Die Kerkie in die Berge
Die Kerkie in die Berge
In die hoë Noorde van Finland, diep in die berge en naby die sneeu van die Noordpool, lê daar ʼn klein dorpie. Dit is moeilik om daar te kom. Net ʼn enkele lang en eensame pad lei daarnatoe. As iemand dan, ná ʼn reis van ʼn dag lank, daar aankom, in die middel van die eindelose bosse, sien hy die huise daar saamgebondel teen die koue staan rondom ʼn klein dorpspleintjie. ʼn Vaal kerktorinkie sonder ʼn kruis steek bo dit alles uit.
ʼn Mens kan sien dat hierdie kerkie al lank nie meer gebruik word nie. Die vensters is toegespyker en dit is duidelik dat die verwaarloosde geboutjie al vir jare lank net diens gedoen het as stoorplek vir toerusting wat hulle in hierdie omgewing vir bosbou gebruik: kettings, byle, sae en ʼn paar klein trekkertjies met rusperbande.
Langs die kerk staan die grootste huis in die dorpie. Moontlik was dit eens op ʼn tyd ʼn pastorie. Nou woon Arol Sandvik, die dorpskommissaris, daar. Hy is die baas van die dorp. En dit is hy wat in die tyd van die kommunisme die kerkdienste stopgesit het. Die Christene is verbied om verder bymekaar te kom. En hulle kerkgebou is opgeëis vir die bosbou. Arol Sandvil is ʼn groot, sterk, blonde man. Almal is bang vir sy deurdringende blik. Hy is ʼn harde werker en hy sorg dat dit goed gaan met die dorpie. Die mense is tevrede met hul leier.
Daar word nou weer kerkdienste gehou in die dorpsaal, maar vir ʼn lang tyd was dit streng verbode. Christelike liedere mog vir jare lank nie in die dorp of in die huise gesing word nie. In die tyd van die kommunisme was dit verbode. In die begin was daar nog wel gesinne wat dit gewaag het om gesange te sing, maar Arol het die vaders uit die gesinne laat verwyder en na Rusland laat deporteer: niemand het ooit weer van hulle gehoor nie. Sedert daardie dae was daar vir ʼn lang tyd niemand in die dorp wat meer ʼn Christelike lied in sy huis gesing het nie, selfs nie eens baie saggies nie. Dus was dit jare lank stil. Daar is gewerk en van tyd tot tyd het die dorpsmense vergader. Dit was rustig en dit het beter met die bosbouwerk gegaan as vroeër toe Arol nog nie die leier was nie. Maar daar het iets ontbreek wat altyd daar was. Die bome het nog steeds in die wind van die hemel geruis, maar die mense het geswyg wanneer hulle opgekyk het.
Tog het dit in die tyd wat nou verby is, gereeld gebeur dat daar op donker wintersaande, laat in die aand wanneer die ander al slaap, donker gestaltes in die maanlose duister die berge ingetrek het. Langs weggesteekte paadjies wat ʼn mens skaars kon sien, het hulle soos skaduwees opgeklim. Niemand mog weet waarheen hulle gaan nie. Diep in die bos, ver van die plek waar daar bedags hout gekap is, het daar ʼn verlate woudhut gestaan. Nog byna niemand het daarvan geweet nie. Maar die Christene het die plek geken. En in die jare van die kommunisme het hulle geheime samekomste in hierdie hut gehou. Klein kersies is gebrand vir lig. Alle vensters is bedek: daar mog nie ʼn skrefie lig na buite skyn nie. Daar was nie ʼn kaggel nie en hulle kon dit nie waag om ʼn vuur aan te steek nie, omdat die rook hulle sou verraai. En hier, hoog in die berge en naby die hemel, het hulle in die bitter koue saggies die ou liedere van hulle geloof saamgesing. Een van hulle het ʼn gedeelte gelees uit die Bybel wat hulle hier weggesteek het. En dan het hulle een-een of in baie klein groepies weer teruggesluip deur die bos, af met die berg na die slapende dorp toe. Baie saggies het hulle die deure van hul huise agter hulle gesluit. Niemand mog dit agterkom nie: daar moes nie nog meer mense na die verre Rusland weggestuur word nie.
In hierdie tyd, toe die kommunisme nog steeds alles oorheers het, het ʼn besondere Kersfees aangebreek. Dit het daardie jaar al vroeg oor die uitgestrekte woude begin sneeu. Die dorpie het onder ʼn dik wit kombers gelê. Elke voetstap het nou ʼn diep spoor gelaat. En die sneeu het in hierdie dae al die bewegings van die mense verraai.
Tog waag die Christene dit hierdie winter om in die Kersnag die berge in te gaan en die Kersfees saam te vier. Hulle het gewag totdat dit al baie laat was voordat hulle uit hul huise gekom het. Ongemerk klim hulle weer met die wegsteekpaadjie op na die plek van samekoms.
Maar terwyl hulle daar hul Kersliedere sing, beweeg daar nog ʼn ander gestalte uit die dorp in die rigting van die bos. Hy loop gebukkend en skyn met ʼn sterk flits op die grond: hy soek na die spore van voetstappe. En al soekende, stadig maar seker, vind hy die geheime paadjie. Soms raak hy die pad ʼn bietjie byster en moet hy ʼn bietjie rondsoek, maar dan gaan hy weer verder in die rigting van die wegkruipplek waar die Christene hulle geheime Kersfees vier. Wanneer die lig van die maan soms ʼn bietjie deur die wolke breek, kan ʼn mens sien dat die man wat daar boontoe klim, ʼn geweer oor sy skouer dra. Dit is Arol Sandvik self. Hy het al ʼn tyd lank vermoed dat daar nog êrens iets van die vroeëre Christendom oorgebly het. En hy hoop heimlik om in hierdie nag van hulle groot fees daarin te slaag om hulle te betrap. Hy wil heeltemal alleen wees sodat hy die Christene self kan oorval.
Dit is stil in die donker bos. Die ligkring van die flits op die sneeu skuif al soekende omhoog. Dan klink daar iewers ver weg in die woud ʼn gehuil. Arol staan ʼn rukkie stil en luister, en klim dan weer verder. Die gehuil word al hoe harder en kom al hoe nader. Dit is wolwe wat al vroeg deur die sneeu in die rigting van die dorp gedryf word. Die mense hier is nie juis bang vir hulle nie, maar ʼn mens wil hulle nie graag alleen teëkom as daar niemand is wat jou kan help nie. Arol probeer om vinniger te loop. Is hy nou nog nie by die plek waarheen die voetspore lei nie? Hoe diep moet hy dan nog die bos in? Is hulle dan so bang vir hom dat hulle so diep in die woud wegkruip? Die hoë gehuil word harder en harder. Onrus oorval die soekende Arol Sandvik. Hy laat sy geweer van sy skouer afgly en hou dit gereed terwyl sy oë tuur in die rigting vanwaar die gehuil naderkom. Dan sien hy in die verte helder oë gloei in die donker tussen die bome. Dit lyk soos tien pare oë. En al die gloeiende oë kom vinnig nader. Arol mik met sy geweer en skiet in die donker tussen twee oë. ʼn Skerp tjankgeluid sny deur die lug, gevolg deur ʼn dowwe plof en takke wat breek. Weer mik hy en weer klink die doodskreet van ʼn groot wolf. Arol is ʼn goeie skut. Maar skielik is die wolwe op hom. Hy skiet weer, maar voel dan hoe ʼn dier hom van die kant af bespring en aan die hand byt. ʼn Diep steekpyn trek in sy arm op. Hy swaai sy arms, struikel, val en bly bewusteloos lê. Die flits lê nou half onder die sneeu en daar skyn nog net ʼn beweginglose halfmaantjie lig.
In die woudhut het die Christene gehoor dat die gehuil van die wolwe naby is. Hulle is nie bang daarvoor nie. Die diere kan nie hier inkom nie en ook is hulle ongeveer twintig mense daar bymekaar. Maar dan kyk hulle skielik met skrik na mekaar. Daar klink skote, naby. En die doodskrete van wolwe. Dan hou die skietery op, maar die wolwe huil nog steeds. Die mans kyk na mekaar: dit kan net een ding beteken: iemand is nou in lewensgevaar.
Vier mans gryp die lanterns en haas hulle buitentoe, in die rigting vanwaar hulle die skote gehoor het. Na ʼn rukkie kom hulle terug. Hulle dra ʼn groot man tussen hulle. Versigtig word hy op die vloer van die woudhut neergelê. En in die lig van die kerse sien hulle die bleek, bewustelose gesig van hul vyand: Arol Sandvik. Sy klere is geskeur en sy hand bloei hewig. Twee vroue skeur ʼn doek in stroke en begin die wonde verbind. ʼn Ander een sit ʼn klam lap op sy voorkop. Wanneer Arol Sandvik sy oë oopmaak, sien hy nie meer die gloeiende oë van aanstormende wolwe nie, maar hy sien kersvlammetjies en bekende gesigte in die lig daarvan. Hy herken Ange, die vrou wie se man hy laat wegstuur het. Arol verloor weer sy bewussyn, van pyn, maar moontlik ook van skrik. ʼn Rukkie later beweeg daar diep in die nag ʼn wonderbaarlike optog deur die woud. Hierdie keer sluip elkeen nie alleen tussen die bome deur nie. ʼn Paar loop voor met lanterns. Dan volg daar ʼn paar sterk mans wat die liggaam van Arol Sandvik versigtig op ʼn draagbaar van stewige takke vervoer. En agter hulle loop die vroue. Heel agter in die stoet dra ʼn seun Arol se geweer.
Die geskud van die draers laat Arol Sandvik stadig weer tot sy bewussyn kom. Hy voel dat hulle hom iewers heen dra. En skielik kom daar ʼn skerp angs in hom op. Hy weet wat nou gaan gebeur. Hulle gaan hom dieper en dieper die bos indra en dan daar laat lê of doodskiet. En niemand sal hom ooit weer vind nie. Hy is immers hulle vyand. Nou is hy in die hande van die vroue en kinders wat elke dag die gemis voel van hulle mans en vaders wat hy laat wegvoer het. Arol Sandvik probeer voel of hy vasgemaak is. Daar is nêrens toue nie. En dan probeer hy skielik om van die draagstokke af te gly en te ontsnap. Maar ʼn skerp pyn skiet weer deur sy arm. Hy worstel half regop. Hande druk hom saggies terug. Hy probeer hom verweer, probeer slaan, maar dan skiet ʼn pyn deur sy lyf wat hom laat naar voel, en hy sak weg in ʼn lang warm tonnel van koors en bewusteloosheid.
Eers dae later kom hy stadig by. En toe hy weer van sy omgewing bewus raak, kom hy agter dat hy tuis is. In sy eie bed. Sy vrou sit langs hom. Sy arm is styf en sy lyf voel warm. Hy probeer sy hand beweeg, maar die pyn laat hom dadelik weer stil lê. Langsamerhand word alles weer vir hom duidelik. Die gloeiende oë in die donker, die kerse in die woudhut, hoe hy weggesleep is in die ondeurdringbare woud. Hoe het hulle hom ooit gekry? Hy soek na woorde en stadig begin hy praat. Sy vrou buk oor hom om die woorde op te vang. Aan die begin is dit moeilik en soms sak hy weer weg in die koors, maar stukkie vir stukkie begin Arol verstaan. Hy is deur onbekendes op die stoep van sy huis neergelê en daar is hard op die deur geklop. Daar het sy vrou hom gekry, maar daar was verder niemand in die donker nie. Toe vertel Arol sy verhaal, stukkie vir stukkie. Maar hy kan nie alles vertel nie. Daar is ʼn skakel wat ontbreek. Hoe is dit moontlik dat hy na sy eie huis teruggebring is nadat hy in die hande van Christene geval het?
In die maande van herstel dink Arol baie na oor die vermiste skakel in sy herinnering. En stadig maar seker laat hy homself toe om die enigste verklaring wat moontlik is, te aanvaar. Dit moet die skakel van liefde wees wat sy verhaal voltooi. Maar sou Christene dan so ver gaan dat hulle selfs hul vyand liefhet en huis toe bring? Vir die harde Arol Sandvik is dit moeilik om homself so iets voor te stel. Tog begin daar iets in hom verander. ʼn Mens kom dit skaars agter. Net Arol besef dit al hoe meer, en ook sy vrou. Na die somer hervat hy sy werk. Hy is nog net so fluks soos altyd, maar iets aan hom is anders.
Iets geheimsinnigs. En aan sy linkerhand dra hy voortaan altyd ʼn leerhandskoen. Niemand kry die littekens van die wolf se byt te sien nie.
In die laaste maande van die jaar is alles weer soos die vorige jaar. Die dorpsmense werk in die bos en Arol Sandvik neem weer self die leiding. Mense vergeet van sy siekte.
Dan kom die einde van Desember nader. Dit word weer Kersfees. Die Christene het na maande van aarseling hul samekomste in die bos hervat. So het hulle ook op die aand van hierdie feesdag boontoe geklim.
Baie laat op Kersaand kom daar egter nog ʼn gestalte uit die dorp. ʼn Lang man soek die smal paadjie boontoe. Dit het nog nie gesneeu nie en daarom is daar nie ʼn gevaar van wolwe nie. Die man hou ʼn flits in sy hand met die handskoen, maar hierdie keer dra hy nie ʼn geweer oor sy skouer nie. By die berghut aangekom, klop hy saggies teen die muur. Die Christene kyk verskrik na mekaar. Versigtig maak een van hulle die deur oop. In die dowwe ligskynsel sien hy Arol Sandvik daar staan. Die jongman wat die deur oopgemaak het, deins terug. Maar Arol loop binnetoe en in die angstige stilte hoor hulle sy stem: “Ek kom julle bedank en ek kom julle vra om my te vergewe. Ek was julle vyand, maar julle het my anders geleer. En julle God het my geleer dat ek na julle toe moet kom. Mag ek luister en ook leer sing?” Die mans en vroue in die hut staar hom onseker en weifelend aan. Maar dan sê Arol, wat hulle aarseling sien en verstaan: “Ek het nie verdien dat julle my aanvaar nie: ek was ʼn heiden, ʼn ongedoopte, maar God het my sy teken gegee.” En toe trek hy die leerhandskoen van sy linkerhand af. Die wolf se byt het sy hand misvormd gelaat. Hy hou sy hand in die lug en wys die rugkant. Daar is twee bloedrooi littekens, twee strepe: daar waar die tande van die wolf gesny het, lê daar twee rooi hale. En in die kerslig sien hulle almal dat daar op die hand van die sterk man ʼn rooi kruis uitgekerf is. Die teken van Kersfees, gegraveer in die vel van ʼn man wat ʼn vyand was, maar wat vir altyd ʼn vriend geword het.