Die 'werkende' moeder
Die 'werkende' moeder
Die ekonomies produktiewe huisvrou wat buitenshuis in 'n beroep staan? Moet ons daaragter 'n vraagteken plaas? Die ekonomiese opset van ons land kan sonder hulle nie bestaan nie.
Baie huishoudings kan sonder haar bykomende inkomste nie hul begroting laat klop nie.
Baie goedgeskoolde vroue ondervind frustrasie by die huis.
En tog.
As sy moeder is, is die versorging en opvoeding van haar kinders dan nie haar eerste roeping en plig nie? En min van sulke dames sal dit wil ontken.
As ons dan soek na norme waarvolgens hierdie moeders hul prioriteite moet stel, dan kan ons nie anders as om uit te gaan van die idee van roeping nie.
Roeping en beroep⤒🔗
Die roeping om as Christen op elke terrein te leef, staan voorop. En so moet die Christenmoeder en Christenberoepsvrou daarom nooit daaraan twyfel nie. Op elke plek waar sy haar bevind (en so ook die man), het sy die roeping om die geloof in Christus te bely en te beleef. Dit is haar rigtinggewende bydrae oral.
Eers moeder, dan beroepsvrou←⤒🔗
Maar dan kom nou verder die vraag: waar moet die eerste prioriteit lê – by die versorging en opvoeding van haar kind(ers) of by die vervulling van 'n beroep waarvoor sy geskool en gekwalifiseer is?
Vir die Christenmoeder behoort dit nie 'n moeilike keuse te wees nie as sy veral na drie dinge kyk.
Wat is die motief waarom ek my moederlike roeping voorop stel? Of wat is die motiewe as ek kans sien om buitenshuis te gaan werk terwyl my kinders nog voorskools of in die huis is?
En dan is dit juis die Christelike geloofsoortuiging wat die beslissing t.o.v. motiewe sal laat val. Gaan dit slegs om luukshede te verdien, gaan dit om swierigheid of weelderigheid? Gaan dit om voldoening aan die beroepsaanleg ten koste van die versorging en opvoeding van my kind(ers)? Dan sal die Christenmoeder haar reserwes hê. In hoeverre moet sy gewillig wees om frustrasies tuis te beleef en te verwerk? Waarom? Omdat sy as moeder onvervangbaar en onmisbaar is. Baie meer as wat dit in die beroepslewe die geval is.
'n Tweede punt om na te kyk, is die gevolge van haar afwesigheid van haar kinders bedags. Hierdie gevolge is egter nie dadelik meetbaar nie. Die voorskoolse kind wat tuis by die bediende bly, of ook by die dagmoeder, of die ouma, kan wel goed versorg wees wat betref kos en klere (droë doeke en so), maar wie kan die sekuriteit wat 'n moeder gee, ooit in haar plek gee? Wie kan omgee soos 'n ma omgee?
Daarom is sekere gevolge wat 'n kind opdoen veral as hy in sy jonger jare die moederhand moet ontbeer, later nie korrigeerbaar nie. Die gebrek aan sekuriteit wat later in 'n lae selfbeeld by die kind kan ontwikkel of in aggressiewe drange uitkook; hoe kan jy dit later regstel? Die rigting en koers van 'n kind se lewe word in sy voorskoolse jare deur die opvoeding in sy ouerhuis bepaal.
'n Verdere moontlike gevolg is die druk op die huwelik self. Die vrou wat heeldag haar pragtige prestasie lewer in haar beroep, is behalwe moeder ook nog eggenote. Dit is nog 'n derde roeping wat sy het: om vir haar man 'n tuiste te skep. Is die hedendaagse druk op die huwelik en die baie huwelikstragedies nie ook 'n moontlike gevolg van die feit dat man en vrou elkeen in hul eie wêreld so wegbeweeg van mekaar nie?
Hoe kom ons uit die dilemma?
Daar is nog 'n laaste vraag.
Op watter wyse kan die Christenmoeder haar prioriteit as moeder behou en tog nog haar beroep waarvoor sy opgelei is, voortsit?
Dit is duidelik dat daar nie maar 'n algemene resep, vir alle gevalle gegee kan word nie. Omstandighede verskil. En die verskil raak o.a. die verskillende lewensfases van die kinders. 'n Moeder met skoolgaande kinders kan makliker besluit om vir 'n halfdag in 'n ander beroep te staan, as bv. 'n moeder met voorskoolse kinders in die huis. So ook kan die moeder wie se kinders al die ouerhuis verlaat het, makliker terugkeer na haar beroep en professie en kan dit groot betekenis vir haar lewensvervulling hê.
Finansiële druk is dikwels so groot dat 'n moeder genoodsaak word om uit te werk. Hier is dit egter belangrik om te onderskei tussen behoefte aan elementêre dinge soos voedsel en huisvesting en meer luukse behoeftes.
Maar waarom moet die moederlike roeping dan so voorrang geniet? En dit des te meer by die Christenmoeder?
Omdat die Christenma die voorreg het om haar kinders nie alleen groot te maak, te versorg, te voed en te klee nie, maar by te dra tot hul opvoeding om as kinders van die Here groot te word. Natuurlik het die vader hierin kragtens die doopsbelofte ook 'n plig. Maar as hy enigsins alleen broodwinner kan wees, al kos dit ontbering, dan doen die moeder lewensbelangrike werk, dan is sy ook 'n werkende moeder wat deur niemand, maar ook dan deur niemand, anders vervang kan word nie. Daarom mag geld nooit die swaarste weeg nie.
Christenvader en -moeder, die erfenis wat julle aan jul kinders gaan nalaat, is nie meetbaar in rand en sent, meubels en huise nie, maar in die rigting, die gees, die kwaliteit van jul opvoeding om as God se kinders op hul beurt sy verbondsbeloftes verder te dra.