Die loflied in ons Psalmbundel
Die loflied in ons Psalmbundel
Loof die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke! Want Hy oorweldig ons met sy liefde, en die trou van die HERE is tot in alle ewigheid. Hallelu-Jah! (Loof die Here)
Psalm 117
Dit is goed om 'n loflied te sing. 'n Lied kan die taal van die hart verklank om uiting te gee aan elke emosie wat diep verborge lewe. Die lied kan so die liefde en eerbied wat ons vir die HERE het, in woorde wat vol van betekenis is en in die klank van musiek wat sê wat ons nie onder woorde kan bring nie, uitsing. Die lied vertel nie, maar vertolk, die lied redeneer nie, maar bely, die lied profeteer nie, maar sing oor die nuwe lewe.
Miskien sal een opmerk dat ons tog historiese of Messiaanse Psalms kry. Natuurlik ... en die waarhede wat in die Psalms bely word, word deur Christus self in sy strydgesprek met die Fariseërs aangehaal (Matteus 22:41-46). Ons is daarom ook so versigtig dat die liedere wat ons in die kerk sing Skrifgetrou berym is. Tog is die Psalms nie 'n sistematiese ensiklopedie van Skrifwaarhede of die verskillende artikels van 'n dogmatiek nie. Dit is en bly die hartetaal van gelowiges.
Miskien sal 'n ander weer opmerk dat die Psalms tog nie die taal van gelowiges is nie, maar wel die taal van die Heilige Gees. Dit is nie ons belewenis en ervaring nie, maar openbaring van God aan ons. Weer is dit reg ... maar beter gestel: dit is God se openbaring in die digter. Die Heilige Gees het die digters so geïnspireer dat hulle in hulle antwoord op God se verbondsliefde nie algemeen menslike gedagtes uitgespreek het nie, maar net dit wat Hy wil hê ons moet antwoord. Dit is openbaring.
Die lofsange as 'n tipe⤒🔗
Die Psalms is deur die eeue nie net gesing of oorpeins nie, maar ook intensief en wetenskaplik bestudeer. Daar is op hulle digpatroon, hulle vorm, struktuur en tipe gelet. Die liedere wyk in sekere opsigte af van die twintigste eeuse gedigte. Geleerdes moes die kunstegniek van die eerste duisend jaar voor Christus, wat verlore geraak het, herontdek. So het Robert Louwth eers in die 18e eeu ontdek dat die ou Semiete hulle gedigte meestal in parallelle gedagtes weergegee het. Hermann Gunkel het in 1903 'n sleutel gevind om die Psalms in sekere tipes (lofliedere, smeekliedere van die volk en van die enkeling, dankliedere van die enkeling en koningspsalms) in te deel. Hierdie tipes is intussen weer verfyn sodat ons vandag ongeveer twaalf tipes onderskei.
Op grond van bogenoemde onderskeidings kan Psalms 8, 29, 33, 100, 103, 104, 113, 114, 117, 134, 135, 145-150 as lofsange getipeer word. Was die vroeëre indelings dan verkeerd? Het die wysheid eers in die twintigste eeu gekom? Nee, die samestellers van die Psalmbundel het ook hulle eie indeling gehad en die Psalms as lofsange, klaagsange, smeeksange en liedere wat saam met sekere instrumente gesing moet word, geklassifiseer. Bogenoemde wetenskaplike onderskeidings is net bruikbaarder in huidige navorsing. Eerlikheidshalwe moet gesê word dat daar ook na al die studie nie eenstemmigheid oor die juiste getal lofliedere is nie. Die lofliedere en die dankliedere kan soms moeilik van mekaar onderskei word.
←⤒🔗
Die Oud-Oosterse klimaat←⤒🔗
Kom ons los eers ons tipes en getalle en verplaas ons na die Ou Ooste in die tyd van Dawid en Salomo. Dawid en die digters na hom het in die digvorm van hulle tyd gedig. Hulle het skoolgegaan in die baie ouer digstyl van Mesopotamië, Egipte en Ugarit. Die digstyl en idioom van Ugarit, soos ons dit kan lees in die gedigte wat by Ras Sjamra ontdek is en voor 1200 v.C. dateer, toon 'n verbasende parallel met die Psalms. Die inhoud is natuurlik wesensverskillend.
Ons weet dat Dawid begin het om die sang en kerkmusiek (kultusmusiek) te organiseer (1 Kronieke 25:1-3). Mense word afgesonder om "besield te speel" (AOV, 1933). Hulle moes musiek maak met 'n profetiese besieldheid. Hoe die eredienste in Dawid en Salomo se tyd ingerig was, kan ons nie presies vasstel nie. Ons weet wel dat die volk drie keer per jaar by die feeste (van die ongesuurde brode, die weke en die hutte) in Jerusalem moes wees (Deuteronomium 16:16) en die feesliturgie het rondom die offeraltare plaasgevind. Die pelgrims het met eerbied na die binneste voorhof gegaan waar die altaar en die kopersee gestaan het. Terwyl die offerrook omhoog styg, kon hulle saam met die priesters lofliedere sing (1 Kronieke 16:37-43; vgl. ook Amos 5:23). Psalm 100 was besonder gedig om saam met die lofoffer ('n dankoffer) gesing te word.
Lofliedere is seker ook by bepaalde 'kerklike' geleenthede gesing soos toe die ark in Jerusalem ingebring is (2 Samuel 6:5) of later by die inwyding van die muur van Jerusalem (Nehemia 12:27-43).
In die 'kerklike' gemeenskap het daar eers vyf sangbundels ontstaan (Psalm 3-41; 42-72; 73-89; 90-106 en 107-150) wat later in een bundel verenig is (die huidige Psalmboek). Elf van die lofpsalms kom in die laaste bundel voor. Dawid het baie meer smeekpsalms as lofpsalms gedig. Van die sewentien lofpsalms het hy alleen vier gedig terwyl die ander heelwaarskynlik in die kultus ontstaan het. Alhoewel daar so min lofpsalms is, het die lofgedagte tog die bundel oorheers. Om God te loof, is deel van die wesenseie van die Godsdiens. Daarom bevat baie dank- en selfs smeekliedere lofverse. Die Masorete (die Jode wat die Ou Testament 'persklaar' gemaak het) het die Psalmbundel 'Lofliedere' (tehilliem) genoem alhoewel net een Psalm "n loflied' as opskrif gehad het (Psalm 145). Ons woord 'psalm' kom van die Griekse Vertaling (Septuagint) wat die Hebreeus vir 'n lied wat met snaarinstrumente gesing word (mizmoor) en veertig keer as opskrif gebruik het, met psalmos vertaal het.
Die wese van die lofsange←⤒🔗
Die lofsange is sange waarin almal en alles opgeroep word om die HERE te prys en alle eer te gee. Die Skrif roep ons om aan mense wat eer werd is, hulle eer te gee. So moet ons 'n vader en 'n moeder eer (Eksodus 20:12) en dit hou in dat ons almal wat gesag dra met gepaste waarderingswoorde en lofprysinge moet erken. Vir ons mense is sulke woorde bemoedigend en as ander sou swyg of net kritiek sou hê, sal dit die waardigheid van menswees totaal afbreek. Ons kan met ons woorde aan God geen kwaad doen nie, maar Hy wil hê dat ons Hom moet eer en prys. Daarom sing die engele ook lofsange:
Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare! Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!Jesaja 6:3
Ons Here Jesus Christus het ons ook in die heel eerste bede van die Onse Vader geleer om te bid dat sy Naam geheilig moet word.
←⤒🔗
Die struktuur en inhoud←⤒🔗
Die lofpsalms het 'n baie eenvoudige struktuur. Ons kry gewoonlik 'n inleiding waarin die tema van die lied gestel word, dan die ontwikkeling van die tema in die sentrale of hoofgedeelte en die lied eindig met gepaste slotverse.
In die inleiding word die hemel en die aarde; die engele en die eenvoudige mense (die verdruktes); die suigelinge en alle eerbare manne en vroue (die knegte); die inwoners van die ganse aarde en dan weer heel persoonlik 'my siel' opgeroep of selfs beveel om die HERE te prys en te eer. In die lofpsalms oorskry hierdie oproepe soms hulle 'grense' en dit word self die hele psalm soos in Psalm 150 of dink aan die pragtige loflied in Jesaja 42:10-12:
Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied,
sing sy lof oor die hele aarde,
almal wat op die see vaar,
alles wat in die see is,
al die eilande en die wat daarop woon.
Laat die woestyn en sy stede die lof van die HERE uitroep,
die dorpe in die omgewing van Kedar,
laat die inwoners van Sela jubel,
laat hulle van die toppe van die berge af juig!
Laat hulle aan die HERE eer bewys
en op die eilande sy lof verkondig!
In die tema-ontwikkeling is dit veral God se deugde wat besing word. Sy Goddelike geestelike wese word besing in die noem van sy Naam, sy majesteit, grootheid en gewigtigheid in sy eer (kabood), en sy onberekenbare Goddelikheid word onder andere besing in die noem van sy goedheid, grootheid, barmhartigheid, genade en liefde. In die Vader-bedeling word Hy as die Skepper geëer (Psalm 8, 29, 33. 100, 104, 134, 148, 149), sy magtige dade in die geskiedenis word in gedagtenis geroep sonder om die geskiedenis self te vertel, en sy onderhouding van alle dinge word geprys (Psalm 148:6). Daarnaas word ook sy reddings- en verlossingsdade genoem. Hy is die God van die eksodus (Psalm 135, 114), Hy doen reg aan die verdruktes (Psalm 103, 146) en bewys verbondsgenade aan sy kinders (Psalm 100, 103, 117, 145, 147).
Die slot is baie keer 'n herhaling van dit wat in die begin besing is:
Hallelu-Jah Psalm 117
Hoe heerlik moes die volk nie gesing het nie! Hulle was deur 'n hele orkes met harp en siter, tamboeryn en basuin, fluit en simbaal (vgl. Psalm 150) begelei. As hulle so in die vervoering van hulle lofprysing kom, het hulle saam handegeklap (Psalm 47:2) en hulle liggame het in die koordanse (Psalm 149: 3) saam beweeg. Die koormeester het dan aangedui dat die mans met basstem moes sing (Psalm 6:1) of die dames met hulle sopraanstemme (Psalm 46:1). Hy kon ook die volk in groepe verdeel en hulle om die beurt laat sing:
Huis van Israel, loof die HERE!
Huis van Aäron, loof die HERE!
Huis van Levi, loof die HERE!
Julle wat die HERE vrees, loof die HERE!Psalm 135:19-20
Dit is dan ook geen wonder dat die digter in Gods Naam homself oproep om sy vroom gees in lofsange uit te stort nie:
Loof die HERE, o my siel!Psalm 103:1; 104:1