Die Ware Kerk het Ware Gelowiges Oor NGB Artikle 29b
Die Ware Kerk het Ware Gelowiges Oor NGB Artikle 29b
Wat is nou eintlik 'n Christen? Hoe lyk die lidmate van die ware kerk? Loop hulle oor van mensliewendheid, aanvaarding, erkenning en verdraagsaamheid teenoor alle mense, ongeag wat die ander mense doen en glo? Of is hulle sondeloos-heilig, beter as ander mense, soos die Fariseërs, met 'n ongeëwenaarde standaard van moraliteit, die perfekte voorbeelde?
Wanneer Guido de Brès die kenmerke van die lidmate van die ware kerk beskryf, is daar hoofsaaklik twee groot vyande waarteen hy die ware kerk moet verdedig: Aan die een kant die Roomse Kerk met haar snaakse wettiese Christenheid wat met haar mistieke seremonies 'n soort lidmaatskap voorstel wat eintlik maar stukkies aangepaste stukkies heidendom is.
En aan die ander kant was daar die wederdopers en die geesdrywers wat 'n soort lidmaatskap voorstel wat in hierdie lewe reeds 'n sondelose staat in volstrekte heiligheid kan bereik.
Dit is dan nou hoofsaaklik gerig teen hierdie twee groot vyande van die ware kerk dat ons belydenis die karakter-eienskappe van die lidmate van die ware kerk definieer. Dit kom alles daarop neer dat lidmaat van die ware kerk in die regte verbondsverhouding met God en sy naaste lewe. 'n Lidmaat van die ware kerk leef binne die merkers van hoe die HERE self in die Bybel dit in die breë uitspel. Ons bely: Die egte gelowiges word daaraan herken:
-
Eerstens dat hulle die Here Jesus as hul enigste Verlosser in die geloof omhels
-
Tweedens dat hulle die Heiligmaking in die krag van die Heilige Gees najaag
-
En derdens dat hulle voortdurend pleit om die plaasbekleding van Christus tot vergewing van sondes.
Die eerste kardinale saak waaraan die lidmate van die ware kerk uitgeken kan word, is aan hul geloof dat hulle die Here Jesus Christus as hulle enigste Verlosser, enigste Middelaar tot die saligheid in die geloof omhels. Dit is op hierdie punt van die erkenning en omhelsing van Christus dat ons meteens presies kan weet tussen watter mense ons ons nou eintlik bevind.
Die Apostel Johannes het vir ons die merker klinkklaar neergelê:
Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God.1 Johannes 4:2
En elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.1 Johannes 4:3
Hierdie omhelsing van die Here Jesus as die enigste Middelaar en Verlosser moet dan ook uitkom in die gelowiges se geloofsdiens: Erken hulle dat Jesus die Een is wat volgens die Wetboek, die Psalms en die profete na hierdie wêreld toe moes kom as die enigste versoening vir hulle sondes? Is ook hul gebedsdiens, hul liedere, hul gesprekke en hul verwagtinge 'n voortdurende vasgryp aan die enigste Middelaar, ons Here Jesus?
Paulus bely in Filippense 1 iets van slagspreuk van die ware gelowige as hy skryf: "…vir my is DIE LEWE Christus". Die eerste kenmerk van die ware gelowige is dus veel meer as 'n blote gesellige vroomheid. Dit is nie veilig as hulle maar gewoon vroom liedjies sing nie. Dit is nie pluis as hulle net gewoon goeie mensekarakters bou nie. Die eerste kenmerk van 'n Christen is dat sy lewe, sy dade, sy beplanning, sy gerigtheid, sy denke, sy gesprekke gefokus is op die koninkryk van God en sy geregtigheid, gefokus op Christus die Koning van die hemelse koninkryk.
Terwyl ons hierdie uitstaande kenmerk noem, beteken dit dat 'n ware lidmaat allerlei bykomende middelaars en verlossers verwerp. Daar is nie ook bykomende tussengangers behalwe Christus nie, nie enige ampsdraers nie, nie enige seremonies nie, en geen besondere konsilies of sinodes wat moet help om ons salig te maak nie. Net Christus se volmaakte weldaad aan ons alleen, en sy evangelie. Wie dit met die hart glo en met die mond bely en met die dade uitlewe … hulle is Christene.
Maar goed, sodra mens so enkelvoudig en eenvoudig in Christus alleen glo soos 'n kindjie, het die vyande 'n hele bondel besware. Hulle beweer dat as ons nie ons eie bydrae waardig ag tot die saligheid nie, dan maak ons mos met ons Christus-alleen slagspreuk sorgelose mense? Mense wat nie meer omgee hoe hulle lewe nie?
Die Roomse Kerk wil aan goeie werke saligmakende krag gee, en die wederdopers wil aan die mense se heilige prestasies salige status gee bo ander gelowiges, want hulle wil keer dat die geloof in Christus-alleen, nie sorgelose mense maak nie.
En dit is so dat daar aan die ander kant beslis ook mense is wat hulle aan hierdie sonde skuldig maak. Hulle val in die valstrik wat Paulus in Romeine 6 uitwys:
Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly dat die genade meer kan word?Romeine 6:1
Daarop antwoord hy in besliste stemtoon:
Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?Romeine 6:2
Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?Romeine 6:3
Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.
So bely ons in die HK v & a 64:
Hierdie leer maak die mense nie onverskillig en roekeloos nie, want dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.Romeine 6:4
En hier in die NGB stel ons dat iemand wat in Christus alleen glo, iemand is wat van die sonde af wegvlug en die geregtigheid najaag. Dit is 'n kort opsomming van die daaglikse bekering (HK v & a 89), die negatiewe kant en die positiewe kant. Die wegvlug van die sonde is die afsterwe van die ou mens en die najaag van die geregtigheid is die opstanding van die nuwe mens.
Anders gesê: Dat hulle die ware God en hul naaste liefhet as opstanding van die nuwe mens in Christus en terselfdertyd nie na regs of links afwyk nie en die ou natuur kruisig as afsterwing van die oue mens. Dit is presies op hierdie punt dat die tweede sendbrief van Petrus treffende lering gee: 'n Ware gelowige is nie 'n mens wat solank in die heerlikheid gearriveer het en dik word op sy afsaksel nie. Inteendeel, dit is persoon wat groot ywer aanlê om sy geloof te versier: deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde, naasteliefde. Dit is die juwele waarmee 'n gelowige sy geloof versier.
Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;2 Petrus 1:8
Want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.2 Petrus 1:9
Hierdie Skrifleer van die daaglikse bekering en die heiligmaking van die lidmaat van die ware kerk bely ons teenoor die wat beswaar maak dat die geloof in Christus alleen onverskillige en roekelose mense kweek.
Maar dan is daar ook aanslag van die ander kant wat afgeweer moet word: Dit is die heiligheidsektes wat soos die Fariseërs glo dat hulle nie meer sondes het of doen noudat hulle tot geloof in Christus gekom het en ook as volwassenes weer die doop van gelowiges ondergaan het nie.
Die tipiese sekte van die wederdopers ten tye van die Reformasie is in ons dae in 'n groot verskeidenheid van groepe oor die wêreld versprei. Die leer van die wederdopers van ouds vind ons vandag oral waar die charismatiese godsdiens in al sy verskillende groeperinge beoefen word.
Jammerlik genoeg is hierdie tipe godsdiens nie alleen die grootste in aantal onder die Christelike godsdiens vandag nie, maar dit het ook reeds verskeie gereformeerde kerke infiltreer en besmet.
Dit is hulle wat in die waan lewe dat as hulle eenmaal hul hart vir die Here gegee het, en as hulle een of ander besondere geestesbelewing ervaar het wat hulle verkeerdelik as die doop met die Heilige Gees bestempel, dat hulle daarna verder sonder sonde is.
Gevolglik is dit vir hulle dwaasheid dat 'n mens jou hele lewe lank elke dag moet bekeer en die ou mens afsterwe en in die nuwe mens opstaan. Dit is teen hierdie wanopvatting dat ons die laaste kenmerk van die lidmate van die ware kerk beskrywe:
Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen.
Die apostel Johannes het met hierdie waangedagtes wat ook by die gnostieke leraars van die vroeë kerke beheers het, afgereken toe hy in 1 Johannes 1 geskryf het:
As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.1 Johannes 1:8
As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.1 Johannes 1:9
As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.1 Johannes 1:10
Dit is dus nie in die karakter van 'n lidmaat van die ware kerk om te beweer dat ons nou sonder sonde is nie. Ons bely juis dat daar by ons nog vele gebreke is, gebrek aan liefde tot God en ons naaste, gebrek aan ywer in God se diens (vgl. die nagmaalsformulier). Maar ons het deur die genade van die Heilige Gees van harte berou oor ons sondes en begeer opreg om volgens al die gebooie van God te lewe.
'n Christen is dus nie sondeloos nie, maar is begenadigde sondaar wat begeer om lojaal aan God te lewe. En daagliks ontdek ons weer dat ons in ons roeping gefaal het. Hieroor skrywe die apostel Johannes.
My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.1 Johannes 2:1
En ons weet dat die Here Jesus ons geleer het om elke dag tot ons hemelse Vader te bid. Elke dag vra ons opnuut: Gee ons vandag ons daaglikse brood … en in dieselfde daaglikse gebed bid ons ook weer: Vergewe ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Ons leef dus nie in die verwaandheid dat ons sonder sonde is nie, maar ons neem altyd weer ons toevlug tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie ons deur die geloof in Hom vergewing van ons sondes het.
So bely ons dan dat die lidmate van die ware kerk besonderlik herkenbaar is daaraan dat hulle in Christus as hul enigste Middelaar glo as die enigste grondslag van hulle saligheid.
Dit beteken nie dat hulle dus roekeloos en sorgeloos is nie, maar inteendeel, dat hulle juis die vrugte van die uitverkiesing in die daaglikse bekering en die heiligmaking dra.
Dit beteken ook nie dat hulle daarom sondeloos geword het nie, maar inteendeel, hulle stry nog daagliks in die krag van die Heilige Gees teen die sonde en soek steeds voortdurend vergiffenis van sondes in die soenverdienste van Christus. Sulke lidmate sal u vind by die ware kerk waar die Woord suiwer verkondig word, die sakramente suiwer bedien word soos Christus dit ingestel het, en die Christelike dissipline suiwer toegepas word om toe te sien dat ons lewe soos Christus ons beveel het.