Die Verlossingsplan van God
Die Verlossingsplan van God
Daar word in die Christelike leer gewoonlik gepraat van die sogenoemde orde of plan van verlossing. Hiermee word bedoel dat God in Sy omgang met mense gewerk het volgens ʼn patroon wat min of meer onveranderlik was. In eenvoudige woorde: Hy het ʼn plan gehad. Natuurlik bedoel hulle nie dat God se werke stereotipies is nie, of dat Hy mense eenvoudig hanteer as nommers in ʼn rekenaarprogram nie. Hulle bedoel dat sondaars wat tot die beeld van God herstel het, hul ervaring van God se genade op basies soortgelyke wyses ondervind het omdat hul uiteindelike behoeftes dieselfde is.
As ons onthou dat God ʼn sorgvuldige plan met die lewe van Sy eie Seun gehad het, mag dit ons help om te sien dat so ʼn plan ʼn diep persoonlike saak kan wees. Die vleeswording het nie per ongeluk of as ʼn nagedagte plaasgevind nie. Jesus se lewe was nie toevallig nie. Telkens weer het Jesus duidelik verwys na ʼn patroon en doelwit waardeur Sy lewe bepaal is. Hy het daarvan gehou om te dink dat Sy lewe op pad was na ʼn spesiale tydstip waarin alles waarvoor Hy Homself voorberei het, vervul sou word. Hy het Homself weerhou van sekere aktiwiteite as gevolg van Sy kennis van die goddelike tydrooster (Joh. 2:4; 7:30; 8:20; 12:23,27). Maar aan die begin van die “boek van die lydenstyd” (Joh. 13:21) het Jesus geweet “dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan” (Joh. 13:1), en dus het Hy gebid: “Vader, die tyd het gekom” (Joh. 17:1).
Hierdie perspektief op ons Here se lewe was ʼn oorheersende tema in die begrip van die vroeë kerk wanneer hulle teruggekyk het na Sy lydenstyd. Selfs Sy dood was nie ʼn ongeluk nie. Inderdaad, van alle gebeure, was Sy dood geen ongeluk nie. In sy eerste preek op die Pinksterfees het Petrus dit getoon: “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer” (Hand. 2:23). Later, wanneer die vervolgde kerk hul harte tot God verhef het in gebed, is hierdie beklemtoning herhaal: “Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het” (Hand. 4:27-28).
Die Plan van God⤒🔗
Dit is grondliggend aan alle Christelike denke om te glo dat God ʼn God is met beplanning. Ons Here het self in die troos van hierdie kennis geleef. Ons behoort dit geen frustrasie te vind om hierdie juk op ons eie lewens te neem nie.
Die Bybel wys op verskillende maniere duidelik aan dat God se plan vir die lewens van Sy kinders sekere vaste punte het. Om die volle diepte van wat God vir ons in Christus gedoen het, te verstaan, moet ons sy verlossingsplan ondersoek. Voordat ons verder gaan om die betekenis van die groot Bybelse woorde, wat ons in verband met die Christelike lewe bring, soos Regverdiging, Herskepping, Heiligmaking ensovoorts, te ondersoek moet ons eers gaan uitpluis hoe hierdie leerstellings en die ervarings wat daardeur beskryf word met mekaar verband hou.
Daar is gevare in hierdie prosedure, en die mees voor die hand liggende een is dat wanneer ons ʼn begrip van God se genade gevestig het, ons dit mag verwar met die ervaring van God se genade. Maar daar is ʼn wêreld se verskil tussen kennis van die waarheid in hierdie sistematiese sin en ʼn persoonlike ervaring van die kragte daarvan. Daar is ook die gevaar dat ons alles sal wil inpas in ʼn patroon van die Skrif terwyl die Skrif ons nie voldoende inligting daarvoor gee nie. Maar aan die ander kant is daar baie voordele wat uit hierdie oefening verkry kan word. Een groot seëning is dat dit ons ʼn goddelike perspektief van ons lewe gee. Dit lig ons oë op vanaf ons eie klein mate van ervaring van God se genade om aan ons die grootsheid van die doelwitte wat Hy koester, te toon. Ons ontdek dan dat, soos Paulus dit stel: “die tyd van ons finale verlossing nou nader is as toe ons tot geloof gekom het” (Rom. 13:11), en dat dit nou ook groter is as toe ons tot geloof gekom het!
Daar is spesifiek drie gedeeltes in die Nuwe Testament waar daar nagedink word oor die hele verlossing, soos gesien vanuit die gesigshoek van die verskillende dele.
(i) Romeine 8:28-30←↰⤒🔗
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.
Ons sal in ʼn later stadium van ons studie weer na hierdie verse terugkeer, maar op hierdie tydstip kan die hooflyne van hul betekenis getrek word. In die eerste plek is dit duidelik dat die verlossingsplan, wat Paulus hier noem “Sy besluit”, ʼn groot bron van aanmoediging vir die kind van God is. Hierdie swaarwigtige teologiese woorde: “besluit”, “voorkennis”, “uitverkiesing”, “roeping”, “regverdiging”, verheerliking”, is nie voorgeskryf deur iemand wat in teologie belangstel op dieselfde manier as wat ons in blokkiesraaisels mag belangstel nie. Mens kan nie blokkiesraaisels sing nie, maar hierdie woorde leen hulself tot ʼn lied. Daar is ʼn mars-ritme in hulle. Daar is iets ernstig verkeerd met ons begrip van die Skrif as ons hulle hoofsaaklik beskou as ʼn bron van teologiese twispunte.
Kom ons kyk na wat hulle sê: In algemene terme leer dit ons dat niks ooit die oorkoepelende doel van God vir Sy volk kan ontsnap nie. Inderwaarheid verras my lewensomstandighede nie vir God nie, maar Hy gebruik dit ook tot my seën. Hy voeg dit saam soos ʼn Meesterbreier wat die verskillende veelkleurige woldrade saamvoeg. Hy voeg daarin ʼn ingewikkelde patroon wat eers gesien kan word as die voltooide kledingstuk aan bewonderende toeskouers gewys word. Dit op sigself is ʼn troos in die donkerste uur.
Paulus is daarop ingestel om die grondrede wat agter die goddelike verstand lê, te verduidelik. Hoe kan God alle dinge ten goede laat meewerk? Die antwoord is voor-die-hand liggend. Dit is dat God se finale doelwit is om ons soos Christus te maak. Sy doelwit is die volledige herstel van God se beeld in Sy kind. So ʼn groot werk vereis al die hulpbronne wat God in die heelal het, en hy deursoek al die moontlikhede van vreugde en droefheid ten einde Christus se karakter in ons te herskep. Maar die vraag kom na vore: hoe kan God die heerlike eindproduk waarborg met sulke swak materiaal? Die antwoord is dat, ten spyte van al die verskille wat ons by die volgelinge van Christus kry, daar tog sekere dinge is wat altyd van hulle waar is. Hulle is vooruit deur God geken, Hy het hulle uitverkies. Hy het hulle in Sy koninkryk ingeroep en het hulle geregverdig. Dit is hulle wat die beeld van die Seun van God sal dra op die Glorieryke Dag.
Paulus se stelling voorsien ons van sekere vaste verwysingspunte. Sy woorde is van toepassing op alle Christene (“dié wat Hom lief het”). Wat hulle gemeenskaplik het, is dat God op grond van sy voorkennis hulle uitgekies, geroep, geregverdig en verheerlik het. Die apostel wys vir ons die afmetings van God se verlossende genade. Die volle omvang daarvan word gesien in die goddelike plan van die verlossing. Sy liefde vir ons het voor die aanbreek van tyd begin, en sal voortduur totdat tyd se laaste jaar verby is:
Who then can e'er divide us more
from Jesus and his love,
Or break the sacred chain that binds
the earth to heav'n above?Let troubles rise, and terrors frown
and days of darkness fall;
Through him all dangers we'll defy
and more than conquer all.Nor death nor life, nor earth nor hell,
nor time's destroying sway,
Can e'er efface us from his heart
or make his love decay.
Dit is belangrik dat ons sien dat so ʼn veelseggende vertroue net moontlik is op die grondslag van die basiese elemente in die verlossingsplan.
←↰⤒🔗
(ii) Efesiërs 1:3-14←↰⤒🔗
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.”
As Romeine 8 gesing kon word, sou hierdie verse beslis gesing kon word! Dit bevat selfs ʼn koorgedeelte: “Daarom moet ons Sy grootheid prys”. Net soos Romeine 8:28-30, is hulle dikwels bestudeer omdat hulle die ewige raad van God weerspieël. Maar laat ons as gelowiges ons verlustig in die sonskyn voordat ons probeer om dit as wetenskaplike teoloë te ontleed. Die wettige ondersoek na laasgenoemde behoort nie die vreugde van die eersgenoemde te demp nie.
In Efesiërs benader Paulus die onderwerp van verlossing heel anders as wat hy in Romeine gedoen het. Daar was die hele brief se uitgangspunt die mens se diepgewortelde behoeftes onder die toorn en veroordeling van God. Al hierdie dinge verbind Paulus met die ewige doelwit van God wanneer hy die eerste hoofdeel van die brief afsluit met sy loflied in Romeine 8, maar eers nadat hy hierdie behoeftes uiteengesit het, asook die goddelike antwoord daarop (genade), en die hulpbronne wat ons in Christus het. In teenstelling daarmee begin Efesiërs met die verlossingsplan, en eerder as om die chronologiese uitwerking daarvan te beskryf (voorkennis en uitverkiesing wat lei tot roeping, regverdiging, verheerliking, soos in Romeine 8) stel Paulus die Christologiese middelpunt: alle spirituele seëninge is ons sʼn in Christus. In Romeine 8 is die groot leerstellings soos skakels in ʼn ketting. In Efesiërs 1 is hulle soos speke in ʼn wiel wat met die sentrum, Christus, verbind is. In Christus is ons geseënd, uitverkies, vooruit bestem om seuns te wees, begenadig, verlig, ingesluit, verseël. Die klem hier is nie heeltemal chronologies nie. Paulus is eerder besig met die volheid van die genade wat ons sʼn word as ons Christus sʼn word. Nogtans moet ons opmerk dat Paulus hier ander dimensies byvoeg by dié wat ons in Romeine 8:28-30 kry. In Efesiërs 1:13-14 dui hy aan dat geloof volg op roeping, en dit lyk ook dat dit aandui dat die ontvangs van die Heilige Gees die ervaring is van dié wat tot geloof in Jesus gekom het. Hy het dus begin om die oorspronklike kaart van God se doelwitte uit te brei. As ons Romeine 8:30 nou sou uitbrei, mag dit dalk lees: “Die wat deur God gekies en uitverkies is, het Hy ook geroep; dié wat deur Sy Woord tot geloof geroep is, is geregverdig en verseël met die Gees. Hulle is ook verheerlik.
(iii) Johannes 1:12-13←↰⤒🔗
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ʼn mens of die besluit van ʼn man nie, maar hulle is uit God gebore.
Dit is die eerste aanduiding in Johannes se Evangelie van die leerstelling van ʼn nuwe geboorte, wat ʼn kenmerk is van beide die Evangelie en die Eerste Brief van Johannes.
Johannes leer net soos Paulus, dat Christus deur geloof ontvang word (Kol. 2:6-7). Johannes voeg by Paulus se skets dat geloof die voorreg van aanneming bring en skynbaar teenstrydig, dat daardie selfde geloof die vrug is van ʼn geboorte wat van God af kom! Dié wat in Christus ontvang en aangeneem is, is dié wat gebore is “nie van nature nie, nie deur die drang van ʼn mens of die besluit van ʼn man nie, maar hulle is uit God gebore.” ʼn Soortgelyke nadruk vind ons in ons Here se woorde aan Nikodemus, waar Jesus dit beklemtoon dat niemand sonder ʼn nuwe geboorte, die Koninkryk van God kan sien of binnegaan nie (Joh. 3:3, 5). Die nuwe lewe, waarvan Paulus ons leer dat dit uit God se plan voortvloei, wat voor tyd begin het, en aanhou tot die voleinding nadat tyd geëindig het, word nou deur Johannes uitgebrei. Hy wys ons dat ons persoonlike ervaring daarvan begin wanneer God ons lewens aanraak in wonderlike herskepping deur Sy wonderbaarlike krag.
Ons kan nou die wye reeks leerstellinge sien wat die leer van die Christelike lewe opmaak. Die ewige keuse van God se liefde in uitverkiesing raak ons lewe aan deur Sy roeping. Hy gee die nuwe geboorte wat dit vir ons moontlik maak om die koninkryk van God binne te gaan deur geloof en berou. Wanneer ons glo en berou toon, regverdig God ons. Aanneming is ʼn verdere gawe, sodat ons, wat vir seker kinders van God is, ʼn lewe van heiligmaking kan lewe totdat die dag van ons verheerliking kom. Breedweg gesproke is dit die plan van verlossing. Dit is ook die volgorde waarin ons hierdie individuele leerstellings sal bestudeer.
In Christus←⤒🔗
In Christus ontvang ons al die seëninge van die Christelike lewe. Ons is in Hom uitverkies. In Hom is ons vooruit bestem om soos Hy te wees. In Christus word ons geroep, en in Hom word ons weergebore tot ʼn nuwe lewe (1 Pet. 1:3). In Hom het ons geloof en ontvang ons die Heilige Gees. In Hom ontvang ons die voordele van broederskap in die gesin van God. In Christus is ons heiligmaking (1 Kor. 1:30). Wanneer ons Hom sien, sal ons soos Hom gemaak word, want as Hy in heerlikheid verskyn, sal ons saam met Christus verskyn (1 Joh. 3:2; Kol. 3:4). Alle seëninge, van begin tot einde, is ons sʼn in Christus.
Praktiese Gevolge←⤒🔗
Ons het reeds gepoog om aan te toon dat hierdie ontleding meer as ʼn blote akademiese oefening is. Dit beoog om ons waardering vir wat van ons geword het sedert Christus begin het om ons lewe oor te neem, te verbreed. Namate ons die detail van hierdie patroon volg sal ons meer bewus word van ʼn toename in die begrip van wat dit beteken om ʼn Christen te wees, en dat dit in ons lewens die hooftekens van Christen-wees sal versterk.
Dit behoort ons te bring by ʼn dieper nederigheid. Nederigheid is nie ʼn eenvoudige gevoel van klein en nutteloos wees nie – soos ʼn minderwaardigheidskompleks nie. Dit is om te sien hoe groot en heerlik God is, en myself in daardie lig te sien. Nederigheid in die Skrif is die vrug van genade, nie van vrees nie. Dit is God se liefde wat die mens werklik nederig maak. Die Skrif beklemtoon hierdie aspekte van die Christelike lewe om aan ons die diepte, lengte, breedte en hoogte van God se liefde te toon. As ons dit sien, word ons nederig in die wete dat God so baie vir ons omgee.
Dit behoort ons te bring tot ʼn standvastige sekerheid. ʼn Gebrek aan sekerheid is dikwels, net soos ʼn minderwaardigheidskompleks, die gevolg van te veel betrokkenheid by onsself. Maar ons sekerheid lê nie in wat ons is nie, ongeag of ons groot of klein is. Dit lê in wat God gedoen het in sy verlossingsplan om ons vir Homself vas te maak. Samuel Rutherford het ʼn briefskrywer geantwoord: “Glo meer in God se woord en mag as wat jy in jou eie gevoelens en ervarings glo. Jou Rots is Christus, en dit is nie die Rots wat deur die getye rondgeslinger word nie, maar jou see.” Hoe meer ons van die krag van ons Rots weet, en verstaan dat al die seëninge van die Christelike lewe in Hom vas is, hoe meer standvastig sal ons sekerheid wees en hoe groter sal ons vreugde wees.
As ons die verlossingsplan verstaan, lei dit ons tot aanbidding. Is dit nie die uiteindelike betekenis van Romeine 8 en Efesiërs 1 nie? Ons kan God verheerlik teenoor al ons vyande. Ons mag God seën, letterlik “goed praat” van Hom, en uitvind dat om Hom lief te hê ons grootste vreugde is, en om Hom te dien die mees bevredigende ding in die wêreld is.
To the Name of our Salvation
Laud and honour let us pay,
Which for many a generation
Hid in God's foreknowledge lay,
But with holy exultation
We may sing aloud today.Jesus is the Name exalted
Over every other name;
In this Name, whene'er assaulted,
We can put our foes to shame;
Strength to them who else had halted,
Eyes to blind, and feet to lame.Therefore we, in love adoring,
This most blessed Name revere,
Holy Jesus, Thee imploring
So to write it in us here
That hereafter, heavenward soaring,
We may sing with angels there.
Die eerste ding wat ons moet oorweeg is hoe hierdie verlossingsplan begin om ons lewens aan te raak. Ons het Christene geword omdat ons Christus se roepstem om Hom te volg, gehoor het. Wat dit in besonderhede beteken is die onderwerp van ons volgende hoofstuk.