! Die konflik tussen die Reformatore en Erasmus kan ook teen hierdie agtergrond begryp word, omdat Erasmus ‘n outonomis was. Dit laat ‘n mens dink aan die konflik wat Paulus vanuit sy teonome aanslag gehad het met die Grieke en Jode ( 1 Kor. 1+2). By beide Grieke en Jode vind ‘n mens dieselfde outonome grondhouding: die mens voel in sy eie waarde bedreig deur die teonome uitgangspunt van Paulus. Hy wil steeds self besluit en self meewerk aan sy heil.
Ná die Reformasie vind ‘n mens steeds dieselfde konflik. Dit is asof die heldere Skrifinsig van die Reformatore slegs vir ‘n kort tyd geduur het. Onmiddelik ná die tyd van die Reformasie, maak die outonome denke weer hul opwagting in die tyd van die skolastieke denke van die ortodoksie en die latere Nadere Reformasie met sy aksent op ‘n wetties-gesistematiseerde beskouing van die heil. Op subtiele wyse skuif die vrome mens weer in sy posisie as mederolspeler saam met God. Die outonome interpretasie van die Evangelie vind ook sy neerslag ook in die latere Metodisme en die hedendaagse Charismatiese beweging.
Dit is interessant om te sien hoedat dieselfde stryd steeds vandag voortduur in ons kerke. ‘n Mens dink veral aan die kwessie van Skrifgesag. Wie insig in die gereformeerde belydenis het, kan duidelik onderskei wat die gang van sake is. Die aanslag is altyd gerig teen die teonome geloofshouding van die klassiek-gereformeerde siening van die gesag van die Skrif. Die gereformeerde belydenis word immers gekarakteriseer deur sy erkenning van die beslissende gesag van die Skrif. Hierdie belydenis kom nie op vanuit die oordeel van mense of die oordeel van die kerk nie, maar vanuit die getuienis van die Heilige Gees. Die kriterium is dus nie in die mens geleë nie. Die Skrif ken immers aan homself so ‘n gesaghebbende goddelike karakter toe!
Die gereformeerde beskouing van die Skrif kom dus nie vanuit die mens se wysheid en ontdekking nie, maar vanuit God se eie spreke in die Woord. Alles word dus van God se kant verwag (teonoom). Volgens die klassiek-gereformeerde Skrifbeskouing, het die Gees ook die menslike sy, met al sy beperkthede, gerespekteer en geïnkorporeer in die volkome inspirasie van die Skrif. Dit het tot gevolg dat God se spreke tot volmaakte openbaring kom binne die kontoere van die menslike spreke en menslike beperkthede waarmee die Bybel tot stand gekom het.
In teenstelling hiermee vind ‘n mens die outonome uitgangspunt, waar die verstaan van die Skrif opkom vanuit die mens se oordeel en ervaring. In hierdie geval word die Bybel gedegradeer tot die historiese neerslag van die omgang van God en mens met al die beperkinge en feilbaarheid wat daarmee saamhang.
In hierdie soeke na ‘n verbindingslyn tussen die goddelike en menslike, sien ‘n mens weer eens die emansipasie van die outonome denke. Ten diepste word hierdie manier van omgaan met die Skrif bepaal vanuit wysgerige voorveronderstellinge wat weer eens die mens as uitgangspunt het. Die grondslag van alles is steeds dat God en mens te same tot ‘n resultaat kom. Hierin vind ‘n mens ‘n uitgangspunt wat die Skrif in sy wese verloën.
Uit dit alles word dit meteens duidelik waarom dit in die 21 ste eeu steeds van kardinale belang is om onomwonde gereformeerd te wees en waarom dit van deurslaggewende belang is om belydenisskrifte te hê. Wie dit relativeer, beland onvermydelik in die vaarwaters van ‘n verkeerde, afwykende outonome begrip van die Evangelie.