Die Onderskeid tussen die Twee Nature van Christus
Die Onderskeid tussen die Twee Nature van Christus
Wanneer ons van Christus as God en mens praat, moet ons versigtig wees om nie sy twee nature te verwar nie. Dit het wel in die geskiedenis van die kerk gebeur. Sommiges het Christus, byvoorbeeld, die God-mens genoem en geleer dat Hy nie langer waarlik God of waarlik mens was nie, maar ʼn soort vermengingkruising van die twee. ʼn Voorbeeld sou wees die vermenging van die metaal, natrium, met die gifgas chloor, om natriumchloried (tafelsout), wat nie ʼn metaal of ʼn gas is nie, te vorm.
Die probleem met hierdie ou kettery is dat dit die onderskeid tussen die menslike en die goddelike uitwis. Dié dwaling bestaan vandag nog, hoewel dit nie meer dieselfde naam dra nie. Daar is diegene wat die onderskeid tussen die menslike en die goddelike verduister deur te leer dat Christus net God was in dié sin dat Hy as ʼn goeie mens goddelik geword het. Volgens hierdie siening het Christus goddelikheid bereik deur die volle potensiaal van sy menslikheid te verwesenlik. Dit is deur, onder andere, Isaac Watts, die skrywer van baie gesange, geglo.
Die vervaging van die onderskeid tussen die menslike en die goddelike is ook die dwaling van diegene wat ʼn evangelie van “positiewe denke” en van die modernisme voorstaan: dat mense alle gedagtes van sonde en skuld moet opsyskuif en leer om positief oor hulleself te dink en, soos Christus, só hulle potensiaal te verwesenlik. Saligheid bestaan dan daarin dat mans en vroue groei tot ʼn soort volmaakte mensdom wat, so word gesê, dieselfde is as om goddelik te wees.
Met die handhawing van die onderskeid tussen die menslike en die goddelike in Christus, moet ons baie versigtig wees met ons woorde, en nie verder gaan as wat die Skrif self oor die twee nature van Christus sê nie. Ons sê, byvoorbeeld, dat Christus aan die kruis gesterf het, of dat gely en gesterf het “na sy menslike natuur”, maar ons sê nie dat God aan die kruis gesterf het nie. Ons sê dat Christus toe “na sy menslike natuur” deur God verlaat is, maar ons kan nie sê dat God deur God verlaat is nie.
Ons vind die Skrifgesag vir ons woorde in gedeeltes soos Romeine 9:5 waar die Skrif sê dat Christus “na die vlees”, uit die Jode is.
Ons moet dus volhou dat Christus ons Here in een persoon ewig, alwetend, almagtig en die Skepper van hemel en aarde is en terselfdertyd ook ten volle mens, met al die beperkinge van die menslike natuur — dit is die wonder van sy vleeswording, die groot geheimenis van godsvrug, en die hoop van ons saligheid (Ef. 4:9, 10).
Ons kan die vermenging van twee stowwe om ʼn derde te vorm, verstaan, maar om ten volle te verstaan hoe die twee nature van Christus vir ewig in een persoon verenig kan word maar terselfdertyd afsonderlik bly, gaan ons begrip te bowe. Dit laat ons sien dat die vleeswording van Christus ʼn wonderwerk van God is.