Die vredesroeping van die kerk
Die vredesroeping van die kerk
Wanneer daar oor die vredesroeping van die kerk besin word, moet daarna gestreef word om so veel as moontlik aan die Skrifgegewens reg te laat geskied. Hoeveel waarde ook al aan die kerklike tradisie en redelike oorwegings toegeskryf sou kon word, mag daaraan nooit die laaste woord toegesê word nie.
Gebed⤒🔗
Dit lê voor die hand om eerste aan die belangrikheid en noodsaak van die gebed te dink, veral as ons bely dat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het (Jak 5:16). Ons moet tot GOD, wat juis ’n God van vrede genoem word (2 Kor 11:13), ernstig bid om vrede in ons geteisterde en geknelde land Suid-Afrika. Ons moet bid dat Hy sy bewarende en seënde hand nooit van ons sal wegtrek sodat ons oor die afgrond sal stort nie. Ons moet bid dat Hy die gesagsdraers so sal lei dat hulle goed sal regeer sodat ons ’n rustige en stil lewe van Godsvrug kan lei (1 Tim 2:1-2). Deel van die Christelike gebed is natuurlik ook skuldbelydenis van al ons sondes, nie net van ons persoonlike, huislike en kerklike sondes nie, maar ook van ons politieke sondes. Ons mag immers nie in die kerk die totale verdorwenheid van die mens bely, maar in die politieke sy onbevlekte ontvangenis nie. Ons bely tog dat die mens sy natuurlike insig selfs in burgerlike sake, nie reg gebruik nie (DL, iii/iv, 4).
Evangelieverkondiging←⤒🔗
In die plaaslike gemeente moet die evangelie, wat ’n ‘evangelie van vrede’ is (Ef 2:16), elke Sondag opklink en mag dit nie vervang word met ’n evangelie van geweld, rebellie of rewolusie nie. Sinode 1942 (bl. 25) het tereg besluit dat die kerk geroep is ‘om die lig van die Woord van God oor alle lewensfunksies te laat uitstraal’, dus ook oor oorlog en vrede, opstand en orde. Sinode 1970 (bl. 63) het hierby aangesluit en besluit dat in die prediking moedig en toepaslik oor die heersende vraagstukke' gehandel sal word. Predikante moet dus nie huiwer om op verantwoorde wyse oor die sosiale vraagstukke te preek nie. Hiermee is natuurlik geensins gesê dat predikante politieke preke moet lewer nie, maar wel dat hulle op Skriftuurlike wyse (ook) oor die politiek sal preek. Anders veronderstel ons dat die politiek 'n neutrale terrein is waar die lig van die Woord van God nie mag skyn nie, en waar slegs menslike insig die deurslag moet gee. In sulke preke oor ‘heersende vraagstukke’ sal daar ernstig gewaarsku moet word teen ’n verafgoding van alles wat kreatuurlik is, bv. teen 'n verabsolutering van die eie nasie, eie land en eie politieke organisasie. Wanneer die evangelie, wat ook ‘evangelie van die koninkryk’ genoem word (Matt 4:23), gepreek word, word alle ander dinge minder belangrik (Matt 6:33). Om eie koninkrykies met die koninkryk van God te verwar of te vereenselwig, is ’n Joodse dwaling (Hand 1:6-8).
Verder moet die evangelie van versoening ook buite die kerk onder nie-Christene verkondig word, want daar is niks ter wêreld wat mense, veral vyandige mense, nader aan mekaar bring as die evangelie van versoening nie. Die band van geloof is immers veel sterker as die band van bloed (Mark 3:35). As mense, wat van nature teenoor mekaar vyandiggesind is, mekaar in die kerk as versoeningsgemeenskap kan ontmoet (Ef 2:13-18), verdwyn die vyandskap en word ’n totaal nuwe begin gemaak. As gelowiges uit verskillende nasies so met mekaar as versoendes in vrede lewe, sal hierdie besondere lewenstyl ... noodwendig sy besondere invloed op die politiek van die dag lê (Sinode 1985, bl. 446).
Nog ’n aspek van die Evangelieverkondiging wat belangrik is, is die profetiese getuienis in die samelewing. Die profetiese getuienis sal in hierdie verband ’n fyngevoeligheid vir die verwerkliking van geregtigheid in die samelewing ontwikkel, want sonder geregtigheid is daar geen vrede moontlik nie (Ps 85:11; Jes 32:17; Jak 3:18). Die Skrif is duidelik dat “wie onreg saai, sal onheil maai” (Spr 22:8). Een van die basiese kenmerke van ’n Bybels-verantwoorde politiek is dat mense tot hulle reg sal kom in die samelewing en dat alle konkrete en onregmatighede verwyder word. Geregtigheid verhoog ’n volk (Spr 14:34) en is juis een van die uitstaande kenmerke van die komende nuwe wêreld (2 Pet 3:13). Waar sosiale geregtigheid verkrag word, moet die profetiese getuienis gehoor word. (Amos)
In ’n onrus- en geweldsituasie sal die profetiese getuienis ook moet probeer om deur te tas na die oorsake van die geweld en sal nie volstaan kan word met formele kritiek nie. Die wortel van die kwaad moet ontbloot en genees word.
Priesterlike diens←⤒🔗
“Christene in die algemeen en die kerk in besonder dra ’n verantwoordelikheid teenoor mense van alle volke en rasse wat ander armoede, onderontwikkeling en politieke onderdrukking gebuk gaan; gelowiges behoort gewillig te wees om elke geleentheid te gebruik om die lyding van sulke mense te verlig” (Sinode 1985, p. 439). Christene het die roeping om allereers aan mede-Christene hulp te verskaf, maar sonder om nie-Christene te vergeet (Gal 6:10). Aan alle mense moet goed gedoen word. So sal die kerk ’n besondere bewoënheid openbaar ten opsigte van gewondes, verminktes en slagoffers in ’n onlussituasie. Die Rooi Kruis is nie die enigste organisasie wat wonde moet verbind nie.
Voorbeeldige bestaan←⤒🔗
Die kerk is God se vredesinstituut op aarde (2 Kor 13:11) waar alle vyandskap tussen mense opgehef is (Ef 2:15). Daarom moet die kerk as model vir die samelewing dien van hoe mense onderling in vrede kan saamleef (vgl. Matt 5:16). As die lewe in die kerk nie verskil van die lewe in die samelewing nie, as daar in die kerk net soveel onenigheid, tweedrag, liefdeloosheid en kragdadigheid gevind word as in die samelewing, dan het die kerk geen boodskap vir die samelewing nie, en is hy geen voorbeeld nie. Daarom gaan die profetiese kritiek na buite altyd gepaard met skerp selfkritiek na binne. As die kerk as voorbeeld van ’n harmonieuse saamlewe faal, na watter ander voorbeeld moet die wêreld dan kyk?
Die kerk kan ’n voorbeeld vir die wêreld wees, nie omdat die kerk oor sulke buitengewone kenmerke beskik nie, maar omdat dit die liggaam van Christus is, omdat Christus die Vredevors (Jes 9:5) daarin woon en werk, en omdat die Gees van Christus die gawe van vrede daaraan skenk (Gal 5:22). Ten einde ’n goeie voorbeeld vir die samelewing te wees, moet die kerk ook vry teenoor die samelewing wees en hom nie te veel daarmee (bv. in die kapelaansdiens) vereenselwig nie.
←⤒🔗
Christelike lewe in die samelewing←⤒🔗
Dikwels word die argument gehoor dat wat die Bybel met ‘vrede’ bedoel, tog iets heeltemal anders is as wat die wêreld daarmee bedoel, en dat Christene (dus) maar kan nalaat om vrede in die samelewing te probeer verwesenlik. Natuurlik is dit waar dat die Bybelse vredesbegrip veel ryker en voller is as die wêreldse, maar dit beteken nié dat daar tussen die twee nie ’n bepaalde verband bestaan nie. Die Bybelse vredesbegrip is omvattend en sluit in ’n nuwe verhouding tot God, tot jouself (sielevrede) en die samelewing. Dit dui op volle welsyn en voorspoed. Dit sien nie net op die afwesigheid van stryd nie, maar veral op die aanwesigheid van gemeenskap. Waar die heidense vredesbegrip gekenmerk word deur ’n handhawing van die bestaande orde, word die Bybelse gekenmerk deur ’n handhawing van God se orde.
Die Bybelse vredesbegrip is egter nie irrelevant vir die samelewing en die politiek nie, omdat die Woord van God Christene oproep om, as dit moontlik is, met alle mense, dus ook met nie-Christene, in vrede saam te leef (Rom 12:18; Heb 12:14). Christene is vredeliewende mense wat groot erns maak met die bekende woord van Christus: “Salig is die vredestigters, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matt 5:9; vgl. 1 Pet 3:11). Christene is dus nie mense wat in die kerk vreedsaam wil lewe, maar in die politiek gewelddadig, op Sondae in harmonie, maar op Maandae in konflik nie. So ’n dubbele lewe is ten enemale in stryd met die evangelie van vrede.
Om af te sluit: Iemand het opgemerk: “Ons berei vir oorloë voor soos reuse en vir vrede soos dwergies”. Waarom? En dit terwyl die Bybelse vredesboodskap so helder en duidelik is. Daarom is dit goed om telkens weer herinner te word aan die evangelie van vréde uit die mond van die Gód van vrede. Juis nou, in Suid-Afrika.