3 bladsye.

Die Toerusting van die Sendingsarbeiders

soldiers

Vir elke werker in die Koninkryk van God is daar ’n goeie toerusting nodig. Ons kan die arbeiders in die sending vergelyk met soldate. Elke sendingwerker staan aan die frontlyn wat daar loop tussen die ryk van die lig en die ryk van die duisternis.

Paulus noem die toerusting van die arbeider in die Koninkryk van die Here ’n wapenrusting, ja selfs ’n volle wapenrusting, ons kan ook vertaal ’n volledige wapenrusting (Ef. 6:13 e.v.). ’n Werker in die sending moet volledig toegerus wees. In verband met die spontane werk waarvan ons in ons vorige lesing gepraat het, wil ons hier ook veral wys op die toerusting wat die lidmaat van die gemeente nodig het om ingeskakel te kan word in die arbeid van die sending.

Eerstens wil ons wys op diegene wat die toerusting moet verskaf. In die tweede plek wys ons op die geestelike karakter van die toerusting. En derdens wil ons aandag gee aan die inhoud van die toerusting d.w.s. ons gaan die vraag beantwoord waarmee die werker toegerus moet word.

Ouderlingesending🔗

Die toerusting van die sendingarbeider in die spontane sendingaktiwiteit moet verskaf word deur die ouderlinge van die kerk. ’n Opsiener, so sê Paulus vir Timótheüs moet bekwaam wees om te onderrig (1 Tim. 3:2). Behalwe die eksterne onderrig waarvan ons gepraat het in ons vorige lesing, is daar ook die interne onderrig. Die ouderling is geroepe om lidmate te bekwaam en toe te rus vir hulle dienswerk. Op die sendingveld is daar die sendeling wat die helpers oplei en toerus, maar in die kerk moet daar die ouderling wees wat die lidmate moet onderrig en toerus om hulle roeping in die amp van die gelowige te kan uitlewe. In die Nuwe Testament val daar ’n baie sterk klem op die oordrag van die leer. Wat ontvang en geleer is moet weer oorgedra word. Dit is die oordrag van die ouer geslag op die jonger geslag, maar ook die oordrag van die besondere amp op die algemene amp. ’n Mooi voorbeeld kry ons in 2 Tim. 2:2 waar Paulus vir Timótheüs skrywe dat laasgenoemde wat hy van hom gehoor het moet toevertrou aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer. Die woord toevertrou wys daarop dat jy maar nie elkeen kan gaan leer nie. Die persoon moet getrou wees en dit moet aan hom toevertrou word en dit met die doel om ander te leer. H.N. Ridderbos spreek in verband met hierdie teks van die geestelike kadervorming. Hierdie teks het ’n baie sterk missionêre spits. Hulle wat in die gemeente is moet onderrig word sodat hulle ander wat nog heidene is op hul beurt weer kan onderrig. In hierdie belangrike werk moet die ampsdraers die leiding neem. Die werk van die ouderling moet nie net op die opbou van die gemeente self gerig wees nie. Hoe belangrik dit ook mag wees en hoe noodsaaklik ook al daar is meer wat gedoen moet word. Die innerlike opbou van die gemeente mag nooit ten koste gaan van die uiterlike uitbou nie. Die twee moet mekaar juis heilsaam beïnvloed.

Die ruggraat van die Gereformeerde Kerk was nog altyd die ouderling. Calvyn het op die skaakbord van die kerk die pous skaakmat gesit met die pion van die ouderling. Die swakheid en die krag van die Gereformeerde Kerk lê in die ouderling. In verband met die sending moet die amp van die ouderling weer op die regte wyse gaan funksioneer. Uit die pastorale briewe kan ons leer dat daar ook ’n roeping van die ouderling is met betrekking tot die sending. Hy moet die gemeente opwek, aktiveer tot die sending. Deur sy ampswerk moet die gemeente sendingbewus en sendinggerig word. Die lidmate van die gemeente moet deur hom geïnspireer word tot die spontane getuienis in woord en lewenswandel. Dit was die patroon van die ou kerk uit die eerste eeue na Christus.

skaapspel

Geestelike Karakter🔗

Vervolgens kom ons by die geestelike karakter van hierdie toerusting. Elke werk in die Koninkryk van God is geestelik van aard d.w.s. dit moet gedra word deur die krag van die Heilige Gees en dit moet gedoen word in diepe afhanklikheid van die Heilige Gees.

Daar is twee maniere om in die diens van die Here te werk. Die werk kan gedoen word in eie krag. Dan vertrou ons op ons kennis, ons insig op wat van onsself is of op wat ons verwerf het. Nou is daar kennis nodig om in die Koninkryk van God te kan werk. Bepaalde dinge moet geweet word om te kan werk in die diens van die Here. Maar dit mag ons nooit verlei om daarop te vertrou nie. Dit bly die Here se werk en daarom moet dit in afhanklikheid van die Here gedoen word. Wanneer ons op ons eie kennis, ons akademiese bekwaamheid, ons verworwe insigte of ons persoonlike begaafdheid vertrou dan kan ons miskien groot dinge doen maar dan kan ons tog nie baie resultaat verwag nie. Almal wat in die Koninkryk van God arbei of dit nou die ouderling, die sendeling, die professor of die helper is moet leer om in die geloof te arbei. Daar moet ’n diepe besef van eie onwaardigheid wees en ’n diepe afhanklikheid van die Here. Waar ’n mens sy eie onbekwaamheid bely en ’n besef van eie skuldigheid tot die Here het, noem die Nuwe Testament die vervulling met die Heilige Gees of die toerusting met die Gees.

Die Nuwe Testament wys vir ons ’n drievoudige werk van die Heilige Gees. Daar is die Gees wat ons red, wat ons aan Christus as ons Verlosser verbind. Daar is vervolgens die Gees wat die kerk inskakel in die volvoering van God se plan met die wêreld. En ten slotte is daar die werk van die Gees wat die gelowiges toerus met gawes en kragte sodat sy haar hoë en heilige roeping kan vervul. Die Heilige Gees is uitgestort. Die krag van die Gees is ter beskikking van die kerk. Maar daar moet om gebid word. Daarom is die gebedslewe i.v.m. die geestelike toerusting so baie belangrik. Elke werker in die Koninkryk van God moet ’n man, ’n vrou van gebed wees. Ek dink aan die bekende woorde van prof. D. Postma uit ’n brief wat hy op 3 Desember 1859 te Rustenburg geskryf het:   “...het gebed bracht in de eerste eeuwen van de Christelijke Kerk den Heiligen Geest neder van den hemel op de aarde; bekeerde duizenden op een enkele dag en opende kerkerdeuren voor Christus vervolgde dienaren. Indien de Kerk dezen Geest des waren gebeds op het ogenblik bezat en uitoefende, zou zij, als met een onwederstaanbaren wind, al de beletselen wegdrijven, die der waarheid kunnen worden in den weg gesteld, zij het door mensen of door duivelen geschiedt. Het gebed brengt God in beweging en wanneer Hij werkt — de arbeid is volbragt...”

Behalwe die gebed is ook die persoonlike omgang met die Bybel van allesbeheersende belang met betrekking tot die geestelike toerusting van die werkers in die Koninkryk van God. Wie verlos ons tog van die gedagte dat jy net deur die prediking voldoende Bybelkennis kan opbou om in die Koninkryk van die Here te kan werk. Hoe belangrik die prediking ook al mag wees — en ons kan dit nooit hoog genoeg waardeer nie — daar moet nog by kom die persoonlike omgang met die Woord van God. Dit moet die geloof voed en dit is volgens Calvyn ook die weg waarlangs die Heilige Gees intrek neem in die hart, want die Gees het Hom sedert Pinkster, aldus die groot hervormer, met ’n onverbreeklike band aan die Woord van God verbind.

gebed

’n Derde baie belangrike kenmerk van die geestelike toerusting is dat die werk in absolute selfverloëning gedoen word. Die eer van die Here en die uitbreiding van sy Ryk mag net die enigste dryfveer tot die arbeid wees. Alle selfvertroue, hoogmoed, soek van eie eer moet deur die Heilige Gees weggebrand word uit die hart van die werker. Jakobus sê in hierdie verband: Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon? Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade (Jak. 4:5, 6).

Daar moet onderrig wees, kennis moet oorgedra word, die verstand moet ingeskakel word, maar dit moet tog altyd gedra word deur die geestelike agtergrond van geloof en gebed, van ’n biddende lewe in gemeenskap met die Woord van God. Die Bybel en die gebed is die twee brandpunte in die lewe van die werker in die sending. Dan sal daar seën en vrug op die arbeid wees.