Die Outonomie van die Pasiënt
Die Outonomie van die Pasiënt
Moet die woord outonomie altyd 'n negatiewe betekenis hê? Wat is die reg van die pasiënt wat mediese behandeling ondergaan?
Om outonoom te wees beteken dat die mens homself bestuur. Hy bepaal self die reëls. Outonoom staan teenoor heteronoom, wat beteken dat 'n mens hom onderwerp aan van buite opgelegde reëls. 'n Christen as ware gelowige sal teenoor die Here en sy Woord altyd heteronoom wees. Outonomie was juis die oorsprong van die sondeval in die paradys, waar die mens net soos God wou wees, self die reëls wou bepaal. Maar moet die woord outonomie altyd 'n negatiewe betekenis hê as dit byvoorbeeld verbind word met die pasiënt se reg om self te kan besluit of hy 'n bepaalde behandeling wil ondergaan of nie?
Die Reg se Standpunt⤒🔗
Die outonomie van die pasiënt het sterk op die voorgrond getree met die gesaghebbende hofuitspraak Castell van de Greef (1994 4 SA 408), wat moontlik as die locus classicus gesien kan word wat betref die leerstuk van ingeligte toestemming. In hierdie hofuitspraak is daar weg beweeg van medies paternalisme na 'n meer pasiënt georiënteerde toets.
Hoewel dokters vanaf die twintiger jare van die vorige eeu al die plig gehad het om aan pasiënte te openbaar wat die siektetoestand is, of wat die bepaalde behandeling inhou, het die pasiënte nooit werklik daarop aangedring of het die dokters dit nooit as 'n noodsaak gesien by hulle praktykvoering nie. 'Dokter sê dit is nodig en dokter sal weet.'
Dat dit egter nie altyd so 'n goeie gang van sake is, kan uit die feite van die bogenoemde hofsaak duidelik word. In hierdie saak het dit gegaan oor slegte en skadelike gevolge van 'n operatiewe prosedure waarby die pasiënt voor die tyd nie stilgestaan het en wat die pasiënt voor die tyd ook nie kon besef nie. 'n Plastiese chirurg het op 'n pasiënt op haar versoek 'n operasie uitgevoer sonder om van te vore te verduidelik watter komplikasies by so 'n operasie kan intree en tot watter gevolge dit kan lei.
Die komplikasies het ingetree met erge nekrose van weefsel (weefseldood) en infeksie wat sleg ruikend was en 'n groot aantal opvolg-operasies waarvan die uiteindelike resultaat nie goed genoem kon word nie. Die pasiënt se beswaar was, dat, as sy dit alles geweet het, sy nooit die operasie laat doen het nie en dat, as sy oor alternatiewe prosedures ingelig was, sy moontlik anders sou besluit.
Sonder om op 'n groot aantal regsaspekte van hierdie saak in te gaan, kan wel gestel word dat die pasiënt inderdaad in die gelyk gestel moes word. Behalwe dat die behandelende dokter 'n kontraktuele plig het om die pasiënt in te lig, het hy ook 'n plig om materiële risiko's van bepaalde behandeling-metodes of operasies uit te wys.
Die Mediese Standpunt←⤒🔗
Hoewel die gemoedere in mediese kringe aanvanklik deur die uitspraak van die Hof in hierdie saak in beroering gebring was, het daar die laaste jare meer en meer die aanvaarding gekom dat pasiënte 'n ingeligte toestemming moet gee. Op mediese kongresse is hierdie onderwerp geleidelik meer en meer dringend aan die orde gestel.
Die besware wat in mediese en veral chirurgiese kringe geopper word, is ook nie almal ongegrond nie. Om 'n pasiënt presies in te lig hoe 'n operasie gedoen word en watter gevare daar almal bestaan, is medies gesien nie altyd nodig nie en dikwels onprakties, omdat die gemiddelde pasiënt onvoldoende mediese kennis het en omdat dit partykeer die teenoorgestelde uitwerking kan hê: volledige inligting kan 'n pasiënt van 'n noodsaaklike ingreep afskrik. Die dokter weet tog die beste wat goed is vir die pasiënt. Om 'n pasiënt noukeurig in te lig hoe alles sal gaan en moontlik kan gaan, kan 'n teen-produktiewe uitwerking op die pasiënt/dokter-verhouding he. En inderdaad kan 'n behandelende dokter verantwoordelik gehou word as die pasiënt sodanig afgeskrik word dat hy nie die nodige behandeling ondergaan nie.
'n Mate van paternalisme dus in die vorm van: dis goed omdat ek so sê en dit moet maar gedoen word omdat ek dit sê. Mediese paternalisme van 'n dokter oor sy pasiënt is nie noodwendig verkeerd nie. Wel moet die medikus die verantwoordelikheid wat die pasiënt self vir sy eie liggaam het, in gedagte hou.
Die Christen-Pasiënt se Verantwoordelikheid←⤒🔗
Hiermee kom ons tot die kern van die saak as dit gaan oor die outonomie van die pasiënt. Elke christen is as pasiënt heteronoom teenoor die Here en sy Woord, maar in sy heteronomiteit ook outonoom teenoor die wêreld as gevolg van sy rentmeesterskap ten opsigte van sy liggaam en sy gesondheid. Alhoewel dit in bepaalde gevalle aan dokters oorgelaat word, het die pasiënt die goddelike plig om sy liggaam (en daarmee ook sy gees as 'n fisies-psigiese integriteit) as 'n tempel van die Heilige Gees gesond te bewaar. Hierin verskil die mens ook van die dier, dat God self sy asem in die mens geblaas het en dat hy as God se beeld geskape is. Hoewel die mens se liggaam van stof gemaak is en dit na die sondeval ook weer tot stof sal terugkeer, is elke mens met sy eie liggaam uniek en volgens die raadsplan van God daargestel.
'n Christen-pasiënt mag vir bepaalde kwale van sy liggaam oplossings soek en moet in party gevalle selfs bepaalde metodes van behandeling afwys. Die wêreld se norme kom nie altyd met die Here se norme ooreen nie. Wat 'n dokter partykeer aanbeveel, is nie altyd hoe ons dit met die wil van die Here kan versoen nie.
Belangrike medies-etiese vraagstukke soos aborsie en eutanasie kan hier as praktiese voorbeelde dien. Die christen-pasiënt moet dan outonoom teenoor die dokter self sy ingeligte besluite kan neem of hy toestemming wil gee of nie. As 'n mens dit vanuit hierdie hoek benader, het 'n christen-pasiënt dikwels selfs die plig om die agtergrond van 'n bepaalde mediese behandeling uit te vra en het hy 'n plig om te besluit of die komplikasies en implikasies van bepaalde ingrepe teenoor die Here verantwoordbaar is.
Dit is egter wel so dat as 'n pasiënt weet dat sy dokter ook in die Here glo en sy hele vertroue op Hom stel, hy met groot en noodsaaklike operasies dit maar aan die Here moet oorlaat. Dit is een van die wonderlikste en hartroerendste gebeurtenisse wat 'n christen-dokter te beurt mag val, as hy saam met die pasiënt die operasie en sy komplikasies bespreek en dat hulle saam mag konkludeer dat, in ag genome die nodige vaardigheid en sorg, die hele saak in die hand van die Here gelaat moet word en dat die pasiënt dan vir die dokter se: 'Dok, ek sal vir die Here bid dat Hy jou hande in hierdie operasie mag lei en dat Hy hoe ook al die resultaat sal seën'.
Die Outonomie van die Christen-Pasiënt Begrens←⤒🔗
Waar die Reg die pasiënt se outonomie meer na vore gebring het en in 'n mate teenoor die mediese wêreld afdwingbaar gemaak het, maak dit die pasiënt as Christen nooit outonoom teenoor die Here nie. In dié sin begrens die fundamentele heteronomie van 'n mens se bestaan sy outonomie binne die wêreld waarin die Here hom gestel het.
Wel verantwoordelik vir sy eie liggaam (en gees) en self daaroor besluite neem, maar nooit los van God en sy Woord nie. Wel regte afdwing wat 'n wêreldlike hof aan 'n mens gee, maar altyd verantwoordelik binne sy rentmeesterskap. Ora et labora, bid en werk. Beide is noodsaaklik vir die regte bediening van die amp van alle gelowiges.