Die Missionêre Kerk: Hiér Gebeur Dinge! In hierdie Artikel kyk ons na die Volwaardige Plek wat Pasbekeerdes in die Kerk Verdien!
Die Missionêre Kerk: Hiér Gebeur Dinge! In hierdie Artikel kyk ons na die Volwaardige Plek wat Pasbekeerdes in die Kerk Verdien!
⤒🔗
Bekering as Proses←⤒🔗
In die Heidelbergse Kategismus (HK v/a 88-90) word bekering omskryf as ’n afsterwe van die ou mens en ’n opstaan van die nuwe mens. Die menslike kant van bekering kom tot uiting enersyds in opregte verdriet oor die sonde, dit word voortaan vermy, en andersins ’n innige blydskap. Die Dordtse Leerreëls (DL III/IV, 10-12) vestig die aandag op die Goddelike kant van bekering: dit is ’n bonatuurlike en wonderlike werking van God, wat ons nie kan begryp nie, maar waarvan ons die vrugte waarneem. Bekering mond naamlik uit in gedragsverandering, maar begin nie daarmee nie. Uit die Dordtse Leerreëls word ook duidelik dat bekering as verandering nie net van die een op die ander oomblik plaasvind nie. Ook gebeur dit by elke persoon nie noodwendig op dieselfde manier nie. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB art 22) beklemtoon dat in elke bekering Jesus Christus in die middelpunt staan. Iemand wat tot geloof in Christus kom, het niks anders meer nodig nie. In Christus is ons volle heil. Dit gaan terug op die Bybelse waarheid dat ons deur geloof – sonder werke! – geregverdig word (Romeine 3:28). Die werke volg eers later.
Deur die genesende werking van die Heilige Gees leer ’n bekeerde hoe om sy lewe te verbeter. Die NGB praat oor die goeie vrugte waaraan ʼn mens ’n goeie boom herken. Maar elke boomkweker weet dat ’n goeie vrugteboom eers ’n paar jaar nadat dit geplant is, begin vrugte dra. Wie ’n jong boompie uittrek omdat dit nog nie vrugte dra nie, kry nooit ’n ou boom met ’n groot oes nie. So is dit ook ’n proses vir ’n bekeerde om steeds meer as ’n Christen te leer lewe.
Ek vra aandag vir hierdie proses van bekering om die volgende rede: hou die prosedures (geskrewe en ongeskrewe) wat in die kerke hanteer word om nuwelinge toe te laat, wel rekening hiermee? Ofte wel: weerspieël ‘ons’ toelatingsprosedures ook die waarheid dat ’n sondaar geregverdig word sonder werke? Word jong boompies met onooglike vrugte wel toegelaat in die vrugteboord van God se volk? Kry hulle die kans om op te groei in die vrugbare grond van Woord en sakramente? Want dit is waar die dinge gebeur. Dit is waar die Gees werk!
Sondekennis as Vrug van Genade←⤒🔗
Gereformeerde kerke is nou al vir eeue gewoond aan ’n samelewing waarin Christelike norme en waardes die botoon gevoer het – al was dit dikwels net aan die oppervlak. Alhoewel mense dikwels nie volgens die tien gebooie geleef het nie, was hulle wel bewus van hierdie norm. Soos die Engelse sê: he talks the talk, but does he walk the walk?
Die kloof tussen kerk en samelewing was – altans aan die oppervlak – nie so wyd nie. In die 21ste eeu kom Gereformeerde kerke egter steeds meer te staan in maatskappye wat nie meer so duidelik volgens die Bybelse norme georganiseer is nie. Vir kerke op die sendingsveld geld dit des te meer. Om ’n voorbeeld te noem: hoeveel mense beskou owerspel of ’n driehoeksverhouding nog as werklik sondig? En dat aborsie ’n sonde is, dit word as ’n groot gedagtesprong beleef. In hierdie verband moet ons as kerklede nie uit die oog verloor nie dat sondekennis ook ’n vrug van genade is. Besef van sonde is nie ’n voorwaarde vir genade nie. Hoe gaan gesekulariseerde mense leer en oortuig word dat aborsie, owerspel, ens. ens., sonde is, as hulle nie die bediening van die Woord ontvang nie?
Nog ’n faktor wat ons moet besef, is dat daar dikwels ’n soort geldende etiek in ’n gemeente heers. Kerklede beskou byvoorbeeld sondes van seksuele aard as veel erger as iemand wat in oordadige luukse leef of die belasting ontduik. En diefstal beskou ons as veel erger as hoogmoed of skinderpraatjies. Maar as ʼn mens die sonde vanuit God se perspektief beskou, sal dit blyk dat daar veel minder verskil is tussen ’n gesekulariseerde persoon en ’n keurige kerklid. Beide het die bediening van die Woord ewe nodig! Hierdie besef moet ons veral nederig maak teenoor buitestaanders, en ons laat besef dat dit nie van pas is om ’n toetreder uit die ‘wêreld’ deur middel van ’n aantal kosmetiese operasies in ons gangbare etiek in te pas nie. In so ʼn geval kom ’n moralistiese Christendom in die plek te staan van God se koninkryk. Terwyl dit juis daaroor behoort te gaan dat ’n sondaar die koninkryk binnegaan. Dat hy ingelyf word in God se regering, nie in ons regering nie! Ons mag nie ons huisstyl opdring aan ’n toetreder nie.
Is dit nie vanweë moralisme dat heelwat Gereformeerde kerke ’n soort binne/buitestruktuur vertoon nie? As’t ware ’n hoë muur wat binne en buite van mekaar skei.
Tog, op grond van Skrif en belydenis, moet daarvoor gepleit word dat kerke ruimhartig mense in hulle gemeenskap behoort toe te laat. Ook mense wat miskien vir die oog nog gesekulariseerd is, maar tog ’n opregte belangstelling het vir die bediening van die Woord. Beslissend of mense toegelaat word of nie, is nie hulle huidige lewenstyl nie, maar of hulle die Gees toelaat om in hulle lewens te werk. Want in die kerk gebeur die dinge. Hier werk die Gees as die Woord bedien word! Daarmee word nie ontken dat sommige belangstellendes vroeër of later tog ander paaie kies nie.
Doop en Belydenis: Begin- of Eindpunt?←⤒🔗
In die praktyk funksioneer doop en belydenis vir toetreders (en dikwels vir dooplede) as ’n eindpunt. ’n Soort afsluitende eksamen. Tog is dit nie Bybels nie. As ons daarenteen meer klem lê op die noodsaak van groei in ons lewe, val die aksent meer op heiliging en voortgaande bekering. Openbare geloofsbelydenis is eintlik veel minder ’n eindpunt as ’n begin van die geloofsweg. Die gangbare praktyk het veral ongelukkige konsekwensies in die geval van toetreders. As belydenis ’n eindpunt is, is die gevolg dat die norm/standaard vir die doen van belydenis baie hoog sal wees. Sodanig dat slegs mense wat al jare lank ervaring in die kerk het, redelikerwys daaraan sal kan voldoen. So word onbedoeld ’n hoë muur tussen binne en buite gebou. Die onderhouding van al die kerklike gebruike en gewoontes word as voorwaarde gestel voordat iemand toegelaat word tot belydenis en doop. En juis omdat ons slegs die buitekant sien, is ons geneig om te vergeet dat egte verandering van binne moet plaasvind, en dat dit dikwels tyd nodig het.
Laat ons oppas om nie die wet te preek vir toetreders, terwyl die evangelie op die agtergrond verdwyn nie. Dan kan die gemeente na ’n tyd tot haar skok (hopelik) agterkom dat die mense wat toegetree het, juis afgeweer moes gewees het, en dié wat in die verlede rigied die deur gewys is, miskien juis die ware soekers was. Wie die wet in die plek van die evangelie skuif, sal agterkom dat daar mense toetree wat met verloop van tyd sal ontpop as nog meer seloties as die gevestigde kerklede self. By hulle intrede in die gemeente word hulle ou mens nie gedood nie, maar miskien juis gerevitaliseer!
Is dit nie meer korrek om, in die lig van die Skrif, belydenis en doop te beskou as beginpunte in die proses van heiligmaking en nie as afsluiting daarvan nie? In die dooppraktyk van Gereformeerde kerke word dit pragtig weerspieël in die kinderdoop. Hulle wat in sonde ontvang en gebore is, ontvang die doop, sodat hulle kan groei in die heiliging van hulle lewe.
Wanneer daar in die gemeente toetreders lid word wat nog tekens vertoon van ’n wêreldse lewenstyl en ’n sekulêre manier van denke, beteken dit dat daar in die praktyk dus verskillende soorte gemeentelede is. In die vorige artikel het ons al aandag daaraan geskenk dat die Nuwe Testamentiese gemeentes met hierdie situasie vertroud was. Daar was ‘swakkes’ en ‘sterkes’ in die gemeente.
Hierbo het ek daarvoor gepleit dat die maatstaf vir toelating nie te hoog moet wees nie. Dit is belangriker om te kyk in watter rigting iemand se lewe beweeg. Dit kom onder andere tot uiting in die verlange om meer onderwys te ontvang. In die lig van die Bybel moet ons toetreders as ‘swak’ broers en susters beskou. In die kerk het elke lid nie dieselfde regte en pligte nie. Daar is eerder sprake van ’n toenemende verantwoordelikheid, soos wat lede in toewyding groei.
←⤒🔗
Die Ampte in Missionêre Lig←⤒🔗
In sy eerste brief aan Timoteus noem Paulus ’n aantal eise op grond waarvan manne geskik is vir ouderling. Timoteus was destyds ’n voorganger in die gemeente van Éfese. Wanneer iemand ouderling wil word, moet hy aan die volgende voorwaardes voldoen (1 Timoteus 3:1-7):
-
van onbesproke gedrag
-
monogaam
-
nugter
-
ingetoë
-
beskaaf
-
gasvry
-
hy moet goed kan onderwys gee
-
hy moet nie aan drank verslaaf wees nie
-
hy moet nie opvlieënd wees nie, maar vriendelik
-
hy moet nie strydlustig of geldsugtig wees nie
-
hy moet aan sy eie gesin goeie leiding gee en sy kinders aan hom onderdanig hou
-
hy moet nie pas bekeer wees nie, om te voorkom dat hy deur sy verantwoordelikheid hoogmoedig sou word
-
hy moet gunstig bekend staan by nie-Christene
Die meeste van hierdie kriteria is vir ons bekend, en geld nog steeds in Gereformeerde kerke. Tog is daar enkeles wat slegs begryp kan word teen die missionêre agtergrond van die eerste gemeentes.
Opvallend is byvoorbeeld die eis dat ’n ouderling geen pasbekeerde Christen mag wees nie. ’n Jong Christen, al is hy bekeerd, is (nog) nie geskik vir die amp nie. In ’n ander geval skryf Paulus aan Titus dat ’n ouderling gelowige kinders moet hê. Hierdie twee eise lê in mekaar se verlengde. Ons moet hulle sien teen die agtergrond van ’n jong gemeente waar daar nog baie Christene van die eerste generasie is. Slegs broeders met gelowige gesinne behoort as ouderlinge bevestig te word. Broeders wat hul as enigste gelowige in hulle gesin moet handhaaf, het hulle hande al vol genoeg.
Nog ’n kriterium wat teen die missionêre agtergrond van die eerste gemeentes verstaan moet word, is dat die nuwe ouderling gunstig bekend moet staan by nie-Christene in die omgewing. Juis hulle wat ’n amp in die gemeente beklee, word ekstra dopgehou. Nie net deur die gemeente nie, maar ook deur die ‘wêreld’.
In die Gereformeerde bevestigingsformulier vir ouderlinge en diakens het hierdie missionêre inslag van die amp soos wat ons dit in die Bybel vind, ʼn bietjie op die agtergrond geraak. Al die nadruk lê op die bewaking van die suiwerheid van die leer en die toesighouding op die gemeente. Tog is dit goed om te besef dat die missionêre karakter van die kerk by Paulus heeltemal deel van die ampsbeskouing vorm. Laat ons hierdie kriteria nie uit die oog verloor nie wanneer broeders vir die ampte op tal gesit word!
Gradasies in Lidmaatskap←⤒🔗
Uit Paulus se advies aan Timótheüs en Titus blyk ook dat hy gradasie aanbring binne die gemeente. Daar is pasbekeerdes en daar is mense wat al ’n langer tyd Christen is. Ook hieruit kan ons aflei dat daar ruimte is om mense belydenis te laat doen en te doop wat in lewenstyl nog gedeeltelik sekulêr is. Juis met die argument dat die gemeenskap van die Woord en sakramente die beste plek is om te groei! Maar vir diegene wat bang is dat daar dan al hoe meer onderskeid gemaak gaan word tussen sg. A-Christene en B-Christene, wil ek benadruk dat ons identiteit nie lê in die feit hoe ʼn goeie Christen ek is nie, en hoeveel regte en pligte ons in die gemeente het nie. Ons waarde en status lê slegs in die feit dat Christus vir ons almal gesterf het. Dit het Hy ook vir die ‘swak’ broer en suster gedoen (1 Korintiërs 8:11). Om ’n amp te beklee, is ’n groot voorreg, maar dit is geen beloning vir ’n sg. A-Christen nie. Aan wie baie gegee is, van hom sal baie gevra word.