Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Mode van die Tydsgees

sakhorlosie

Elke geslag het sy modes en sy tydgees. Dié twee, mode en tydgees, het baie met mekaar in gemeen. Met albei is dit so dat, as dit eers posgevat het, dit op die populêre mening beslag lê en daarna deur groepsdruk dwing en heers. Wee die een wat uit die mode is. En wie teen die tydgees ingaan, moet weet hy gaan teenkanting kry. Albei, mode en tydgees, het ook 'n leeftyd, langer of korter, waarna dit plek moet maak vir 'n nuwe gier. En, les bes, al­bei het ook die manier om later weer in 'n nuwe gedaante uit die as op te staan.

Daarom is die geskiedenis van die kerk grootliks 'n geskiedenis van stryd teen die gees van die tyd. Sedert die Reformasie het die kerk gesteier voor die aanslae van die rasionalisme, die piëtisme, die individualisme en 'n hele klomp ander "ismes". In die twintigste eeu was daar weer die modernisme. En nou, in die laaste paar dekades van die eeu ïs die modernisme besig om plek te maak vir 'n nuwe "isme": die postmodernisme.

Namate die tyd aanstap, word dit al duideliker dat hierdie verskynsel só vinnig posvat dat dit besig is om die nuwe tydgees te word.

Aanduiding hiervan is die onlangse briefwisseling in die dagpers na aanleiding van die Madeleine van Biljon-sage. Onder meer was daar Afrikaanse teoloë asook 'n bekende rubriekskrywer wat ywerig die denkbeelde van die postmodernisme gepropageer het.

Wat sê die Postmodernisme?🔗

In Beeld van 10 Junie 1998 gee die rubriekskrywer Wilhelm Jordaan 'n kort en duidelike uiteensetting van wat die postmodernisme is. In kort kom dit neer op 'n beskouing dat daar nie so iets soos orde en sekerheid is nie. Daar bestaan nie so iets soos dié waarheid en dié werklikheid nie. Elke mens het maar net sy eie vertolking van die waarheid en die werklik­heid. Alles word dus tot die uiterste toe gerelativeer.

Nie Een Korrekte Interpretasie van die Bybel Nie🔗

Vir die godsdiens en teologie het die postmodernisme vernietigende gevolge. Dit sê immers uitdruklik dat daar nie so iets soos een korrekte interpretasie van die Bybel bestaan nie. Elke interpretasie is 'n geldige interpretasie.

Hiervolgens bestaan daar nie so iets soos leersuiwerheid nie. Ook nie regsinnigheid en vrysinnigheid nie. Elkeen kan die Bybel vertolk soos hy wil en niemand durf hom daaroor tot orde roep nie. Geen wonder nie dat een briefskrywer in die dagpers selfs voorbrand maak daarvoor dat die kerke skuld sal moet bely omdat hulle in die verlede mense oor leerdwalings onder tug geplaas het.

Vernietig Gevestigde Oortuigings🔗

Die postmodernisme is verder daarop uit om gevestig­de vertolkings van die Bybel te vernietig. "Dekonstruksie" is die woord wat gebruik word.

Bestaande beskouings ("strukture") moet ondermyn (gedekonstrueer) word en plek maak vir ander nuwe sienings op die werklikheid.

Vir die gereformeerde gelowige is dekonstruksie egter niks anders nie as destruksie. In die postmodernisme is daar geen bestaansruimte vir ons belydenisskrifte nie. Dit weier om so 'n vaste belydenis te handhaaf. Die belydenis is in elk geval relatief, sê die postmodernis, want dit word deur elkeen op sy eie manier vertolk.

Relativeer die Christendom🔗

Uiteindelik relativeer die postmodernisme die Christelike godsdiens in geheel. Niemand kan met sekerheid sê wie die ware God is nie. Christen, Islam, Hindoe, Animis — elkeen het maar net sy eie siening op wie God is. Daar is nie maar net een ware God nie.

verskillende gelowe

Die uiteinde hiervan is dat dit tevergeefs en inderwaarheid arrogant van die Christendom is om sending te gaan doen onder "andersgelowiges". Die postmo­dernisme vereis "uiterste verdraagsaamheid" in die godsdiens, skryf Jordaan. Dit vra erkenning "dat daar vele genres van geloof kan wees". Dit dwing ons om toe te gee dat nie net die Christelike godsdiens reg is nie.

Onverdraagsame Verdraagsaamheid🔗

Dit is ironies dat die postmodernisme, ten spyte van die verdraagsaamheid wat dit propageer, uiters onverdraagsaam is. Dit duld nie teenstand nie. Die probleem met 'n tydgees is dat dit, soos 'n heersende mode, deur groepsdruk 'n soort dwinglandy beoefen. Daarom gaan dit moed van die oortuiging verg vir gereformeerdes, ook vir gereformeerde teoloë, om te midde van hierdie aanslag gereformeerd te bly. Om nie ter wille van "aanvaarding" maar toe te gee aan die idee dat daar geen vaste sekerheid oor dit wat ons glo kan wees nie. Om nie verlei te word om ons Skrif-verstaan te relativeer tot op die punt waar niemand meer kan sê "So sê die Here" nie.

Dit gaan vasberadenheid verg om ons gereformeerde belydenis te handhaaf in die aangesig van 'n tydgees wat meedoënloos op ons afkom. Om geloofsverankerd te bly tot die stormwind van die postmodernisme oorgewaai het.

Daarom moet ons bid, met alle erns bid dat God ons deur sy Gees die krag en die vrymoedigheid sal gee om die "amen" van ons geloof te bly bely. Deur die eeue heen het Hy vorige geslagte gereformeerdes laat staande bly te midde van die gees van hulle tyd. Waarom sou Hy dit nou nie doen nie?

Juis om ons staande te hou, waarsku die Gees ons in sy ewige onveranderlike Woord: "Julle stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug..." (Ef-5:2).