Die Name van God
Die Name van God
Een van die maniere waarmee God Hom openbaar, is deur sy name. Daarom het Hy in die Skrif aan ons baie verskillende name gegee. Die name is baie, want God is baie groot en sy heerlikheid sonder einde. Elke naam sê iets oor Hom, maar almal saam kan steeds nie sy oneindige lof beskryf nie.
Wanneer ons hierdie name bestudeer, moet ons in gedagte hou dat die name van God van ons name verskil. Ons name is blote etikette, wat verander kan word sonder om te verander aan wie en wat ons is.
God se name dui aan wie en wat Hy is. Hulle is so onveranderlik soos God self. Om dié name te misbruik en wangebruik, soos sommige dit in hulle omgangstaal doen, is om God self te beledig. Daarom sal God nie die mens wat sy name ydellik gebruik, asof hulle betekenisloos en sonder heiligheid is, skuldloos stel nie.
Dit is ʼn erge sonde om die name van God so te misbruik. Dié sonde word in die derde gebod (Eks. 20:7) op straf verbied. Ons moet egter onthou dat dit ʼn ewe erge sonde is om die name van God glad nie te gebruik nie. ʼn Mens kan verdoem word weens die ydele gebruik van die Naam van God. Eweneens kan ʼn mens verdoem word omdat hy nooit die name van God noem nie.
Soos al tien die gebooie, bevat die derde gebod nie net ʼn verbod nie, maar ook ʼn eis. Dit eis die heilige, eerbiedige en Godvererende gebruik van sy name. Ons moet leer om die name van God nie lukraak te gebruik nie, maar oor wat hulle ons van God vertel.
Ons gebruik dikwels in ons gebede ʼn aanspraak met van welke naam van God ook al in ons gedagte opkom terwyl ons bid. Dit is nie hoe die Bybel ons leer bid nie. In die Bybel word die name van God met sorg gekies om ʼn belangrike waarheid oor God, wat verband hou met die versoek, lof of danksegging wat tot God gerig word, te beklemtoon.
So mag ons, byvoorbeeld, die naam Jehova gebruik om God aan te spreek wanneer ons ter wille van ons kinders pleit op die beloftes van sy verbond. Geen beter naam om dan te gebruik nie! Of ons kan Hom as die Heilige aanspreek wanneer ons ons sonde bely en waarlik begeer om ons met berou voor God te verootmoedig.
Die Jode was verkeerd om die naam Jehova, uit vrees vir die heiligheid en volmaaktheid daarvan, nie te gebruik nie. God het sy name vir ons gegee om te gebruik om met Hom en oor Hom te praat. As ons nie met Hom en oor Hom praat nie, lewe ons asof daar geen God is nie; ontken en verwerp ons Hom. Ons mag dit nie doen nie.
Ons is geroepe om die name van God te gebruik, met eerbied en heilige vrees, om Hom te prys, tot Hom te bid, oor Hom te praat en Hom te eer. So, en so alleen, lewe ons in gehoorsaamheid aan Hom en gebruik ons sy name ten regte.
Ken u sy name? Gebruik u hulle?