Die Makkabeers en Hasmoneers: vryheid vir die Jode
Die Makkabeers en Hasmoneers: vryheid vir die Jode
Nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het, het hulle steeds onder Persiese bewind gestaan, maar het tog 'n redelike mate van selfstandige regering met eie goewerneurs gehad. Die Ou-Testamentiese gegewens hou op na die tweede goewerneurstermyn van Nehemia (± 400 v.C.). Ons weet egter uit ander bronne dat daar tot die einde van die Persiese heerskappy (330 v.C.) betreklike rus en vrede in Palestina was.
Die Persiese beheer van Palestina het egter in 330 v.C. tot 'n einde gekom toe Alexander die Grote Palestina by sy Hellenistiese wêreldryk ingelyf het. Daar het egter 'n goeie verhouding tussen Alexander en die Jode bestaan. Hy het die Joodse gebruike eerbiedig en hulle het sy be-wind aanvaar.
Na die dood van Alexander het die regering van Palestina vir 'n tyd lank onder Egiptiese beheer gestaan (die Ptolemeër-dinastie, ± 300 - 200 v.C.). Ook in hierdie tyd het die Jode 'n redelike mate van selfstandigheid en vryheid geniet en het 'n goeie verhouding met hulle heersers gehad.
Die Siriese regering oor Palestina⤒🔗
Toe die Siriërs in 200 v.C. die bewind oor Palestina van Egipte afneem, kon hulle nie dieselfde goeie verhoudings met die Jode as hulle voorgangers handhaaf nie. Die eerste Siriese bevelhebber, Antiogus III, het die Jode nog goed behandel, maar sy opvolgers, die Seleukiede, het begin om allerlei druk op die Jode uit te oefen.
Veral Antiogus IV (ook bekend as Antiogus Epifanus, 175 - 164 v.C.) het met genadelose wreedheid en fanatieke verontregting teen die Jode begin optree. In die apokriewe Boeke van die Makkabeërs lees ons van Antiogus se optrede wat hom die wrewel van selfs tot nog toe wetsgehoorsame Joodse burgers op die hals gehaal het:
- Hy het die tempel van alle kosbaarhede en skatte gestroop.
- Hy het van die Joodse hoëpriesters gebruik om sy belastings in te samel en het later self hoëpriesters aangestel.
- Hy het die Hellenistiese lewenstyl en selfs hulle godsdiens aan die Joodse bevolking opgedwing.
- In die plek van die brandofferaltaar in die tempel in Jerusalem het hy 'n altaar vir die Griekse god Zeus opgerig (die "gruwel van verwoesting'', aldus Dan. 9:27 en ander plekke, 'n altaar waarop varkvleis geoffer moes word).
Uiteindelik het Antiogus oorgegaan tot 'n wrede vervolging van elkeen wat aan die Joodse godsdiens bly vashou het. Die brandhout vir rewolusie het gereed gelê.
Daar was nog net 'n vonk nodig om dit aan die brand te steek.
Mattatias begin die vryheidstryd←⤒🔗
So 'n vonk het in 167 v.C. gekom in Modein, 'n klein dorpie noordwes van Jerusalem. In die dorpie het 'n priester Mattatias met sy vyf seuns gewoon. Op 'n sekere dag het 'n Siriese beampte na Modein gekom om die inwoners tot 'n heidense offerdiens te dwing. Mattatias het botweg geweier, maar 'n ander Jood het wel na vore getree om te offer. Toe het Mattatias ("u ywer vir die wet") die afvallige Jood sowel as die Siriese beampte doodgeslaan.
Hierna het Mattatias en sy seuns na die Judese bergland gevlug, waar talle ondersteuners by hulle aangesluit het. Ook 'n groep bekend as die Gassidim (= "vromes"), wat sterk teen die Hellenistiese kultuur teenstand gebied het en die Joodse godsdiens ywerig aangehang het, het hulle by Mattatias geskaar. Hierdie groep het mettertyd in 'n rebellegroep ontwikkel.
Judas Makkabeus, die eerste Makkabeër←⤒🔗
'n Jaar later (166 v.C.) is Mattatias dood, maar sy seun Judas, 'n dapper vegter met die bynaam Makkabeus (die Hebreeus vir "hamer), het die leiding oor die rebelle oorgeneem. Na aanleiding van hulle nuwe leier se bynaam het die groep rebelle weldra bekend gestaan as die Makkabeërs.
Die Makkabeërs se doel was om die weg te baan vir elke Jood om ongehinderd volgens die wet van God te kan lewe. Verder wou hulle alle afvalligheid onder die Jode - desnoods met geweld - uitroei.
Eers het die Siriërs gedink dat die Makkabeërs 'n belaglike versetgroepie is waarmee hulle spoedig sou afreken. Hulle het egter gou 'n ander deuntjie begin sing. Die dapperheid, vindingrykheid en godsdienstige toewyding van die Makkabeërs het vergoed vir wat hulle aan wapens en opleiding ontbreek het. Onder aanvoering van Judas Makkabeus het hulle die Siriërs verskeie kere verslaan.
In 164 v.C. het hulle daarin geslaag om die tempel te reinig van die "gruwel van verwoesting", pas 4 jaar nadat Antiogus dit daarin aangebring het. Op 25 Desember van daardie jaar het die Jode die gereinigde tempel feestelik ingewy. Sedertdien word die Fees van die Tempelwyding jaarliks op hierdie dag gevier (vgl. Joh. 10:22).
In 162 v.C. het die Makkabeërstryd daartoe geIei dat die Siriërs die godsdiensvervolging van die Jode gestaak het en volkome godsdiensvryheid aan hulle verleen het. Dit was 'n wonderlike mylpaal wat Judas Makkabeus beskore was om te beleef voor sy dood in 160 v.C.
Politieke bevryding vir die Jode←⤒🔗
Onder leiding van Simon, die tweede oudste seun van die Makkabese gesin, het die Makkabeërs die koers van 'n politieke bevrydingsbeweging begin inslaan. In 142 v.C. bereik die Makkabeërs 'n verdere mylpaal op die Jode se pad na onafhanklikheid, naamlik vrystelling van belasting. Uiteindelik verdryf die Makkabeërs die Siriese bewindhebbers geheel en al uit Palestina (141 v.C.).
Daarmee het die Joodse volk vir die eerste keer sedert die konings van Juda weer hulle nasionale soewereiniteit herwin. Hierdie lank begeerde toedrag van sake sou byna tagtig jaar voortduur.
Die heldhaftige bevrydingstryd van die Makkabeërs is sedertdien onuitwisbaar in die Joodse bewussyn ingegraveer. Geen wonder nie dat baie Jode in die tyd van Jesus gehoop het op 'n Messias wat hulle nie net godsdienstig nie, maar ook op politieke gebied van hulle oorheersers sou bevry. Tot vandag toe bly die Makkabeërs se optrede vir elke Jood 'n besielende vryheidsbaken.
Die regering van die Hasmoneërs←⤒🔗
Na die oorwinning oor die Siriërs, het die Jode vir Simon as hulle nuwe heerser aangestel. Op 'n groot volksvergadering is hy aangewys as hoëpriester, generaal en volksregeerder. Die Jode het Simon dus met religieuse, militêre en politieke oppermag beklee.
Simon en sy opvolgers staan bekend as die Hasmoneërs, na aanleiding van Hasmon, een van Simon se voorvaders. Vir die volgende tagtig jaar, tot en met die oorname deur die Romeine (63 v.C.), is die Jode dan regeer deur die Hasmoniese dinastie.
Simon is na sy dood in 135 v.C. opgevolg deur sy tweede oudste seun, Johannes Hirkanus, wat vir die daaropvolgende 30 jaar oor die Jode regeer het.
Hirkanus was 'n knap strateeg en 'n briljante staatsman. Onder sy regering het die Jode 'n besliste bloeitydperk beleef. Hy het mettertyd die Joodse staat uitgebrei tot 'n gebied wat goed vergelyk het met die Israelitiese ryksgebied in die tyd van Salomo.
In die tyd van Hirkanus het drie Joodse groepe wat tot op daardie stadium betreklik sluimerend was, prominent as afsonderlike partye na vore getree. Hulle was die Fariseërs, die Sadduseërs en die Esseners.
Na Hirkanus se dood in 104 v.C. is hy opgevolg deur sy seun Aristobulus, wat net een jaar lank regeer het. In die enkele regeringsjaar het Aristobulus iets gedoen wat verreikende gevolge vir die Nuwe Testament sou hê: hy verower Galilea, 'n gebied wat toe al vir meer as 600 jaar lank in vreemde hande was en lyf dit by die Joodse gebied in. Orals in die nuutverowerde gebied rig hy sinagoges op.
Verder het hy die Galilese Jode, meesal Arameessprekend, laat besny en hulle in alle opsigte weer godsdienstig aan Judea verbind. Op hierdie manier is Galilea voorberei om later die leefwêreld en basiese werkterrein van Jesus te word.
Aristobulus se opvolger, Janneus, was 'n magsugtige regeerder wat 'n skrikbewind van 26 jaar oor die Jode gevoer het. Hy was voortdurend in botsing met die Fariseërs en het by geleentheid 6 000 van hulle om die lewe laat bring. Dit lei tot 'n vernietigende burgeroorlog van 6 jaar lank (93 - 88 v. C.) waarin nie minder nie as 50 000 Jode sneuwel. Uiteindelik het die Fariseërs met behulp van die Siriërs Janneus totaal verslaan en sy weduwee, Salome Alessandra, wat meer positief teenoor die Fariseërs was, oor Palestina aangestel.
Broedertwis geleentheid vir Romeinse inname←⤒🔗
Na die dood van Alessandra (67 v.C.) ontstaan daar 'n hewige stryd tussen twee seuns van Jan-neus oor wie die regering moet oorneem. Hirkanus II, die oudste broer en 'n swakkeling, het die steun ingeroep van die Idumese vors, Antipater. Antipater was die vader van die latere koning Herodes en 'n politieke knoeier. Deur Antipater se toedoen het die koningshuis van die Herodesse 'n staanplek in die Joodse samelewing gekry wat tot in die tyd van die Nuwe Testament sou voortduur. Uit Antipater se nageslag het die Herodes gekom wat na Jesus se geboorte die kindermoord in Betlehem geloods het; ook Herodes Antipas wat later Johannes die Doper laat onthoof het en Pontius Pilatus bygestaan het in die verhoor van Jesus.
Die jonger broer, Aristobulus II, het besluit om ook hulp van buite in te roep. Die Romeinse generaal Pompeius het toe pas die naburige Sirië verower. Aristobulus vra toe die Romeine om hom by te staan. Pompeius kom hom te hulp, maar sonder dat Aristobulus dit besef het, was sy optrede die begin van die einde van die Jode se onafhanklikheid. Want 'n jaar later bring Pompeius die broederstryd in Juda tot 'n einde bloot deur self Jerusalem te verower (63 v.C.).
Van toe af, reg deur die Nuwe-Testamentiese tyd, het Palestina onder Romeinse heerskappy gestaan.
Samevatting←⤒🔗
Die Here het baie duidelik die Makkabeërs en die Hasmoneërs as instrumente gebruik om die omstandighede vir die koms van die Messias gereed te kry. Die tafel was gedek vir die feesmaal wat sou volg. Die Makkabeërs het deur hulle optrede die Joodse vryheidstrewe aangewakker, sodat hulle onder die latere Romeinse heerskappy 'n sterk Messiasverwagting gehad het. So was die tyd ryp vir die koms van Jesus.
Onder die Hasmoneërs het die partye van die Fariseërs en die Sadduseërs 'n sterk faktor in die Joodse volkslewe geword. Hierdie partye sou ook 'n groot rol speel in die vyandelikheid van die Joodse volk teen Jesus. Dit het gebeur sodat in vervulling kon gaan die woorde van die profete wat gesê het dat die volk die Messias sou verwerp wanneer Hy kom.