Die Rykdom van Ons Gereformeerde Erfenis
Die Rykdom van Ons Gereformeerde Erfenis
By 'n sustersaamtrek vroeër vandeesmaand kom 'n middeljarige dame by my staan en sê: "Die tyd het gekom dat ons weer die gereformeerde leer gaan nodig kry." Mooi woorde, maar toe verras sy my met: "Ek is self nie gereformeerd nie. Ek kom uit charismatiese kringe. Maar ek besef dat in veranderende tye ons 'n anker soos die gereformeerde godsdiens bitter nodig het."
Sulke woorde uit die mond van 'n nie-gereformeerde sit 'n mens aan die dink. Dit laat 'n mens wonder oor die ironiese verskynsel van sommige gereformeerdes wat deur die "tralies" van die gereformeerde wêreld klaarblyklik verlangend na die charismatiese "ruimtes" daarbuite tuur. En dit terwyl selfs nie-gereformeerdes die gereformeerde waarhede na waarde skat.
Is dit dalk maar net 'n geval van groener gras aan die ander kant van die draad? Of het ons miskien al so gewoond geraak aan die rykdomme van ons gereformeerde erfenis dat ons, soos verwende rykmanskinders, nie meer self die weelde om ons raaksien nie?
Hierdie vrae bring ons elkeen op die ou einde te staan voor vrae van selfondersoek: Besef ek werklik watter rykdom ek aan die gereformeerde leer het? Wat beteken my gereformeerde geloof vir my in my lewe? Watter anker bied dit vir my in 'n stroomversnelling van veranderings? Die antwoorde hierop is genoeg om boekdele te vul. Kom ons volstaan met 'n kort lys:
-
Die leer van die uitverkiesing (NGB 16; So. 1; DL 1) bied persoonlike geloofsekerheid dat ons kinders van God is, veral wanneer ons ons eie swakheid en sondigheid ervaar.
-
Die leer van die verbond (So. 27) bied onontbeerlike gemoedsrus wanneer ons kinders die wêreld ingaan: ook hulle is die gewaarmerkte eiendom van Christus. Hoe sou 'n mens sonder die troos van hierdie leer van 'n kindergraffie af kon opstaan?
-
Die leer oor die kerk (NGB 27-32; So. 21) verdryf alle vrees oor die toekoms van die kerk. Die kerk is nie maar net nog 'n organisasie wat kom en gaan nie. Met Christus wat sy ware kerk bewaar en vermeerder, waarom sou ons paniekerig raak oor dalende Iidmatetalle?
-
Die sakramentsleer (NGB 33-35; So. 25-30) hou ons dankbaar en nederig: dankbaar dat God op sigbare en tasbare manier ons geloof versterk; nederig om sy sakramente te onderhou soos God wil en nie soos ons self wil nie.
-
Die leer oor God Drie-enig (NGB 8-11) hou ons op koers te midde van allerlei aandrang om die heidense gode ook as deel van die waarheid te aanvaar. Naas Hom is daar geen God nie!
-
Die leer oor God se koninkryk (So. 31-52; DL 5) laat ons bestendig in sy diens volhard. God regeer. Waarom sou ons ons heil by aardse leiers soek?
-
Die leer oor burgerlike owerhede (NGB 36) gee ons die perspektief om die regering van die dag nie te hoog óf te laag aan te slaan nie.
-
Dit stel ons ook op ons hoede vir owerhede wat meer óf minder wil doen as wat God hulle opgelê het.
-
Die voorsienigheidsleer (NGB 13; So. 10) troos ons met die sekerheid dat God aan beheer is. Daarom is ons dankbaar en geduldig, veral in tye van teëspoed en te midde van politieke omwentelings.
-
Die leer oor die erfsonde (NGB 15; So. 2-4; DL 3 en 4) hou ons nederig voor God en laat ons wegvlug van die hoogmoed van die humanisme.
-
Die leer van regverdigmaking (NGB 17-26; So. 5-7; DL 2) lei ons tot ware dankbaarheid vir die soenoffer van Christus aan die kruis. Dit red ons futiele (en fatale!) pogings om met goeie werke self ons verlossing te bewerk.
-
Die leer van die opstanding (So. 16 en 17) verdryf alle angs en skrik wanneer ons die drumpel van die dood nader.
-
Die leer van die laaste dinge (NGB 37) weerhou ons daarvan om op loop te gaan oor dag-en-datum-voorspellings van die wederkoms. Met kalme dog dringende verlange sien ons uit na die dag wanneer die Here op die wolke kom.
AI hierdie (en nog baie meer) sake wat in ons gereformeerde belydenis saamgevat is, is vir ons vaste ankers van die waarheid, juis omdat dit in ooreenstemming met die Bybel is.
En as gereformeerdes handhaaf ons die Bybel as die geskrewe Woord van God — deur sy Gees geïnspireer, heilig, absoluut gesagvol, onveranderlik, onfeilbaar, onweerlegbaar en uniek. In sy goedheid het God alles wat ons vir ons saligheid moet glo, noukeurig daarin laat opteken. So bely ons in artikels 2 tot 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.
Met so 'n ryke erfenis het ons geen rede om na iets anders te hunker nie. Trouens, dit sou geestelike selfmoord wees om dit op iets anders in te ruil. Ongetwyfeld geld die woorde van die apostel Paulus aan Timoteus ook vir ons vandag: "Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het..." (2 Tim. 3:14). Of die woorde van die Here Jesus aan die gemeente van Sardis: "Onthou dan hoe jy dit ontvang het, en bewaar dit en bekeer jou..." (Openb. 3:3).